Fisieke oefening en demensie – enkele navorsingsbevindinge

  • 0

Increasing vascular risk factors such as physical inactivity, obesity, diabetes, population ageing, and social inequalities might raise the risk of dementia across time. On the other hand, successful primary prevention of heart diseases and longer early life education might reduce the prevalence of dementia. (Minett en Brayne 2016:213)

1. Inleiding

Demensie is ’n bekende oorkoepelende diagnostiese entiteit met verreikende implikasies vir pasiënte, hulle gesinslede, en vriende en familie wat hulle deur die krisis probeer ondersteun.

Volgens Merriam-Webster.com is die term demensie aan Latyn ontleen (dēmentia) en verwys dit na ’n neurologiese toestand wat gekenmerk word deur ’n agteruitgang in kognitiewe funksies soos logiese denke, redenering en geheue. Simptome vererger gewoonlik as gevolg van die progressiewe skade wat die onderliggende siekteproses, genaamd neurodegenerasie, aan breinselle aanrig.

In groter psigiatriese verband het die Duitse psigiater Emil Kraepelin dié versteuring oorspronklik as dementia praecox (vroeë demensie) beskryf (Ebert en Bär 2010). Kraepelin het geglo dat die breinfunksie van individue met dementia praecox, wat deesdae as skisofrenie bekend is, voortydig begin verswak (Gotlib 2001).

........
Spesifieke gewoontes, gedrag of omstandighede verhoog of verlaag ’n persoon se risiko om demensie te ontwikkel. Party risikofaktore kan beheer, gewysig of verander word. Aan ander, waaronder biologiese ouderdom, genetika, ras/etnisiteit en geslag, is daar niks te doen nie.
........

Spesifieke gewoontes, gedrag of omstandighede verhoog of verlaag ’n persoon se risiko om demensie te ontwikkel. Party risikofaktore kan beheer, gewysig of verander word. Aan ander, waaronder biologiese ouderdom, genetika, ras/etnisiteit en geslag, is daar niks te doen nie.

In hierdie artikel word die term modifiseerbaarheid (wysig- of veranderbaarheid) in navolging van Alwan en kollegas (2024) se definisie gebruik om te verwys na fisieke oefenprogramme as een so ’n faktor wat, statisties beskou, aangepas kan word om ’n verbetering in demensie-uitkomste teweeg te bring.

Volgens ’n onlangse verslag van Lancet se staande kommissie oor die voorkoming van demensie (Livingston ea 2024) bevestig nuwe navorsingsbevindinge dat verswakte sig en hoë cholesterol ingesluit moet word by die 12 ander moontlike modifiseerbare risikofaktore vir demensie wat die kommissie reeds in hulle verslag van 2020 geïdentifiseer het. Die 12 ander faktore is gebrekkige opvoeding, hoofbeserings, fisieke onaktiwiteit/onfiksheid, rook van tabak, oormatige alkoholinname, hipertensie, obesiteit, diabetes, gehoorverlies, depressie, ongereelde sosiale kontak, en lugbesoedeling.

Trachtenberg en Trojanowski (2008) meen op hulle beurt dat demensie as ’n diagnostiese term uitgefaseer behoort te word. Hulle beskou dié term as ’n veralgemening met hoofsaaklik negatiewe konnotasies wat pasiënte etiketteer en stigmatiseer – onder andere ook as gevolg van historiese mediese en wetenskaplike sienings. Uitlatings soos die volgende in die tiende hersiening van die Wêreldgesondheidsorganisasie se Internasionale Klassifikasie van Siektes bied ’n goeie illustrasie van dié historiese stigmatisering (skuinsdruk my eie vir beklemtoning):

The term “dementia” (ICD 10. F 00–F 07), originating from the Latin word “demens”, originally meaning “madness” from de- “without” mens (meaning senseless or “being out of one’s mind”), is not a specific disorder or disease, but a description for a syndrome (group of symptoms) associated with progressive loss of memory and other cognitive/intellectual functions that are severe enough to interfere with the tasks of daily life, lasting more than 6 months, but not present since birth, and not associated with loss of consciousness. (Jellinger 2010:2415)

Trachtenberg en Trojanowski (2008) stel meer sinvolle en niestigmatiserende terminologie voor. Hulle hoofaanbeveling is dat die afsonderlike neurodegeneratiewe entiteite as spesifieke siektes aangedui word, byvoorbeeld kortikobasale siekte (atrofie van die serebrale korteks en die basale ganglia, wat die motoriese en sensoriese stelsels aantas), of selfs frontaal-temporale siekte (wat met gedrag soos ’n gebrek aan sosiale inhibisie, empatie en belangstelling verbind word) (Nasionale Instituut vir Neurologiese Versteurings en Beroerte sj). Die terme kognitiewe belemmering of neurokognitiewe belemmering kan op hulle beurt as “sagter” oorkoepelende terme gebruik word. Dié terminologie is nie net makliker verstaanbaar en duideliker vir alle rolspelers nie, maar toon ook meer respek.

2. Vorme van demensie

Demensie word gediagnoseer op grond van ’n beoordeling van die pasiënt se mediese geskiedenis, ’n fisiese ondersoek, laboratoriumtoetse, en ’n psigometriese assessering van die kenmerkende veranderinge in kognisie en daaglikse funksionering en gedragspatrone wat met die onderskeie soorte demensie verbind word (Alzheimervereniging sj(a)). Hoewel dit deesdae betreklik maklik is om demensie met sekerheid te diagnoseer, is dit vir medici moeiliker om die presiese soort demensie te diagnoseer, omdat die simptomatologie van die verskillende vorme dikwels oorvleuel.

Sadock en Sadock (2003:1321–23) sonder die demensiespektrum en artritis (inflammasie van gewrigte) uit as toestande wat wêreldwyd ernstige, omvattende gesondheidsbelemmerings onder volwassenes ouer as 65 jaar tot gevolg het. Trouens, die demensiespektrum het in 2005 ongeveer 6% van die sterftesyfer in die algemene kategorie neurologiese siektes uitgemaak. Hierdie syfer sal teen 2030 na verwagting tot 8% styg, en word slegs deur die kategorie serebrovaskulêre siektes oortref (Minett en Brayne 2016). Sadock en Sadock onderskei tussen die volgende vier demensiekategorieë: die Alzheimertipe, vaskulêre demensie, die frontaal-temporale tipe, en ander demensies (soos demensie as gevolg van Huntington se siekte, hidrosefalie en Parkinson se siekte). Ofskoon dit meer seldsaam is, is ’n demensiediagnose op ’n jonger chronologiese ouderdom wel moontlik.

Volgens Welma Geldenhuys, ’n senior maatskaplike werker verbonde aan die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Demensie en Alzheimersiekte (Adasa), is daar tans meer as 200 bekende vorme van demensie wêreldwyd (Leefwêreld van die Gestremde 2024). Adasa konsentreer egter hoofsaaklik op die ses soorte wat die algemeenste voorkom, naamlik die Alzheimertipe, die vaskulêre tipe, MIV/vigs-verwante demensie, die Korsakoff-verwante tipe, die frontaal-temporale tipe, en demensie met Lewy-liggaampies (wat gekenmerk word deur abnormaal hoë proteïenafsettings, oftewel alfasinukleïen). Hierdie benadering van Adasa sluit aan by die navorsing deur Mahalingam en Chen (2019) en Geser en kollegas (2005).

Die akkuraatste diagnostiese klassifikasiestelsels vir demensie berus op die onderliggende patologie van die siekte, wat op sy beurt meestal gekategoriseer word op grond van die waargenome opeenhoping van abnormale proteïenfragmente of -deeltjies in neurone en nieneuronale ondersteuningselle (gliaselle). Hierdie konsentrasie van proteïendeeltjies versteur molekulêre prosesse, sellulêre funksies en uiteindelik ook seloorlewing, wat ontwrigting veroorsaak in die groot neurale netwerke wat kognitiewe, gedrags- en sensories-motoriese funksies beheer (Elahi en Miller 2017:457).

........
Watter uitwerking het verskillende soorte oefenprogramme egter op ouer persone met demensie? En het oefening verskillende uitwerkings op persone uit verskillende demografiese groepe en met verskillende tipes demensie?
........

Differensiële diagnose, of die duidelike onderskeid tussen verskillende soorte demensie, is gewoonlik ’n komplekse proses. Die Lewy-tipe sluit byvoorbeeld twee verbandhoudende diagnoses in, naamlik demensie met Lewy-liggaampies en Parkinson-verwante-tipe demensie. ’n Persoon met demensie met Lewy-liggaampies ontwikkel min of meer gelyktydig sowel kognitiewe agteruitgang as bewegingsbelemmering. Wat die Parkinson-tipe betref, ontwikkel die persoon aanvanklik bewegingsprobleme en tree kognitiewe agteruitgang gewoonlik eers baie jare later in. Oorvleueling tussen die kategorieë kom ook voor (Alzheimervereniging sj(b)).

Watter uitwerking het verskillende soorte oefenprogramme egter op ouer persone met demensie? En het oefening verskillende uitwerkings op persone uit verskillende demografiese groepe en met verskillende tipes demensie? Die hoofdoel van hierdie artikel is om ’n kort oorsig te bied van bestaande navorsing oor die uitwerking van oefening op persone met demensie, en hoe sulke oefenprogramme saamgestel en toegepas word.

3. Oefening as ’n modifiseerbare risikofaktor

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (2024) stel dit duidelik dat fisieke aktiwiteit en oefening voordelig is vir algemene gesondheid en welstand. Die omgekeerde is ewe waar: Fisieke onaktiwiteit en ’n passiewe leefstyl verhoog die risiko vir die ontwikkeling van nie-oordraagbare siektes (NOS’e) en ander negatiewe gesondheidsuitkomste, wat die las op gesondheidsorgstelsels verder vererger.

NOS’e is ’n groep siektes wat nie noodwendig deur akute infeksie veroorsaak word nie, maar wat langtermyngesondheidsgevolge het en dikwels langtermynbehandeling en -sorg vereis. Hierdie toestande sluit in kanker, kardiovaskulêre siekte, diabetes, Alzheimersiekte en chroniese longsiekte (Pan-Amerikaanse Gesondheidsorganisasie sj).

Wat neurodegeneratiewe siekte betref, bevat die onlangse twee Lancet-kommissie-verslae (Livingston ea 2020, 2024) die volgende navorsingsbevindinge oor oefening, onaktiwiteit en fiksheid as modifiseerbare risikofaktore vir demensie:

Verslag van 2020

Die verslag van 2020 benadruk die uiters komplekse verwantskap tussen fisieke oefening en demografie. Fisieke-aktiwiteitspatrone wissel na gelang van ouderdomsgroep, generasie en die voorkoms van morbiditeit (die aantal jare wat verlore gaan weens gesondheidsprobleme). Daarbenewens verskil mans en vroue se aktiwiteitsvlakke gewoonlik en kan klas en kultuur ook oefenroetines beïnvloed.

........
Volgens die navorsingsbevindinge wat in die Lancet-kommissie se verslag van 2020 ter sprake kom, is die verhouding tussen oefening en demensie ewe kompleks: Dit blyk nie net dat oefening demensierisiko te verlaag nie, maar ook dat daar bewyse van omgekeerde oorsaaklikheid (reverse causation) is.
........

Volgens die navorsingsbevindinge wat in die Lancet-kommissie se verslag van 2020 ter sprake kom, is die verhouding tussen oefening en demensie ewe kompleks: Dit blyk nie net dat oefening demensierisiko te verlaag nie, maar ook dat daar bewyse van omgekeerde oorsaaklikheid (reverse causation) is.

Met betrekking tot risikovermindering dui ’n metaontleding van longitudinale studies wat tussen een en 21 jaar geduur het op beduidende korrelasies tussen oefening en ’n laer demensierisiko (Livingston ea 2020:421). ’n Metaoorsig van stelselmatige literatuurstudies lewer boonop sterk bewys daarvan dat deelname aan fisieke aktiwiteit ’n mens teen klinies gediagnoseerde Alzheimersiekte beskerm. In die longitudinale Trøndelag-gesondheidstudie is 28 916 deelnemers tussen 30 en 60 jaar met gediagnoseerde demensie oor ’n tydperk van 25 jaar bestudeer. Die bevindinge bied verdere stawing vir die bestaande standpunte in die literatuur, naamlik dat matige tot intense fisieke aktiwiteit minstens een keer per week gedurende die middeljare ’n statisties beduidende verband met ’n laer demensierisiko toon.

Wat omgekeerde oorsaaklikheid betref, wil dit voorkom of persone dikwels ophou oefen wanneer vroeë tekens van demensie ontwikkel. Dít gee te kenne dat onaktiwiteit nie net ’n gevolg van ’n demensiediagnose is nie, maar dalk ook vóór die diagnose reeds die persoon se leefstyl gekenmerk het.

Verslag van 2024

Die jongste Lancet-verslag (Livingston ea 2024) kom tot die gevolgtrekking dat gereelde oefening op enige ouderdom bevorderlik is vir kognisie. Dít is waarskynlik as gevolg van veranderinge in bloedvloei, ’n verlaging in bloeddruk, en die verhoogde opname van stikstofoksied, wat breinplastisiteit verhoog en neuro-inflammasie teenwerk. Vergeleke met persone wat weinig indien enigsins oefen, het persone wat meer dikwels aan matige tot intense oefening deelneem, groter breinvolumes.

Dit sluit aan by Trigiani en Hamel (2017) se standpunt: Gereelde oefening bevorder liggaamlike gesondheid, wat die brein teen neurodegenerasie help beskerm. Die endoteelselle – die heel binneste laag selle (of voering) van die bloedvate – vervul hier ’n deurslaggewende rol. Hierdie selle help gesonde bloedvloei handhaaf en bring stowwe voort wat breingesondheid beïnvloed. Toestande soos diabetes, hoë cholesterol en hoë bloeddruk benadeel die funksionering van endoteelselle en lei tot probleme soos belemmerde bloedvloei en inflammasie, wat direk met die demensiespektrum verbind kan word. Gereelde oefening verbeter endoteelfunksie deur inflammasie te verminder en die afskeiding van beskermende ensieme te bevorder. Dit stimuleer ook die groei van nuwe bloedvate en ondersteun kognitiewe funksies soos geheue, redenering en die leerproses.

Albei Lancet-publikasies is keurig versorgde navorsingsverslae. Die navorsingsbevindinge oor oefening en ander modifiseerbare risikofaktore wat met demensie verbind word, word volledig bespreek. Waar dit toepaslik is, word die bespreking boonop toegelig met die statistiese beduidendheid van verskille tussen proef- en kontrolegroepe, sowel as die gevaarverhoudings (hazard ratios) en vertrouensgrense.

4. Onlangse navorsing

In die paragrawe hier onder volg ’n kort bespreking van ses studies oor oefening as ’n modifiseerbare risikofaktor vir demensie. Al ses ewekniebeoordeelde artikels het in die afgelope drie maande op die databasis EBSCOhost verskyn.

Eksperimentele studies

  • ’n Switserse navorsingsgroep (Carrard, Eyer ea 2024) het met behulp van voor- en na-metings die doeltreffendheid van ’n aangepaste tuisgebaseerde toets-en-oefen-program ondersoek. Vir dié doel het die navorsers die basiese funksionele beweeglikheid en uitvoerende kognitiewe funksie van ’n groep deelnemers met prodromale (of ligte) Alzheimersiekte voor en ná deelname aan die bepaalde oefenprogram geëvalueer. Die oefenprogram het oor agt weke gestrek: Een keer per week het deelnemers onder toesig van ’n fisioterapeut geoefen, en twee keer per week saam met hulle gewone versorgers, of selfs onafhanklik op eie inisiatief. Die 12 deelnemers was gemiddeld 80,83 jaar oud (standaardafwyking = 4,7). Alle basiese funksionele beweeglikheids- en kognitiewe veranderlikes was ietwat beter na afloop van die oefenprogram, hoewel die verskille tussen die voor- en na-metings statisties onbeduidend was.
  • Lorito en kollegas (2024) se studie het beoog om die sosiale voordele van ’n oefenprogram genaamd PrAISED vir deelnemers met prodromale demensie te bepaal. PrAISED bevorder fisieke aktiwiteit en onafhanklikheid. Die studiedata is volgens die realistiese metode ontleed, wat ’n stelselmatige dog buigsame benadering bied om die wisselwerking tussen faktore in komplekse intervensies te bepaal. Die studie het bevind dat PrAISED die demensielyers se sosiale deelname bevorder het. Afgesien van die fisiekegesondheidsvoordele, hou intensiewe tuisgebaseerde terapeutiese intervensies dus in sekere omstandighede ook voordele vir sosiale gesondheid in. Belangrike onderliggende faktore wat sosiale skakeling help verhoog, is die terapeutiese verhouding, opvattings oor die voordele van die program, deelnemers se sosiale vordering, versorgers se ondersteuning en betrokkenheid, en die wisselwerking tussen al hierdie faktore.
  • Die doel van die studie deur Papamichail en kollegas (2024) was om te bepaal hoe doeltreffend ’n oefenprogram is vir die verbetering van spierkrag en bewegingsomvang in die arms, funksionele status en depressie by ’n groep bejaardes met prodromale demensie. Die steekproef het bestaan uit 60 deelnemers bo 80-jarige ouderdom by ’n dagsorgsentrum, wat ewekansig in ’n kontrole- en proefgroep van 30 deelnemers elk verdeel is. Die proefgroep het ’n 12 weke lange Otago-oefenprogram gevolg wat uit sessies van 45 minute elk bestaan het. Die kontrolegroep het gewone sorg ontvang en nie geoefen nie. Die studieveranderlikes is met behulp van geldige instrumente en toetse sowel voor as na die intervensie gemeet. Anova- en Mann-Whitney- statistiese toetse is gebruik om die beduidendheid van die verskille tussen die twee groepe na afloop van die oefenprogram te ondersoek. Statisties beduidende verbeteringe (p < 0,05) is vir alle veranderlikes buiten die intensiteit van depressie aangemeld.

Literatuuroorsigte

  • ’n Groep Nederlandse navorsers uit verskillende vakrigtings (Boer, Schmidt ea 2024) het na aanleiding van ’n stelselmatige literatuuroorsig tot die gevolgtrekking gekom dat betroubare wetenskaplike inligting oor die aard en uitwerking van fisioterapeut-begeleide oefening by bejaardes met demensie wyd uiteenlopend is. Die studies wat geraadpleeg is, het gewissel ten opsigte van die tydsduur van die oefensessies, die samestelling van die oefenprogramme, en die uitkomskriteria wat gebruik is. Vier van die ses studies wat by die navorsers se oorsig ingesluit is, het van multimodale groepoefenprogramme gebruik gemaak, en twee het aërobiese oefenprogramme behels. Drie van die ses studies het ’n hoë mate van metodologiese sydigheid getoon. Die impak van die oefenprogramme in die studies was uiteenlopend, en het boonop met ’n wye verskeidenheid gesondheidsuitkomste verband gehou. Geen geloofwaardige gevolgtrekking kon dus gemaak word oor die doeltreffendheid van fisieke oefening en fiksheid as ’n modifiseerbare risikofaktor vir demensie nie.
  • Die hoofdoel van die literatuuromvangsbepaling deur Hung en kollegas (2024) was om die aard en uitvoerbaarheid van tegnologiegegronde groepoefenprogramme vir persone met demensie te ondersoek. Die metode van JBI (voorheen die Joanna Briggs-instituut) is vir die omvangsbepaling gebruik en het drie stappe behels. Eerstens is ’n omvattende literatuursoektog op vyf databasisse (CINAHL, MEDLINE, Embase, Web of Science en PsycInfo) onderneem, wat 1 585 publikasies opgelewer het. Daarna is die publikasies aan die hand van spesifieke kriteria vir in-/uitsluiting geëvalueer. As die finale stap is 14 publikasies uiteindelik ingesluit. Die totale getal deelnemers na aanleiding van die beskrywing in die 14 artikels was 397, met ’n ouderdomsverspreiding van 69 tot 87 jaar. Die gewildste tipe tegnologiegegronde groepoefenprogramme vir persone met demensie was (a) video-oefeningspeletjies (fiksheidspeletjies, of exergames) met Wii-handkonsoles, (b) virtuele fietsry of kajak-roei, en (c) groepoefenprogramme deur middel van die Zoom-videokonferensieplatform (Hung, Park ea 2024:12). Die elektroniese oefenprogramme was deurgaans uitvoerbaar, toeganklik en aanvaarbaar vir die deelnemers. Hung en kollegas (2024) beveel dus op grond van hulle literatuurstudie aan dat individue met demensie én hulle versorgers in die toekoms betrek word by die ontwerp en implementering van tegnologiegegronde groepoefenprogramme.
  • Andrews, Cheema en Siette (2024) het ’n gemengdemetodebenadering gevolg om tersaaklike literatuur oor die implementering van fisieke oefenprogramme vir bejaardes met demensie in versorgingsoorde te bestudeer. Sowel kwalitatiewe as kwantitatiewe navorsing is bestudeer om te bepaal watter faktore die implementering van fisieke-aktiwiteitsprogramme onderskeidelik strem en bevorder.

Die belangrikste stremmende faktore is fasiliteitsverwant, en personeeltekorte (62%) is boaan die lys. Inwonerverwante stremmende faktore sluit in moegheid, beperkte energie, depressie en gebrekkige motivering (46%), vrees vir beserings en apparate soos treëtellers (31%), en wantroue teenoor personeel (31%).

Volgens die navorsers is personeeltekorte ’n algemene verskynsel in die bejaardesorgbedryf in Australië, Noord-Amerika en Europa. COVID-19 het boonop dié chroniese kwessie vererger en die spanningsvlakke van reeds oorwerkte personeel verder verhoog. Dít dra by tot ’n besonder hoë personeelomset in die bejaardesorgbedryf. Andrews en kollegas (2024) se bevindinge dui daarop dat interne en eksterne personeel meestal in ’n eweredige verhouding gebruik word om oefensessies aan te bied. Enersyds plaas die gebruik van interne personeel egter bykomende druk op werknemers; andersyds skep die gebruik van eksterne kundiges ’n behoefte aan meer finansiering.

Wat die inwonerverwante faktore betref, maak persoonlike hindernisse soos beweeglikheidsprobleme sommige inwoners minder geneë om aan fisieke aktiwiteit deel te neem. Om dít te bowe te kom, word groter klem op persoongerigte sorg aanbeveel – individuele interaksie wat op inwoners se unieke behoeftes konsentreer. Indien die sielkundige omgewing waarin die inwoners funksioneer, positief is, behoort verhoudings en vertroue tussen bejaardes en bejaardesorgpersoneel ook te verbeter. Om so ’n goeie inwoner-personeel-rapport te skep vereis egter toegewyde personeel en genoeg finansiële hulpbronne.

........
Kortom verbeter die uitkomste van gesondheidsintervensies vir demensiepasiënte wanneer die intervensie persoonlik vir die individu aangepas word. In dié verband het die gebruik van ’n instrukteur of oefenspesialis vir die aanbieding van oefensessies vir individue met demensie ’n meer positiewe ervaring en beter deelname tot gevolg.
........

Die belangrikste stremmende faktor wat met die fisieke-aktiwiteitsprogramme self verband hou, is die waarneming dat oefensessies ongereeld aangebied word. Dít belemmer inwoners se vermoë om aan die program gewoond te raak of daarby aan te pas. Dit is algemeen bekend dat wanneer ’n taak of aktiwiteit as ’n roetine gevestig word, deelname én sukses verhoog. Daarom is meer gereelde oefenprogramme verkieslik. Dit behoort inwoners meer vertroud te maak met die program, die rapport tussen inwoners en personeel te verbeter, en die program oor die algemeen meer aanloklik en genotvol vir inwoners te maak. Nietemin is dit ook so dat meer gereelde sessies ’n ooreenstemmende toename in personeel sal vereis om die sessies aan te bied.

Die vernaamste bevorderlike faktore wat uit die literatuur blyk, is ’n individueel pasgemaakte (31%) en gestruktureerde program (46%), wat oor die algemeen hoër deelnamesyfers tot gevolg het. Kortom verbeter die uitkomste van gesondheidsintervensies vir demensiepasiënte wanneer die intervensie persoonlik vir die individu aangepas word. In dié verband het die gebruik van ’n instrukteur of oefenspesialis vir die aanbieding van oefensessies vir individue met demensie ’n meer positiewe ervaring en beter deelname tot gevolg.

Die stremmende en bevorderlike faktore wat Andrews en kollegas (2024) uitlig, behoort oorweeg te word in die implementering van fisieke-aktiwiteitsprogramme in bejaardesorgoorde én in toekomstige navorsing oor individuele gesondheid- en welstandsuitkomste by persone met demensie.

5. Samevattende gevolgtrekking

’n Lancet-kommissieverslag het reeds in 2020 fisieke onaktiwiteit – tesame met faktore soos hipertensie, obesiteit, diabetes en sosiale isolasie – as ’n modifiseerbare risikofaktor vir demensie genoem. ’n Meer onlangse verslag het verswakte sig en hoë cholesterol by hierdie lys gevoeg. Leefstylkeuses, waaronder fisieke aktiwiteit, blyk dus ’n verander- en beheerbare risikofaktor vir die ontwikkeling van demensie te wees.

Hierdie artikel doen spesifiek verslag oor die verband tussen fisieke oefening en demensie, en die belang van oefening as ’n veranderbare risikofaktor vir kognitiewe agteruitgang. Die hipotese dat gereelde oefening met beter kognitiewe funksionering en ’n laer demensierisiko verband hou, is ondersoek.

Navorsingsbevindinge dui daarop dat matige tot intense fisieke aktiwiteit minstens een keer per week die risiko van demensie kan verminder. Oefening verbeter bloedvloei en neuroplastisiteit, wat breingesondheid bevorder. Ondanks die voordele, kom die implementering van oefenprogramme in versorgingsoorde vir persone met demensie egter voor bepaalde struikelblokke te staan, waaronder personeeltekorte, ’n gebrek aan motivering onder inwoners, en ongereelde oefensessies. Volgens die literatuur lewer gestruktureerde en individueel pasgemaakte oefenprogramme beter resultate op by individue met demensie. Programme behoort dus aangepas te word om in demensiepasiënte se individuele behoeftes te voorsien, wat deelname én rapport tussen deelnemers en fasiliteerders sal verbeter.

Bibliografie

Alwan, NA, S Stannard, A Berrington ea. 2024. Risk factors for ill health: How do we specify what is “modifiable”? PLOS Global Public Health, 4(3):e0002887. https://www.ncbi.nlm.nih.gov/pmc/articles/PMC10911600 (13 September 2024 geraadpleeg).

Alzheimervereniging. S j(a). What is dementia? https://www.alz.org/alzheimers-dementia/what-is-dementia (12 September 2024 geraadpleeg).

—. S j(b) Differential diagnosis of Lewy body dementia. https://www.alz.org/professionals/health-systems-medical-professionals/dementia-diagnosis/differential-diagnosis/differential_diagnosis_of_dementia_with_lewy_bodie (10 September 2024 geraadpleeg).

Andrews, M, BS Cheema en J Siette. 2024. Barriers and facilitators to implementation of physical activity programs for individuals with dementia living in aged care homes: a systematic review. Archives of Gerontology and Geriatrics, 126:105535. https://doi.org/10.1016/j.archger.2024.105535. https://www.sciencedirect.com/science/article/pii/S0167494324002115 (14 September 2024 geraadpleeg).

Boer, D, C Schmidt, S Sterke ea. 2024. Characteristics and effectiveness of physical therapist-supervised exercise interventions for nursing home residents with dementia: a systematic review. Innovation in Aging, 8(7):igae061. https://www.ncbi.nlm.nih.gov/pmc/articles/PMC11287766 (31 Augustus 2024 geraadpleeg).

Carrard, S, S Eyer, R Hilfiker en A-G Mittaz Hager. 2024. Adapted home-based exercises in dementia: an exploratory pre-post pilot and feasibility study. American Journal of Alzheimer’s Disease & Other Dementias, 39, Januarie–Desember. https://journals.sagepub.com/doi/10.1177/15333175241263741 (12 September 2024 geraadpleeg).

Ebert, A en K-J Bär. 2010. Emil Kraepelin: A pioneer of scientific understanding of psychiatry and psychopharmacology. Indian Journal of Psychiatry, 52(2):191–2. https://www.ncbi.nlm.nih.gov/pmc/articles/PMC2927892 (12 September 2024 geraadpleeg).

Elahi, FM en BL Miller. 2017. A clinicopathological approach to the diagnosis of dementia. Nature Reviews Neurology, 13(8):457–76. https://www.ncbi.nlm.nih.gov/pmc/articles/PMC5771416 (8 September 2024 geraadpleeg).

Geser, F, GK Wenning, W Poewe en I McKeith. 2005. How to diagnose dementia with Lewy bodies: state of the art. Movement Disorders, 20(12):11–20. https://pubmed.ncbi.nlm.nih.gov/16092075 (11 September 2024 geraadpleeg).

Gotlib, IH. 2001. Information processing and psychopathology. In Smelser en Baltes (reds) 2000.

Hung, L, J Park, H Levine ea. 2024. Technology-based group exercise interventions for people living with dementia or mild cognitive impairment: a scoping review. PLoS ONE, 19(6):e0305266. https://pubmed.ncbi.nlm.nih.gov/35351717 (12 September 2024 geraadpleeg).

Husain M en JM Schott (reds). 2016. Oxford Textbook of Cognitive Neurology and Dementia. Oxford: Oxford University Press. 211–20. https://doi.org/10.1093/med/9780199655946.001.0001 (18 September geraadpleeg).

Jellinger, KA. 2010. Should the word “dementia” be forgotten? Journal of Cellular and Molecular Medicine, 14(10):2415–6. https://www.ncbi.nlm.nih.gov/pmc/articles/PMC3823159/#:~:text=F%2000%E2%80%93F%2007)%2C,of%20memory%20and%20other%20cognitive%2F (11 September 2024 geraadpleeg).

Leefwêreld van die Gestremde (radioprogram). 8 September 2024. Johannesburg: RSG. https://omny.fm/shows/leefw-reld-van-die-gestremde/leefw-reld-van-die-gestremde-8-september-2024 (9 September 2024 geraadpleeg).

Livingston, G, J Huntley, KY Liu ea. 2024. Dementia prevention, intervention, and care: 2024 report of the Lancet standing commission. The Lancet, 404:572–628. https://www.thelancet.com/journals/lancet/article/PIIS0140-6736(24)01296-0/abstract (9 September 2024 geraadpleeg).

Livingston, G, J Huntley, A Sommerlad ea. 2020. Dementia prevention, intervention, and care: 2020 report of the Lancet Commission. The Lancet, 396:413–46. https://www.thelancet.com/pdfs/journals/lancet/PIIS0140-6736(20)30367-6.pdf (20 Augustus 2024 geraadpleeg).

Lorito, CD, K Pollock, V Booth ea. 2024. Social participation in the promoting activity, independence and stability in early dementia (PrAISED). A home-based therapy intervention for people living with dementia: a realist evaluation. BMC Geriatrics, 24(615). https://bmcgeriatr.biomedcentral.com/articles/10.1186/s12877-024-05086-y (14 September 2024 geraadpleeg).

Mahalingam, S en MK Chen. 2019. Neuroimaging in dementias. Seminars in Neurology, 39(2):188–99. https://pubmed.ncbi.nlm.nih.gov/30925612 (9 September 2024 geraadpleeg).

Merriam-Webster.com. Dementia. https://www.merriam-webster.com/dictionary/dementia (8 September 2024 geraadpleeg).

Nasionale Instituut vir Neurologiese Versteurings en Beroerte (NINDS). S j. Corticobasal degeneration information page. https://web.archive.org/web/20090323180443/http:/www.ninds.nih.gov/disorders/corticobasal_degeneration/corticobasal_degeneration.htm (14 September 2024 geraadpleeg).

Pan-Amerikaanse Gesondheidsorganisasie. S j. Noncommunicable diseases. https://www.paho.org/en/topics/noncommunicable-diseases (31 Augustus geraadpleeg).

Papamichail, P, M-L Sagredaki, C Bouzineki ea. 2024. The effectiveness of an exercise program on muscle strength and range of motion on upper limbs, functional ability and depression at early stage of dementia. Journal of Clinical Medicine, 13:4136. https://pubmed.ncbi.nlm.nih.gov/39064174 (14 September 2024 geraadpleeg).

Sadock, BJ en VA Sadock. 2003. Kaplan & Sadock’s Synopsis of Psychiatry. 9de uitgawe New York: Lippincott Williams & Wilkins.

Smelser, NJ en PB Baltes (reds). 2000. International Encyclopedia of the Social & Behavioral Sciences. Oxford: Pergamon.  https://www.sciencedirect.com/topics/computer-science/dementia-praecox (1 September 2024 geraadpleeg).

Trachtenberg, DI. en JQ Trojanowski. 2008. Dementia: a word to be forgotten. Archives of Neurology, 65(5):593–5. https://jamanetwork.com/journals/jamaneurology/fullarticle/795549#google_vignette (2 September 2024 geraadpleeg).

Trigiani, LJ en E Hamel. 2017. An endothelial link between the benefits of physical exercise in dementia. Journal of Cerebral Blood Flow & Metabolism, 37(8):2649–64. https://journals.sagepub.com/doi/10.1177/0271678X17714655 (30 Augustus 2024 geraadpleeg).

Wêreldgesondheidsorganisasie. 2024. Physical activity. https://www.who.int/news-room/fact-sheets/detail/physical-activity (15 September 2024 geraadpleeg).

Lees ook:

Praktiese raad oor die versorging van ’n demensielyer

So help ons persone met demensie: ’n kerklike perspektief

Demensie en alzheimersiekte: Ervaringsindruk van twee boeke

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top