
...
Moedig die gesin aan om gebruik te maak van professionele berading of geestelike leiding vir familielede wat dalk hulp nodig het; dit kan help om hartseer, verlies of angs te verwerk.
...
Demensie is ’n siekte wat die lyer se menswees op baie vlakke aantas. Stuk-stuk, en bietjies vir bietjies, verdwyn die mens wat ons eens geken het voor die oë van diegene wat met hul saamleef.
Demensie word soms die “groot vergeet” of die “hartseer siekte” genoem vanweë die impak wat dit op die persoon self en op sy/haar familie het.
Die joernalis Willemien Brümmer haal Karen Borochowitz, stigter van DementiaSA, aan wat demensie as die grootste psigiesegesondheidskrisis van ons tyd beskou. Teen 2020 was daar reeds meer as 55 miljoen mense wat tot so ’n mate aangetas was dat hulle nie genoeg kon onthou of helder kon dink om basiese dagtake te verrig nie. Dit is tans wêreldwyd die sewende grootste oorsaak van sterftes.
Persone met demensie is egter veel meer as net persone met ’n diagnose van demensie! Hulle is volwaardige mense soos enige ander mense. ’n Holistiese benadering help om hulle beter te verstaan en te versorg.
Ook die kerk moet dit verstaan.
Ek wonder soms wat die godsdiensbelewing van mense met demensie is. Wat verstaan hulle? Hoe ervaar hulle God?
Eenmaal, terwyl ek nagmaal moes bedien aan ’n groepie bejaardes in die afdeling vir mense met demensie, sit een tannie so strak voor haar en kyk toe ek almal vriendelik groet. Sy reageer glad nie. Ek stap nader na haar en sit my hand op haar skouer. Nog voordat ek enigiets kon sê, sê sy sonder enige emosie, maar met ’n baie ferm stem: “Ek glo in Jesus!” Dis die hele gesprek. Afgehandel. Die tannie was so oortuig met haar een-sin-getuienis. Ek het geen rede om te dink dat sy nie geweet het wat sy sê nie.
Wanneer ons nadink oor die godsdiensbelewing van ’n persoon met demensie, is die aard van so ’n persoon se verhouding met die Here, voordat demensie begin intree het, van deurslaggewende belang. Die teenwoordigheid van demensie gaan jou nie noodwendig nader aan die Here bring nie. ’n Gesonde verhouding met die Here voor die aanwesigheid van demensie gaan die persoon eerder in hierdie tyd dra.
Die geestelike behoeftes van ’n persoon met demensie hang ten nouste saam met die fase van demensie waarin die persoon op ’n gegewe oomblik is, asook die geestelike welstand wat die persoon voor die aanvang van die siekte beleef het.
Wat kan die kerk bied? Die behoefte aan emosionele en geestelike ondersteuning neem dikwels toe, veral in die lig van ’n gevoel van isolasie. Daar is, veral vroeër, baie vrae:
- Wat is die sin en doel van hul huidige lewensomstandighede?
- Vrae oor lewe, dood en hul persoonlike rol daarin (wat dikwels vrae oor geloofsekerheid en skuldgevoelens insluit).
Ons kan die persoon help in hul soeke na troos en betekenis rakende hulle omstandighede. Daar is dikwels ’n begeerte na innerlike vrede om die angs wat met hulle toestand verband hou te verlig.
Die kerk kan dus met ’n oop hart en hand help met steun vir sulke mense se behoefte om aan godsdienstige praktyke deel te neem ten einde ’n mate van vertroosting te kan ervaar.
Hoe doen ons dit?
Daar is ’n aantal wenke wat ek kan deel om die geestelike behoeftes van persone met demensie te help aanspreek.
Ten eerste moet ons luister. Neem met deernis en geduld deel aan hul gesprekke. Luister na hul gedagtes, gevoelens, vrese en herinneringe en bevestig hul ervarings.
Ons kan hulle help onthou. Moedig herinneringe oor belangrike lewensgebeure, waardes en oortuigings aan. Dit kan help om hul identiteit en sin vir die lewe te versterk.
...
Pas aan by die persoon se behoeftes.
...
Sluit die persoon aktief by die beoefening van godsdiensaktiwiteite in. Vind uit waaraan die persoon gewoond was, aangesien langtermyngeheue die blywende faktor is. Voorbeelde wat troos kan bring vir die regte persoon, is nagmaalbediening, gebed, meditasie, geestelike liedere en Bybellees. Pas aan by die persoon se behoeftes. Gebruik aktiwiteite soos musiek om herinneringe en emosies wat aan hul geestelike identiteit gekoppel is, te kan oproep.
Skep die regte atmosfeer. Spandeer tyd in die natuur of skep ’n aangename omgewing met kuns, musiek of foto’s wat geestelik by hulle aanklank vind. Troeteldiere (en terapiehonde) help dikwels ook om die persoon te laat ontspan. Dan is die fokus op die dier, wat minder intimiderend is as om ander mense in die oë te kyk ten einde ’n sinvolle gesprek te kan voer.
Sagte fisieke aanraking, soos om hande vas te hou, kan warmte en emosionele verbondenheid oordra.
Gebruik die tegnologie. Die waarde van videogrepe van familie en video-oproepe moet nie onderskat word nie.
Erken dat geestelike behoeftes vir elke persoon uniek is. ’n Persoon se begrip oor geloof en God kan ook met verloop van tyd verander, en dit moet met die nodige sensitiwiteit aangespreek word.
Moenie bang wees vir stilte nie. Jou teenwoordigheid dien as bevestiging dat God self by hulle teenwoordig is.
Ondervang frustrasie
Agteruitgang van die verstandelike vermoë kan tot frustrasie lei. Geheueverlies lei dikwels tot verleentheid as hul byvoorbeeld bekende Bybelteksverse nie meer kan onthou nie. Koppel dit aan emosionele reaksies, soos angs, depressie en vrees oor die toekoms, dan is vrae oor die lewe, dood en die hiernamaals (geloofsekerheid) te verstane. Al dié dinge kan dit moeilik maak om ware vertroosting in hul geloof te vind.
Demensie kan ook verbale en nieverbale kommunikasievaardighede benadeel, wat dit vir mense moeilik maak om hul geestelike behoeftes of oortuigings uit te druk.
Dit vereis ’n deernisvolle benadering om persone met demensie te begelei om troos en betekenis in hul godsdiensbelewing te vind, veral wanneer verstandelike vermoëns afneem.
Godsdiensbeoefening vind dikwels in groepsverband plaas. Persone met demensie word te dikwels uitgeskuif, wat tot gevoelens van eensaamheid, nutteloosheid en frustrasie kan lei. Ons moet bewus wees hiervan en poog om dit teen te werk. Ons moet almal help “remember to re-member!”
Die voordele van volgehou godsdiensbelewing
Godsdiensbelewing hou voordele in vir persone met demensie. Die regte benadering kan ’n gevoel van troos en gerusstelling teweeg bring. Meelewing kan persone help om gevoelens van vrees, angs en onsekerheid te verwerk. Deur hul geloofsekerheid in God te bevestig, kan hoop weer opvlam.Godsdiensbeoefening kan tot ’n hernude doel in die lewe lei, wat persone help om betekenis in hul lewens te vind, selfs in die lig van verstandelike uitdagings. Nog eens, moenie die waarde van saamwees in ’n groep onderskat nie.Bekende rituele, gebede of liedere kan herinneringe oproep en ’n gevoel van stabiliteit in hul lewens versterk.
Mense is dikwels bekommerd oor wat die persoon met demensie se belewing van God is, maar wat van ’n omgekeerde vraag: Hoe dink God oor die mens met demensie? In Jesaja 49:15 vind ons ’n riglyn: “Kan ’n vrou haar suigeling vergeet, haar nie ontferm oor die seun van haar moederskoot nie? Selfs al sou hulle vergeet, Ek, ja, Ek sal jou nooit vergeet nie.”
Elizabeth L Thompson het gesê: “God always remembers us ... Let’s make sure we remember Him, too.”
Wat van familie en vriende?
Pastorale hulp moenie die swaar pad van die familie en vriende van ’n persoon met demensie vergeet nie.
Moedig ten eerste die geliefdes van ’n persoon met demensie aan om by ondersteuningsgroepe aan te sluit.
Kontak die Association for Dementia and Alzheimer’s of South Africa (ADASA) indien nodig. Hulle webruimte is https://www.adasa.org.za. ADASA het kundiges wat almal – die persoon met demensie, die gesin en vriende – kan bystaan. Meer nog, om by ondersteuningsgroepe vir gesinne van persone met demensie aan te sluit kan verhoudings met ander mense bevorder wat hul stryd verstaan. Dit gee ’n gevoel van empatie en gedeelde ervaring.
Moedig die gesin aan om gebruik te maak van professionele berading of geestelike leiding vir familielede wat dalk hulp nodig het; dit kan help om hartseer, verlies of angs te verwerk.
Maak ook as begeleier seker dat die gesin die waarde van oop kommunikasie verstaan. Skep ’n veilige ruimte vir familielede om hul gevoelens, vrese en emosies te deel.
Wenke aan die familie
Wys ’n skakelpersoon aan. Dit help as ’n toegewysde persoon vir die nodige kommunikasie tussen die mediese personeel en die familie kan sorg.
Moedig gesinsrituele aan: Handhaaf familietradisies of skep nuwe rituele wat die persoon met demensie betrek, soos om stories te deel, kerse aan te steek of bymekaar te kom vir gebed of meditasie.
Gesinslede moet tyd neem vir hulself, vir persoonlike nadenke, dagboekjoernale, of deelname aan aktiwiteite soos natuurwandelings, meditasie of kuns wat tot vrede en aanvaarding kan lei.
Gebed, meditasie of ander geestelike praktyke wat ooreenstem met die gesin se oortuigings, kan eenheid en ondersteuning bevorder.
Vier die lewe! Fokus op die mooi en die lewe vol ervarings wat met die persoon met demensie gedeel word. Om geheueboeke te skep, gunstelingstories te deel, of deel te neem aan aktiwiteite wat die persoon met demensie se wese weerspieël, kan genesend wees.
Help gesinne om mekaar se persoonlike behoeftes te verstaan en te respekteer. Elke gesinslid sal unieke geestelike behoeftes kan hê. Bied ondersteuning en begrip, en laat hulle toe om ruimte te skep vir mekaar om hul eie geestelike reis te verken. Om ’n oor te wees vir mekaar help dikwels meer as om ’n antwoord te probeer wees vir mekaar.
Lees ook:
Ons raaiselpad met alzheimersiekte deur Elise Nel: ’n resensie
Jef Geeraerts se Mister Angelo Alzheimer, vertaal deur Fanie Olivier: ‘n resensie

