Alzheimer
In oupa Jaap se kop het stories tougestaan
om deur die drukgang van sy mond te stap
As die dag uitgemelk en uitgevreet op stal was
het hy hulle deurgejaag tot by die enemmeltafel
op die stoep My hart het tiet getrek
vir hierdie hanslammers van Oupa
Die dag toe Groot Vergeet die hek ooplos
toe dwaal hulle al met die grootpad weg

