Holistiese Christelike Afrika-spiritualiteit tydens siekte en krisis: ’n Pastoraal-hermeneutiese perspektief

  • 0

Holistiese Christelike Afrika-spiritualiteit tydens siekte en krisis: ’n Pastoraal-hermeneutiese perspektief1

Martin Khoaseb en Christo Thesnaar, Departement Praktiese Teologie en Missiologie, Universiteit Stellenbosch

LitNet Akademies Jaargang 16(3)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.



In hierdie artikel word die rol van Afrika-spiritualiteit ondersoek, spesifiek ten tye van siekte en krisis. Die doel is om deur middel van ’n pastoraal-hermeneutiese interpretasie ’n moontlikheid van inklusiewe spiritualiteit (beide Afrikaïese en Christelike spiritualiteite) voor te stel. Dit word voorgestel as ’n wesenlike alternatiewe reaksie vir Afrika-mense in hul stryd met siekte en krisis. Die veronderstelling is dat holistiese Christelike spiritualiteit ’n sterk basis van hoop aan Afrika-mense tydens siekte en krisis bied. Spiritualiteit is ’n wye begrip wat verskillende konsepte bevat en kan dus nie tot slegs ’n religieuse ervaring beperk word nie. Die navorsing het grotendeels van beskikbare literatuur rakende Afrikaïese wêreldbeskouings en Afrika-spiritualiteit gebruik gemaak, om sodoende nuwe insigte te ontwikkel. Daar is bevind dat spiritualiteit in Afrika deel is van alle mense se ervaringe en bewustheid wat spruit uit omgang met hul medemens, natuur en die bonatuurlike. Dit blyk dat spiritualiteit diepe betekenis vind tydens tye van krisisse en siektes. Hierdie krisistoestande wek vrees en onsekerheid omdat dit fisieke, geestelike, emosionele, sosiale en ekonomiese produktiwiteit teenwerk. Afrika-spiritualiteit is gegrond in Afrika-kulture en -tradisies, wat ’n basis van ondersteuning tydens siektes en krisisse bied. Binne die konteks van siekte kan Afrika-spiritualiteit werklik tot sy reg kom wanneer dit sy regmatige plek inneem en deel word van reaksiemeganismes in die stryd teen en uitdagings van siekte en krisis. Dus poog die artikel om ’n teoretiese raamwerk daar te stel wat Afrika-spiritualiteit binne die kulturele en tradisionele konteks bespreek. Dit poog verder om die fondament van Afrika-spiritualiteit as bousteen te gebruik om die aanslag van siekte en krisis te interpreteer en om sin daarvan te maak. Die oorkoepelende betoog van die artikel is om die rol wat holistiese Christelike Afrika-spiritualiteit vervul, te ondersoek en te poog om ’n inklusiewe spirituele raamwerk vir die hantering van siektes en krisisse voor te stel.

Trefwoorde: Afrikaïese wêreldbeskouing; Afrika-godsdienste; Afrika-kultuur; Afrika-spiritualiteit; Christelike spiritualiteit; holistiese/inklusiewe spiritualiteit; siekte; ubuntu



Holistic Christian spirituality during times of illness and crisis: a hermeneutical-pastoral perspective

The article investigates holistic spirituality as a basis to reflect upon the role of African spirituality during times of illness and crisis. Although African history is by and large an oral history, the article makes use of diverse literature to explore African worldviews and cultures in addressing the question of spirituality during times of illness. In the last few decades various African authors have written books and articles on African culture and practices to gather the oral stories into written manuscripts for future preservation.

Africans have a strong spiritual awareness and a belief that supernatural or invisible realms are closely connected to their earthly existence. These views determine the entirety of African people’s experiences in different stages of life. They affect rites of passage as well as the ways in which illness, crisis and death are handled. The overarching belief is that both good and evil spirits influence human life and activities. Everything that happens is linked in one way or another to spirituality. This is very evident during various celebrations and social events, such as the birth of a child, puberty rites, weddings, or when someone dies. In all such cases, rituals are performed, overseen by elders who initiate contact with ancestors and petition the supreme beings on behalf of the living.

The African worldview is the undergirding philosophy that governs African thought and practices. It is therefore vitally important to study the impact of African worldviews and cultures in relation to illness. The article draws on the inspiration of African spirituality, which is vibrant and dynamic. The essence of any spirituality is best manifested during adverse times, hence the focus of this article on spirituality and illness. The theoretical basis for African spirituality is dealt with in order to establish a conceptual framework whereby the effect of spirituality on the experience of illness is interpreted. The broader definition of spirituality is introduced, and special reference is made to its meaning within the African context.

First, the article describes the main concepts of Africa spirituality as they translate to Africans’ understanding and perception of God during illness. It further demonstrates the fact that African spirituality is intertwined with African worldviews and cosmology. Many Africans perceive illness as having multiple causes and occurring for many reasons. Illness is not a mere biophysical dysfunction, but in many African minds is caused by spiritual forces and interventions. The main cause to which illness is attributed is broken relationships that could manifest at different levels of coexistence. This could be due to pain or hurt inflicted by or to another person, violation of environment, or disobedience to or sin against God. Such views and convictions about disturbances of relationships are based on African worldviews that advocate a close network of relationships between people, nature and the supreme being. This conviction serves as a vital source of inspiration during illness. Therefore, during illness and crises, many Africans resort to consulting ancestors and making sacrifices to appease them in an attempt to reverse the curse of illness. Appeasement rituals are crucial for restoration of relationships and maintaining of harmony.

Secondly, the role of culture during illness is explored and the concept of ubuntu introduced into the argument. African understanding of ubuntu emphasises the interdependence of people; humanity is a shared existence. The burden of illness of an individual is carried by the whole group. In other words, when a person is ill, the whole community is affected. The community or family support systems are important for a person facing illness, especially the knowledge that the family is rallying around the sick person. The elders are the leaders of African families and during illness they decide on the type of interventions in pursuit of healing for a sick person. There is a hierarchical order in African societies, with the highest decisions on family issues executed by the senior elders. It is difficult for any person to oppose the wishes or the decisions of the elders. At times there is a possibility of tension, especially in cases where the sick person does not want to consult traditional healers, against the expectations of the elders.

Thirdly, the relationship between African spirituality and Christian spirituality is explored. This is necessary as many people in Sub-Saharan Africa adhere to the Christian faith. The gospel message has played a vital role in challenging and transforming many African people’s approach to how life is viewed, how God is perceived, and how the course of life is interpreted. This is an important observation, as many African people embrace both cultural and Christian perspectives. For many African people there is no contradiction when they consult both Christian and traditional healers when experiencing illness. This argument is well developed in the article, and the embracing of both cultural and Christian perspectives should not be confused with syncretism, which mixes traditional and Christian beliefs in worshipping God.

Fourthly, the possibilities of a holistic, inclusive Christian African spirituality are investigated as a viable alternative mechanism for ill persons. The holistic spirituality correlates with the communal Africa worldview, which embraces every stranger as a friend who has not yet been met. Holistic spirituality should be complementary to open spirituality, which respects and welcomes various cultural expressions of different groups. In this sense, African spirituality is not regarded as inferior to Christian spirituality. There is a need for further research around the functionality of inclusive spirituality within the African context. Effective responses to illness will be feasible only when African culture is taken into consideration and its relation to and interplay with African spirituality explored. This engagement is interpreted from a pastoral-hermeneutical perspective. There is a need for further research on employing pastoral hermeneutics within the African context, with special focus on African worldviews and cultures.

Keywords: African culture; African religions; African spirituality; African worldview; holistic/inclusive spirituality; illness; ubuntu


1. Inleiding

Hierdie artikel het ten doel om die rol van ’n holistiese Christelike Afrika-spiritualiteit tydens siekte en krisis te bespreek. Spiritualiteit is ’n integrale komponent van menswees, want elke mens het ’n bepaalde spirituele ervaring wat sin en betekenis gee aan die doel en rede vir die mens se bestaan. Dit het veral ook te make met die wyse waarop persone met hulself, andere, die omgewing en die bonatuurlike omgaan. Hierdie integrasie van spiritualiteit binne die totale bestaan van die mens verleen sin en betekenis aan mense met Afrikaïese lewens- en wêreldbeskouings. Om reg aan hierdie beskouing te laat geskied, poog die navorsing om eerstens die begrip spiritualiteit te ondersoek en dan ’n kort oorsig van Afrikaïese en Christelike spiritualiteite te bied. In die artikel word op holistiese Christelike Afrika-spiritualiteit gefokus, omdat Christenskap ’n bepalende rol speel in die lewe van baie mense in Afrika. Weens die realiteit van die impak en invloed van die Christelike geloof en spiritualiteit binne die Afrika-konteks is dit onmoontlik om Christelike spiritualiteit te ignoreer. Om hierdie rede moet enige poging om tydens siekte en krisis binne die Afrikaïese lewens- en wêreldbeskouing ’n intervensie te maak, inderdaad gebruik maak van ’n holistiese Christelike Afrika-spiritualiteit, wat beide Afrikaïese en Christelike spiritualiteite insluit.

Die impak van siekte en krisis word voorts bespreek vanuit ’n konseptuele raamwerk wat belangrike aspekte van Afrika-spiritualiteit insluit. Verder word die rol van Afrika-spiritualiteit tydens siekte en krisis bespreek binne die raamwerk van ’n inklusiewe spiritualiteit. Dit is derhalwe belangrik om spiritualiteit in die breedste moontlike omvang daarvan te verstaan, maar om ook in besonder te verstaan hoe spiritualiteit tydens siekte en krisis in die Afrika-konteks manifesteer. Afrika-spiritualiteit gee uiting en uitdrukking aan alle uitdagings, ervaringe en gemoedstoestande wat vrese en angs veroorsaak, maar skep tog ook ’n verdieping in spiritualiteit wat die basis van geloof en hoop tydens siekte en krisis vorm.


2. Wat behels spiritualiteit?

Die term spiritualiteit kom van die Latynse woord spiritualitas, wat verband hou met spiritus en spiritualis, wat in Grieks vertaal word met pneuma en pneumatikos onderskeidelik en in die Bybel deur veral Paulus in sy briewe gebruik word. Hierdie interpretasie en verstaan van spiritualiteit is gehandhaaf gedurende die vroeë eeue van die kerk. Kourie (2009:155) toon aan dat die term spiritualiteit deur die eeue baie gebruike gehad het. Dit het sedertdien moeilik geraak om eenstemmigheid te kry oor die betekenis van die woord. Sheldrake (2007:1) erken dat dit selfs akademies uitdagend is om ’n korrekte balans tussen religie en spiritualiteit te formuleer, nietemin redeneer hy: “[Y]et, despite the fuzziness, it is possible to suggest that the word spirituality refers to the deepest values and meanings by which people seek to live” (Sheldrake 2007:2). Spiritualiteit dra dus by tot die ontwikkeling van die mens in totaliteit, wat tot positiewe sinsbetekenis en die nastreef van ’n doelgerigte lewe kan lei. Holder (2005:1–2) betoog dat Christelike spiritualiteit kompleks is en beter begryp en waardeer sal word alleenlik as verskillende benaderings in ag geneem word. Die dinamiese realiteit van spiritualiteit soos in geloofskringe, sekulêre kringe sowel as kultuurgemeenskappe gebruik, het die betekenis van hierdie konsep drasties verander. Die breër verstaan van die konsep spiritualiteit stel die verskillende kulture in staat om hul spiritualiteit met eie reg en uitdrukking daar te stel. Dit skep ook ruimte dat Afrikaïese en Christelike spiritualiteite in ’n verhouding van interaksie en dialoog met mekaar kan verkeer.

Lombaard en Potgieter (2015:13) verduidelik dit soos volg:

Spiritualiteit is die gewaarwording, oor verskillende grade van bewustheid heen, van die opname van die individu of groep in ’n belewenis wat buite die gewone om en grootliks buite die vermoë van deskriptiewe taal om die mens meevoer tot ’n ontmoeting (“encounter”) met iets geheel konkreet maar tog onaanraakbaar, waardeur die mens sigself beleef as in direkte verbintenis met die buitengewone, die bowemenslike, die verhewene. (Lombaard en Potgieter 2015:13)

Spiritualiteit het te make met beleefde ervaringe, wat verwys na die funksie en impak van geloof of geloofstelsels wat godsdienstige ervaringe uitbeeld (Louw 2005b:49). Stevens en Green (2003) meen dat spiritualiteit ’n dinamiese ervaring van God in verskeie kontekste van die lewe is. Na aanleiding van laasgenoemde stelling is dit duidelik dat verskeie lewenservarings, hetsy werk, verhoudings, kerklike lewe of leef in die samelewing, bydra tot die ontdekking van dieper transendente realiteite van God. Spiritualiteit is ’n noodsaaklike deel van ’n spesifieke kultuur. Persone of ’n groep beskik oor onderliggende bindende wêreldbeskouings en -ervarings as dryfkrag. Dit kom tot uitdrukking in denkwyses, denkpatrone en gedragskodes. Louw (2005b:158) bevestig dat spiritualiteit te make het met die persoon in sy geheel, en nie net met godsdienstige of morele bewustheid nie.

Afrika-spiritualiteit is een van die belangrike kenmerke van Afrika-kultuur en -religie. Daar is inderdaad verskeie invloede wat Afrika-wees bepaal. Maluleke (2001:37) bevestig dat wat dit beteken om ’n Afrika-mens te wees, op verskeie maniere uitgedruk word. Daar is algemene konsensus dat ’n Afrika-religie en -spiritualiteit nie van ’n enkele oogpunt bekyk kan word nie (Magesa 2002:16, Kruger, Lubbe en Steyn 2009:35). Nietemin argumenteer Mbiti (1990:1) dat ten spyte van verskillende ervaringe en beskouinge van godsdiens en spiritualiteit, daar tog ’n enkele onderliggende godsdienstige filosofie in Afrika bestaan. Daar is dus erkenning dat sekere elemente van spiritualiteit algemeen ondervind word in Afrika-kulture. Die hibridiese aard van Afrika-godsdienste is ’n werklikheid in ons hedendaagse lewe omdat dit aanleiding gee tot ’n vermenging van tradisionele praktyke met Westerse praktyke. Dit is opvallend in gevalle waar mense tydens siekte van verskillende bronne gebruik maak. In dié verband stel Van den Bosch-Heij (2012:32) dit dat, weens werklike behoeftes, baie mense neig om van elke beskikbare terapie gebruik te maak, ongeag of verskillende terapieë komplementerend tot of teenstrydig met mekaar is.

Die feit dat Afrika-spiritualiteit nie ’n eenvormige gedaante het nie, maar op veelvoudige maniere uitgeleef word, is nie ’n teenstrydigheid wanneer daar na ’n Afrika-spiritualiteit verwys word nie. Afrika-spiritualiteit is ’n algemene verskynsel wat deur verskillende Afrika-groepe beoefen word en genoeg motivering vir akademiese ondersoek bied.

Dit is dus noodsaaklik om ’n breë begrip van spiritualiteit daar te stel wat as grondslag vir die artikel dien. Volgens Schneider (2005:15) word spiritualiteit as akademiese dissipline vanuit ’n eksistensiële werklikheid benader. Spiritualiteit word daarom beskou as is ’n weerspieëling van onder andere menslike handelinge (Waaijman 2002:563) wat ’n wye ervaringe van godsdiens, kultuur, ekonomie, akademie en politiek insluit. Waaijman (2007) toon verder aan dat spiritualiteit ’n veelvoudige verskynsel is wat in minstens 12 dissiplines gebruik word, elk met ’n unieke betekenis, wat op komplementerende en interdissiplinêre wyses gebruik kan word. Waaijman het agt vlakke geponeer om bogenoemde dissiplines met die sogenaamde “SPIRIN encyclopedia of spirituality”2 uit te beeld. Die agt kategorieë van vlakke is woorde, voorwerpe, beelde, tekste, geskiedenis, prosesse, verhoudings en profesieë (Waaijman 2007:3). Die interaksie tussen die verskillende dissiplines met hierdie agt vlakke toon dat spiritualiteit verskeie betekenisse in verskillende kontekste bied. Spiritualiteit is gebonde aan ’n betrokke konteks en in dié verband stel Waaijman (2006:59) dit dat spiritualiteit een is met ’n kultuur waarbinne dit staan as ’n uitdrukking van geestelike ervaring. Maar dit verkeer ook in spanning, want hoe meer spiritualiteit sigself met ’n kultuur vereenselwig, hoe verder raak dit vervreem van die tradisie waarbinne dit bestaan. Dit noodsaak ’n proses van gedurige herontdekking. Louw (2012:181) argumenteer dat spiritualiteit te doen het met ’n proses van integrasie wat geloof met die lewe verbind deur die bou van verhoudinge, sosiale aktiwiteite, godsdiensbeoefening en die rol wat die kerk in die gemeenskap vervul. Spiritualiteit word dus beskou as ’n uitdrukking van die eksistensiële belewenis van menswees, wat uiting vind in godsdiensbeoefening.

Opoku (1993:67) bevestig dat tradisionele Afrika-godsdienste deel is van ’n menslike erfenis wat gebore is uit die ervaringe en diepe nadenke van voorouers van Afrika. Voorts bied dit antwoorde wat die menslike gees aanwakker en die bonatuurlike menslike ervaring versterk, soos geïnterpreteer deur Afrika se eie kultuurerfenis en insigte. Die rol wat godsdiens in Afrika vervul, verbind die alledaagse ervaringe, lewensuitkyke en geestelike inspirasie van Afrika-mense. Met dit in gedagte argumenteer Opoku (1993:67) tereg dat “the divine truth is beyond the reach of a single religious tradition”. Opoku se opmerking van die veelvoudigheid van godsdienste is ’n betoog vir die gelykheid van alle godsdienste. Dit is vanuit hierdie beskouing dat Afrika-godsdienste met ander godsdienste in dialoog tree.


3. ’n Holistiese Christelike spiritualiteit in Afrika

Spiritualiteit word met godsdienstigheid geassosieer, maar ook met die niegodsdienstige; met ander woorde die tipe gebruik en betekenis van spiritualiteit hang af van die konteks en woordeskat wat gebruik word (Lombaard en Potgieter 2015:15). Die feit dat spiritualiteit verskillende uitdrukkings het, bewys dat spiritualiteit nie van die samelewing geskei kan word nie en daarom nie net aan godsdienstige waarde gekoppel moet word nie (Knoblauch 2014:81). Die algemene, universele aspek van spiritualiteit is daardie soeke van ’n mens na die diepere en die verhewene wat betekenis aan mense se bestaan bied. Nes Christelike spiritualiteit is hierdie verlange na ’n dieper, hoë realiteit ook ’n uitstaande kenmerk van Afrika-spiritualiteit. Dit is in die besonder sigbaar tydens siekte en krisis, waar kontak met die opperwese deur voorvaders ’n wesenlike rol speel in pogings om onheil af te weer. Peterson (2005:27) verduidelik dat transendensie en immanensie fundamenteel is vir die verstaan van spiritualiteit. Transendensie beklemtoon dat daar in die lewe meer is as wat met die oog sigbaar is; en immanensie beklemtoon dat daar diep binne-in die mens ’n kernwese (“core being”) is wat op organiese wyse aan die transendente verbonde is.

Die rol van Afrika-spiritualiteit tydens siekte en krisis vorm die basis van hierdie artikel juis omdat ’n Christelike-spiritualiteit-benadering fundamenteel is vir die meeste mense in Sub-Sahara-Afrika wat hulle met Christenskap vereenselwig. Hierdie werklikheid noodsaak maniere om interaksie te bewerkstellig en ’n middeweg te baan tussen Afrika- en Christelike perspektiewe van spiritualiteit. As albei hierdie spiritualiteite se bestaansreg en waarde erken word, moet so ’n interaksie en samewerking binne inklusiewe of oop spiritualiteite plaasvind. Kourie en Kretzschmar (2000:12) verduidelik dat “there are attempts to provide a more integral and inclusive definition that spirituality is seen as an attempt to grow in sensitivity – to self, to others, to nonhuman creation and to God”. Spiritualiteit wat verandering onder Afrika-mense bewerkstellig, moet alle mense, hul gebeure, hoop, vrese en aspirasies insluit, want Afrika-mense is ’n gemeenskap wat aan die natuur gebonde is (Bellagamba 1987:107). Spiritualiteit moet relevant wees tot die behoeftes van die mense wat dit bedien en moet nie ’n abstrakte konsep wees wat ver verwyder van mense se ervarings en realiteite staan nie. Bellagamba (1987:99) waarsku ons teen die gevaar van “uprooted spirituality, cerebral spirituality, a spirituality which is apart from, and not part of life”, wat ons te alle tye moet vermy. Spiritualiteit wat sin maak, moet kulturele en godsdienstige realiteite van Afrika-mense in ag neem.

Die uitstaande eienskap van ’n Afrika-spiritualiteit wat genoeg ruimte vir uitdrukking bied, word soos volg deur Lartey (1997:113 e.v.) beskryf: “a human capacity of relationship with self, others, world, God, and that which transcends sensory experience, which is often expressed in the particularities of given historical, special and social contexts, and which often leads to specific forms of action in the world”.

Die dilemma van vroeë Westerse sendelinge na Afrika was hul onvermoë om die Christelike boodskap te kontekstualiseer met die lewenservaringe van Afrika-mense. Kanyandogo (2001:118) beweer dat Afrika-mense hul eie godsdienstige ervaring en bewustheid het wat die Christelike boodskap vir kultureel relevante en responsiewe strategieë moet gebruik. In dié verband argumenteer Kretzschmar (1996:67) ten gunste van ’n holistiese spiritualiteit wat daarna streef om te integreer eerder as om mense in verskillende aparte dimensies te plaas. Hierdie soort spiritualiteit verstaan en interpreteer mense binne hul breër en noue verhoudings met hulself, God en ander mense.

Holistiese spiritualiteit kombineer aspekte van sielkundige volwassenheid en aspekte van teologiese volwassenheid. Louw (2005b:54) dui aan dat holistiese spiritualiteit daarna streef om die gehalte van menswaardigheid te verbeter. ’n Verhouding met God moet tot ’n hoë aansien van alle mense lei. Die innerlike en private dimensies moet verbind word met dimensies van publieke lewe en sosiale konteks. Dit sal meebring dat spiritualiteit nie abstrak staan van gemeenskaplike en sosiale werklikhede nie. Afrika-spiritualiteit beskik reeds oor fasette van heelheid as integrale deel omdat dit op kommunale en sosiale komponente gebou is. In dié sin sal holistiese spiritualiteit juis in die Afrika-konteks byval vind. Sodoende sal selfs ’n persoon wat siek is of ’n krisis beleef, nie as ’n individu alleen gelaat word nie, maar as ’n interafhanklike, geestelik-sosiale wese benader word. Nketia (2010) redeneer dat Afrikaïese Christelike spiritualiteit nie net tot formele aanbidding in kerke beperk moet word nie, maar ’n bydrae moet lewer in die kontemporêre konteks, as deel van skeppende kunste. Holistiese spiritualiteit is wenslik, want dit verhoed abstrakte en individuele spiritualiteit wat net op die siel gebaseer is, en verbreed dimensies van spiritualiteit tot totale menslike ervaring. Juis omdat Afrikaïese spiritualiteit breed en omvattend is, is dit oop vir Christelike interaksie en interpretasie. Louw (2005a:424) verklaar dat die debat oor spiritualiteit deel is van die mens se geestelike behoeftes, onder andere die bewussyn van transendensie en soeke na sin.

In dieselfde trant benadruk die pastorale teoloog D. Tieleman (1995:114) hoe nodig hernude vorme van Christelike spiritualiteit in ’n gesekulariseerde samelewing is. Hy wys daarop dat hierdie soort spiritualiteit ’n soeke is na ’n nuwe begrip van God en menswees wat tot herevaluering van menslike gemeenskaplikheid moet lei. Dit is daarom nie verrassend dat Peterson (2005:5) aandui dat daar in die laaste dekades in die breë samelewing ’n hernude belangstelling in spiritualiteit is nie.

Serfontein (2013:2) toon die voor- en nadele van oop spiritualiteit aan deur die positiewe aspekte van oop, breë en veelvoudige interpretasie as verryking te sien, maar erken ook die negatiewe aspekte van spiritualiteit wat vanuit persoonlike en subjektiewe beskouinge geïnterpreteer word. Die oop interpretasie wat verskillende sienswyses van spiritualiteit inkorporeer, gee aanleiding tot onsekerheid en frustrasie, omdat dit nie ’n definitiewe rigtingwyser is in tye van nood nie, spesifiek tydens siekte en krisis, wanneer mense meer sekerheid en vastigheid wat hoop verskaf, benodig. Oop spiritualiteit bied vele moontlike wyses van interpretasie, weens die feit dat dit nie beperk is tot ’n bepaalde identiteit, soos Christelike, Afrika- of enige ander spiritualiteit nie.

Nieteenstaande hierdie moontlike komplikasie is ons van mening dat die positiewe aspekte van Afrika- en Bybelse spiritualiteite alleenlik deur inklusiewe spiritualiteit na vore gebring kan word, wat dan tydens siekte en krisis vir Afrika-mense hoop bied. Die verwesenliking van ’n holistiese Christelike en Afrika-spiritualiteit moet gefundeer word op ’n teoretiese grondslag wat beide Afrikaïese en Christelike spiritualiteite konseptualiseer.


4. Die konseptualisering van Afrika-spiritualiteit

Daar is reeds aangedui dat spiritualiteit meer as ’n godsdienstige konsep is; in Afrika is spiritualiteit inderdaad gekoppel aan alle dimensies van menswees. In dié verband speel kultuur dus ’n bepalende rol in Afrika-spiritualiteit. Hierdie verhouding tussen kultuur en spiritualiteit word later breedvoerig bespreek.

Afrika-spiritualiteit kan die beste beskryf word as ’n sirkel wat ’n vorm van eenheid en gemeenskap binne die Afrika-konteks simboliseer. Die hele lewenspatroon binne die sirkel is gebaseer op die dinamiese lewenskrag (Nürnberger 2007:22) wat die kerndryfkrag van ’n gemeenskap is. ’n Goeie voorbeeld van hierdie lewenspatroon word weerspieël deur die beeld van ronde Afrika-hutte met die vuur as die middelpunt van alle aktiwiteite (Nürnberger 2007:22). Die familie sit in ’n kring om die vuur en handhaaf ’n spesifieke hiërargie, wat solidariteit illustreer. Hierdie lewenspatroon moet verstaan word as ’n geordende, hiërargiese struktuur. Dit is juis omdat ’n hele familie, groep of stam vanuit hierdie dinamiese kragposisie georganiseer is dat dit ’n deurslaggewende rol speel tydens siekte of krisis. Dié solidariteit maak dit in ’n sin makliker tydens siekte en/of ’n krisis juis omdat een persoon se siekte of noodlot saam deur die gemeenskap gedra word.

Afrika-spiritualiteit word veral visueel uitgebeeld, soos met dans, hande klap, tromme en dromme. Uzukwu (1991:101) argumenteer dat Afrika-mense se ritmiese tromslae en liggaamsbewegings emosies wakker maak. Sonder sang, instrumente en hande klap is enige vorm van liturgie dood. Simbole is diep gewortel in die Afrika-kultuur, want Afrika-mense het beeldryke denke en maak daarom gebruik van ’n sterk verbeelding (De Klerk 2001:286). Musiek en dans is universele verskynsels wat die lewendige bewegings van die liggaam insluit. Ofori-Atta-Thomas (1986:62) verduidelik dat danse gebruik word in tye van blydskap, hartseer en pyn, in ernstige krisistye, in voorspoed, en bloot net om vreugde uit te druk. Dit is dus belangrik om die rol van visuele vorme tydens siekte en krisis te beklemtoon.

De Klerk (2001:287) bevestig dat “emosies [...] geverbaliseer [word] in liedere, uitroepe, jubelklanke, klaaguitinge en individuele gebede waarmee aangedui word hoe die kernwaarheid van die dood en opstanding die gelowiges raak”. Sommige van hierdie vorme van emosionele uitdrukking word gebruik wanneer ’n siek persoon intervensies doen om genees te word. Grotendeels dieselfde rituele en rites word toegepas as tydens enige ander belangrike gebeurtenis. Die meeste Afrika-mense gee uiting aan daaglikse ervaringe deur musiek, ululering en dans. Die Khoikhoi was byvoorbeeld lief vir feesvier, sing en dans. Hulle het hulself met plantsappe in verskillende kleure geverf en dan allerhande danse rondom die kampvuur uitgevoer. Hulle het musiekinstrumente soos fluite en ramkies gemaak en tydens verskeie feeste en rituele bespeel. Rituele en rites en dans rondom die vuur is kenmerkend van baie Afrika-groepe as maniere om siektes, bose magte en lotgevalle af te weer. Rituele het ’n prominente betekenis wanneer dit gebruik word vir naamgewing, verskillende fases van grootword, huwelike, begrafnisse ens. Al hierdie praktyke is aanduidings dat Afrika-mense op unieke maniere aan hul spiritualiteit uiting gee.

Die konseptualisering van spiritualiteit in Afrika is nie dieselfde as dié van Christelike spiritualiteit nie, maar dit impliseer nie dat Afrika-mense nie spiritualiteit verstaan of beoefen het voor die koms van sendelinge nie. Mtetwa (1996) bevestig dat Afrika-spiritualiteit reeds gedurende die premoderne era ten volle gefunksioneer het en moontlik ook die postmoderne era sal oorleef, al moet dit transformeer en in ’n veranderde vorm voortleef. Die oorlewing van Afrika-spiritualiteit is gefundeer in die elemente wat eie is aan die unieke karakter van Afrika-kulture en -tradisies. Kalilombe (1994:216) benadruk dat Afrika-spiritualiteit ’n soort leefwyse is waar gesindhede, geloofsoortuigings en praktyke so geïntegreer is dat dit aan mense betekenis gee en hulle help om te strewe na bonatuurlike en sinvolle realiteite. Hierdie integrasie en strewe is ’n ontologiese proses waar die mens in verhouding staan met ’n superwese en die natuur (Mugambi en Magesa 1998:18–9). Bonatuurlike invloede en die uitwerking daarvan op die mens, hetsy goed of sleg, is ’n aanvaarde werklikheid in Afrika; daarom word geestelike teenmiddels spesifiek ingestel om heling en balans terug te bring. Lewe strek verder as dood, en dood word as ’n nodige oorgang na lewe beskou.


5. Siekte en krisis in Afrika-spiritualiteit

Siekte in Afrika moet breër en meer omvattend beskou word as dat dit net ’n fisieke disfunksie is. Die Wêreldgesondheidsorganisasie definieer gesondheid as volg: “Health is a state of overall physical, mental, and social wellbeing that does not consist solely in the absence of illness or infirmity” (World Health Organisation 1992). Dus is enige toestand waar daar nie wel-wees is nie, ’n vorm van siek-wees. Die Lutheran World Federation (2004) wys op die veelvoudige uitwerking wat siekte en krisis op die gemeenskap het deur aan te dui dat dit onder andere te make het met voorvaderlike woede, en toordery, en in die vorm van natuurlike elemente, soos storms, vloede, aardbewings ens. kan manifesteer. Die feit dat siekte (of ’n krisis3) beide individuele en kollektiewe elemente het wat in noue verband met mekaar staan, word ook deur Berinyuu (1989:71) bevestig. Daar sal verder op hierdie perspektief op siekte uitgebrei word, en dit vorm die uitgangspunt om Afrika-spiritualiteit tydens siekte en krisis te konseptualiseer.

In wese is mense spirituele entiteite wat sin van hul bestaan probeer maak en daarom koppel hulle dit aan die misterie van die ongesiene werklikhede. Daar is min plekke in die wêreld waar geloof in ’n superwese of bonatuurlike nie erken word nie. Die mens word dus gebore met ’n spirituele bewustheid of verlange na ’n bonatuurlike en superwese. Geen mens is “geloofloos” nie, want alle mense beskik oor ’n soort toewyding aan iets. Dit kan die vorm aanneem van aanbidding van die natuur, elemente van die sonnestelsel, bonatuurlike verskynsels, voorvaders, ens. In dié sin is spiritualiteit fundamenteel in die gees en lewe van ’n spesifieke kultuur en word dit gebind deur samehorige, onderliggende oortuigings en sienswyses van daardie spesifieke kultuur. In die ontwikkelende wêreld, wat twee derdes van die wêreldbevolking verteenwoordig, speel spiritualiteit ’n definiërende rol. Afrika is geen uitsondering nie, maar inderdaad ’n uitstaande voorbeeld van waar spiritualiteit die dryfkrag vir lewe is. De Klerk (2001:278) wys daarop dat die Afrika-mens baie godsdienstig is en iemand vir wie kultuur baie na aan die hart lê, wat dus meebring dat waardes, idees en handelswyses sterk deur godsdienstige handelinge gevorm word. Dit is daarom bepalend om te verstaan dat wanneer siekte en krisis binne die Afrika-konteks intree, dit ’n direkte verband met kultuur, spiritualiteit en effektiwiteit het.

Binne die Afrikaïese lewens- en wêreldbeskouing het siekte en krisis groot spirituele implikasies vir die Afrika-mens, gevolglik word alle pogings aangewend om dood te vermy. Sodoende stry mense en strewe hulle voortdurend daarna om siekte en dood te oorwin. Die dinamiese verhouding tussen siekte en dood teenoor lewe en hoop word deur Abraham en Mbuy-Beya (1994) bevestig. Juis hierdie dinamika bevestig dat spiritualiteit in Afrika ’n breë, omvattende begrip is en daarom nie eng gedefinieer kan word nie, maar binne die totaliteit van menswees begryp moet word. In dié verband is dit belangrik om waaksaam te wees vir wat Kretzschmar (1996:69–70) beskryf as ’n noue, geprivatiseerde spiritualiteit. Volgens Kretzschmar is die eienskappe van geprivatiseerde spiritualiteit die volgende:

  • Dit is individueel en dualisties, want dit verdeel die werklikheid in dimensies, bv. geestelik teenoor materieel, sekulêr teenoor heilig, sielsorg teenoor sosiale betrokkenheid.
  • Dit vergeestelik die evangelie deurdat dit alles in die Bybel vanuit ’n spesifieke geestelike oogpunt waarneem.
  • Dit beskou nie die realiteite wat mense ervaar, ernstig nie, maar vergeestelik eerder alles en daardeur het dit min agting vir die intellektuele domein.

Afrika-spiritualiteit staan lynreg teenoor geprivatiseerde spiritualiteit, juis omdat ’n individu binne die Afrika-spiritualiteit altyd binne die raamwerk van die gemeenskap verstaan word. Louw (2005b:51) maak ons bewus daarvan dat spiritualiteit juis die bewustheid van die transendente ontwikkel te midde van eksistensiële en sosiale konflikte. Sodoende word siekte en krisis nie net op ’n individuele vlak ervaar nie, maar raak dit verskillende fasette en verhoudings aan wat op horisontale vlak (tussen mense) en vertikale vlak (met God) manifesteer.

Die feit dat siekte en krisis die geestelike, emosionele, fisieke en sosiale vlakke van menswees affekteer, bedreig en belemmer die moontlikhede vir siek mense om hul volle potensiaal uit te leef. Siekte en krisis kan maklik mense se gees en ywer strem, spesifiek wanneer die liggaam verswak en begin agteruitgaan. As siekte en krisis nie beheer word en sin daarvan gemaak word nie, kan dit elemente van menswees en menswaardigheid belemmer. Baie maal is dit nie siekte wat tot dood lei nie, maar tree dood in wanneer ’n siek persoon hoop verloor en nie meer die wil het om te veg nie. In dié sin is dit juis wanneer elemente van menswaardigheid onderdruk word deur die aggressiwiteit van siekte dat dit veroorsaak dat mense die stryd verloor. Spiritualiteit speel dus ’n belangrike rol tydens siekte en krisis, omdat dit juis die potensiaal het om mense uit hul toestand te lig en dieper betekenis te laat vind te midde van pyn en smart. Siek mense en mense in krisis word dus geïnspireer om hul waardigheid te ontdek om sodoende hoop te ontwikkel wat aanleiding kan gee tot ’n positiewe en doelgerigte lewensuitkyk.

Binne die Afrikaïese lewens- en wêreldbeskouing word eenheid in die gemeenskap sterk beklemtoon, met die gevolg dat elke lid van die gemeenskap as ’n integrale skakel beskou word. In dié sin is die begrip menswaardigheid ’n wesenlike deel van Afrika-spiritualiteit. Die gemeenskap-samehorigheid en -eenheid wat as ubuntu verwoord word, bevestig juis die wesenlikheid van menswaardigheid. Ubuntu impliseer juis dat in Afrika elke mens deel is van die geheel (De Klerk 2001:285–6). Ubuntu lê ten grondslag aan die gemeenskap se sorg en omgee vir mekaar. Getui en Theuri (reds.) (2002:176) toon dat verantwoordelikheid vir sorg en behoud van lewe, spesifiek omgee vir kinders en oumense, op die hele “village” berus. Hulle stel dit verder dat elke individu verantwoordelik is vir die algemene welstand van die gemeenskap. Die feit dat spiritualiteit die basis van menswaardigheid vorm, het implikasies tydens siekte en krisis en in die soeke na genesing en heling. Siekte en krisis val die kern van menswaardigheid en heelheid aan, daarom is die beklemtoning van menswaardigheid in spiritualiteit een manier om die impak van siekte en krisis teen te werk. Dit is moontlik alleenlik as spiritualiteit verstaan en beskou word as ’n noodsaaklike komponent van ’n persoon se bestaan en lewensuitkyk.

Gegewe die voorgaande bespreking, gaan daar vervolgens gepoog word om ’n breë omskrywing van Afrika-spiritualiteit te skets wat as basis gebruik sal word om oor siekte en krisis te besin. Spiritualiteit gee betekenis aan die lewensbestaan van ’n groep, dus is dit ’n essensiële komponent om selfs tydens siekte en krisis hoop te gee. Juis omdat Afrika-spiritualiteit binne ’n bepaalde raamwerk en konteks geïnterpreteer moet word, is dit noodsaaklik om te verstaan wat die eienskappe van Afrika-spiritualiteit is.


6. Eienskappe van Afrika-spiritualiteit

Die volgende is paar van uitstaande kenmerke van Afrika-spiritualiteit wat in baie gevalle eens is met tipiese tradisionele ervaringe van baie kulture van die wêreld:

6.1 Toeganklikheid van ’n Opperwese of God

In Afrika-spiritualiteit word God beskou as beide verwyderd en naby, transendent en immanent. God word gesien as Opperwese wat by alledaagse handelinge van mense betrokke is en wat dié wat ongehoorsaam is, straf. Han (2013:97) bevestig die feit dat Afrika-mense God verstaan as betrokke by hul daaglikse lewens, maar ook ver verwyderd. God kan dus nie direk aanbid of benader word nie, behalwe deur bemiddeling van voorvaders. Ekeke en Ekeopara (2010:213) toon dat Afrika-mense glo in God wat beide verwyderd en naby is. ’n Mens is altyd afhanklik van God en moet dus ’n goeie verhouding met God handhaaf om voorspoedig te wees. Ongehoorsaamheid word met onder andere noodlot, siektes en droogtes gestraf, terwyl gehoorsaamheid met gesondheid, voedsel en voorsienigheid beloon word. Hierdie verstaan van God as Opperwese beteken dat God bereikbaar is vir alle mense, maar onbekend bly in sy wese. Hierdie soort benadering kan tot ’n soort fatalistiese siening van die lewe lei waar alles aan God se wil oorgelaat word en wat mense dus volgens Louw (2005b:16) en Long (2000:25) passief laat vir wat die lewe bied.

6.2 Konkretisering van God

Kulturele beelde en godsbeelde wat deel van ’n Afrika-spiritualiteit uitmaak, word gevorm deur ondervindinge van stamme, familiegroepe en sosiale assosiasies. God is die groot voorvader4 wat deur die aardse voorvaders namens die lewendes benader word, deur die bring van offers en die doen van rituele. Geestelike wesens soos voorvaders dien dus as skakels deur wie offers en gebede tot die Opperwese gebring word (Ekeke en Ekeopara 2010:215). Konkretisering van God is nie ’n vreemde verskynsel nie, want Afrika-kulture is gekoppel aan die visuele en tasbare realiteite van die lewe. ’n Voorbeeld hiervan is tyd, wat bepaal word deur die opkoms en ondergaan van die son.

6.3 Verhouding met die bonatuurlike

Afrika-godsdienste funksioneer vanuit die kommunale en antroposentriese. In dié verband word Jesus as “groot broer” beskou (Nyamiti 1984:23). Sodoende word die bonatuurlike gesien as die dryfkrag wat die mensdom beïnvloed en reguleer en hul lot in die lewe bepaal (Setiloane 1989:34). God as lewenskrag penetreer alles, en binne die misterie van die werklikheid word sekere berge, riviere en plekke beskou as berge, riviere en plekke met goddelike krag wat kan genees, versoen of sekere oorwinnings of deurbrake kan bied. Die Afrikaïese wêreldbeskouing het ’n inklusiewe lewensbenadering wat die bonatuurlike deel maak van alledaagse uitdagings wat mense teister.

6.4 Skande as sosiale euwel

Daar is ’n element van skande in Afrika-kultuur, nietemin word skuld vanuit ’n gemeenskaplike oogpunt verstaan. As iemand verkeerd optree, word dit as skandepleging teen die gemeenskap gesien, dus bly baie mense stil as hulle iets verkeerd doen weens vrees vir isolasie. Afrika-spiritualiteit beklemtoon die sosiale gevolge wat skande meebring, eerder as persoonlike verantwoordelikheid en gevolge Dwane (2002:19 e.v.). Die bogenoemde kenmerke van Afrika-spiritualiteit word verder verryk deur vyf belangrike dimensies van Afrika-spiritualiteit wat Lartey (1997:111–23) noem, naamlik:

6.4.1 Die verhouding met die transendente. Die argument is dat spiritualiteit universeel deur mense ervaar word in verhouding met die bonatuurlike krag. Hierdie ervaring met die transendente is ver bo die alledaagse menslike lewe, maar tog ook deel van menswees. Die reaksie van Afrika-mense teenoor die transendente is in die vorm van kultureel gepaste religieuse rites en praktyke.

6.4.2 Intrapersoonlike verhoudings, wat te make het met die wyse waarop mense met hulself in verhouding is, omdat beter selfwaardering tot dinamiese spiritualiteit lei.

6.4.3 Interpersoonlike verhoudings, wat weerspieël hoe individue met ander persone in verhouding staan. Dit is ’n integrale deel van Afrika-spiritualiteit, waar ’n ek-u-verhouding met ander uitgebeeld word deur waardes van respek, verantwoordelikheid en vriendskaplikheid. Hierdie soort verhoudings word gekenmerk deur faktore van solidariteit, betrokkenheid asook die bou van ’n gees van samehorigheid. Afrika-mense het baie feeste en rituele wat bande van eenheid tussen groepe versterk.

6.4.4 Ruimtelike verhoudings, wat in Afrika-spiritualiteit betekenis aan plekke en dinge gee. As mense het ons ’n verhouding met die natuur en ons omgewing. Die natuur dra groot geestelike werklikhede vir Afrika-mense. Dit word meestal in Afrika-spiritualiteit uitgebeeld deur simbole en lewensiklusse wat op die natuur gebaseer is en in Afrika-spiritualiteit bevestig word.

Kasambala (2004:44) is van mening dat Lartey se vyf dimensies van spiritualiteit ons help om Afrika-spiritualiteit te verstaan juis “when compared to other spiritualities in different contexts of the world. The outstanding feature that has important significance for spirituality in Africa is its emphasis on the corporate (relationships among people) dimension.” Hierdie dimensies is egter nie teenstrydig met die hoofeienskappe wat vroeër aangedui is nie, maar vorm ’n raamwerk waarbinne die eienskappe geïnterpreteer moet word. Die relevansie van bogenoemde dimensies vir Afrika-spiritualiteit is onteenseglik. Dit is duidelik dat Afrika-spiritualiteit die gom is wat verskillende fasette van Afrika-lewe saambind. Hierdie spiritualiteit vind uiting deur die verhouding met God, voorvaders, medemense en die natuur. Die wêreld word beskou as ’n geestelik-historiese realiteit wat ’n kosmoteandriese visie voorstel waar God, die mens en die natuur in ’n simbiotiese verhouding staan. Dié konsep bestaan uit drie elemente, naamlik kosmos (wêreld), theos (God) en andros (mens). Brinkman (2007:151) en Panikkar (1993:72–7) beskryf kosmoteandrisme as “a concept in which God, human beings and the whole creation are interwoven together without lapsing into pantheism”. Afrika het inderdaad verskillende begrippe en konsepte oor God; desnieteenstaande toon Ekeke en Ekeopara (2010:215) dat daar ’n algemene aanvaarding is van een Opperwese wat bo alle gode is, en dat dít die fokus van alle aktiwiteite soos aanbidding, rites, rituele of offerandes word. Daar is ’n sterk verband of verhouding tussen die bonatuurlike, die mens en die natuur, wat in ’n geslote sisteem verkeer. Dus is dit verstaanbaar as Afrika-mense tydens siekte en krisis die oorsake van hul lot toeskryf aan die verbreking van die ekwilibrium of harmonie in hul fisiese en bonatuurlike verhoudings.


7. Oorsake van siekte in Afrika-perspektief

Die konsep van siekte het beide individuele en kosmiese implikasies binne die Afrikaïese lewens- en wêreldbeskouing. Siekte word nooit apart van gemeenskap en verhoudings gesien nie. In dié verband sê Berinyuu (1989:71) dat siekte gebeur as gevolg van ’n versteuring in verhoudings, hetsy met lewendes of met die voorvaders. Hierdie siening word ook bevestig deur Louw (2005b:169), wat siekte en siektetoestand in Afrika met individuele en kosmiese fasette verbind, maar verder die noue verband tussen siekte en die gedrag of optrede van ’n individu uitwys. Binne Afrika-spiritualiteit is daar minstens vier sterk indikators wat bydra tot siektes:

7.1 Persoonlike handelinge, wat lei tot ’n oortreding teen ’n gemeenskaplike norm of verwaarlosing van die verhouding met die voorvaders.

7.2 Sondes van naasbestaandes in die verlede, wat as generasievloeke van geslag tot geslag oorgedra word.

7.3 Gebroke menslike verhoudinge en die verontagsaming van belangrike menslike waardes (Dwane 2002:26). Siekte en krisisse word grotendeels toegeskryf aan diskonneksie met of verbreking van generasiebande wat fundamenteel vir eenheid is.

7.4 Die invloed en uitwerking van bose magte wat negatiewe gevolge op die mensdom het. Afrika-kosmologie handhaaf geloof in goeie geeste wat beskerm en slegte geeste wat siekte en noodlot bring, sowel as bonatuurlike en toormagte wat lewendes voordelig of nadelig beïnvloed. Daar word algemeen aanvaar dat fisiese en geestelike wêrelde in ’n voortdurende verhouding met mekaar en met die gemeenskap staan; daar is geen afstand tussen die materiële en geestelike, sigbare en onsigbare wêrelde nie.

Binne die Afrika-konteks is daar verskeie soorte siektes: sommige is van psigosomatiese aard en word geassosieer met geestelike versteuringe; ander is van kulturele aard, soos toordery, demoniese geeste, histerie, vergiftiging en besoedeling (Maboea 2002:66–8). In tradisionele Afrika-godsdienste word geestesversteurings soos psigiese versteurdheid en skisofrenie toegeskryf aan disharmonie tussen die mens en die bonatuurlike. Inderdaad, die hoofrede vir psigiese versteurdheid word aan bose aanvalle gekoppel. Swartz (1997) dui aan dat die inheemse Suid-Afrikaanse gemeenskappe glo dat daar harmonie moet wees tussen die individu en die voorouers, omdat dit belangrik is vir die handhawing van ’n gesonde geestestoestand. Die harmonieuse situasie word bewerkstellig wanneer individue en hul families sosiale en spirituele verpligtinge teenoor die voorouers nakom. Sommige geestessiektes tree met ander woorde in wanneer die verhouding tussen die voorouers en die lewendes versteur word. Hierdie soort siektes wat as gevolg van disharmonie manifesteer, word deur tradisionele genesers behandel, wat juis intree om die wanbalans tussen die familie en die voorouers te herstel.

Msomi (2008:99) toon aan dat die Zoeloes siektes toeskryf aan natuurlike of bonatuurlike oorsake. Die natuurlike val onder wat umkhuhlane genoem word, dis siektes wat net kom en waaraan daar geen keer is nie, soos byvoorbeeld verkoues, masels, ens. Aan die ander kant moet bonatuurlike siektes ernstig bejeën word. Hierdie siektes word izifo zababantu of “Afrika-siektes” genoem, en toordery is die hoofoorsaak daarvan. Die meeste Afrika-mense meen dat sogenoemde Afrika-siektes nie deur Westerse medisyne genees kan word nie. Msomi (2008:107) bevestig dat siektes wat deur toordery veroorsaak word, nie deur Westerse metodes behandel kan word nie.

Die argument tot op hierdie punt in die artikel bevestig die Afrika-spirituele wêreld as ’n wêreld waar bonatuurlike wesens ’n groot rol betreffende die denke en aksies van mense speel. Vir die meeste Afrika-mense is spirituele ervaringe dus ’n werklikheid, wat gekoppel word aan die wete dat goeie en slegte geeste in ’n konstante stryd verkeer om beheer van hul lewens te neem. Siekte of gesondheid is ’n spirituele werklikheid vir baie Afrika-mense, wat onderhewig is aan die stand van mense se verhoudings met hul medemense, voorvaders, die natuur en die bonatuurlike. Spiritualiteit wat ’n daadwerklike verskil aan mense maak, moet binne die kultuur en tradisie van ’n betrokke groep uiting vind.


8. Kultuur en tradisies in oënskou in Afrika-spiritualiteit

Kultuur is ’n moeilike konsep om te definieer. Clifford Geertz (1973:89) stel dit dat “culture denotes a historically transmitted pattern of meanings embodied in symbols, a system of inherited conceptions expressed in symbolic forms by means of which men communicate, perpetuate, and develop their knowledge about attitudes toward life”. Die studie van kultuur moet nie slegs op die uiterlike of die opmerklike handelinge konsentreer nie, maar die diepe betekenis van elke kultuur ondersoek en probeer verstaan. Die woord kultuur het ’n Latynse oorsprong: cultus of cultura, met verskeie betekenisse: verbou (landboukundig), bewoon, religie (godsdienstig) en bewaar (moreel) (Eagleton 2000:2). Cultus of cultura verwys na arbeid of optrede deur mense. Kultuur is ’n kollektiewe gerigtheid van ’n bepaalde groep wat deur middel van reëls, waardes, gelowe en gebruike hul gemeenskaplikheid beleef en onderlinge identiteit bepaal (Van Zyl 2010:2). Kultuur as gemeenskaplike identiteit vorm ons om te word wat ons alreeds is deur die natuurlike proses van internalisering van ’n gemeenskap deur te deel in waardes, simbole, gebruike en bepaalde vorme van gedrag. Parekh (2006:143) definieer kultuur soos volg: “Culture is ... a system of beliefs and practices in terms of which a group of human beings understand, regulate, and structure their individual and collective lives. It is a way of both understanding and organizing human life.” Alle mense het ’n kultuur wat gemeenskaplike uitdrukking en sin gee aan hul omgewings en hul rol daarin. Kulture van verskillende mense het oor die eeue ontwikkel en is dus voortdurend aan die transformeer. Kirsten (1984:287) beskryf kultuur as “’n dinamiese verskynsel waarin mens en natuur tesame betrokke is en in beweging kom. Dit is die omvormingsproses waarin die natuur gewysig word en waarin tegelykertyd die mens homself voortdurend vernuwe.” Juis daarom beskou ons Afrika-spiritualiteit as ’n sentrale deel van Afrika-kultuur. Dit word verder bevestig deur Ezeh (2003:37), wat aandui dat daar ’n deurlopende band tussen kultuur en godsdiens is omdat kultuur vir baie Afrika-mense nes godsdiens is en andersom.

Geertz (1973:123) argumenteer dat die interaksie tussen kultuur en godsdiens die rol van spiritualiteit in die lewe van ’n individu of ’n groep selfs duideliker uitbeeld. Dit dien as ’n bron van besondere konseptualisering van die wêreld, die self en onderlinge verhoudings. Godsdiens vervul dus ’n oriënterende funksie wat individue of ’n gemeenskappe help om identiteit en hul plek binne die wêreld te ontdek. Kultuur beïnvloed hoe siekte, siek wees en gesondheid gekonseptualiseer word. Elke kultuur het dus sy eie verklarings vir siekte. Maraich (2003) merk op dat elke menslike gemeenskap eie kulturele sisteme het om te reageer tydens siekte en om herstel te bevorder tydens siekte. Die verskillende kulturele werklikhede wat mense ontwikkel, hetsy geloofsbelydenis, waardes, tale, institusies of wette, het ’n invloed op hoe mense funksioneer en uiteindelik selfs siekte definieer.

Dit is duidelik dat Afrika-spiritualiteit verstaan en begryp moet word vanuit Afrika-kultuur en
-denke. Dit noodsaak dat ons die Afrika-kultuur en -tradisie moet definieer en die rol wat dit in spiritualiteit speel, bepaal. Nürnberger (2007:v) redeneer dat geen kultuur staties is nie, maar blootgestel is aan veranderinge; dit geld ook Afrika-kulture. Dit is belangrik om die teoretiese raamwerk waarvolgens Afrikaïese kosmologie funksioneer, te verstaan sodat ons Afrika-spiritualiteit beter kan begryp. In dié verband merk Kalu (2000:56) op: “Africans operate with three-dimensional perception of space: the sky, the earth, and the ancestral world, which is located under the earth ... Each space dimension is imbued with divinities, territorial spirits, and a host of minor spirits.” Hierdie sentimente word ook deur Buys (2000:12–4) bevestig in sy bydrae oor die dinamiese wêreldbeskouing van Afrika. Daar is verbindings tussen die fisiese en die onsigbare werklikhede, in so ’n mate dat daar selfs na die dood konneksies is met die lewendes en dié wat vooruitgegaan het. In dié sin bevestig Skhakhane (1995:11) dat gemeenskap met beide lewendes en dooies ’n kerndeel van Afrika-spiritualiteit uitmaak. Dit spreek van ’n noue band tussen Afrika-mense en hul voorvaders. Voorvaders vervul ’n belangrike rol in die gemeenskap, as punt van kontak tussen die gemeenskap en die geestelike wêreld. Kasambala (2005:53) toon verder dat Afrika-kosmologie deel vorm van Afrika-spiritualiteit, en beide spiritualiteit en kosmologie werk met die veronderstelling dat die lewe beïnvloed word deur verhoudings tussen mense, wat sigbaar en onsigbare dimensies bevat.

Afrikaïese kosmologie is rondom hiërargiese orde gesentreer (Bujo 1992:20). Bujo wys daarop dat hierdie hiërargie bestaan uit beide die sigbare en die onsigbare wêrelde. Afrika se lewens- en wêreldbeskouing het nie ’n begrip van persoonlike sonde nie, want oorsake van enige oortreding of onheil word vanuit ’n kosmologiese perspektief beskou. Hiervolgens word skuld binne die gemeenskapsverband of as ’n natuurlike ramp beskou. Waar daar deur ’n persoon of ’n gemeenskap oortree word, is ’n versoeningsproses nodig. Die gebroke verhouding moet herstel word deur verskillende offers, rituele en seremonies uit te voer met die doel om die voorvaders tevrede te stel. Die versoeningsproses word behartig deur ’n senior familielid wat namens die familie met die voorvaders in gesprek tree. Dit is ’n noodsaaklike praktyk, want daar word verstaan dat voorvaders die mag het om goed of skade aan ’n groep of individu te doen.

Mpolo (1994:24) bevestig dat goeie en slegte geestelike magte die mensdom beheer. Aldridge (2000:35) veronderstel dat siekte ’n manifestasie is wat aantoon dat heelheid of harmonie in die liggaam versteur is. Binne hierdie konteks speel spiritualiteit ’n belangrike rol in die wyse waarop siekte en gesondheid verstaan en hanteer word. Siekte, binne die Afrikaïese lewens- en wêreldbeskouing versteur en destabiliseer die sosiale orde, ekwilibrium en harmonie (Louw 2005b:169).


9. Kontinuïteit en diskontinuïteit tussen Christelike en Afrika-spiritualiteite

Daar is ongetwyfeld baie elemente van die spiritualiteite wat mekaar komplementeer, tog is daar ook duidelike verskille waarvan kennis geneem moet word. Die feit dat daar geen enkele, universele wêreldbeskouing is oor hoe siektes en krisisse ontstaan of bekamp kan word nie, toon dat elke kultuur oor ’n eie konseptuele raamwerk vir siekte en genesing beskik. Sodi en Bojuwoye (2011:349) bevestig dit deur daarop te wys dat daar verskillende kulturele konseptualiserings is rakende die werklikhede van siekte en genesing en waarsku teen die toepassing van universele gesondheidsisteme op alle kulture. Daar moet gewaak word teen terapeutiese benaderings wat universele toepaslikheid of superioriteit op alle ander sisteme wil afdwing (Moodley en Sutherland 2010). Daar moet doelbewus na verskillende elemente uit kulture, gelowe en benaderings gesoek word om inklusiewe metodes te gebruik. Moila (2002:20) dui aan dat daar ’n wederkerige interaksie moet wees tussen die Afrika-perspektief van gesondheid, siekte en genesing en die Afrika-siening van die Bybelse God. Hy verduidelik dat hierdie interaksie nie die Afrikaïese lewens- en wêreldbeskouing sal vernietig nie, maar eerder kan lei tot die ontwikkeling van nuwe perspektiewe (Moila 2002:20). Dit is juis binne die interaksie tussen Bybelse en Afrikaïese lewens- en wêreldbeskouings waar die ontwikkeling van nuwe perspektiewe kan lei tot ’n dieper en meer betekenisvolle waardering van ervaringe met siekte en gesondheid vir die Afrika-mens. Dit kan ook ’n geleentheid bied vir beide perspektiewe om krities en konstruktief met mekaar in gesprek te tree. Daar moet juis gewaak word teen sinkretisme van Bybelse en Afrika-praktyke tydens die soeke na genesing van sieke. Jenkins (2011:45) waarsku om nie genesingspraktyke van Onafhanklike Kerke soos die Sionistekerk (ZCC) as sinkretisties te sien nie, maar dit eerder te aanvaar as eg Christelike en kultureel relevante praktyke. Die integrering van Afrika rituele en gebruike tydens genesingspraktyke is deel van ekumeniese integrasie; en moet nie noodwendig as sinkretisme gereken word nie. Veral in Afrika is dit onmoontlik om die Christelike boodskap te skei van kultuur. In Afrika word gedurig daarna gestreef om die Christelike boodskap te versoen met Afrika-kosmologie met betrekking tot die posisie van Jesus Christus.

Soos reeds aangedui, word Christus beskou as die groot broer wat ’n belangrike voorvaderlike rol speel (Brinkman 2007:225). Christus het gesterf, maar anders as enige voorvader, het Christus die dood oorwin en opgestaan en regeer nou in heerlikheid. Hierdie begrip word duidelik uitgespel deur Paulus in 1 Korintiërs 15:20.Die idee van die eerste vrug is ’n metafoor uit die Ou Testament wat verwys na die eerste porsie van enige opbrengs wat met danksegging aan God geoffer word (Ciampara en Rosner 2010:761). ’n Diepe beskouing van inklusiewe spiritualiteit wat ’n wedersydse uitwerking het op Afrikaïese en Christelike spiritualiteite moet altyd rekening hou met uniekheid en diversiteit. Die kritiese balans tussen kulturele en Bybel-hermeneutiese interaksie moet gebruik word om die band van kontinuïteit te versterk. Hierdie interaksie is belangrik om ’n grondslag te bied vir verdere dialoog, gesprekvoering en die ontwikkeling van ’n terapeutiese raamwerk vir ’n reaksie van hoop vir siek mense. Die ontwikkeling van ’n terapeutiese raamwerk moet binne ’n multi-inklusiewe spiritualiteit plaasvind, om sodoende ’n funksionele alternatief tydens siekte en krisis te bied.


10. Slotsom

Die oorsake van en redes vir siekte en krisis het ’n omvangryke impak binne die Afrika-konteks. Binne die Afrikaïese lewens- en wêreldbeskouing word mense wat siek is of ’n krisis beleef, uitgedaag, en daarom moet daar na alternatiewe intervensietegnieke gesoek word om genesing te bewerkstellig. Siekte en krisisse is ’n ware bedreiging vir die produktiewe voortbestaan van die Afrika-vasteland, spesifiek vir jong mense, wat die meerderheid van die bevolking uitmaak. Siekte en krisis is so oud as die mensdom, en dus deel van menswees. Maar in Afrika is dit ’n onvermydelike en katastrofiese werklikheid weens die ekonomiese, sosiale, politieke en geestelike uitdagings wat die meeste mense tans ervaar.

Die artikel het geensins probeer om ’n siekte- en krisisvrye Afrika voor te stel nie, maar eerder om die realiteit van siekte en krisisse, en die vernietiging wat dit meebring, aan te toon, en spiritualiteit as ’n alternatiewe respons daarop te bespreek. Die doel was om ondersoek in te stel na die spirituele dimensie van die Afrika-mens tydens siektes en krisisse. Alhoewel siekte en krisisse demotiverend, teenproduktief en lewensbedreigend van aard is, en baie mense wat hulle daarin bevind, met wanhoop worstel, het die artikel gepoog om juis binne dié werklikheid die onverskrokke en positiewe deurslag uit te beeld wat Afrika-spiritualiteit ontlok.

Die ubuntu-filosofie waarop Afrika-spiritualiteit gebaseer is, maak dit moontlik om tydens siekte en krisis ondersteuningsmeganisme daar te stel wat hoop kan bied. Die grootste bron van Afrika-spiritualiteit is die mens-tot-mens-verhoudings en die Afrikaïese lewens- en wêreldbeskouing wat moontlikhede skep om ondersteuning te bied te midde van stryd en pyn. Baie Afrika-mense het hoë agting vir die rol wat voorouers in hul lewens vervul. Siekte en krisis word nie ligtelik benader nie, maar word direk verbind met die versteuring van verhoudings met die voorouers. Afrika-spiritualiteit is dinamies en blootgestel aan transformasie deurdat Afrika-kultuur in gedurige wisselwerking met ander kulture en Christenskap is. Afrika-kultuur is dus weens globale en eksterne invloede in ’n deurlopende ontwikkelende en vormende proses. Die feit dat kulture dinamies is en in interaksie met ander beskawings transformeer, is ’n faktor wat die Afrika-mens konstant beïnvloed. Dit word dus baie moeilik om van Afrika-spiritualiteit te praat asof dit ongeaffekteerd is deur ander kulture en godsdienste. In Sub-Sahara-Afrika speel geloof, hetsy Christelik of Moslem, ’n deurslaggewende rol. Baie Afrika-kulture het ’n metamorfose ondergaan weens die invloede van die Christendom, Islam en verwestersing.

Dit is nodig dat Afrika-spiritualiteit in konstruktiewe interaksie met Christelike spiritualiteit moet verkeer, spesifiek in Suidelike Afrika waar die meeste Afrika-mense die Christelike geloof aanhang. Die artikel poog daarom om te argumenteer ten gunste van ’n holistiese Christelike Afrika-spiritualiteit. Hierdie soort spiritualiteit sal lei tot ’n inklusiewe en integrale benadering wat beide Afrikaïese en Christelike spiritualiteite op kreatiewe maniere by mekaar laat invleg. Binne dié benadering is dit moontlik dat siekte en krisis op so ’n wyse aangespreek kan word dat dit Afrika-mense in staat sal stel om hoop en sin te kan ervaar te midde van die uitdagings wat hulle beleef.



Abraham, K.C. en B. Mbuy-Beya. 1994. Spirituality of the third world. Maryknoll, New York: Orbis.

Aldridge, D. 2000. Spirituality, healing and medicine. Return to silence. Londen: Jessica Kingsley.

Bellagamba, A. 1987. New attitudes towards spirituality. In Shorter (red.) 1987.

Berinyuu, A.A. 1989. Towards theory and practice of pastoral counseling in Africa. Frankfurt: Peter Lang.

Brinkman, M.E. 2007. The non-Western Jesus. Jesus as bodhisattva, avatra, guru, prophet, ancestor or healer? Londen: Equinox.

Bujo, B. 1992. African theology in its social context, vertaal deur John O’Donohue. Nairobi: St. Paul Communications.

Buys, G. 2000. Competing worldviews in Africa: The search for an African Christian worldview. REC Theological Forum, 28(3&4):8–27.

Ciampara, R.E. en B.S. Rosner. 2010. The first epistle to the Corinthians. Grand Rapids, Michigan: William Eerdmans.

De Klerk, B.J. 2001. Liturgie, transformasie en die Afrika-renaissance. Verbum et Ecclesia, 22(2):273–91.

Dwane, S. 2002. Between two stools – issues of gospel and culture. Genadendal: Genadendal Drukkery.

Eagleton, T. 2000. The idea of culture. Massachusetts: Blackwell.

Ekeke, C.E. en C. Ekeopara. 2010. God, divinities and spirits in African traditional religious ontology. American Journal of Social and Management Sciences, 1(2):209–18.

Ezeh, A.U. 2003. Jesus Christ the ancestor. Berne: Peter Lang.

Geertz, C, 1973. The interpretation of cultures: selected essays. New York: Basic Books.

Getui, M.N. en M.M. Theuri (reds.). 2002. Quests for abundant life in Africa. Nairobi: Acton.

Han, Y.S. 2013. The understanding of God in African theology: contributions of John Samuel Mbiti and Amba Odeyoye. DTh-proefskrif, Universiteit van Pretoria.

Holder, A. 2005. The Blackwell companion to Christian spirituality. Oxford: Blackwell Publishing.

Jenkins, P. 2011. Notes from the global church – South African “Zionist”. Christian Century, 16 Junie.

Kalilombe, P. 1994. Doing theology at the grass roots: theological essays from Malawi. Gweru: Mambo.

Kalu, O. 2000. African Christianity: an African story. Universiteit van Pretoria.

Kanyandogo, P., N. Fogliacco, D. Kyeyune e.a. 2001. Inculturating the church in Africa. Theological and practical perspectives. Nairobi: Paulines.

Kasambala, A.E. 2004. The interplay between God-images and healing in pastoral ministry: engaging an African spirituality. DTh-proefskrif. Universiteit Stellenbosch.

Kirsten, J.M. 1984. Wat is kultuur? ’n Filosofiese antwoord. Koers, 49(3):282–294.

Knoblauch, H. 2014. Popular spirituality. In Hense, Jespers en Nissen (reds.) 2014.

Kourie, C. 2009. Christianity and the university. Verbum et Ecclessia, (30)1:148–73.

Kourie, C. en L. Kretzschmar (reds.). 2000. Christian spirituality in South Africa. Pietermaritzburg: Cluster Publications.

Kretzschmar, L. 1996. A holistic spirituality: a prerequisite for reconstruction of South Africa. Journal of Theology for Southern Africa, 95:63–100.

Krüger, J.S., G.J.A. Lubbe en H.C. Steyn. 2009. The human search for meaning: a multireligion introduction to the religions of humankind. Pretoria: Van Schaik.

Lartey, E. 1997. In living colour: An intercultural approach to pastoral care and counseling. Londen: Cassel.

Lartey, E., D. Nwacchucku en K. Wa Kasonga (reds.). 1994. The church and healing – echoes from Africa. Frankfurt, Main: Lang.

Lombaard, C. en H. Potgieter. 2015. Spiritualiteit en musiek: gevleuelde dissiplines. Vir die Musiekleier, 42:9–24.

Louw, D. 2005a. Geloofsvolwassenheid en Christelike spiritualiteit binne die knyptang van prestasiedruk tydens vroegbejaardheid. In die Skriflig, 39(3):423–39.

—. 2005b. A pastoral hermeneutics of care and encounter. Wellington: Lux Verbi.

—. 2012. Network of the human soul on identity, maturity and life skills. Stellenbosch: SUN Media.

Lutheran World Federation. 2004. Ancestors and healing in African spirituality: Challenges to churches in Africa. https://www.yumpu.com/en/document/view/3074728/ancestors-and-healing-in-african-spirituality-the-lutheran-world- (14 Oktober 2019 geraadpleeg).

Maboea, S.I. 2002. The influence of life-giving power in the African traditional religion and Zionist churches in Soweto – a comparative study. Pretoria: Unisa.

Madu, N.S. (red.). 2003. Contributions to psychotherapy in Africa. Sovenga: University of the North Press.

Magesa, L. 2002. African religion: The moral traditions of abundant life. Maryknoll, New York: Orbis.

Makobane, M. e.a. (reds.). 1995. The church and African culture. Germiston: Lumko.

Maluleka, T.S. 2001. Identity and integrity in African theology: A critical analysis. Religion and Theology, 8(1):26–39.

Maraich, L. 2003. Psychotherapy in Africa. In Madu (red.) 2003.

Mbiti, J.S. 1990. African religions and philosophy. Oxford: Heinemann.

Moila, M.P. 2002. Challenging issues in African Christianity. Pretoria: Unisa.

Moodley, R. en P. Sutherland. 2010. Psychic stress in other places: clients who seek healing with traditional healers and psychotherapists. Counselling Psychology Quarterly, 23(3):267–82.

Mpolo, J.M. 1994. The Church and Healing – Echoes from Africa. In Lartey, Nwacchucku en K. Wa Kasonga (reds.) 1994.

Msomi, V.V. 2008. Ubuntu contextual African pastoral care and counselling. Pretoria: Unisa.

Mtetwa, S. 1996. African spirituality in the context of modernity. Bulletin for Contextual Theology in Southern Africa and Africa, 3(2):21–5.

Mugambi, L.N.K. en L. Magesa. 1998. Jesus in African Christianity. Nairobi: Action.

Nketia, J.H. 2010. African spirituality and African culture. http://www.edinburgh2010.org/fileadmin/files/edinburgh2010/files/docs/AFRICAN_CHRISTIAN_SPIRITUALITY_NKETIAH.doc (14 Oktober 2019 geraadpleeg).

Nürnberger, K. 2007. The living dead and the living God. Pietermaritzburg: Cluster.

Nyamiti, C. 1984. The incarnation in the light of African understanding of personal­ity. In Christology from some African perspectives (mimeo). Nairobi: CHIEA.

Ofori-Atta-Thomas, G. 1986. The African inheritance in black church worship. The Journal of the Interdenominational Theological Centre, 14(1,2):43–74.

Olupona J.K. en S.S. Nyang (reds.). 1993. Religious plurality in Africa: Essays in honour of John S. Mbiti. Mouton de Gruyter: Berlin.

Opoku, K.A. 1993. African traditional religion: An enriching heritage. Olupona en Nyang (reds.) 1993.

Panikkar, R. 1993. The Cosmotheandric experience: emerging religious consciousness. Maryknoll, New York: Orbis.

Parekh, B. 2006. Rethinking multiculturalism. A cultural diversity and political theory. Hampshire, Palgrave: Macmillan.

Peterson, E.H. 2005. Christ plays in ten thousand places: A conversation in spiritual theology. Londen: Hodder & Stoughton.

Schneider, S.M. 2005. What is Christian spirituality? In Blackwell Companion to Christian spirituality. Holder (red.) 2008.

Serfontein, A. 2013. Op soek na missionale spiritualiteit: ’n prakties-teologiese verkenning in die lig van die bydraes deur David Bosch en Eugene Peterson. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.

Setiloane, G.M. 1989. African theology: An introduction. Johannesburg: Skotaville.

Sheldrake, P. 2007. A brief history of spirituality. Malden: Blackwell Publishing.

Shorter, A. (red.). 1987. Towards African Christian Maturity. Kampala: St. Paul.

Skhakhane, J. 1995. African spirituality. In Makobane e.a. (reds.) 1995.

Sodi, T. en O. Bojuwoye. 2011. Cultural embeddedness of health, illness and healing: Prospects for integrating indigenous and Western healing practices. Journal of Psychology in Africa, 21(3):349–56.

Stevens, R.P. en M. Green. 2003. Living the story. Biblical spirituality for everyday Christians. Grand Rapids: William Eerdmans.

Swartz, L. 1997. Culture and mental health. Kaapstad: Oxford Press.

Tieleman, D. 1995. Geloofscrisis als gezichtsbedrog: Spiritualiteit en pastoraat in een postmoderne cultuur. Kampen: Kok.

Uzukwu, E.E. 1991. African symbols and Christian liturgical celebration. Worship, 65(2):98–112.

Van den Bosch-Heij. 2012. Spirit and healing in Africa. A reformed pneumatological perspective. Bloemfontein: Sun Media.

Van Zyl, C.F. 2010. Die invloed van religieuse en kulturele diversiteit op morele oriëntasie in die huidige Suid-Afrikaanse samelewing – ’n uitdaging vir die kerk. PhD-proefskrif, Universiteit van Pretoria.

Waaijman, K. 2002. Spirituality: Forms, foundations, methods. Leuven: Peeters.

—. 2006. SPIRIN encyclopedia of spirituality. Studies in Spirituality, 16:287–326.

—. 2007. Spirituality – A multifaceted phenomenon. Interdisciplinary explorations. Studies in Spirituality, 17:1–113.

World Health Organisation. 1992. Basic documents. Geneva: WHO.



1 Die artikel is moontlik gemaak deur die finansiële bydrae van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

2 Die “SPIRIN encyclopedia of spirituality” van K. Waaijman word verduidelik in Studies in Spirituality, 16:287–326.

3 Krisis ontstaan wanneer mense ’n situasie ervaar wat totaal nuut of oorweldigend is sodat hul gewone hanteringsmetodes onvoldoende is. Gevolglik ondervind mense gevoelens van onsekerheid en magteloosheid wat geleidelik tot sielkundige, sosiale en fisieke wanbalans of disekwilibrium lei. Die krisis kan veroorsaak dat ’n individu beheer verloor en verward raak, en dikwels gevoelens van vrees en skuld en onaangename emosies ervaar.

4 Afrikaïese wêreldbeskouing en kultuur is grotendeels ’n paternalistiese beskouing wat voorouers en God met manlike metafore en beelde vereenselwig. In gevalle waar ons na Afrika-sieninge betreffende voorouers en God verwys, sal ons die manlike vorm behou om konsekwent te wees met die meerderheid Afrika-benamings van hierdie konsepte.


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.

  • 0


Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.