Michiel het in Ceres, Wes-Kaap, op ’n plaas grootgeword.
Hy matrikuleer in 1977 op Ceres. Daarna studeer hy teologie op Stellenbosch. Hy behaal onder andere ’n meestersgraad in kliniese berading en ’n doktorsgraad met gebedsterapie as onderwerp. Hy het ook kwalifikasies in personeelbestuur, finansiële bestuur en rekenaarprogrammering.
Michiel het vir drie jaar voltyds as hospitaalleraar gewerk waar hy onder andere pasiënte met demensie en hulle families begelei het. Daarna was hy 25 jaar voltyds in ’n gemeente, waartydens hy by ondersteuningsgroepe vir persone met demensie betrokke geraak het. Hierna was hy vir nog 11 jaar (tot sy aftrede aan die begin van 2024) hoof van ’n rehabilitasiesentrum vir substansafhanklikes. Sommige van hierdie pasiënte het ook ’n diagnose van demensie gehad.
Michiel het ’n groot liefde vir honde. Hy besoek gereeld persone met demensie met sy terapiehond as lid van die TOPDOGS-span. Hy is ook betrokke by die opleiding van gidshonde. Hy het al ten bate van gidshondopleiding Kilimandjaro (twee keer), Berg Kenia en Everest (Basiskamp) geklim, asook van Pretoria na Kaapstad fiets gery.
Michiel het al verskeie boeke gepubliseer, onder andere oor die begeleiding van kankerpasiënte, gebedsterapie, ware geluk (saligsprekinge in Openbaring) en die hantering van krisisse (uit sy bergklimervarings). Hy doen gereeld motiveringspraatjies op veral Pretoria FM. As geregistreerde berader by CPSC (Council for Pastoral and Spiritual Counsellors) doen hy ook opleiding.
Sy passie in die lewe is om uit te reik na mense in nood en hulle weer te bemagtig.