Ons raaiselpad met alzheimersiekte deur Elise Nel: ’n resensie
- Louise Viljoen is ’n vryskutresensent van Jeffreysbaai.
Die reaksie wat ek gekry het op my resensie oor Elise Nel se Ons raaiselpad met alzheimersiekte het my laat besef dat die uitkringeffek van demensie en alzheimers enorm is.
Ek het beide my ouma en oupa tot hulle dood versorg. Ouma was vir byna ’n jaar lank bedlêend ná ’n reeks beroertes. Sy is tuis in haar eie bed oorlede. Oupa is ook ses jaar later tuis in sy eie bed oorlede. Hy het prostaatkanker gehad wat versprei het. Tans versorg ek my ma (64) wat ná ’n beroerte met demensie gediagnoseer is. Ek het geen mediese opleiding nie, net die praktiese ondervinding wat ek opgedoen het deur na my geliefdes om te sien. Ek lees natuurlik ook wyd en sorg dat ek op hoogte bly van hoe om die raaiselpad wat ek tans met my ma stap, so ver as moontlik te probeer ontsyfer en een voor te wees. Ek deel graag hier my ervaring met die hoop dat dit iemand anders wat in dieselfde bootjie is, kan help. Ek het ook kers gaan opsteek by ’n paar ander mense wat ook geliefdes het wat aan demensie en/of alzheimersiekte ly.
Ruda Kramer (skuilnaam) bly op ’n klein dorpie in die Suid-Kaap. Sy versorg haar ma, Janet (67), ’n alzheimerpasiënt wat al elf jaar lank aan Parkinson-siekte ly. Janet is bedlêend en dra doeke. Ruda het waterbestande paslakens van stortgordyne laat maak wat sy onder ’n gewone paslaken oor die bed trek. Dit beskerm dan die matras wanneer Janet soms saans haar doek afwoel en ’n glips in die bed het. Die paslakens is koste-effektief en kan weer gebruik word. Ruda pak ook ongebruikte swartsakke om Janet wanneer sy dié se hare in die bed was. Dit help om Janet, die matras en beddegoed droog te hou. Ek het weer tapyt voor my ma se enkelbed gegooi wat maklik afgevee en ontsmet kan word indien daar iets op gemors word.
Ruda laat hulle inkopies tuis aflewer. ’n Mobiele staatskliniek en ’n span vrywilligers van ’n niewinsgewende organisasie wat verswakte persone tuis besoek maak ook gereeld by hulle ’n draai, al is dit net om kroniese medikasie af te gee, waar te neem en dalk wondversorging te doen. Dit gee Ruda die geleentheid om Janet se vordering te bespreek en om raad te vra. Sy beveel juis aan dat mense in dieselfde situasie moet uitvind of daar ’n soortgelyke organisasie of diens op hulle eie dorp/stad is. Kontak gerus ook in die Wes-, Noord-, en Oos-Kaap vir Badisa vir meer inligting. Dit is ’n geregistreerde niewinsgewende én openbareweldaadsorganisasie wat hulle toespits op gemeenskapsontwikkeling dmv 153 gemeenskapsgebaseerde programme wat hulle aanpak in samewerking met verskeie belanghebbendes, waaronder plaaslike en provinsiale regerings, die korporatiewe sektor en ander organisasies sonder winsoogmerk.
Ruda volg elke dag dieselfde roetine wanneer dit kom by Janet se versorging. Dit hou Janet kalm en rustig, en dit gee aan Ruda die geleentheid om welkome asemskep-oomblikke tussenin te hê. Sy doen verskeie aktiwiteite saam met Janet om dié se brein te stimuleer. Sy skryf:
- Ek het ʼn ronde speelbal waarin geel vorms pas. Ek haal die vorms uit en dan moet sy die vorms weer terugsit. Die speelbal is algemeen verkrygbaar by speelgoedwinkels.
- Ek koop Puzzle Word Search-boeke vir kinders en dan moet sy die woorde soek. Dit moet boeke vir kinders wees, want die woorde in die boeke vir volwassenes is te lank en die blok waarin mens die woorde moet soek is te groot.
- Sy speel tans met speelgoed wat geskik is vir kinders onder drie jaar en bou ook graag maklike legkaarte met min stukkies.
- Sy hou daarvan om na kort stories op CD te luister.
Ruan Swart het twee jaar lank voltyds na ’n alzheimerpasiënt (toe 80, en kom ons noem haar Lenie) omgesien. Hy het op die moeilike manier geleer dat mens nie van die pasiënt moet verwag om in jou werklikheid te moet leef en funksioneer nie, maar dat jy as versorger eerder so iemand se wêreld moet betree. Natuurlik vereis dit dat die versorger innerlik baie sterk moet wees om wel tussen hierdie uiterste ruimtes te kan beweeg. Geduld, empatie en die vermoë om jouself in die pasiënt se skoene te plaas en die lewe uit sy of haar perspektief te sien, is noodsaaklik.
Hy het graag allerhande kreatiewe planne bedink om dinge vir Lenie (en vir homself) makliker te maak. Sy wou byvoorbeeld nooit haar medikasie neem nie. Soms het dit gehelp om net weer rustig aan haar te verduidelik watter pilletjie vir watter ongesteldheid help en dan het sy dit soet gesluk. Wanneer dié taktiek egter nie gehelp het nie, het hy haar pille fyn gemaak en dit in haar melkskommel ingemeng.
Die tye wanneer Lenie nie haar samewerking wou gee nie, het Ruan haar vir ’n minuut of twee alleen gelaat voordat hy weer sy vraag/opdrag net in ander woorde aan haar gestel het. Soms het hy ’n ander kleur hemp gaan aantrek alvorens hy haar weer genader het met sy voorstel en eers oor iets heel anders gesels om haar aandag af te trek en haar in ’n beter luim te kry. Sy het dan dikwels van haar aanvanklike weiering vergeet en haar samewerking gegee. Hy het graag aan haar keuses voorgehou om haar te laat voel dat haar opinie wel saak maak en dat sy ’n reg het om te besluit oor wat met haar gebeur. Hy het egter die keuses beperk na net twee op ’n keer sodat dit haar nie verwar of oorweldig nie. Hy sou byvoorbeeld dat sy self kies of sy haar geel trui of eerder die bloue wil aantrek. Hy het haar laat voel en dink dat sy hóm behulpsaam is eerder as hý vir haar. Dit het haar laat voel dat sy wel nog iets vir iemand beteken.
Ruan moes Lenie dikwels ook flous om haar te laat glo dat sy ’n keuse gemaak het. Sy wou nie altyd die badkamer gebruik wanneer hy haar herinner het daaraan nie. Hy sou dan byvoorbeeld vir haar vra om saam met hom te stap sodat hy sy hande kan was voordat hy vir hulle ’n lekker eetdingetjie berei. Dikwels wanneer sy eers in die badkamer is en die toilet sien, het sy dit dan sonder verdere teëstribbeling gebruik. Hy moes soms vir haar sê dat hý dringend die badkamer moet gebruik en dan voorstel sy doen sommer ook dieselfde. Die suggestie dat hy ’n nood moes verlig, het haar genoop om dieselfde te wil doen.
Ruan voel baie sterk daaroor dat mens die pasiënt nie as ’n hulpelose en willose baba moet hanteer nie, maar altyd moet onthou wie en wat die persoon was en hom of haar daarvoor moet respekteer. Hou die pasiënt se menswaardigheid in gedagte in die wyse waarop jy met hom of haar kommunikeer en sien dit as ’n liefdestaak wat ook jóú menswees stig.
Anél Potgieter, blogger, TV-sjef en inhoudvervaardiger, stap ook ’n raaiselpad met haar moeder, Babs. Anél reken dat jy nie net jou geliefde se toestand moet aanvaar nie, maar jouself ook moet bemagtig om te verstaan wat besig is om met hom of haar te gebeur en wat voorlê. Sy glo dat jy net met groot liefde en baie geduld met so iemand moet werk. Sy stel voor dat jy uitvind waar jou geliefde op hulle “lewensreis” trek en met hulle gesels oor daardie tydvak waarin hulle hul tans bevind. Vra vrae en toon belangstelling.
Anél blaai graag saam met haar ma deur dié se resepteboek wanneer sy haar besoek. Sy neem ook kaneel, vanielje, naeltjies, ens saam. Haar ma ruik dan daaraan en so saam met die reuk kom die herinneringe terug. Babs praat dan lang stories oor hoe sy byvoorbeeld melktert maak en deel selfs wenke uit. Sy stoot haar ma ook graag in die rolstoel rond en dan luister hulle saam na Baba se gunstelingmusiek en sing sommer kliphard saam. Hulle pluk blomme en blaartjies en Babs probeer die name onthou. Soms kry sy dit reg en soms nie. Anél verseker haar ma dan net dat dit oukei is dat sy nie weet nie, want sy wat Anél is, weet ook nie. Sy sê ook nooit vir Babs wanneer sy verkeerd is oor iets nie. Sy gebruik ook nooit die woorde “Onthou Ma?” nie. As die bekende straat waarin hulle stap, skielik vir Babs vreemd lyk, aanvaar sy Babs se “werklikheid” en stry nie met haar daaroor nie.
Dit is belangrik om te onthou dat gewone situasies soms uit die bloute uit vir alzheimer- of demensielyers heeltemal vreemd en onbekend kan voorkom en dat hulle dus bang, onseker en verward kan voel. Bly rustig en geduldig wanneer dit gebeur en probeer hul angstigheid verstaan. Plaas jouself in die situasie. Hoe sou jý voel indien jy om jou heen rondkyk en alles en almal is skielik vir jou vreemd? Beantwoord hulle vrae in eenvoudige sinne en stel hulle gerus dat alles oukei is. Hou jou stemtoon laag en gerusstellend.
Ek het geleer om soms van nieverbale tekens gebruik te maak om met my ma te kommunikeer. Ek en sy gaan stap elke dag ’n lang ent. Ek hou haar hand die hele tyd vas. Wanneer ander stappers van voor af kom, druk ek net haar hand ’n paar keer waarskuwend op die regte tyd en dan bly sy tjoepstil totdat hulle verby is voordat sy lostrek en hulle mompelend al lustig vloek. Die vloekery was seker die ergste om aan gewoond te raak. My ma, wat gekruide taal nie in haar teenwoordigheid toegelaat of verdra het nie, vloek nou met tye soos ’n matroos. Sy vloek genadiglik nie meer aaneen nie, maar net wanneer sy moeg of deurmekaar is en ook net op sommige dae. Ek vermoed dis danksy ’n pilletjie wat help dat sy minder hallusineer. Ek het haar aanvanklik aangespreek daaroor en gesê: “Ag nee, Mamma, sies! Mens praat mos nie so lelik nie.” Dan sal sy my stomverbaas aankyk en sê: “Maar ek het nie gevloek nie.” Eers het ek gestry, nou ignoreer ek dit meestal net en trek haar aandag af sodat die oomblik net agter die rug kom.
Gepraat van ’n pilletjie. Dit is baie belangrik dat ’n geneesheer en ’n apteker aandagtig na jou geliefde se medikasie kyk. Doen ook jou eie huiswerk en lees die voubiljette. Sekere medikasie se newe-effekte, of selfs net pille wat teen mekaar werk, kan ook geheueverlies en ander simptome vererger of veroorsaak. My ma het byvoorbeeld aanvalle (seizures) begin kry weens voorskrifmedisynes wat teen mekaar gewerk het. Die aanvalle het opgehou die oomblik toe die medikasie gestaak is. Raadpleeg egter altyd ’n dokter hieroor! Daar is ook siektetoestande wat dieselfde simptome as dié van demensie het. Dit is dus belangrik dat demensie of alzheimersiekte wel by jou geliefde gediagnoseer word deur ’n kenner en dat jy nie maar net aanneem dis wat hom of haar makeer nie. Depressie en selfs blaasontsteking kan ook die simptome naboots.
My ma dra permanent doek. Die doeke wat mens self kan aan- en uittrek (pull-ups) is peperduur. Daar is egter ’n plan mee te make. My ma is op hierdie stadium mobiel en nie bedlêend nie. Ek laat haar voor my staan en dan sit ek vir haar die doek aan, maar ek maak die plakstrokies nie te styf vas nie, net so dat sy die doek self oor haar heupe kan op en af stoot. Dan trek ek vir haar ’n vol broekie wat gemaklik pas daaroor aan. Dit help ook om die doek bo te hou. Ek sit ook ’n inkontinensiedoekie binne-in, en bo-op dit ’n kleiner doekie (maternity pad). Ek herinner haar gereeld om die toilet te besoek en in die meeste gevalle is dit slegs nodig om die maternity pad te vervang. So kan sy droog en gemaklik deur die dag gaan sonder dat ons na élke glips die hele doek moet vervang. Ek vergesel haar elke keer badkamer toe, want sy verstaan nie altyd wat met haar liggaam gebeur nie en skrik soms as die toiletpapier vuil is. Sy weier ook om toiletpapier in die toilet te gooi – dit kom in ’n sakkie langs die toilet wat ek gereeld vervang. Ek sorg dat ek alles byderhand hou om haar in die badkamer mee te help sodat ek nie moet rondspaander om ekstra doekies, nat lappies, ens te vind nie.
Sy was altyd vreeslik lief daarvoor om te bad, maar nou maak die gedagte daaraan haar vreesbevange. Ek stort haar dus eerder. Op hierdie stadium aanvaar sy dit en probeer help om haarself te was ook, maar ek besef dat sy vorentoe gaan verkies om ’n sponsbad te hê – dis minder ontblotent en ontwrigtend. Sy voel te verstane kwesbaar wanneer sy naak is en die geluid van die vallende water uit die stortkop maak haar ook bang. Dis net te veel van ’n gewoel en ’n gedruis om haar. Ek beloof haar elke keer ietsie lekkers om aan te knibbel as die vuurproef verby is. Ek probeer myself ook daarvan weerhou om haar te help met dinge wat sy nog self kan doen. Die versoeking is altyd daar om oor te neem en dit vir haar te doen net om vinniger klaar te kry, maar dan onthou ek maar net weer wat die Engelsman sê: “If you don’t use it, you lose it.”
My ma voel gedurig honger en dors. Daar is niks fout met haar suiker of so nie. Sy vergeet net bloot dat sy wel geëet en gedrink het. Ek kan natuurlik nie toelaat dat sy heeldag en aldag onbeheers eet nie, dus sorg ek dat daar wel gesonde peuselhappies is waarmee ek haar deur die dag bederf, al is dit net vier kersietamaties of ’n vrug op ’n slag. Sy eet graag springmielies wat ek self op die stoof spring – so beheer ek haar sout- en vet inname. Ons gaan stap elke dag as die weer dit toelaat en hou haar gewig so onder beheer. Sy kan tyd lees en dit help nogal as ek vir haar sê: “Dis nou halfelf. Ons drink nou ons tee en eet ’n beskuit, maar dan is die kombuis toe tot eenuur. Ons gaan eenuur weer eet.” Sy hou dan die tyd dop in stede daarvan om te kerm om kos.
Ek het ook agtergekom dat sy sekere kompulsiewe gewoontes het, byvoorbeeld sy móét ’n broodjie, beskuit of koekie in haar tee doop. Sy doop dit tot in haar koeldrank en water. Dié gewoonte doen niemand skade nie en maak haar gelukkig. Ek het geleer om nie oor die klein dingetjies te stres nie. Sy slaap met haar skoene aan en hou heeltyd haar sneesdoekie in haar vuis vas. Dit gee aan haar ’n gevoel van sekuriteit. Baie maal wil sy ook nie slaapklere aantrek nie, want sy voel meer gemaklik om in haar sweetpak te slaap. En waarom nie? Ek het vir haar ’n sagte, gebreide pop gegee wat saam met haar geslaap het en wat sy orals saam met haar gedra het, maar toe op ’n dag het sy gesê die pop het lelike oë en ek moet dit wegvat. Ek sal volgende keer daarop let om nie vir haar ’n pop met starende oë te koop nie. Sy het byvoorbeeld ook die toilet aanhoudend gespoel. Elke keer moes ek verduidelik waarom sy dit nie moet doen nie, maar vyf minute later het sy dit weer gedoen. Ek het die kraantjie naderhand toegedraai en maak nou die bak met ’n gieter vol wanneer ek die toilet spoel. Einde van die probleem. Moenie dat “klein gewoontetjies” berge van frustrasie word nie. Maak ’n plan!
Sy wil nie radio luister of TV kyk nie. Dit verwar haar. Sy was verskriklik lief vir lees, maar weier nou volstrek om ’n boek op te tel. Sy wil nie inkleur nie. Dit is dus baie moeilik om haar besig en gestimuleer te hou. Dankie tog dat ek ontdek het dat sy nog tyd kan lees! Sy hou haar selfoon op haar bedkassie en kyk die tyd daarop. Af en toe onthou sy hoe om ’n boodskap te lees of kry sy dit reg om ’n kort antwoord terug te stuur, maar meestal is haar foon net haar horlosie waarop sy die tyd kan dophou. Vind uit watter aktiwiteite jou geliefde wel nog kan baasraak en konsentreer daarop.
Soms as my ma bitter moeilik is en nie haar samewerking wil gee nie, of as sy vasval in een of ander herhalende gedragspatroon, help dit soms as iemand anders as ek die situasie vir die oomblik hanteer. My ma sal byvoorbeeld soms aanhoudend na my roep om geen rede op aarde nie, en nie eens as ek aandag gee sal sy ophou nie. Dan is dit of haar brein vasgehaak het en sy dieselfde oomblik oor en oor beleef. My man sal dan intree en iets sê soos: “Ma roep die heeltyd. Louise is net gou besig. Sy gaan nou-nou vir Ma tee bring as Ma nou rustig raak.” Dan is dit soos wanneer ’n pa ingryp wanneer ’n kind kanse vat met sy ma. Dit laat my dink aan Ruan Swart se ervaring wanneer Lenie positief gereageer het as hy net ’n ander kleur hemp gaan aantrek het. Dit help nie altyd nie, maar dis die probeer werd.
My ma sukkel soms om geluide te plaas of om te verstaan wat sy hoor of sien. So sal sy byvoorbeeld iemand hoor lag en dan is sy oombliklik smoorkwaad omdat sy dink die persoon koggel haar. Tydens ’n helder oomblik het sy al aan my verduidelik dat die lettertjies op ’n bladsy soos miertjies rondloop of dat as sy na ’n klompie stippels op die teëlvloer kyk, die stippels ’n prentjie word. So sal sy byvoorbeeld na bome op die horison kyk en dit sal in figure verander. Sy skryf selfs die geluid van die wind of die gebrom van die vistenk se golfmakers aan ander oorsake toe. Sy sal ligflitse sien en koes. Alles het ook op ’n stadium vir haar verskriklik gestink – selfs die water in haar glas, of ek. Daar was al tye dat sy nie geweet het wie ek is nie. Soms beleef sy ’n paar goeie en rustige dae ná mekaar. Dan herken sy geluide en sien nie snaakse goed nie. Maar dan volg daar weer ’n paar deurmekaar dae. En dan, net wanneer jy dink daar is nou nie meer hoop nie, het sy uit die bloute uit ’n heeltemal “normale” dag. Skielik is my ou ma dan terug. Sy lag en gesels soos in die ou dae en vra uit oor almal se welstand. Sy sit tot haar bril op en lees op so ’n dag! Dan spandeer ek elke kosbare oomblik saam met haar, want nou-nou as sy gaan slaap en sy word wakker is sy weer “weg”. Hoe absoluut kwesbaar en afhanklik van liefde, bystand en begrip is iemand soos sy nie!
Dis belangrik om proaktief te dink en op te tree. Maak seker dat jou geliefde se omgewing veilig is en dat hy of sy nie kan seerkry nie. Ek bêre byvoorbeeld die huis se sleutels waar my ma dit nie kan kry nie, want sy sal wegloop. Doen navorsing oor jou geliefde se toestand, kontak ander versorgers en vra om raad en wenke; vra hulp en moenie elke liewe faset van die versorging alleen wil doen nie. Dit voel soms asof jou geliefde sal sterf as jý nie die een is wat 24/7 na hom of haar omsien nie, maar moenie in die rol van ’n martelaar verval nie. Dien en versorg jou geliefde en neem jou verantwoordelikheid en verpligting ernstig op, maar onthou altyd dat jy nie net kan bly gee en gee nie. Jy het ook ’n verantwoordelikheid teenoor jouself en jou ander gesinslede. Jy moet sorg dat jy goed eet, voldoende rus en oefening inkry, en ook tyd vir jouself het. Dis makliker gesê as gedaan, ek weet dit goed. Ek preek hier vir myself ook.
Daar is baie inligting op die internet beskikbaar oor hoe om iemand tuis te verpleeg. Tuisverpleging gaan in die toekoms ’n al hoe meer belangrike funksie in ons samelewing vervul. Volg gerus ’n kort kursus in tuisverpleging om jou vaardighede op te knap. Praat met ander versorgers en ruil raad en wenke uit. Vat elke dag soos dit kom. Moenie die lewe vir jouself moeilik maak deur jouself te verknies of jy heeltyd alles reg doen nie. Jy is daar vir jou geliefde en jy doen wat jy kan. Dit is meer as genoeg. Jy is nie ’n slegte mens as jy soms moeg en oorweldig voel of as jy om hulp vra nie. Reik uit na ander mense en laat toe dat hulle help waar hulle kan. Jy sal verbaas wees hoeveel mense wel bereid sal wees om jou taak te help ligter maak. Ja, jy en jou geliefde stap wel ’n raaiselpad, maar jy hoef dit nie in stikdonker te stap nie, en jy hoef dit nie alleen te stap nie.
Skakels na bykomende inligting
https://www.alzheimers.net (Uitstekende webwerf met inligting oor demensie ook)
https://www.rsgplus.org/gesondheid/die-verskillende-vorms-van-demensie
https://www.goeiehuishouding.co.za/7-minderbekende-simptome-van-demensie
https://www.rsgplus.org/geestesgesondheid/beleef-n-demensie-toets
https://www.vrouekeur.co.za/nuus-vermaak/die-10-tekens-van-alzheimersiekte
https://www.vrouekeur.co.za/gesondheid/het-jy-die-teken-van-alzheimersiekte
Vrywaring: Gesels altyd eers met jou mediese dokter voordat jy dalk enige van die wenke of raad volg.


Kommentaar
Baie dankie vir hierdie wonderlike raad.
Wow. So well written. Sitting here with tears, feeling your pain. I have so much admiration for you. No more words.
Baie dankie vir hierdie praktiese raad. My man (76) is demensielyer. Ek vind dat sekere voedselaanvullers hom goed doen, soos Omega 3, 'n goeie multivitamien met hoë dosisse vit b, en veral carotenoids. Min mense maak melding van aanvullers.
Baie, baie dankie vir praktiese raad. My huisdokter het ook aanbeveel "to go with the flow". Los uit as hy nie wil stort nie. Later sal hy wel wil en dan doen jy dit met oorgawe. Moet ook nie korrigeer nie - dit lok konflik uit. Die "miere in die koffie" sal netnou nie meer daar wees nie - of kan selfs vervang word.
Baie dankie vir jou raad. My skoonma, 89, is ’n demensielyer al vir 2 jaar. Was nie so erg nie, maar begin nou erg raak. Ek en my man kry swaar. Ons is nie opgelei vir sulke hulp nie en vat al die beskuldigings persoonlik, baie konflik. Haar huisdokter het haar na ’n versorgingskliniek verwys, maar sy weier. Sal in haar huis in haar eie bed doodgaan. Ons bly al 38 jaar in 1 huis😢
Ek het raad nodig want ek versorg tans iemand met demensie. Al wat haar kalmeer is as jy aanhoudend vir haar bid. Dit put my uit want al wat haar kalmeer is gebed, maar sodra ek ophou, kla sy weer oor dieselfde probleem - dat sy benoud is. En sy glo dit vas, al het sy het geen asemhalingsprobleme nie.
Ek wonder of dit sal help indien jy dalk 'n langerige opname kan maak van jou (en ander) se gebede en dit dalk vir haar speel? Of dalk sal sy van sagte aanbiddingsmusiek hou? Dalk selfs preke? Soms moet mens die herhalende gedragspatrone geleidelik en byna ongemerk verander. Pleks daarvan dat jy vir haar bid, skakel dalk die opname aan en wanneer sy rustig is en met toe oë lê kan jy dalk uitglip en aangaan met jou gewone takies. Baie sterkte!
Die beste raad is: vind 'n substituut ("dummy"). 'n Haardroër op stadige spoed gestel om bietjie koel lug verby die neus te waai. Of 'n battery-handwaaiertjie. Dit skep die illusie dat daar na die probleem omgesien word. Gewoonlik wil hulle maar net bietjie aandag hê.
Ja, dankie Louise. Wat ek daarby kan aansluit, is dat familie en vriende verpersoonlikte stemboodskappe stuur, eerder as mooi prentjies en Bybelversies. Om stemme te hoor, is 'n heerlike ervaring - veral van die mense doer ver. En dit kan môre en 'n ander dag herhaal word, dit bly altyd nuut.
Goeiemiddag. My man is op vroeë ouderdom, nog in sy vyftigs, in 2009 met demensie gediagnoseer maar dit het oorgesit is Alzheimers. My man se toestand is al ver gevorderd aangesien Alzheimers van 2010 al hoe meer na vore gekom het. Op hierdie stadium word alles vir hom gedoen. Aantrek, stort, tandeborsel, skeer, hy word gevoer, hy is op doeke al vir ses jaar. Sy hande is inmekaar getrek en hy praat ook glad nie meer nie. Hy is bedags by 'n versorger, waarna ek dan in die aande en naweke oorneem. Deur die jare het ek geleer om met alles goed te cope, maar sodra hy siek word en alles buite die normale is, raak dit vir my moeilik en raak ek so moedeloos. Ek hanteer hom met baie liefde en geduld. Maar een ding wat my onderkry is die oormatige slym waarmee hy sukkel op 'n daaglikse basis, en dit maak eet vir hom baie moeilik. Geen medikasie word aanbeveel nie aangesien die verdunde slym op die longe kan gaan lê, wat dit gevaarlik kan maak aangesien hy die slym nie kan uithoes nie, en ek die slym met 'n afsuigapparaat uitsuig. Hy was nou al van 2020 af 5 keer in die hospitaal met longinfeksie. Alle boererate is al beproef. My vraag en versoek vandag is, indien daar enigeeen is wie se geliefde deur dieselfde gaan, en 'n wondermiddel kan aanbeveel, asb. vir my moet laat weet. Vriendelike groete, IvdH
Ai, vriendin, baie jammer vir jou. Sal help uitkyk vir 'n moontlike oplossing. Ek weet baie water - klein hoeveelhede, maar meer kere per dag. Verder moet jy oplet vir moontlike allergieë wat die toestand aanhits. Bv suiker en melk, stof, diere hare, omgewingsbesoedeling, rook, sjokolade. Konsulteer met 'n homeopaat naby jou. Sterkte!
Ina, skaf gerus Elise Nel se Ons raaiselpad met alzheimersiekte aan. Sy gee regtig baie goeie raad daarin. Ek self het nie raad wat die longprobleem aanbetref nie, want hoewel my ma se longe swak is, het ons nog nie met oormatige slym te doen gekry nie. Daar is ook verskeie alzheimer en demensie ondersteuningsgroepe op Facebook. Miskien kan jy daar ook vra. Baie sterkte met die pad wat julle loop.
Rosie baie dankie vir die terugvoer op my boodskap. Ons gee vir hom baie vloeistowwe en gee partykeer vir hom net lou warm water om te drink.E k gaan definitief probeer
om klein hoeveelhede meer gereeld te gee. Dankie vir die raad.D efinitief het sekere kosse 'n geweldige groot invloed op oormatige slym. Ons probeer soveel as moontlik alles wat ons agterkom slym gee, weghou. Dankie vir jou terugvoer. Waardeer
Louise dankie vir jou boodskap. Ek het reeds haar boek gelees en dit was so hartseer om te lees hoeveel ooreenkomste daar was tussen haar man se toestand en my man s'n. Ek weet sy het hom een keer n week na 'n kliniek toe geneem om die slym af te trek, maar dit moes op die ou einde soveel gereëlder gedoen word, dat sy op die ou einde n apparaat gekry het om dit ook self te doen en vele vele kere per dag af getrek. Die boek is op die oomblik by my sussie, maar ek gaan seker maak dat ek dit nou terugkry om net weer na haar raad daarin te kyk. Waardeer jou terugvoer en sterkte ook met jou moeder.
My ma is 85. Ons is 5 dogters. My oudste suster wil hê elke dogter moet haar vir 'n maand inneem. Is dit goed vir haar om weggevat te word van haar bekende goed?
Hi Karin, dit sal beslis minder uitputtend vir die versorgers wees, maar die pasiënte skop dikwels vas. Ons bly al meer as twee jaar in 'n versorgingseenheid en my man wil nog elke dag "huis toe gaan". In sy langtermyngeheue is daar nog 'n bekende huis, maar in sy korttermyngeheue ken hy nie die plek nie. Baie selde sal hy opmerk dat hy die portrette teen die muur ken. Een keer het hy selfs die bed se kopstuk herken. My ervaring is, al skuif jy die pasiënt, dit sal vir hulle vreemd bly. Met ander woorde die pasiënt verloor niks of niemand nie, want hulle stoor nie die inligting in die nuwe omgewing nie. Dis my ervaring en my beskeie mening. Dit sal seker mede bepaal word deur hoe effektief is hulle korttermyngeheue nog.
Hallo Karen. Dit hang seker af van hoe prakties uitvoerbaar só ’n reëling is. Hoe ver bly julle uit mekaar uit? Hoeveel ander persone word in die huisgesin geraak? Sal jou ma steeds onder een spesifieke dokter se sorg wees? Hoe veilig sal julle elke skuif kan laat gebeur in die tyd van Covid? My ma baat beslis daarby dat ek alleen na haar omsien en dat sy nie om die beurt na my sibbe toe gaan (wat in my geval in ander provinsies woon nie). Sy sien haar kamer as haar "veilige plek" en beweeg van daar af net saam met my badkamer toe langsaan en na die tafel direk buite haar kamerdeur. Sy weier om 'n tree uit hierdie driehoek te gee. Ek kan haar ook onafgebroke monitor oor 'n lang tydperk. Ja, dis nie elke dag maklik om 24/7 verantwoordelik te wees vir iemand se versorging nie, maar mens kan die omgewing so rustig en geroetineerd as moontlik hou. Indien dit moontlik is vir jou of een van jou sibbe om jou ma permanent in te neem, sou ek aanbeveel julle doen dit eerder so. Die sibbe kan mekaar soms dalk aflos deurdat julle ooreenkom op sekere tye of ure sodat die hoofversorger rus kry en ook kans het om bietjie uit die huis te kom. Almal kan dalk finansieel bydra vir die versorging. Baie sterkte met julle besluit. Elke situasie is anders. Maar vir ons en vir my ma was dit beslis die beste besluit om haar liefs by my te hou.
Dankie vir al die raad. Ek sit met my broer, 63j, hy het 3 beroertes gehad en 'n hartperasie, en vergrote hart. Hy bewe vreeslik, was in rystoel maar ek het hom sover om weer te loop. Met sekere dae is hy fine en ander dae dan suffer ek, ek werk heeldag en skoondogter hou ogie by hom, sorg dat hy oefen, ens, maar met rukke maak hy broek nat of poe in sy broek. Hy het nie goeie balans nie, dan probeer hy betyds by toilet uit kom, maar lyk my dan vergeet hy wat hy moet doen, want dan trek hy als uit terwyl hy poe, so dan word als besmeer. Ek behandel hom soos n normale mens, ek bad en skeer hom, maar ek soek raad vir die toiletgewoontes, want kan ons doen om daar te verbeter?
Alma, baie sterkte met die versorging van jou broer. Kyk gerus na die produkte vir inkontinensie (vir mans) wat op die rakke is. Miskien sal jou broer meer gemaklik voel indien hy ’n optrekdoek dra wat hy self kan aan- en uittrek. Dit sal dalk ook help indien jy ’n draagbare toilet (commode) naby hom gereed het sodat hy nie ver hoef te sukkel badkamer toe nie. Hou ook alles wat jy nodig het om hom en die omgewing skoon te maak, gerieflik byderhand sodat jy nie hoef te skarrel terwyl alles gebeur nie. Dit behoort ook te help indien jy hom dalk gereeld herinner om die toilet te gebruik. Daar is ondersteuningsgroepe vir mense wat besig is om ná beroertes te herstel of aan Alzheimersiekte of demensie ly. Vra gerus ook daar praktiese hulp. Mag daar baie seën rus op jou liefdestaak.
Neem hom op gereelde tye toilet toe, bv. 'n halfuur na teetyd. Hulle rebelleer en sê hulle het nie 'n behoefte nie, maar wees geduldig en sit by hom tot iets gebeur. Doeke: As hy die toilet betyds bereik, is dit 'n bonus. As hy nie betyds is nie, is al die klere en die omgewing darem nie so bemors nie. Daar is 'n klein blou pilletjie vir blaasbeheer. Vra die dokter.
Baie dankie vir jou raad. Ja, hy het beroertes gehad en ly aan demensie. Ek het hom op die pull-up doeke, maar hy trek dit uit en daarna gebeur die dinge. Dit voel partykeer hy is moedswillig, maar ja, ek werk heeldag, my skoondogter kyk deur die dag na hom tot ek by huis kom. Hy bewe vreeslik en is baie van balans af. Het jy dalk raad vir dit?
Goeiemôre, Alma.
My man is n Alzheimer-leier en is al van 2016 af op doeke. In die beginjare het ek ’n groot stryd gehad met sy toiletgebruik. Ek was moedeloos. Ek het hom ook gereeld toilet toe gevat, hy het partykeer tussen twintig minute en ’n halfuur gesit en niks het gebeur nie. Ek het met die jare nou al geleer wat die beste werk. Pull-ups het glad nie vir hom gewerk nie, en dit het gelek. Selfs een van die doeke wat met die plakkertjies werk, het ook nie gewerk nie en het deurgelek. Sy klere was nat, sowel as waar hy gesit het, en snags was sy beddegoed nat. Wat ek toe begin doen het, is om twee doeke aan te sit. Ek vat een doek, sny die plakgedeeltes van die een doek af, sit aan die boonste ent en die onderste ent van die doek, dan van die cellotape wat alkante plak, en plak dit dan binne in die ander doek vas. Dan sit die doek mooi stewig aan sy lyf. En wat ek ook doen om doeke te spaar, is as ek die doek afhaal en die binnedoek is nat, maar die buitedoek is droog, dan sny ek die buitedoek se plakkante af en gebruik dit dan weer in die volgende doek as die binnedoek, wat ek dan in ’n volgende nuwe doek plak. Na so twee of drie keer se gebruik wil die plakkertjies ook nie meer plak nie. Vandat ek dit so doen, is sy doek vir my glad nie meer ’n probleem nie. Ek hoop my verduideliking maak sin.
Sterkte met dit waardeur julle gaan. Hoop die raad kan bietjie help.
Baie dankie vir dié praktiese raad.
Vir my ma gebruik ek 'n gewone weggooibare doek vir volwassenes wat ek by Clicks koop vir onder R80,00 vir ’n pak van 10. Dan sit ek binne-in ’n maxi pad wat ek by Dischem koop vir so R50,00 per pak van 14. En dan koop ek by Checkers ’n pakkie maternity pads vir so R16,00 vir 12. Hierdie doeke is baie keer op uitverkoping – koop twee pakke en kry die derde pak gratis, of so.
My ma staan voor my en dan sit ek die groot doek vir haar aan, maar binne-in die doek sit ek die maxi pad en ook die maternity pad. Ek maak die doek stewig vas met die plakkertjies, maar sy kan dit steeds op en af trek as sy moet. Ek trek vir haar ’n vol broekie aan wat die doek ook ondersteun en help om bo te bly. Sou sy 'n glips het, haal ek (of sy as sy in staat is daartoe die dag) net die boonste maternity pad uit en vervang dit – die res van die doek bly droog. Sou daar wel urine verbylek, is die maxi pad daar om beskerming te bied. Die maxi pad help ook veral saans as daar meer vloeistof opgevang moet word. Die gevolg is dat die een doek soms vir 'n dag of langer kurkdroog bly terwyl ek net die pads vervang. Dis vinnig en gerieflik.
Wat die bewe aanbetref, het ek ongelukkig nie raad nie. Miskien kan julle net by die dokter hoor of hy nie dalk aan Parkinsons ly nie. Ek dink daar is medikasie wat kan help om die bewing in 'n mate te beheer, maar ek is nie op hoogte daarvan nie.
Baie sterkte met julle liefdestake! Wees geseënd!
Goeie middag. My man is 'n Alzheimerlyer en hy sit net nie stil nie. Hy beweeg sy lyf vorentoe en agtertoe en stoot die bene vorentoe en agtertoe. Is daar enige een wie se geliefdes dit ook doen? Ai as ek net weet hoekom hy dit doen.
My skoonsuster ly aan dimensie; ons moet nou vir haar plek kry waar sy versorg kan word, maar sy kry net SASSA-gelde. Ek weet nie watter kant toe nie en ons kan nie plek bekostig nie.
So insiggewend om te besef jy loop nie die pad alleen met ń 74-jarige lewensmaat nie. Ek besef my tekortkominge met versorging en die wete dat daar baie ander in dieselfde bootjie is. Dit gee mens moed om aan te hou. Soveel ooreenkomste met die optredes, en die raad is baie waardevol. Dankie!
My man het ontslaap. Ek het nie meer die inligting nodig nie. Dankie vir die tydjie wat ek deel was van die groep.
Goeie dag en dankie vir die leesstof. Ek vermoed my man raak party keer amper daagliks kort van draad. Onthou nie, of raak doof en ja moeilik met kos Hy is 'n Diabeet, tipe 2, beenprobleme en oë, blind in een oog, kan 15% tonnelvisie sien, verloor agv diabetis.
Dit is glad nie goed vir my gemoed nie en veroorsaak stryery tussen ons. Het al geleer om stil te bly en dit is ook nie goed nie.
My man het Alzheimers en demensie en Parkinson's. Ek is ook nou gedaan, my rug kan nie meer nie. Ek en kinders het besluit om hom nou in 'n hospies te sit. Dit is vir my 'n vreeslike tyd. Ek het nou drie jaar na hom gekyk. Hy is heeltemal bedlêend. Ons moet hom voer, hy is op doeke. Hy is 81 ek is 75. Is dit die regte besluit? Wat ek nou doen? Dit vreet aan my om dit te doen, maar ek kan hom nie meer versorg nie.
Ek dink Joe Biden hoort ook in hospies, nie in die Withuis nie.
Rina,
'n mens wil vir hulle die beste versorging hê, jy gaan geen ander plek kry waar hy dit gaan ontvang nie - lewer jou bydrae en t.o.v toiletgoedjies en laat die res aan die hospies oor.
My eie suster was daar, ek het my kant gebring wat 'n gerusstelling gebring het.
My vrou en ek kon net nie met haar die mas opkom nie.
Mooi loop.
My man is tans in Stepdown reeds 5 weke, na 3 weke in Hospitaal. Gister gehoor hy moet ander verblyf kry.
Die kostes is skrikwekkend.
My man het episodes van Delerium gekry, wat my nogal bekommer. Sy versugting is om huis toe te kom.
My hart sou ook dit wou hê, maar ek weet nie of dit raadsaam sal wees nie. Hy het oornag siek geword.
Hy kon tot 2 maande gelede homself versorg, al het dit lank geneem.
Huidiglik weier hy om te eet, of enige vloeistof.
Aarvoeding en antibiotika gestaak.
Hy slaap baie, nie seker oor nagte nie. Periodiek, Nie saans geslaap nie.
My gevoel sê, bring hom huistoe.
Hierdie hele artikel, gee baie insig, baie dankie
My man is ook twee jaar terug gediagnoseer met vaskulêre dimensie. Een iets wat ek nie weet hoe om te hanteer nie, is die feit dat elke tweede dag alles verkeerd is en wil hy die pad vat en wegloop. Hy weet self nie waarheen nie. Hoe hanteer ek dit?
Ek wil weet of dit waar is? My dogter se skoonpa is 93 en het demensie. Sy het twee versorgers vir hom. Want sy en haar man werk nog altwee. Hulle moet sy pensieon gebruik om sy versorgers te betaal en sy doeke te koop. Nou sê iemand as hulle hom laat sertifiseer by 'n dokter dat hy demensie het, sal hy in onder 'n maatskaplike werker val wat met sy geldsake moet werk en sy sal elke maand moet geld aanvra vir die versorgers en sy doeke. En al die klere wat hy benodig en die spesiaale kos wat hulle vir hom moet koop.
Vandag kom ek op die kosbare inligting af deur Google. Ek pas tans my moeder van 89 op. (Net ek en sy.) Baie dankie vir die deel van jou ervaring, ens.