Die sielkunde van korrupsie

  • 2


“We contend that darkness may create a sense of illusory anonymity that disinhibits self-interested and unethical behaviours” (Zhong, Bohns en Gino, 2010)

Ter inleiding

Die omvang van korrupsie in Suid-Afrika na aanleiding van die getuienis voor die Zondo-kommissie wat staatskaping ondersoek is vérreikend, en die skaal waarop onbehoorlike selfverryking plaasgevind het, is absoluut fenomenaal. Korrupsieskandale is dus weer eens in die fokus van die aandag van Suid-Afrikaners, net soos destyds ook die geval was met die Erasmuskommissie en die Inligtingskandaal (Mulder, 2018).

Op internasionale gebied het die onlangse afdanking van Carlos Ghosn, die voorsitter van Nissan, op grond van finansiële wanpraktyke (soos die onder-rapportering van sy persoonlike salaris en die aanwending van korporatiewe bates vir persoonlike voordeel) die verbeelding aangegryp (Aljazeera, 2018). Enkele jare gelede het opspraakwekkende korporatiewe dramas soos Société Générale en Credit Suisse (Moore, 2009) die voorblaaie gehaal.

Die gevolge van korrupsie vir die Italiaanse ekonomie word deur Lisciandra en Millemaci (2017) ondersoek en hulle vind dat die sentrale en suidelike state se Bruto Binnelandse Produk met twee persentasiepunte kon verhoog, mits korrupsievlakke aan bande gelê word. Moosa (2017) wys egter daarop dat die empiriese bewyse van die invloed van korrupsie op direkte buitelandse beleggings ’n mengsel (mixed bag) van positiewe, negatiewe en geen effekte is. Alhoewel die impak van korrupsie vanuit ’n ekonometriese oogpunt dus skynbaar te kompleks is om akkuraat en betroubaar te kan meet, werk nasionale korrupsie ook persoonlike oneerlikheid in die hand, wat wel meetbaar is. Korrupsie kniehalter dus nie net ’n land se ekonomiese voorspoed nie, maar werk ook degenererend in op die morele oordeel van sy inwoners.

Wat staatskaping en politieke korrupsie betref, kan korrupsie teoreties gesproke op ’n deurlopende skaal voorgestel word. Dit blyk dat skenkergemeenskappe soms bereidwillig is om selfs blatante korrupsie te verdra, veral indien mark-vriendelike beleidsrigtings met skenkerfondse in verband gebring kan word. Die kontinuum strek vanaf blatante uitruilprosesse van staatsmag tot die voordeel vir skenkers (wat ’n onmiskenbare kriminele daad is) tot korrupsie met ’n “kleinletter k” wat neerkom op die blote bevordering van skenkers se strategiese toeganklikheid en belyning (access and ingratiation).

Die voorkoms, omvang en standhoudendheid van korrupsie op die plaaslike sowel as internasionale vlak is doodgewoon verstommend. Dit raak elkeen van ons gewone landsburgers persoonlik.

Korrupsie op ‘n indiwiduele vlak

Jordaan (2018) skryf in sy artikel in die rubriek “Van Alle Kante” oor die verband tussen korrupsiegeneigdheid en die sewe doodsondes, naamlik hebsug, hoogmoed, afguns, woede, luiheid, vraatsug en wellus. Die skrywer beweer korrupsie word aanvanklik “deur hebsug aangedryf” waarna die res van die eienskappe stelselmatig geaktiveer word en netjies in ’n kliniese patroonmatigheid inpas. Hierdie verklaringsmodel is klaarblyklik met die tong in die kies geskryf. Die patroon is skynbaar dan ook op alle indiwidue, wat geneigdheid tot korrupsie toon, van toepassing. Hierdie soort interpretasie is natuurlik ’n blote mening wat gebaseer is op gesonde verstand en nugtere oordeel, maar dit bly steeds ’n goedbedoelde raaiskoot, of selfs ‘n skoot in die donker, in ’n poging om die komplekse dinamika, wat van toepassing is op ’n verskynsel soos korrupsie, te verklaar. Jordaan se werkwyse kom neer op ’n praktiese metode, wat nie logies en rasioneel benader word nie, maar wel genoegsaam is om ’n bepaalde doel te bereik (bv om ‘n rubriek in die openbare pers te publiseer).

Die inhoud van ‘n skryfstuk wat gepubliseer word, word deur die doel van die publikasie bepaal. Om aan die behoeftes van die meer kritiese leser te voldoen, is dit absoluut noodsaaklik om vooraf duidelik en presies te spesifiseer wat bedoel word tydens enige gesprek of publikasie oor korrupsie. Dit sluit die volgende aspekte in: die wyse waarop korrupsie gedefinieër word; die vlak van analise waarop die konstruk bestudeer word, asook of die fokus op korrupsie as ’n proses of produk benader word (Moore, 2009).

’n Harvard bibliografie wat onlangs oor korrupsie gepubliseer is (Stephenson, 2013) beslaan 154 bladsye. Dié verwysingslys verwys na navorsing wat op alle vlakke van korrupsie uitgevoer is, en waarin ’n wye verskeidenheid van definisies betrek word. Die oorgrote meerderheid studies handel oor korrupsie as ’n produk (of die impak van korrupsie), terwyl ooglopend min studies oor die proses handel — veral waar korrupsiegeneigdheid by die indiwidu die fokus is. Goedgekontroleerde navorsing oor die rol van indiwiduele verskille in korrupsie is dus skynbaar minder gewild. Wat sou die redes vir hierdie waarneming wees?

In die geval van die welbekende Piltdown man is die korruptiewe daad juis nie primêr deur monitêre voordeel gemotiveer nie, maar volgens Patel (2016) wel deur oordrewe ambisie. Weer eens kom so ’n siening neer op ’n oorvereenvoudiging van die situasie, want ‘n hoë lading op ‘n enkele persoonlikheidseienskap (soos persoonlike ambisie), behoort altyd in die konteks van die persoon se totale persoonlikheidsprofiel geïnterpreteer te word. Om sake verder te kompliseer, blyk dit dat die argeoloog Charles Dawson (wat in die geval van die Piltdown man-kwessie ter sprake is) ook ’n vorige geskiedenis van vergelykbare twyfelagtige insidente getoon het. “He also had a history of faking discoveries, including inscribed Roman bricks” (Patel 2016, p10). Dit lyk dus of daar in die Piltdown man se gevallestudie sprake van ’n disposisie of ’n geneigdheid tot korrupsie was.

In my artikel word die fokus, in ooreenstemming met Moore (2006) se gesigspunte, op die indiwiduele vlak van korrupsie geplaas. In my analise word kortliks gekyk na die omskrywing van die term korrupsievatbaarheid, die teoretiese begronding van korrupsievatbaarheid, asook na enkele empiriese studies wat die aard van die verband tussen sekere persoonlikheidstrekke en korrupsiegeneigdheid toelig. Daarna volg ’n spesifieke navorsingsvraag: kan ’n sinvolle konseptuele raamwerk oor persoonlikheid en korrupsie saamgestel word op grond van die teorie en navorsingsbevindings wat geraadpleeg is?

Omskrywing van die konstruk korrupsie

Agbu en Iwundu (2015) noem dat navorsingsbevindings oor die sielkunde beslis ’n bydraende rol speel om die begrip van en insig in kriminele gedragspatrone te bevorder, maar dat dié vakdissipline nie noodwendig sterk figureer in empiriese navorsing oor korrupsie nie. ’n Sielkundige “kleur” of dimensie (psychological tone) ontbreek dikwels wat die omskrywing en die keuse van metinginstrumente in korrupsienavorsing betref. Dit word as deel van die huidige dilemma gesien.

Korrupsievatbaarheid word deur Agbu en Iwundu (2015) gedefinieer as ’n kenmerkende, koverte indiwiduele persoonlikheids- en motiveringsprofiel wat as ’n basis dien of ’n klimaat skep op grond waarvan die neem en uitvoering van korruptiewe besluite bevorder word.

Moore (2009) omskryf korrupsiegeneigdheid as morele deteriorasie, en die gepaardgaande vernietiging van integriteit. Dit is ‘n proses wat persoonlikheidsfunksionering ondermyn en laat degenereer vanaf ’n meer “suiwer” tot ’n “minder suiwer” funksioneringsvlak. Presies wat ’n sodanige voorafgaande “suiwer vlak van funksionering” behels kan problematies wees, siende dat die afplatting in integriteit oor ’n lang periode kon plaasvind soos geïllustreer word deur die vorige geskiedenis van korruptiewe insidente by die Piltdown man-geval. Hierdie definisie bring dus die debat oor “die geleidelike glyhelling” versus skielik “oor die afgrond spring” na vore.
Köbis (2018) benader korrupsie as ’n sosiale dilemma waartydens korttermyngerigte eie-belange in botsing kom met langtermyngerigte kollektiewe belange.

Suleeman en Takwin (2018) sien korrupsie as ’n interaktiewe koördinaat tussen ’n situasionele faktor en ’n persoonlikheidsfaktor. Morele ontkoppeling (moral-disengagement) is die sosio-kognitiewe veranderlike wat die interaksie verteenwoordig tussen die menslike persoonlikheid en omgewingsveranderlikes. Zaloznaya (2014) gebruik Transparency International se definisie van korrupsie as die misbruik van toegewysde mag vir persoonlike gewin.

Uit hierdie enkele omskrywings van korrupsie vanuit ’n sielkundige perspektief blyk dat veral drie verbandhoudende faktore pertinent op die voorgrond tree, naamlik ’n persoonlikheidsfaktor (met kognitiewe, affektiewe en konatiewe inhoude) asook ’n moraliteits- en magsfaktor. Hierdie faktore behoort dus deur ’n teoretiese begronding van korruptiewe gedrag bevestig te word (Adom, Hussein en Agyen, 2018).

Teoretiese raamwerk

Hipotese generende literatuurstudies

Kominis en Dudau (2018) doen ’n teoretiese analise en teorieboustudie oor korruptiewe gedrag met die sosiale sielkunde as die basiese uitgangspunt. Sodra die korrupsie aan die lig kom word die oortreder(s) met kognitiewe dissonansie gekonfronteer. Hierop volg die gebruikmaking van rasionaliseringstaktiek. Die oorspronklike misdaad word “onsigbaar” gemaak deurdat die kognitiewe inhoude na die onbewuste verplaas word. Die krisis van korrupsie dryf die proses verder sodat die normatiewe oorskreidings gerasionaliseer word tot verskillende stadia van ontkenning. Gepaardgaande skuldgevoelens word deur middel van attribute-projeksie tot ’n swartskaap verplaas. Op hierdie wyse word die kognitiewe en emosionale balans in terme van persoonlikheidsfunksionering by die oortreder(s) herstel.

Suleeman en Takwin (2018) beskryf ’n eklektiese model waarin beginsels vanuit die psigoanalise en behaviourisme belangrike boustene vorm. Morele selfregulasie word deur kognitiewe inhoude (maw denkprosesse) geblok. Eufimistiese ettiketering soos die houding dat “korrupsie deel van ’n spanspel is,” kom voor. Verplasing van verantwoordelikheid (byvoorbeeld die opvatting dat indien my hoof dit doen, kan ek dit ook doen) presenteer dikwels. Indien die intensie om korrupsie te pleeg, saamsmelt met ’n werklike geleentheid om tot ’n korruptiewe daad oor te gaan, kan die persoon die kans gebruik om korrupsie te pleeg.

Úbeda en Duéñez-Guzmán (2011) se model is ontleen aan die evolusionêre biologie, wiskunde en sosiale wetenskappe. Hiervolgens oefen magsbeheptheid onder sekere omstandighede ’n korrupterende invloed uit (Power corrupts, absolute power corrupts absolutely). Mag kan ook die moreel korruptiewe neiging bevorder om oortredings by ander persone skerper te veroordeel, as wat soortgelyke oortredings by die persoon self beoordeel word.

Darley (2005) is van mening dat sommige persone wat in korrupsie betrokke raak, aanvanklik nie die volle implikasie van hul optrede vanuit ’n etiese hoek deeglik skrutineer nie. Eienaardig genoeg word sy eie korruptiewe gedrag nie as oneties deur die persoon self gesien nie. In ’n korporatiewe omgewing kan hierdie inisiële korruptiewe daad wat as “eties aanvaarbaar” gesien word, maklik oorspoel in opvolgdade wat as eties grysgebiede interpreteer en uitgevoer word op grond van groeplojaliteit en -toewyding (commitment). Die indiwidu word dan (op grond van die sosiale indentiteitsteorie) ’n prototipe lid van die groep en die boodskappe (cues) wat die groep uitdra is dat die prototipe groepslede as ’n kollektief in korruptiewe aktiwiteite betrokke is.

In aansluiting by Darley (2005) vind Rusch (2016) ook dat die aanvang van sekere korrupsiesiklusse verband hou met intuïtiewe besluitneming wat beteken dat besluite vinning geneem is, sonder deeglike kognitiewe oorweging van die etiese implikasies.

Okonkwo en Smith (2018) voer ’n kwalitatiewe studie in Nigerië uit en beskou persoonlikheid as ’n refleksie van opvoeding, lewenservaring, formele onderrig, kulturele identiteit, individuele houdings en waarnemings. Die waardes, norme en persepsies wat deur ’n bepaalde kulturele groep oorgedra word, oefen ’n bepaalde invloed uit op die vlak van korrupsiegeneigheid op indiwiduele vlak. In aansluiting by Okonkwo en Smith (2018) vind Joe-Akunne, Nwankwo en Chine (2018) dat etnosentrisme ’n belangrike oorsaaklike faktor van korrupsie in Nigerië is. Das (2017) stel vas deur middel van gevallestudies dat die voorkoms van korrupsie onder Nigeriese regters onder andere met die volgende endogene faktore verband hou: oordrewe mag en persepsies van manlikheid, die voorkoms van leuenagtigheid, druk wat deur familielede uitgeoefen word, gebrekkige selfbeheer en kleptokrasie.

Alhoewel die teorie wat hierbo bespreek is, uiters beperk in omvang en dus ontoereikend is, dui dit wel aan dat spesifieke kognitiewe, affektiewe en konatiewe konsepte (soos dissonansie, rasionalisering, skuldgevoelens, verplasing, ontkenning, intuïsie en swak selfbeheer), asook moraliteit en magsbeheptheid sentraal staan in die teoretiese verklaring van ’n proses wat met die etiologie en ontwikkeling van korruptiewe gedrag by die indiwiduele persoonlikheid verband hou. Die enkele konsepte wat volgens hierdie ontleding effens wegstaan van die “cluster” is androgeneïteit en etnosentrisme. Dit sou kon dui op die aanwesigheid van ’n verdere faktor naamlik kultuurgebondenheid binne die korrupsiekonstruk.

Gevolglik ontstaan die verwagting dat hierdie konsepte, wat deur erkende teoretici as relevant bestempel word, die belangrikheid van hierdie konsepte en beginsels in empiriese navorsing oor korrupsie behoort te herbevestig.

Empiriese navorsing

Agbo en Iwundu (2016) gebruik ’n steekproef van 474 voorgraadse universiteitstudente aan die Universiteit van Nigerië. Verteenwoordigers van beide geslagte word ingesluit en die totale gemiddelde ouderdom van die groep was 22 jaar. Die psigometriese meetinstrumente het bestaan uit die Werksvoorkeurvraelys; die Groot Vyf Persoonlikheidsvraelys asook ’n Korrupsie Geneigdheidsvraelys. Die resultate dui aan dat ekstraversie en ekstrinsieke motivering beduidend positief, en konsensieusheid en intrinsieke motivering beduidend negatief met korrupsiegeneigdheid korreleer. Wat die demografiese veranderlikes betref, was mansstudente meer geneig om by korrupsie betrokke te raak as vrouestudente.

Die doel van Boes, Chandler en Timm (1997) se studie was om te bepaal of ’n pre-indiensname psigometriese toetsbattery kan onderskei tussen polisiebeamptes wat vatbaarheid vir korruptiewe gedrag toon en beamptes wat nie aan korrupsie skuldig bevind is nie. Die toetsbattery het bestaan uit die Minnesota Multifase Persoonlikheidsvraelys, die Cattel Persoonlikheidsvraelys, die 16 Persoonlikheidsfaktorvraelys en die Inwald Persoonlikheidsvraelys. In totaal is die protokolle van 460 polisiebeamptes ontleed. Diegene wat hulself aan korrupsie skuldig gemaak het, het minder respek getoon vir die reëls en regulasies waarop die samelewing georden word; hulle word beskryf as onvolwasse, onbetroubaar en onverantwoordelik. Oortreders toon ook hoë ladings op narsissisme. Leuenskaaltellings dui aan dat oortreders minder geneig is om houdings en gedrag, wat hul indiensname kon benadeel, bekend te maak. ’n Vorige misdaadgeskiedenis by oortreders was een van die belangrikste aspekte op grond waarvan hulle van nie-oortreders onderskei is. Diegene wat nie korrupsievatbaar was nie, het ’n groter mate van verdraagsaamheid teenoor ander persone getoon, asook meer bedagsaamheid in hul interpersoonlike verhoudings. Hulle was ook meer prestasie-georiënteerd.

Girodo (1991) bestudeer 271 Amerikaanse polisiebeamptes wat in dwelmafdelings werksaam is. Die steekproef het bestaan uit 82% wit en 18% nie-wit deelnemers. 93% was mans, en die gemiddelde ouderdom vir die steekproef was 34 jaar. Die meetinstrumente het bestaan uit die Eysenck Persoonlikheidsvraelys, die Zuckerman Sensasieskaal, die 16 Persoonlikheidsfaktorvraelys en die Hilson Loopbaantevredenheidsindeks. Die belangrikste voorspellers vir korrupsierisiko was disinhibisie (maw die geneigdheid om impulsief en ongeïnhibeerd te reageer, swak impulskontrole te toon); ongedisiplineerde selfbeeld, asook ’n kombinasie van hoë ekstraversie en hoë neurotisisme.

Bespreking

Dit blyk duidelik dat ‘n wye en relevante reeks teoretiese konsepte in verband met die sielkundige aspekte van korrupsie (in die enkele studies waarna hier verwys is), geïdentifiseer kon word. Die konsepte sou ook logies kon inpas by ’n teoretiese raamwerk om insig in die aard van korruptiewe gedrag te bevorder. Hierdie waarneming kan vertolk word as ’n positiewe kenmerk van die bestaande teorie.

Soos vooraf verwag, word die aangehaalde navorsingsbevindings op ’n voldoende wyse deur die teoretiese konsepte geïnformeer. Korrelasiestudies tussen data soos verkry met behulp van psigometriese assessering en indekse van korrupsiegeneigdheid het veral prominent in die literatuur na vore gekom. Die waargenome empiriese navorsingsbevindings sluit sinvol bymekaar aan.

Binne die konteks van ’n konseptuele raamwerk sou ’n vertrekpunt in die toekoms moontlik wees om ’n drieledige teoretiese raamwerk daar te stel wat fokus op persoonlikheid, moraliteit en magsbewustheid as ’n grondslag vir korrupsievatbaarheid. As ’n volgende stap word geldige en betroubare meetinstrumente (waarmee die drie teoretiese konsepte objektief gemeet word) op steekproewe toegepas waarvan toepaslike biografiese data vooraf ingesamel is. Intergroep-faktorontleding kan as ’n datareduksiemodel oorweeg word.

Die beperkte getal bronverwysings wat in hierdie studie benut is, blyk ’n ooglopende beperking en tekortkoming te wees. Die metodologie kan ook as selektief van aard bestempel word. Die hoofdoel van hierdie studie was egter om as ’n blote toekomstige rigtingwyser te dien indien ’n plaaslike navorsingsprojek oor die aard van die verband tussen korrupsievatbaarheid, moraliteit, magsmisbruik en persoonlikheidstrekke onderneem sou word. Dit kan dus ’n bydrae lewer om die iteratiewe proses in navorsing te bevorder.

Samevatting

In die artikel word kortliks gekyk na die omskrywing van die term korrupsievatbaarheid, die teoretiese begronding van korrupsievatbaarheid, asook na enkele empiriese studies wat die aard van die verband tussen sekere persoonlikheidstrekke en korrupsiegeneigdheid toelig. Dit blyk dat veral drie verbandhoudende teoretiese konsepte pertinent op die voorgrond tree, naamlik ’n persoonlikheidsfaktor (met kognitiewe, affektiewe en konatiewe inhoude) asook ‘n moraliteits- en magsfaktor. Die aangehaalde navorsingsbevindings wat op die teoretiese raamwerk volg, word voldoende deur die teoretiese konsepte geïnformeer.

Eindnota

Dap Louw, Buitengewone Professor: Sielkunde, Universiteit van die Vrystaat word bedank vir sy insette om die kwaliteit van hierdie artikel te verhoog.

Bibliografie

Abraham, J, J Suleeman en B Takwin. 2018. Psychological mechanism of corruption: A comprehensive review. Asian Journal of Scientific Research, September. DOI: 10.3923/ajsr.2018.

Adom, D, E K Hussein en J A Agyen. 2018. Theoretical and conceptual framework: Mandatory ingredients of a quality research. International Journal of Scientific Research, 7(1), 438-441.

Agbu, AA en EI Iwundu. 2016. Corruption as a propensity: Personality and motivational determinants amongst Nigerians. The Journal of Psychology, 150(4), 502-526.

Aljazeera News .2018. Former Nissan chairman Carlos Ghosn denies salary fraud charges. 25 November, 2018. https://www.aljazeera.com/news/2018/11/nissan-chairman-carlos-ghosn-denies-salary-fraud-allegations-181125061235578.html

Boes, JO, CJ Chandler en HW Timm. 1997. Police integrity: Use of personality measures to identify corruption-prone officers. Defence Personnel Security Research Centre, Monterey, California.
http://www.dtic.mil/dtic/tr/fulltext/u2/a334097.pdf

Darley, JM. 2005. The cognitive and social psychology of contagious organizational corruption. Brooklyn Law Review, 70(4), 1177-1194.

Das, V. 2017. Judicial corruption: the case of Nigeria, Journal of Financial Crime. https://www.emeraldinsight.com/doi/abs/10.1108/JFC-02-2017-0011

De Vries, M en I Sobis. 2015. Increasing transparency is not always the panacea. An overview of alternative paths to curb corruption in the public sector. International Journal of Public Sector Management 29(3), 255-270.

Gertner, N. 2016. The corruption continuum: When giving gifts bleeds to bribery.
Washington Post, 6 May. https://www.washingtonpost.com/news/in-theory/wp/2016/05/06/the-corruption-continuum-when-giving-gifts-bleeds-to-bribery/?noredirect=on&utm_term=.bb526d031f5e

Girodo, M. 1991. Drug corruption in undercover agents: Measuring the risk. Behavioural Sciences and the Law, 9, 361-370.

Joe-Akunne, CO, EA Nwankwo en BC Chine. 2018. Reducing ethnocentrism and corruption in Nigeria. Practicum Psychologia, 8, 114—127
http://journals.aphriapub.com/index.php/PP/article/view/581/564

Jordaan, W. 2018. Korrupsie soek lekkerlê langs sewe sondes. Die Burger. Van Alle Kante. Woensdag 14 November.

Köbis, N. 2013. The social psychology of corruption. Doktorale proefskrif, Vrije Universiteit, Amsterdam.

Kominis, G en A Dudau. 2017. Collective corruption — How to live with it: Towards a projection theory of post-crisis corruption perpetuation. European Management Journal, 36, 235-242.

Lisciandra, M en E Millemaci. 2017. The economic effect of corruption in Italy: a regional panel analysis. Regional Studies, 51(9), 1387—1398.

Makin, S. 2017. National corruption breeds personal dishonesty. Scientific American. https://www.scientificamerican.com/article/national-corruption-breeds-personal-dishonesty/

Moore, C. 2009. Psychological processes in organizational corruption. In: Psychological perspectives on ethical behaviour and decision making, 35—1. https://www.researchgate.net/publication/290858988

Moosa, IA. 2017. Effect of corruption on FDI: evidence from junk-science. Journal of Transnational Corporations Review, 9 (2), 88—96.

Mulder, P. 2018. Wat is Suid-Afrika se grootste bedrogspul? Die Burger, Maandag 26 November, 11.

Okonkwu, CO en AA Smith. Personality and ethnicity as psychosocial factors in understanding corruption in Nigeria. Practicum Psychologia, 8, 76-98.

Patel, SS. 2016. Piltdown’s lone forger. Archaeology, November/Desember, 9—10.

Rusch, J .2016. The social psychology of corruption. OECD Integrity Forum. Fighting the hidden tariff: Global trade without corruption. Paris, 19—20 April.

Stephenson, MC. 2013. Bibliography on Corruption and Anti-Corruption, Harvard Law School.http://www.law.harvard.edu/faculty/mstephenson/2013PDFs/Corruption%20cites%20%28website%20version%20-%20Oct%202013%29.pdf

Úbeda, F en EA Duéñez-Guzmán. 2011. Power and corruption. Evolution, 65(4), 1127—39.

Zaloznaya, M. 2014. The social psychology of corruption: Why it does not exist
and why it should. Sociology Compass, 8(2) 187—202. http://vtmis.ru/articles/Why%20It%20Does%20Not%20Exist.pdf

Zhong, C, VK Bohns en F Gino. 2010. Good lamps are the best police: Darkness increases dishonesty and self-interested behaviour. Psychological Science, 21(3), 311—314.

  • 2

Kommentaar

  • Dankie vir die interessante artikel. Handre, ons het in ons "wye en droewe land" te veel mense op alle vlakke wat nie verantwoordelikheid aanvaar nie en dit "verplaas" en te veel leiers met narsissistiese trekke. Die artikel vanuit die Sielkunde bied goeie insig daarop.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top