
- Karen Hart skryf ’n gereelde kosrubriek vir LitNet.
.......
Wanneer my klante smiddae vyfuur hul kosbestellings kom afhaal, raak ek skaam vir die chaos in my klein kombuisie na die dag se kokery. Maar al waaroor hulle kan praat, is die wonderlike geure wat in my huisie hang. En op dié Sondagaand is dit, saam met die kerrie, die onthou wat warm om my hart kom lê.
.......
Sondagaande soek jy ’n huis vir jou siel, ’n warm tuiskoms om die persblou te verdryf. Ek kon nog nooit peil waarom dit juis Sondagaande is wat jou met hierdie gevoel van verlatenheid laat nie. Maar dis daar en dis dan wanneer ’n warm bord lamskerrie balsem word vir ’n moeë siel.
Nou die Sondagmiddag is ek saam met vriendinne Baxter toe om Jack and the Beanstalk te gaan kyk. Die heerlike, lighartige pantomime het die kind in my weer wakker gemaak. En ek het my verlustig in die reaksie van die kinders in die gehoor.
Die klein dogtertjie in die ry voor ons het pouse kliphard sit en huil omdat Jack en sy mense agter die gordyn verdwyn het. My een vriendin se goedbedoelde trooswoorde: “Don’t worry – they all went to drink some milkshake” het haar net nog harder laat huil. Ek vermoed sy het Buttercup, die koei, die meeste gemis!
Toe die gordyn op die vrolike klomp huweliksgaste sak, het ek gedink dis ’n heerlike manier om die Sondagbloute te besweer. Maar ek het my lelik misgis. In die Uber op pad huis toe het ’n donkerpers wolk my omvou en die klip van verlatenheid het swaar op my hart gelê.
Toe ek my voordeur oopsluit en by my huis instap, het ek gewonder of ek my verbeel dis kouer binne as buite. Maar ek het nie tyd gehad om my verder te verknies nie – ek moes vir Bliksem, my gemmerkat, kos gee. Die eekhorinkies het al vir hul neute gewag. Die voëls se saadhouers was leeg. Die tarentale en Petrus en Petronella, die kolganse, het al hoopvol onder die stoep gestaan en die deur dopgehou.
En ek het weer lag gekry vir die woorde van ’n vriendin wat my eenkeer by die huis kom aflaai het, ook min of meer dié tyd wanneer my “aanneemkinders” vir hulle kos wag. “It’s like f*cking Snow White!”
Maar toe ek nou eers klaar die menigtes gevoed het, was dit net ek en die loodswaar gevoel in my binneste. Met dié besef ek toe ook – ek is honger. Ek is vroeër so haastig uit die huis weg want ek het, soos gewoonlik, weer my tyd verspeel en nie kans gehad om te eet nie.
Op die stoof het die pot lamskerrie, wat ek al van gister af kook, staan en wag om opgewarm te word. Terwyl ek wag, luister ek na onse Mimi wat die “Magaliesburgse aandlied” sing: “Ek groet vir laas my gryse berge ...”
En ek verlang na my pa, baie meer as gewoonlik. Hy is meer as 25 jaar gelede baie skielik oorlede. Ek glo nie ek het hom al ooit vergewe dat hy ons so onverwags verlaat het nie. Maar, ten spyte daarvan, gesels ek nog elke dag met hom, byna soos toe ons nog middagetes in Beulah se Scotch Coffee House oor die res van die familie sit en skinder het.
“Magaliesburgse aandlied” was een van sy gunstelinge. Dit was ook die lied wat die skoolkoor op Volmoed gesing het toe hulle van hom as skoolhoof afskeid geneem het. Ek wonder baie keer of hy nie gelukkiger sou gewees het as hy onderwyser gebly het nie.
En ek wonder of hy ook Sondagbloutes beleef het. As hy het, sou hy dit nooit erken het nie. Hy het hom Sondagaande in sy studeerkamer toegesluit om sy beplanning vir die week te doen. Soms het hy uitgekom en voor die klavier gaan sit. Ek het in my bed gelê en my Sondagblou het die wyk geneem wanneer ek hoor hoe hy “Hi-Lili, Hi-Lo” op die klavier speel. Vandag wonder ek of dit nie sy manier was om sy eie duiwels te verdryf nie.
Met al die mymeringe het die stoom uit my potjie kerrie begin trek en ek het opgeskep. Happie vir happie het die blou borriegeel begin word. Nee, het ek by myself gedink, my huis mag miskien koud wees, maar dit het ’n warm hart.
Wanneer my klante smiddae vyfuur hul kosbestellings kom afhaal, raak ek skaam vir die chaos in my klein kombuisie na die dag se kokery. Maar al waaroor hulle kan praat, is die wonderlike geure wat in my huisie hang. En op dié Sondagaand is dit, saam met die kerrie, die onthou wat warm om my hart kom lê.
Karen se kerriepoeier
Ek het in die kaneelplantasies van Sri Lanka leer kerrie kook. Die sukses van jou kerrie hang grotendeels af van die speserye wat jy gebruik, dus maak ek ook my eie kerriepoeier. Daar’s niks fout met gekoopte kerriepoeier nie, maar jou kerrie sal net daardie ietsie ekstra hê as jy jou eie maak.
Lewer ongeveer 250–300 ml kerriepoeier
2 eetlepels komynsaad
2 eetlepels fenugriek
1½ teelepels mosterdsaadjies
1 eetlepel swartpeperkorrels
8 eetlepels koljandersaad
1 eetlepel papawersaad
1 eetlepel fyn gemmer
1 teelepel rissiepoeier
4 eetlepels borrie.
Meng alles saam en maal fyn in ’n speserymeultjie. Ek gebruik ’n koffiemeul wat ek net vir my speserye gebruik. (Ek het ’n ander koffiemeul vir my koffiebone!) Bêre die mengsel in ’n lugdigte flessie en gebruik soos wat jy dit nodig kry.
Maar die poeier alleen is nie genoeg om die Sondagblou en die hongerte te verdryf nie. Hier is my resep vir die allerheerlikste lamskerrie. Jy kan skaapvleis ook gebruik – baie mense sweer daarby.
Karen se allerheerlikste lamskerrie
Genoeg vir 4
3 eetlepels olie
3 groot uie, fyngekap
3 mollige knoffeltoontjies
1 x 3 cm-knoets vars gemmer, geskil en fyngekap of gerasper
1 rooi brandrissie, pitjies en naatjies verwyder en fyngekap (kap dit net so met pitjies en al as jy van brand hou)
1 kg stowelamsvleis
1 opgehoopte eetlepel kerriepoeier
1 teelepel garam masala (jy kan jou eie maak, maar dis ’n resep vir ’n ander dag)
1 groot ryp tamatie, fyngekap
1 koppie vleisaftreksel
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
6 kleinerige aartappels, geskil en in kwarte gesny
varsgekapte koljanderblare (opsioneel)
1 eetlepel botter
1 eetlepel koekmeel
Verhit die olie in ’n swaarboompot en braai die uie daarin tot goud en deurskynend. Voeg die knoffel, gemmer en brandrissie by en braai vir nog ’n paar minute saam voordat jy die vleis byroer. Braai lekker stadig totdat die vleis so ’n bruin sousie vorm. Voeg die res van die bestanddele, behalwe die aartappels en die koljander, by. Verlaag die hitte en bedek die pot. Laat prut vir onveer ’n uur voordat jy die aartappels byvoeg. Kook totdat die aartappels sag en gaar en die vleis murgsag is. Indien die sous nie dik genoeg na jou smaak is nie, maak ’n pasta van die botter en koekmeel en roer deur. Proe en geur met nog sout en peper indien nodig. Roer die vars koljanderblare deur en bedien op lekker basmati- of geurige witrys.
Wenk: Dié kerriepot is nog lekkerder as dit ’n dag lank gestaan het. Veral op so ’n blou Sondagaand.
Lees ook:
Toorkombuis: Ek onthou vir Mamma – en haar peppermint crisp-tert

