
- Karen Hart skryf ’n gereelde kosrubriek vir LitNet.
In hierdie ou lewe is daar twee dinge waaroor ek bitter spyt is. Daar is seker ’n ellelange lysie as ek nou werklik wil gaan sit en derms ryg, maar nou is dit die twee wat aan my gewete knaag.
Die een is dat ek Jessye Norman se stem so laat in my lewe ontdek het. Gaan luister ’n bietjie na haar “Mon coeur s’ouvre a ta voix” uit Saint-Saëns se Samson et Delilah. As jy, soos ek, lank in die duister was, sal jy verstaan wat ek bedoel.
Die ander is murgpampoentjies. Ek kan nie glo dat my kombuis so lank sonder hierdie wonderlike blinkgroen soldaatjies moes klaarkom nie. Maar, glo my, ek is deesdae selde sonder ’n goeie voorraad in die yskas en ’n hele arsenaal resepte waarin hierdie kêreltjies die hoofrol speel.
Dit het alles begin met Nigella se murgpampoentjiekoek, ’n veerligte soete verleiding. Toe volg die heerlike kaas-en-murgpampoentjiebrood, ’n murgpampoentjiefrittata en etlike ander wonderlike groentegeregte.
My kokery kom uit die hart. En murgpampoentjies is hartskos. Wanneer my mes deur die blinkgroen klief, dink ek aan die wonderlike liefdesverklaring van Attilio de Giovanni, gespeel deur Roberto Benigni in die rolprent Le tigre e la neve (The tiger and the snow).
Hy sê wanneer sy geliefde sterf, kan hulle maar die wêreld se vertoning kanselleer, die sterre uitskroef en die hemelruim oprol en in ’n vragmotor wegry. Hulle kan die sonlig uitdoof, want die enigste rede waarom hy so lief is vir die son, is omdat dit op sy geliefde skyn.
Hy gaan voort deur te sê hulle kan eintlik maar alles oppak en wegry – die matte, pilare, huise, sand, wind, paddas, hael, aandskemering, die somermaande, basiliekruid, bye, die see, murgpampoentjies ... murgpampoentjies. Byna met ’n versugting.
Is dit nie ongelooflik mooi nie?
Ek het die prent jare gelede per ongeluk op DVD ontdek. Dit is seermaak-mooi en het my hart geraak, maar dis baie deurmekaar en glad nie op dieselfde vlak as Roberto se Life is beautiful nie. Maar die versugting oor die liefde en murgpampoentjies het my bygebly.
.......
Ek weet ’n mens kan nie met jou kop daar bo in die wolke leef wanneer jy in die kombuis werk nie, maar mooi woorde, beelde en musiek maak saam met lekker kos die lewe die moeite werd.
.......
Ek weet ’n mens kan nie met jou kop daar bo in die wolke leef wanneer jy in die kombuis werk nie, maar mooi woorde, beelde en musiek maak saam met lekker kos die lewe die moeite werd.
Ek is altyd baie versigtig en sal nou nie voor in die koor saamgesels wanneer dit by die voedingswaarde van kos kom nie. Ek kook die meeste van die tyd op gevoel en in die geloof dat dit heerlik sal smaak en vir die mense om my tafel net soveel genot sal verskaf.
My “tafel” het baie groot geword, met baie “gaste” wat kom aansit met dié dat ek nou kos op bestelling kook. My klante het al soos familie geword en dis wonderlik om te weet dat my kokery soveel plesier vir so baie mense bring.
Ek het nie net ’n heilige respek vir die bestanddele waarmee ek werk nie, maar ook vir die welstand en behoeftes van die mense vir wie ek kook. En murgpampoentjies is goed vir liggaam en siel.
........
Ek het nie net ’n heilige respek vir die bestanddele waarmee ek werk nie, maar ook vir die welstand en behoeftes van die mense vir wie ek kook. En murgpampoentjies is goed vir liggaam en siel.
........
Dis glo ryk aan vitamiene C en kalium, wat ’n rol speel in die handhawing van ’n normale bloeddruk. Maar, soos ek gesê het, ek gee beslis nie voor om ’n dieetkundige te wees nie. Vir my is die belangrikste daardie positiewe energie, die geheime bestanddeel waarmee ek my kospotte seën.
“Ek weet nie wat dit is nie,” het een van my gereelde klante opgemerk, “maar daar is iets baie spesiaals aan jou kos. Ek kan nie my vinger daarop lê nie ...”
’n Ander het weer vertel hoe sy die verskil aan haar lyf kan voel. “Ek dink dis die gereeld eet aan goeie kos wat die verskil maak.”
En ek het onwillekeurig teruggedink aan toe my ma die eerste keer by my gekom het na haar breinbesering, die noodoperasie en die maand in die hoësorgeenheid van die aftree-oord. Sy het gelyk soos ’n kuiken wat uit die nes geskop is.
Kort ná haar aankoms, het sy baie deurmekaar geraak en ek is met haar na ongevalle. Daar was ’n vrouedokter aan diens wat my baie wantrouig aangekyk en my behoorlik met vrae bestook het, erger as die Spaanse Inkwisisie. Maar toe sy eers besef my ma was skaars ’n week by my, het haar houding verander. Ek besef toe sy het gedink ek is verantwoordelik vir my ma se verwaarlosing.
Skaars ’n maand later het my ma een aand in die badkamer met haar kop teen die toilet geval. Ek het ewe met pleisters nader gestaan, maar toe ek net been en bloed sien, het ek besef ek moet die ambulans bel en ongevalle toe.
Daardie nag was dieselfde dokter aan diens. Sy het net een kyk na my ma se bebloede gesig gegee en in plaas van die skrobbering waarvoor ek myself gestaal het, het sy liries geraak oor hoe gesond my ma lyk, hoe haar vel gloei en hoeveel beter sy is as toe sy haar laas gesien het.
Net goeie kos met daardie geheime bestanddeel – alles met liefde gemaak.
Een van my ma se gunstelinggeregte was juis dié een – ’n heerlike, romerige pastagereg met murgpampoentjies in die hoofrol. Dis soos Jessye se stem – jy moet dit self ervaar sodat jy kan saamgesels ...
En daarmee saam stuur ek ’n gebedjie op dat die liefde behoue bly en daarmee saam die sterrehemel waar my ma nou bly, die geur van somer en, natuurlik, murgpampoentjies.
Karen se romerige pasta met murgpampoentjie en basiliekruid
Genoeg vir vier
3 eetlepels botter
2 eetlepels olie
500 g klein murgpampoentjies, in dun skyfies gesny
4 mollige knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
300 ml room
’n hand vol vars basiliekruidblare, in repies geskeur
sout en varsgemaalde swartpeper
500 g tagliatelle (of enige pasta van jou keuse – penne werk ook goed)
4 eetlepels parmesaan, plus ekstra vir opdiening
Verhit die botter en olyfolie in ’n groot swaarboompan en braai die murgpampoentjieskyfies oor ’n matige tot hoë hitte gasvlam totdat dit begin verkleur en sag word. Verlaag die hitte tot ’n matige, byna lae vlam. Voeg die knoffel by en roer goed deur. Braai vir nog ’n hele paar minute totdat die murgpampoentjies heeltemal gaar is. Voeg die room by en laat liggies prut totdat die sous begin dik word. Voeg die basiliekruid, sout en peper by. Maak die pasta gaar volgens die instruksies op die pakkie en dreineer goed. Roer die warm pasta en parmesaan by die murgpampoentjiemengsel in die pan. Meng goed en bedien onmiddellik met ’n lekker skeppie ekstra parmesaan bo-oor gesprinkel.
WENK: As jy kan en jy wil die gereg ekstra spesiaal maak, maak jou eie pasta.
Lees ook:
Toorkombuis: Augustus vra vir sieletroos – my balsemiekhoenderpotjie

