Toorkombuis: Hoe rooier ... die dieprooi van pruimpoeding

  • 0

Prent van pruime: hartono subagio op Pixabay

........
Dieprooi, byna purper ... daar is min dinge wat vir my mooier is as daardie oopsny van die swart pruime wat nou in seisoen is. Aan die buitekant lyk dit soos ’n doodgewone pruim, maar wanneer die mespunt deur die vel klief, bloei die vlees die mooiste, mooiste rooi.
........

Dieprooi, byna purper ... daar is min dinge wat vir my mooier is as daardie oopsny van die swart pruime wat nou in seisoen is. Aan die buitekant lyk dit soos ’n doodgewone pruim, maar wanneer die mespunt deur die vel klief, bloei die vlees die mooiste, mooiste rooi.

Dis dan wanneer ek my skotteltjie nadersleep en pruimpoeding bak. Ja, ja, ek weet – gebakte poeding is nou nie juis gemaak vir die somerhitte nie. Maar moenie vir my kom vertel jy eet net koue kos in die somermaande nie.

Gebakte poeding is nes sop vir my – beslis nie iets wat jy bêre vir die bibbermaande nie. En hierdie poeding ... wanneer die pruime begin bak en die deegkombersie bo-oor plek-plek gekleur word deur die donkerrooi sous, gee my hart sommer sulke wilde bokspronge.

Ek het ’n paar kilo’s pruime bestel om my voorraad Oosterse pruimsous vir die jaar te kook. Dis net die ding vir roerbraaigeregte, of om jou hoender of vleis te marineer voor jy dit in die oond rooster, of op die braaivleisvuur gaarmaak.

En, natuurlik, die poeding van die pruime wat oorbly ...

Elke jaar besef ek, ek maak net nooit genoeg van die wondersous nie. Lank voor die jaar om is, is my flesse leeg. Boonop is die kleur wat daardie dieprooi pruimvlees aan die sous gee, so mooi dat almal daarvan wil hê.

Dit het nou al ’n paar keer gebeur dat die bottels op die tafel staan en afkoel wanneer my klante hul kosbestellings kom haal en dan wil hulle summier my voorraad opkoop. Op die ou einde bly daar maar min oor.

Hierdie jaar het ek sommer al klaar weer my bestelling geplaas vir nog ’n besending pruime. Die probleem is net – jy kan nooit seker wees of jy jou purper pruime gaan kry nie. Die teleurstelling is groot wanneer jy met die oopsnyslag sien die vlees is goud en nie purper nie.

Natuurlik maak die kleur nie so ’n groot verskil aan die smaak nie. Die purper pruime is effe soeter as dié met die geel, maar die verskil is nie so groot dat jy dit aan jou sous gaan proe nie. Die kleur van die sous is ’n bietjie meer bruin as dieprooi. Maar dis ook nou nie die einde van die wêreld nie ...

Die poeding is ’n ander storie. Die pruime wat geel van binne is, kleur nie die deegkombersie dieprooi nie. En dis vir my so erg dat ek nie eens moeite doen nie om die poeding te maak met die verraderlike pruime met hul belofte van dieprooi van buite, maar bleekgoud van binne.

Dis mý probleem. Ek is seker niemand anders gaan kla oor ’n gebakte pruimpoeding met die goue vlees nie. En natuurlik besef ek my beheptheid met die kleur strek ook verder as die pruime.

Ek is baie lief vir vye, maar ek sal my veel eerder vergryp aan die purperrooi van adamsvye as aan die vye wat groen van kleur is. Ook met turksvye kies ek die donkerrooies, al beskou die boere dit as veekos en die groenes as die uitverkorenes vir die mark.

My gunsteling-vrug is kersies. En in die kort seisoen sorg ek dat ek soveel moontlik van daardie dieprooi vruggies in my mond voel ontplof. Moerbeie, brame ... die winkelaarbeie het ’n bietjie smaakloos geword.

Ek kook en bak met groen appels, maar wanneer ek ’n appel net vir die plesier eet, kies ek die rooies. Purper druiwekorrrels pas ook baie beter in my mond as die groenes. (Maar ek moet sê, die goud van stroopsoet sultanas is nie te versmaai nie.)

Van die rooi en purper are wat deur die vlees van bloedlemoene loop, kan ek nie genoeg kry nie. Elke jaar weeklaag ek oor die kort seisoen. Ek wil amper oor dié lemoene rou soos AG Visser oor die roos: “Te kort jou skoonheidsduur ...”

En, natuurlik, daardie smaak – ek maak lewer gaar met baie uie, die gerasperde skil en sap van die bloedlemoene en die vars salie wat in ’n pot op my stoep groei.

Ek is baie lief vir beet. Maar ek hou net mooi niks daarvan as die dieprooi sous die ander kos op my bord verkleur nie en ek ban die beetslaai tot die kleinbordjie langsaan.

’n Mens sou nou verwag dat met hierdie kleurbeheptheid ek rooiuie sou verkies. Maar die waarheid is dat die lekkerste ui vir my wildeklawer se soetuie is. Die seisoen is kort en dis net vir ’n klein rukkie op die winkelrakke. En ek dood oor die smaak van doodgewone uie.

Ek hou ook baie meer van eenvoudige, vaal kopkool as van rooikool met sy wilde rooi en wit krulle. Min dinge is vir my lekkerder as daardie einste vaal kool, lekker gestoom met net ’n bietjie botter ... ai!

Moenie my probeer verlei met die rooigevlekte patats of vreemde rooi wortels wat nou so hoogmode is nie. Dit werk nie vir my nie. Ek kies ’n doodgewone wit patat, nie eens die borriegeles nie. En ’n wortel moet vir my wortel wees – helder oranje, beslis nie rooi nie.

Maar die pruime, ai, die pruime ...

Karen se gebakte pruimpoeding

Genoeg vir 4

3 eetlepels botter
3 eetlepels wit suiker
½ koppie bruismeel
1 eier, geklits
1 eetlepel water
12 kleinerige of 6 groot pruime, gehalveer en ontpit
⅓ koppie bruinsuiker

Room die botter en witsuiker saam totdat dit bleekgeel en veerlig is. Voeg die bruismeel en geklitste eier alternatiewelik bietjie vir bietjie by en klits goed na elke byvoeging. Roer die water by. Pak die pruime in ’n laag in ’n kleinerige oondskottel en sprinkel ’n bietjie van die bruinsuiker oor. Pak nog ’n laag pruime en besprinkel met die res van die bruinsuiker. Bedek dit met die deegmengsel en bak vir ongeveer 50 minute in ’n voorverhitte oond van 180ºC. Bedien warm met geklitste room (my gunsteling!) of warm vla.

WENK: Moenie jou aan my kleurbeheptheid steur nie – die poeding is lekker met enige soort pruim. Jy kan selfs appels of appelliefies in die plek van die pruime gebruik.

Lees ook:

Toorkombuis: ’n traaifel vir vrede

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top