Toorkombuis: ’n traaifel vir vrede

  • 0
  • Karen Hart skryf ’n gereelde kosrubriek vir LitNet.

Kersfees is om die draai. En hierdie jaar, het ek besluit, preek ek nie teen die oordaad van kreunende feestafels nie. My bydrae is ’n lekker dekadente koekstruif, soos die grênd mense sal sê. Maar in die volksmond bly ’n traaifel ’n traaifel.

Die Britte het dit hier aangedra. Maar daarvan het almal al vergeet. Traaifel is nou so deel van ons Kerskultuur soos die sonskyn en blou lug daarbuite.

........
Die Britte het dit hier aangedra. Maar daarvan het almal al vergeet. Traaifel is nou so deel van ons Kerskultuur soos die sonskyn en blou lug daarbuite.
........

Sommer so vinnig-vinnig het die jaar uitgeloop – net gister nog het ons ’n glasie geklink op Nuwejaar. Nou lê die nuwe een al om die hoek en loer. Ek was nog nooit een vir Nuwejaarsvoornemens nie. Dis te veel van ’n skuldlas om te erken jy het binne die eerste twee weke al vergeet van al die beloftes wat jy aan jouself gemaak het.

Maar hierdie jaar het ek ’n Kersfeesvoorneme – om vrede te maak met alles en almal om my. En die belangrikste van alles: om vrede te maak met myself.

Ek het nog elke jaar net my lot bekla en vertel hoe moeilik die feestyd vir my is. Dis in hierdie tyd wat ’n mens oorbewus is van geliefdes wat nie meer daar is om deel te hê aan die feesvieringe nie.

Dan is daar die gedrang en gedruis – die oorvol huise met kuiergaste, die druk verkeer op die paaie en in die winkelgangetjies. Die geliefde-kuierplekke waar jy rustig op ’n afdag kon uithang, is nou so bedrywig dat jy by die deur moet omdraai.

Maar, troos ek myself, oor ’n maand is alles verby en my wêreld is weer myne. En ek kan saamleef met die gemis in my hart – ek moet dankbaar wees dat daar mense in my lewe was wat dit moeilik maak om afskeid te neem.

Ek sê dankie vir nuwe vriendskappe, ook die oues wat nog behoue gebly het. Ek sê dankie vir die wonderlike kosreis waarop die lewe my geneem het en wat soveel wonderlike mense in my lewe gebring het. En vir my kombuis waar ek al my hartseer en verlange in die kospotte kan stort, ook nuwe vreugdes kan ervaar – die wonder van ontdek en deel.

Terwyl ek die wêreld so deur my kombuisvenster betrag, weet ek ons sal waarskynlik nooit wêreldvrede ken nie. Solank daar ’n “ons” en ’n “hulle” is, sal daar altyd onmin en oorlog wees. Wêreldvrede het bloot ’n belaglike rympie geword waarmee skoonhede ’n kroon probeer wen.

Die “vrede op aarde”, weet ek, sal ek maar in my eie hart moet soek.

........
Die “vrede op aarde”, weet ek, sal ek maar in my eie hart moet soek.
..........

Dit was nie ’n maklike jaar nie. Ek het baie mense dit al hoor sê en ek het dit ook aan eie lyf gevoel. Die laaste paar maande het ek hard baklei teen ’n knaende onrus en uiteindelike pynlike verlies.

Ek het net weer besef hoe moeilik dit is en hoeveel harde werk dit verg om vrede te vind. Maar wanneer jy eers vrede in jou gemoed het, maak jy ook vrede met die wêreld om jou. Ons praat so maklik van soeke na geluk, maar dis eintlik ’n bysaak – dis vrede wat ons moet najaag.

My ma het altyd vertel hoe sy my en my boetie kleintyd in die badkamer gekry het waar ons stip staan en staar het na die badwater wat sy ingetap het. Toe sy vra wat ons daar maak, het ons gesê ons wil sien hoe lyk vrede. Sy besef toe dis omdat sy altyd sê sy wil net in vrede bad.

Daardie vrede is min ma’s met jong kinders beskore. Maar dis ’n anderste soort vrede daardie. Die vrede waarna ons soek, lê veel dieper en kos baie harde werk.

Ek weet ook dis ’n ewigdurende proses. Die een dag se vrede word so maklik verdring deur pynlike onsekerhede. Dit kos harde werk, elke liewe dag van jou lewe, om dit werklik te ervaar.

Ek het vir myself rituele geskep om my voortdurend daaraan te herinner om nie te laat slaplê en toe te laat dat die onrus weer van my besit neem nie.

Elke Sondag steek ek 35 kerse aan die brand en laat dit vir 21 minute en 21 sekondes brand voordat ek die vlammetjies doodblaas. In daardie tyd maak ek ’n denkbeeldige lysie van die dinge waarvoor ek dankbaar behoort te wees (al voel ek nie altyd so nie). En dis vreemd hoeveel vrede dit in my hart bring – selfs die tye wanneer ek die ritueel met ’n donker gemoed begin.

En op my etenstafel staan ’n flessie met vars roosmaryn op ’n glasbord vol growwesout. Dis vreemd hoe hierdie klein altaar met bestanddele uit my kombuis kan troos en bemoedig.

Só het ons elkeen maar ons eie manier om te oorleef. Maar soos Charlie Chaplin gesê het: “Nothing is permanent in this wicked world – not even our troubles.” En my wens vir elkeen hierdie Kersfees is vrede ... en ’n heerlike dekadente traaifel op die feestafel.

 

Karen se kaaskoekerige koekstruif, of liewer traaifel met ’n kaaskoekkinkel

Genoeg vir 10

Vir die jellieblokkies
3 x 80 g pakkies perskegeur-jelliepoeier

Vir die kaaskoek
4 eetlepels vlapoeier
2 eetlepels strooisuiker
2 koppies room
2–3 Swiss rolls, in skywe gesny
1 x 400 g blik ingemaakte perskeskywe
4 eetlepels soet sjerrie
2 eetlepels versiersuiker
2½ x 240 g houers roomkaas
2 teelepels vanielje

Vir die bolaag
2 eetlepels versiersuiker
2 koppies room
2 eetlepels soet sjerrie
1 teelepel vanielje
1 x 400 g blik ingemaakte perskeskywe

Maak die jellie aan met 1 koppie kookwater. Roer totdat die jelliepoeier opgelos het. Giet dit in ’n vlak gesmeerde bak van ongeveer 20 x 15 cm wat met bakpapier gevoer is. Laat staan om af te koel en plaas dan in die yskas om te set. Plaas die vlapoeier saam met die suiker en 150 ml van die room in ’n kastrol oor lae hitte en roer totdat jy ’n gladde mengsel het. Roer die res van die room geleidelik by, terwyl jy die heeltyd roer. Sodra dit begin dik word, klits dit goed en haal dit dan van die stoofplaat af. Skep dit in ’n bak uit en bedek die oppervlak van die vla met kleefplastiek om te keer dat ’n velletjie vorm. Laat afkoel. Rangskik die Swiss roll-skywe langs die kante en op die bodem van ’n gesmeerde 23 cm losboomkoekpan. Dreineer die perskeskywe en meng met die sjerrie. Skep dit op die Swiss roll-basis op die bodem. Plaas die koekpan in die vrieskas, terwyl jy die vulsel maak. Breek die vla op met ’n vurk. Plaas dit in ’n mengbak saam met die roomkaas en klits saam totdat jy ’n lekker gladde mengsel het. Klits die 2 eetlepels versiersuiker en vanielje by. Skep die vulsel in die koekpan en maak mooi gelyk. Bedek die bokant met Swiss roll-skywe. Laat oornag in die yskas om te set. Klits die room styf saam met die versiersuiker, sjerrie en vanielje. Haal die kaaskoek versigtig uit die koekpan en plaas op ’n mooi opdienbord. Skep die room bo-op en versier met perskeskywe. Sny die jellie in klein blokkies en sprinkel bo-oor.

WENK: Jy kan vars frambose in die plek van die perskes en ’n framboosgeur-jellie gebruik.

Lees ook:

Toorkombuis: My kosbare erfenis – basaarkerrie

Toorkombuis: Murgpampoentjies, o murgpampoentjies ...

Toorkombuis: Brand dit skoon – gnocchi met geskroeide botter en salie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top