Toorkombuis: Selfkoestering – Koreaanse hoender-en-rysnoedelskottel

  • 0

Dis so maklik om vasgevang te word in die alledaagse – jy kan so verstrengel raak in dinge wat net eenvoudig gedoen moet word, dat jy vergeet om ’n bietjie tyd aan jouself af te staan en net eenvoudig die batterye te herlaai.

Ek kook ’n weeklikse spyskaart. Dit beteken my dag begin met beplanning en aanlyn inkopies saam met my eerste koppie koffie. Dan is dit ek en die stoof, sommer vroegdag al, totdat die laaste kosbestelling teen sesuur afgehaal word.

Baiekeer vergeet ek om te eet. En wanneer ek eindelik tot rus kom, sien ek nie kans vir die kos wat ek die dag gekook het nie. Dan is dit sommer ’n eier op roosterbrood en ’n bietjie avokado en tamatie vir kleur (en gesondheid).

Ek plaas Vrydae al die spyskaart vir die volgende week op my WhatsApp-groep en wanneer die bestellings eers inkom, raak my week baie vinnig vol. Dis moeilik om tyd te maak vir enigiets anders. Dit gebeur baiekeer ook dat dit oorspoel tot in die naweek.

Toe ek hoor my nefie (my broer se oudste seun) en sy Koreaanse vrou tree die Donderdag op by die etensuurkonsert in die St George-katedraal, was my aanvanklike reaksie teleurstelling dat ek dit nie kan bywoon nie. Want, sien, ek móét mos kook.

Dis toe dat Gertruida intree. My middelnaam, wat ek van my ma en ouma gekry het, het ’n persoonlikheid van haar eie en dis sy wat lewe kry wanneer sy voel Karen moet ’n slag aangepraat word. En ek is nogal skrikkerig vir haar.

Toe ek my weer kom kry, het ek my week se spyskaart so beplan dat ek kon tyd maak om te gaan stem op verkiesingsdag én die volgende dag die etensuurkonsert by te woon. En dit wil nogal gedoen wees, want as jy eers in die voorstede bly, is Kaapstad ’n hele dagreis ver.

Ek het vroegoggend gou lasagna voorberei, reg vir die oond wanneer ek weer by die huis kom, en teen twaalfuur was ek in die Uber op pad stad toe. Ek was bang ek val vas in die verkeer, soos dit vantevore al gebeur het, en het gemeen as ek vroeg daar is, kan ek ’n toebroodjie en koffie iewers kry.

Maar toe onthou ek van die ongelooflike ervaring wat ek juis daar in die katedraal gehad het toe ek 14 jaar oud was. Ek het vir my pa gaan kuier by sy kantoor in die stad en so ’n bietjie in die winkels rondgeloop. Toe, op die ingewing van die oomblik, het ek by die katedraal ingeloop.

Daar was niemand anders nie. Dit was net ek in hierdie ongelooflike, heilige tempel met sy brandgeskilderde glasvensters, hoë koepels en altare. En toe begin iemand op die orrel speel. Ek vermoed dit was Barry Smith. Hy was destyds die orrelis.

Ek het bewegingloos bly staan, byna te bang om asem te haal. Ek wou daardie oomblik net vir altyd vasgryp en in my hart bewaar. En ek het.

En nou, ’n hele paar dekades later, laat die onthou my besluit om voor die konsert in die katedraal te gaan sit en net die atmosfeer in te drink. Die koffie en toebroodjie kan wag tot anderdag.

Toe ek instap, sien ek my nefie en sy vrou is reeds besig om te oefen. En die blydskap op hulle gesigte toe hulle my sien, was al klaar genoeg om die hele uitstappie die moeite werd te maak.

Francois Botha (ek noem hom altyd Klein Francois, al is hy kop en skouers langer as ek, want my broer is ook Francois) het sy vrou, Yohan Chun, ontmoet toe hulle musiekstudente by die Universiteit van Kaapstad was. Sy is van Suid-Korea en hulle gaan elke jaar by haar ouers daar kuier.

Hulle is albei opgeleide konsertpianiste; Francois speel ook basviool en Yohan speel verskeie ander instrumente. Hulle is albei ongelooflik talentvol en begaafd en het die mooiste harte.

My broer spot altyd en sê hulle stry nooit soos ander getroude paartjies oor wie vergeet het om die tandepasta se proppie weer terug te sit nie. Nee, hulle stry eerder oor akkoorde en klanke.

Hulle het byna drie jaar lank vier keer ’n dag opgetree op Disney se passasierbootvaarte – Alaska, Melbourne, die Karibiese Eilande en die lande om die Middellandse see. Nou is hulle terug om hulle te vestig en te wag vir die geboorte van hul eersteling.

Hulle noem hulleself Best of Both. Die eerste helfte van hul konserte is gewoonlik klassiek en die tweede jazz. Elke konsert is ’n unieke ervaring en ek verstom my elke keer aan hoe ongelooflik talentvol hulle is.

Die konsert in die katedraal was net klassiek: bekende klassieke komposisies vir vier hande. En dit was net eenvoudig ongelooflik om te sien hoe hul hande in perfekte sinkronisasie oor die klawers vlieg. Verstommend.

Hulle het begin met die overture tot Bizet se Carmen en geëindig met die opruiende slotstuk uit Saint-Saëns se Karnaval van die diere. Tussenin was daar ’n fees van klank en harmonie met Tchaikovsky se Neutekraker-suite, die “Dans van die ure” uit Ponchielli se La Gioconda, “The sorcerer’s apprentice” en Bach se “Sheep may safely graze”, vir kalmte vir die siel.

Natuurlik het hulle ’n staande ovasie gekry. Hul tante was die een wat eerste opgespring het. En as ’n encore het hulle die vurige sabeldans van Khachaturian gespeel.

Die gesteelde uur het op ’n byna bonatuurlike noot geëindig. Terwyl ons agterna daar in die katedraal staan en gesels het, het iemand op die orrel begin speel. So anders as toe ek 14 was, en tog so dieselfde.

Ek het gevoel hoe die lewe en inspirasie na elke vesel en sel van kop en lyf terugkeer. My hart was tot oorlopens toe vol. En toe ek weer by my kombuis instap, was ek oorgehaal om met krui en spesery te probeer om dié soort betowering en harmonie wat ek daar in die musiek ervaar het, in my geregte in te bou.

Hierdie resep is vir Yohan; vir die vreugde en harmonie wat sy vir Klein Francois bring en ook in ons familie. Mag hulle nog lank saam speel. En dat ek vir myself die tyd sal gun om die wonder daarvan te ervaar.

Karen se Koreaanse hoender-en-rysnoedelskottel

Genoeg vir 4

3 eetlepels olie
500 g ontbeende, vellose hoenderdye
¼ koppie sojasous
1 eetlepel oestersous
¼ koppie ryswyn of droëwitwyn
2 teelepels sesamolie
2 eetlepels klewerige bruinsuiker
sout en varsgemaalde swartpeper (sien wenk)
’n knoets vars gemmer van ongeveer 3 cm, geskil en fyngekap
4 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
1 of 2 rooi brandrissies, fyngekap
700 g roerbraaigroente van jou keuse
400 g rysnoedels
1 koppie hoenderaftreksel
’n handvol gekapte koljanderblare (of pietersielie as jy gril vir koljander)

Verhit die olie in ’n swaarboomkastrol oor matige hitte. Sny die hoenderdye in kleiner stukke en voeg saam met die sojasous, oestersous, ryswyn, sesamolie, bruinsuiker, sout en swartpeper, gemmer, knoffel en rissie in die pot. Roer alles baie goed sodat die geure goed gemeng is. Voeg die roerbraaigroente by en meng goed. Bedek die pot en laat vir ongeveer 10 minute prut. Terwyl jy wag, berei die noedels voor volgens die instruksies op die pakkie. Roer die noedels by die hoender en groente en voeg die aftreksel by. Meng alles baie goed. Kook nog vir ’n minuut of twee sodat die geure goed vermeng is en roer die vars koljander of pietersielie deur. Skep op en geniet. ’n Salige Oosterse ontvlugting.

WENK: Jy kan hoenderborsies ook gebruik, maar die hoenderdye bly sappiger. Versigtig met die sout – die sojasous is reeds sout. Dis miskien ’n goeie idee om eers net die peper by te voeg en reg aan die einde te proe hoeveel sout die gereg nodig het.

Lees ook:

Toorkombuis: Roosmaryn vir die onthou – ’n onvergeetlike hoenderdis

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top