
Prent: ©Rudolf Hein op Pixabay, gepubliseer op 25 Januarie 2021
- Karen Hart skryf gereelde kosrubrieke vir LitNet.
........
Die lekkerte as daar van die hoender oorbly, is hoendertoebroodjies of koue hoender en slaai vir die kosblik.
.........
Roosmaryn, knoffel, suurlemoen ... vir my is dit ’n hemelse kombinasie, ’n geurwolk wat gereeld oor my kombuis hang. Dis die geurkombinasie wat ek gebruik in een van my gunsteling-hoenderresepte.
Roosmaryn is ’n goeie pasmaat vir vis, vleis, hoender, selfs wildsvleis. Dit smaak wonderlik saam met bone en sampioene ... eintlik saam met alles. Dis goeie medisyne ook. Dit help vir skilfers, slegte asem en spysvertering, kan selfs pyn en spanning verlig.
Wanneer ek die oggend wakker word met gemoedsbesmetting (daar is ’n meer gepaste en meer kru woord daarvoor, maar ons werk hier met kos), wend ek my dadelik tot my noodhulpkissie.
Ek sit ’n kastrol met water op die stoof, breek ’n paar takkies roosmaryn, sny ’n paar skyfies suurlemoen daarin en voeg ’n kaneelstokkie en ’n paar kruienaeltjies daarby. Dié konkoksie laat ek langsaam prut totdat die hele huis met die welriekende geurwolk gevul is. Dis moeilik om kwaad vir die wêreld te wees wanneer jy jouself met sulke wonderlike geure omgewe het.
En dis die geure wat my altyd sal bybly. Veral die roosmaryn. Dis soos die wyse Shakespeare gesê het: “There’s rosemary, that’s for remembrance. Pray you, love, remember.”
’n Vriendin het vir my die wonderlikste roosmarynplant present gegee. Die sterk, byna oorweldigende roosmaryngeur is daar, maar wanneer jy dit tussen jou vingers kneus is daar ook die geur van gemmer.
Die gemmerroosmaryn was om dankie te sê vir die sop wat ek vir haar gemaak het toe sy in die hospitaal was met haar kankerbehandeling. Nou is sy nie meer daar nie. Maar elke keer wanneer ek ’n takkie pluk om die naalde te stroop vir nog ’n heerlike gereg, dink ek aan Anne. En ek onthou ...
Ek onthou die bos wilderoosmaryn by die ingang van die mooi, ou gewelgebou van die biblioteek op Kuilsrivier. Vandag het daar niks van die tuin oorgebly nie – net steriele plaveisel agter ’n veiligheidsheining. Maar die boeke is nog daar.
Vir my was die tye daar tussen die boekrakke in die biblioteek die wonderlikste ontvlugting. En ek onthou met dankbaarheid hoe die streng juffrou Bosman, wat die hoofbibliotekaresse daar was, my soos ’n grootmens behandel het, selfs hier aan die begin van my tienerjare.
Sy het gou gesien ek het die jeugboeke vinnig deurgedraf en my toegelaat om aan die grootmenskant boeke te begin uitneem. En toe ek opera ontdek het, het sy vir my plaatopnames aangevra, soos wat sy vir ’n grootmens sou doen.
Ek onthou die boeke en die plate, maar onderliggend hieraan, besef ek nou, was die ongelooflike wete dat ’n grootmens my raakgesien en gerespekteer het. Dis daardie wonderlike herinneringe wat ek vandag nog met my saamdra wanneer ek biblioteek toe gaan.
Die nuusstorie van die negejarige seun wat per ongeluk in die Kaapstadse biblioteek toegesluit is nadat die personeel vir die dag huis toe is, het my opnuut laat onthou.
Die seun het smiddae tyd daar tussen die boeke in die biblioteek verwyl, terwyl hy vir sy pa, wat vir ’n barbier daar naby gewerk het, gewag het. Dié het sesuur klaargemaak en dan het hulle saam huis toe gegaan.
Maar op dié Vrydag het die seun vergeet sy pa het gesê hy moet eerder by sy werk kom wag, omdat die biblioteek Vrydae vroeër, om vieruur, sluit. Hy het daar tussen die boeke aan die slaap geraak.
En toe hy kwart voor sewe wakker skrik, was hy stoksielalleen en die biblioteek daar in Paradestraat donker en verlate. Gelukkig het ’n veiligheidswag sy hulpkrete gehoor en een van die personeellede gekontak om te kom oopsluit en die seun en sy bekommerde pa te herenig.
Ek kan goed verstaan dat hy daar tussen die boeke so veilig gevoel het dat hy aan die slaap kon raak ...
In die vyf jaar wat ek na my ma gekyk het, was van ons wonderlikste uitstappies na die biblioteek. Sy het by een van die leestafels gesit en ek het vir haar boeke van haar gunstelingskrywers aangedra sodat sy kon kies. Totdat die demensie heeltemal oorgeneem het en sy nie meer geweet het of sy by die begin of die einde van ’n boek moet lees nie.
Toe ons net voor die koorstyd Plumstead toe getrek het, het ek haar na Meadowridge se biblioteek geneem. Dit was net meer toeganklik en makliker met die rolstoel. Selfs nadat sy nie meer daar was nie, het dit steeds my toevlugsoord gebly.
Dit het ’n hele ritueel geword. Ek pak my stapel boeke in ’n lekker sterk drasak en vat die pad biblioteek toe. Ek kies meestal die roete deur die boomryke woongebiede en nie die besige hoofpad nie.
Wanneer ek klaar boeke uitgeneem het, sit ek buite op die klipbankie in die sonnetjie en wag vir my Uber. Daar is ’n inkopiesentrum aan die oorkant, maar ek wil vasklou aan die gevoel van koestering wat ek daar tussen die boeke ervaar het en ek kies om reguit huis toe te gaan.
En elke keer wanneer ek my boeke gaan omruil, neem ek ’n kardoessak met tuisgemaakte lekkernye vir die biblioteekpersoneel saam. Daarmee sê ek dankie vir juffrou Bosman.
Dankie vir die onthou.
Karen se geroosterde hoender met knoffel, roosmaryn en suurlemoen
Genoeg vir 4
2 eetlepels gekapte roosmarynnaalde, van die stingels af gestroop en fyngekap
6 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
150 ml olie
gerasperde skil en sap van 3 suurlemoene
sout en varsgemaalde swartpeper
1 groot heel hoender
3 groot uie, in wiggies gesny
’n paar takkies roosmaryn en suurlemoen vir garnering
Meng al die bestanddele saam in ’n groterige glasbak, bedek en laat staan vir minstens ’n uur sodat die geure lekker kan ontwikkel. Vryf die mengsel aan die binnekant en oral oor die hoender aan die buitekant. Plaas die hoender in die bak met die marinade, bedek en laat staan vir minstens ’n uur. Rangskik die uie onderin ’n oondbak waarin die hoender knussies pas en plaas die hoender bo-op. Giet die marinade wat in die bak agterbly, bo-oor. Geur met nog sout en peper. Bak in ’n voorverhitte oond van 200 ⁰C vir 1¼–1½ uur of tot die hoender deurgaar is. Plaas die hoender versigtig op ’n mooi opdienbord en garneer met die takkies vars roosmaryn en suurlemoenwiggies.
WENK: As jy nie ’n groot genoeg hoender kan kry nie, kry twee kleineres. Die marinade is genoeg. Jy kan natuurlik ook hoenderstukke gebruik, maar jou gaarmaaktyd sal dan heelwat minder wees: 45–55 minute, afhangende van die grootte van die stukke en jou oond se nukke. Die lekkerte as daar van die hoender oorbly, is hoendertoebroodjies of koue hoender en slaai vir die kosblik.
Lees ook:

