Toorkombuis: Souterige sampioenkaaskoek vir verlies en verlange

  • 0
  • Karen Hart skryf gereelde kosrubrieke vir LitNet.

Oktober is die mooiste maand, ja, ek stry nie. Maar dis ook die een maand van die jaar wat ek die eindelose verlange wat verlies bring, die ergste ervaar. En dis hierdie einste pyn en leegheid wat my laat troos soek het in die wonderlike nuwe wêreld van souterige kaaskoeke.

Dis my pa se verjaardagmaand. En ’n maand na sy 65ste verjaardag is hy skielik weg. Sonder waarskuwing. Byna 30 jaar gelede. Skok en hartseer het gou plek gemaak vir ’n intense woede, omdat hy nooit gegroet het nie, so asof hy willens en wetens langs die pad inmekaargesak het toe hy, soos gewoonlik, laatmiddag gaan hardloop het.

Die woede het vervaag. Maar die hartseer ... nooit.

Hierdie Oktober is vir my erger as gewoonlik. Miskien is dit omdat ek hier aan die begin van die maand my nefie en sy vrou sien optree het in een van die reeks konserte waarmee hulle hul terugkeer na die land vier. Hulle het twee jaar lank musiek gemaak op Disney se bootreise en die wêreld gesien – Alaska, Melbourne, die Karibiese eilande en die lande om die Mediterreense see.

En nou speel hulle hier, ’n mengsel van klassiek en jazz. Hierdie trotse tante het in die gehoor gesit met ’n hart te groot vir haar borskas, maar ook net die pynlike verlange dat my pa hier moes wees om dit te ervaar. Dis immers sy musiekgene wat soos ’n lewensaar in sy seun en kleinseuns pols. Maar dis die oudste kleinseun wat dit sy loopbaan gemaak en getrou het met ’n vrou wat ook nie sonder musiek kan leef nie.

Ná my pa se dood, met daardie eerste Desember-seevakansie sonder hom, het ek besef hoe hy die hele familie bymekaar gehou het. Hy het die strandhuis by die see met soveel liefde laat inrig sodat almal saam kon vakansie hou. En elke jaar het hy by klein dinge gehou wat later tradisie geword het – die kerkbasaar en die Kersdiens by die sandkerkie in Glentana, ten minste een keer skilpadjies (lewer in netvet) vir die braai en kaaskoek by Stoutebakkertjie.

Dit was die bakkery op George wat die wonderlikste kaaskoek gemaak het. Hy het ’n Hollandse naam gehad. Dit was nie Stoutebakker nie, maar dis wat my ma hom genoem het en dis die naam wat bly vassteek het. Elke Desember-vakansie het my pa ons bederf met dié lekkerte.

Lank ná my pa se dood het ek self begin kaaskoek bak. My New York-kaaskoek is ’n groot gunsteling onder my klante. Om van my ongebakte yskaskaaskoeke nie eens te praat nie – die bloubessie een met die wonderlike pers kleur en die grondboontjiebotter een wat lyk asof dit vir ’n koningstafel gemaak is. Deesdae is my bruingebrande Baskiese kaaskoek die nuutste gier.

Maar dis my groot hartseer wat my eindelik die wonderwêreld van souterige kaaskoeke laat ontdek het ...

Ek het toevallig Sophie’s bakery for the broken hearted, die debuutroman van Lolly Winston, in ’n boekwinkel raakgeloop. Dis die verhaal van ’n jong vrou wie se man skielik aan kanker dood is en hoe haar hartseer en rou selfs haar verstand aangetas het.

Hoewel ek die boek pynlik gevind het om te lees, omdat ek soveel van my eie hartseer en verlange daarin gesien het, kon ek dit nie neersit nie. Sophie wroeg en treur, ja, maar sy is skreeusnaaks en aweregs. Soos die New York Times tereg sê: “It’s hard not to like a character who, when asked to supply a ‘Person to Contact in case of Emergency’ on a questionnaire, just writes down ‘George Clooney’.”

In elk geval, om by die kaaskoek uit te kom ... Sophie begin eindelik weer met ’n nuwe lewe en ontgin haar talente as bakker op ’n klein plattelandse dorpie. En toe sy praat van haar “blue-cheese-and-walnut cheesecake” kon ek nie rus kry voordat ek ’n resep gekry het wat min of meer in daardie rigting stuur nie.

Ek kom toe af op ’n wonderlike resep van ’n klein bakkerytjie in die suide van Amerika. Ek het dit verskeie kere gemaak – ’n mengsel van roomkaas, brie, bokmelkkaas, Pecorino Romano en Gorgonzola. Dis hemels, maar verskriklik ryk. Net ’n klein happie aan die einde van ’n maaltyd saam met ’n glasie port. En natuurlik praat almal oor die ongewone kaaskoek.

Ek het intussen al met ’n hele paar souterige kaaskoeke geëksperimenteer, onder andere die een met brandnetels. Ek het so ’n paar jaar gelede op LitNet daaroor geskryf en die resep gegee.

Maar my jongste skepping, die souterige sampioenkaaskoek, is die een wat bo almal uittroon. Dis verspot maklik en vinnig om te maak, selfs makliker as my bruingebrande Baskiese kaaskoek. Maar al moet ek dit nou self sê, dis die kaaskoek der kaaskoeke (van die souterige soort, natuurlik).

’n Hart wat rou, moet heel voel na soveel bederf – al is dit net vir ’n rukkie. Maar dit troos ook om te weet dat hartseer help skep het aan hierdie treffer. Dis my verjaardaggeskenk aan my pa.

Karen se souterige sampioenkaaskoek

Genoeg vir 4

3 eetlepels botter
1 x 250 gram houer witknopiesampioene, in skyfies gesny
1 x 250 gram houer porcinisampioene, in skyfies gesny
3 sjalotte, fyngekap
½ koppie gesnipperde songedroogde tamaties in vinaigrette
2 koppies gesnipperde spinasieblare
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
500 gram roomkaas
4 eiers
gerasperde skil van 1 suurlemoen

Verhit die botter in ’n platboompot en braai die sampioene daarin. Roer die sjalotte by en braai totdat die sampioene gaar is. Roer die tamaties en spinasie by en braai vir ’n minuut of twee totdat die spinasie verwelk het. Geur met sout en peper na smaak. Klits die roomkaas tot sag en romerig en voeg die eiers en suurlemoenskil by. Roer die panmengsel by die roomkaasmengsel en skep in ’n gesmeerde 20 sentimeter losboomkoekpan waarvan die bodem met bakpapier gevoer is. Bak vir ongeveer 30–40 minute of tot heeltemal gestol in ’n voorverhitte oond van 180 ºC. Bedien met ’n lekker mengelslaai.

WENK: Ek bak myne soms in drie mini-koekpannetjies van ongeveer 12 sentimeter. Of ek maak die allerlekkerste southappies deur die mengsel in kolwyntjiepannetjies te skep. Onthou net om die baktyd aan te pas.

Lees ook:

Brandnetels en ’n sout kaaskoek vir almal wat virus-voos is

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top