Karen Hart

’n Maandagskind gebore onder die sterreteken Vis – tegelyk ’n straf én ’n seën. Want dit beteken dat ek na ’n leeftyd van eweveel vreugdes en ontnugterings steeds in sprokies glo. Dis hierdie geloof in feëverhale en die onmoontlike wat gemaak het dat die lewe vreemde ompaaie met my geloop en dat baie van my drome op die vreemdste denkbare maniere waar geword het.

Ek het oorkant Sir Anthony Hopkins aan ’n tafel gesit en ’n onderhoud met hom gevoer toe ek op daardie oomblik ’n terugflits kry van ’n foto’tjie wat destyds, op my tiende verjaardag, van my saam met die destydse blink glanssterre van ons eie land, Min Shaw, Lance James, Fanus Rautenbach en die klavierspeler Len Brauer, geneem is.

Ek was veertien jaar oud toe ek vir my maats gesê het ek gaan eendag ’n tydskrif begin. Ek kan nog presies onthou in watter klaskamer ek gesit en die skakerings van lig wat deur die venster geval het toe ek die aankondiging gemaak het. Presies 25 jaar later het ek daar by die drukkers met die eerste uitgawe van tvplus! In my hand gestaan. Dié het ek begin terwyl ek as vermaakredakteur vir Huisgenoot en You gewerk het.

’n Loopbaankrisis en die daaropvolgende verveling in ’n sieldodende werk het my eindelik tot introspeksie gedwing en ek het besef wat my eintlike twee liefdes is: skryf en kook. Die liefde vir kook, as ek nou terugkyk oor my lewe, was ’n fyn goue draad wat van die begin af vervleg met my hele wese – van kleintyd al.

Maar dit was eers toe ek met my eerste man getroud was en skielik oor die wintermaande gekonfronteer is met ’n vrieskas vol wildsvleis van die plaas af dat ek ingespring het om myself behoorlik te leer kook. Ek het afgesit na die enigste boekwinkel op Graaff-Reinet en Kook en Geniet het my bybel geword. Die belangstelling het ’n passie, wat baiekeer grens aan obsessie, geword.

Met alles wat in my lewe gebeur het en die loopbaan as vermaakjoernalis, het dié ou potjie begeerte iewers op ’n stoofplaat staan en prut. En toe ek nou skielik sit met ’n werk wat passieloos die ure vul, was ek gereed vir die groot droom. Ek het so half per ongeluk begin lees aan Julie Powell se Julie & Julia, lank voor Hollywood nog gedagte aan die fliek gekry het. Op daardie oomblik het ek besef dis hoe ek my twee groot liefdes kan kombineer. Dis hoe my kosblog Toorkombuis gebore is.

Die naam Toorkombuis het so half vanself gekom – die alchemie van die kospotte het daarvoor gesorg. Dink net – jy verhit ’n bietjie olyfolie in ’n pot, voeg ’n gekneusde knoffeltoontjie, sonryp tamaties en ’n paar basiliekruidblaartjies daarby en jy skep die mees ongelooflike pastasous. Suiwer betowering!

Van my grootbase het die blog raakgesien en my gevra om te vryskut as kosredakteur vir die tydskrif Kuier. Ek het ook betrokke geraak by Isabella Niehaus se Market at the Palms, ’n spesialis-kosmark, waar ek Saterdag na Saterdag agter my tafel gestaan en my soetgebak verkoop het. Ek bak nou nog vir ’n handjievol lojale ondersteuners en ’n paar winkels. Elke Donderdagmiddag, skuins na twee, gesels ek met die luisteraars van Radio Kaapse Kansel oor my liefde vir kook.

Ek het reeds twee boeke, Toor met Hoender en Maalvleis, in opdrag van die uitgewer Human & Rousseau, gepubliseer. Nou werk ek aan my gróót, gróót droom – ’n resepteboek met stories en smulgeregte uit my Toorkombuis.

Suurlemoenpoeding en die geneuk met nostalgie

Karen Hart Kos en wyn 2023-02-22

"Dié poeding kom lê soos ’n liggeel wolkie, met die tinteling van suurlemoen, op jou tong. En jy kan net eenvoudig nie genoeg kry nie. Ek het gesien hoe die bak krimp en nie eens skuldig gevoel nie."

O, koek!

Karen Hart Kos en wyn 2023-01-20

"Wanneer jy kan koek bak, glo mense jy kan wondere verrig. Ek sukkel om nee te sê. En sedert ek op 12, sonder ’n koekpan in die huis, besluit het om ’n koek te bak, kan ek ’n uitdaging nie weerstaan nie."

Molassehoender: ’n mond vol lekkerte uit die moeras

Karen Hart Kos en wyn 2022-12-19

"Met elke happie kan jy agteroor sit en dankie sê dat daar tog iets goeds in die taai donkerte skuil en soos klein Anthony met dankbaarheid nog ’n kans op ’n nuwe jaar met albei hande aangryp."

My hart is in ’n hot dog

Karen Hart Kos en wyn 2022-12-12

"Die rolletjie – wit, nie volgraan of een of ander 'gesonde' alternatief nie – moet net liggies gerooster wees, en lank genoeg om die worsie byna heeltemal te bedek. En die worsie self moet so ’n knakgeluidjie maak wanneer jy daardeur byt. ’n Lekker mosterd- en tamatiesous daarby, en ek is in hot dog-hemel."

Karen se blatjanghoender

Karen Hart Kos en wyn 2022-11-17

"Mrs Balls se blatjang is so deel van ons koskultuur soos biltong en beskuit. En gaan kyk maar in Ouma se handgeskrewe resepte – iewers daar sal jy op ’n resep vir blatjanghoender afkom, tot vandag toe nog ’n groot gunsteling."

Bloedlemoen, o bloedlemoen ...

Karen Hart Kos en wyn 2022-09-21

"Die ou lemoentjie lyk maar doodgewoon, nes sy boeties en sussies. Maar as jy hom oopsny, is dit ’n heel ander storie. Binne-in is die oranje segmente plek-plek met ’n byna persrooi gevlek en die sap is soos bloed. Die smaak is sitrus en tipies lemoen, maar effe soeter met ’n byna framboserige ondertoon."

Karen se Tafelberg-potjie (vir M)

Karen Hart Kos en wyn 2022-09-01

"Hierdie een is nou baie hoog boaan die trefferlys en ek maak dit gereeld. Wanneer hy vir hom van hierdie potjie skep, sê M, lyk sy bord soos Tafelberg, lekker hoog gestapel. Dis een van sy groot gunstelinge."

My winter word gemmer

Karen Hart Kos en wyn 2022-08-01

"Met ’n koppie rooibostee en ’n gemmerkoekie vir troos, kyk ek diep in Bliksem se goue oë, knipoog vir hom en sê uit my hart uit vir my buurman dankie vir die gemmer in my lewe. Terwyl ek nog kan ..."

Liefdesrituele in my kombuiskatedraal

Karen Hart Kos en wyn 2022-06-15

"Een van die lekkerste kosrituele is die maak van frikkadelle. Eenvoudige kos, ja, maar moenie dat enigeen dit sommer afmaak as alledaags nie."

Kragkapingskos: Jafels

Karen Hart Kos en wyn 2022-06-02

"Maar die lekkerste van die kragonderbrekings is dat dit genoeg verskoning is vir jafels maak. Met al die gepreek teen brood en al die ander sondige dinge is dit te lekker om te sê: 'Ja, maar Eskom ...' en met volle oorgawe jou tande in ’n lekker boepensjafel in te sink. Dink net aan al die lekker vulsels – jy kan tot ’n soet jafel met ’n melktertvulsel maak!"

Nommer, asseblief! Telefoonpoeding

Karen Hart Kos en wyn 2022-04-29

"Maar dis in die nederige ou boekies wat saamgestel is in ’n poging om fondse in te samel waar ek op die wonderlikste ou resepte afkom. Soos 'Kies en keur', ’n resepteboek wat in die sewentigerjare deur die Goudveldse Dagsentrum vir Gestremdes saamgestel is. Dis daar waar ek dié resep vir telefoonpoeding raak gelees het."

Ek sê dankie met roomys

Karen Hart Kos en wyn 2022-03-16

"En daar op die heilige Sondag het die gedagte aan roomys my weer teruggevoer. Ek het skielik besef ek soek verniet na betowering as daar nie dankbaarheid in my hart is nie."

’n Sprokie en ’n boek vir ’n hartskombuis (en ’n resep vir Karen se Repelsteeltjies)

Karen Hart Kos en wyn 2022-02-21

"En so het elk van die duisende kookboeke op my rakke sy eie komvandaanstorie. Ek mag miskien so ’n bietjie vergeet het, maar die oomblik wanneer ek ’n boek oopslaan, begin die hele storie weer voor my afspeel."

Sampioene

Karen Hart Kos en wyn 2022-01-25

"Maar daardie sampioene … Kyk, as ’n Karookind jou sê jy kan maar die vleis los en net van die sampioene gee, dan moet jy weet – dis blerrie lekker."

Vir die voëls – tydens die feesseisoen

Karen Hart Kos en wyn 2021-12-22

"Die voerdery bly ook nie net by die voëls nie. Ek is op my gelukkigste wanneer ek ’n tafel vol mense kan kos gee. Iewers in ’n ander lewe was ek seker ’n Italiaanse mama wat al haar kinders en familie om ’n tafel laat aansit en borde vol pasta gevoer het."

Top