Hoe minder ek sê oor die jaar wat verby is, hoe beter. Want as ek eers begin hart oopmaak en mond uitspoel, gaan ek nie veel moed oorhê vir die nuwe jaar wat voorlê nie. Sommige jare voel dit asof jy saam met die wind seil en net so af en toe lyf natmaak en ’n bietjie water trap. Ander jare voel by tye meer soos amperse verdrinking.
En dan kry jy ’n jaar waar jy soos die arme klein Anthony verswelg word in ’n morsige moeras van molasse ...
Dit was ’n doodgewone dag in die lewe van klein Anthony di Stasio.
Hy was saam met sy drie sussies van die Michelangelo-skool af op pad huis toe. Die een oomblik het hy nog gesukkel om op sy kort beentjies by te hou en die volgende trek hy deur die lug – ’n verdwaalde branderplankryer gedra op ’n donkerbruin golf. Toe hy grondvat, spoel die see van molasse oor hom en word hy soos ’n klippie rondgerol tot die golf uitgewoed is. In die verte hoor hy sy ma sy naam roep. Hy probeer antwoord, maar hy kan nie. Die taai bruin is soos ’n prop in sy keel. Verder weet hy niks nie. Toe hy weer sy oë oopmaak, sien hy sy drie sussies grootoog na hom staar.
Klein Anthony was gelukkig. Hy het oorleef. Want op hierdie dag, 15 Januarie 1919, is 21 mense dood en 150 beseer in die groot Boston Molasseramp. ’n Molassetenk het gebars en die taai donkerbruin massa teeragtige soet het teen 56 kilometer per uur deur die strate van die Noordeinde-buurt van Boston (in Massachusetts) gespoel. Mens en dier is deur die golf meegesleur.
Hoewel dit meer as ’n honderd jaar gelede gebeur het, vertel die mense van Boston dat jy tot vandag toe nog op ’n warm somerdag die soet van die molasse kan ruik.
My hart gaan uit na die jonge Anthony – hy is gelukkig gou gered. My jaar was baie lank ... Die enigste manier waarop ek oorleef het, is die hoop en onwrikbare geloof dat dit nie vir altyd so kan aanhou nie en dat daar iets goeds uit al hierdie donker dae móét voortspruit.
Ek kon nie help om aan dié storie te dink toe ek hierdie spesiale hoendermarinade gemaak en die byna walglike soet reuk swaar in my kombuis hang nie. Maar dis so heerlik dat dit oor en oor die moeite werd is. Die hoender kry so ’n rokerige smaak en die vleis is sappig en sag.
............
En dan is molasse, glo dit as jy wil, nog gesond ook. Een eetlepel molasse bevat meer kalsium as ’n glas melk en meer yster as nege eiers. Molasse bevat meer kalium as enige ander voedselsoort. Dis ’n ryk bron van B-vitamiene, natuurlike suikers, magnesium, koper, sink, mangaan, molibdeen, vitamien E, pantoteensuur en fosfate. Dit help glo ook om die suurbalans in die liggaam te handhaaf.
...............
En dan is molasse, glo dit as jy wil, nog gesond ook. Een eetlepel molasse bevat meer kalsium as ’n glas melk en meer yster as nege eiers. Molasse bevat meer kalium as enige ander voedselsoort. Dis ’n ryk bron van B-vitamiene, natuurlike suikers, magnesium, koper, sink, mangaan, molibdeen, vitamien E, pantoteensuur en fosfate. Dit help glo ook om die suurbalans in die liggaam te handhaaf.
............
’n Hele mondvol, ja. En eintlik is ons nie gewoond aan molasse in kos nie. In kleinkoekies en poeding, ja. Ek gebruik flessies daarvan wanneer ek oor die feestyd gemmerbroodmannetjies bak. Maar ná hierdie hoender ...
............
’n Hele mondvol, ja. En eintlik is ons nie gewoond aan molasse in kos nie. In kleinkoekies en poeding, ja. Ek gebruik flessies daarvan wanneer ek oor die feestyd gemmerbroodmannetjies bak. Maar ná hierdie hoender ...
Karen se molassehoender op groente-en-bone-rys
Genoeg vir 4
Vir die hoender
8–10 hoenderstukke
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
½ koppie molasse
4 knoffeltoontjies, gekneus en baie fyn gekap
2 eetlepels Dijon-mosterd
1 ui, geskil en baie dun gesny
1 eetlepel olyfolie
Vir die groente-en-bone-rys
3 eetlepels botter
1 eetlepel olie
1 groot ui, fyngekap
3 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
1 van elk rooi, groen en geel soetrissies, wit gedeeltes en sade verwyder en in repies gesny
1 groot of 3 klein murgpampoentjies, in stukkies gekap
2 koppies rys
1 teelepel droë origanum
1 x 400 g-blik nierboontjies, goed afgespoel en gedreineer
4 koppies hoender- of groente-aftreksel
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
Maak eers die hoender: Geur die hoenderstukke met sout en peper. Meng die molasse, mosterd, knoffel, ui en olie in ’n glasbak. Doop elke hoenderstuk in die mengsel sodat dit goed bedek is. Plaas die hoenderstukke in ’n oondroosterbak wat goed met nog ’n bietjie ekstra olyfolie gesmeer is. Skep die molasse-mengsel wat in die bak agtergebly het lepels vol oor die hoenderstukke. Bak in ’n voorverhitte oond teen 180º vir ongeveer 40–50 minute of tot die hoender gaar is.
Bedien op ’n heerlike groente-en-bone-rys: Verhit die botter en olie in ’n swaarboomkastrol oor matige hitte en braai die ui daarin tot sag en deurskynend. Voeg die knoffel, soetrissie en murgpampoentjie by en braai ’n paar minute saam. Voeg die rys by en braai ’n paar minute saam met die groente voordat jy die bone en aftreksel byvoeg en geur met sout en peper. Roer goed deur, verlaag die hitte en laat so onbedek staan en prut vir ongeveer 20–30 minute of totdat die meeste van die vloeistof weggekook het. Sit die stoofplaat af en laat staan die pot daarop.
Wenk: Met elke happie kan jy agteroor sit en dankie sê dat daar tog iets goeds in die taai donkerte skuil en soos klein Anthony met dankbaarheid nog ’n kans op ’n nuwe jaar met albei hande aangryp.