
Foto van die sop: Karen Hart; foto van die blomkool: https://pixabay.com/photos/cauliflower-red-cabbage-savoy-1644626/
My broer lees ’n boek. Humankind. Op die omslag word die woorde Human en Kind geskei en staan onder mekaar, so byna asof dit twee woorde is. En dit is ook, baie eenvoudig gestel, waaroor die boek gaan – oor die basiese goedheid van die mensdom.
In die woorde van die uitgewer, Bloomsbury Publishing: “In this major book, internationally bestselling author Rutger Bregman takes some of the world's most famous studies and events and reframes them, providing a new perspective on the last 200 000 years of human history. From the real-life Lord of the Flies to the Blitz, a Siberian fox farm to an infamous New York murder, Stanley Milgram's Yale shock machine to the Stanford prison experiment, Bregman shows how believing in human kindness and altruism can be a new way to think – and act as the foundation for achieving true change in our society. It is time for a new view of human nature.”
Ek het al, wanneer ek saam met my ma voor die televisie sit en noodgedwonge moes saamkyk, my verstom aan die deernis en meelewing van niksvermoedende slagoffers van poetsbakprogramme. Die skok en die afgryse wanneer hulle glo iemand word benadeel en hul gewilligheid om te help, is beslis nie toneelspel of slim gemanipuleerde kameratoertjies nie.
..........
Dis toe al dat ek begin besef het daar is soveel goeie mense in dié ou wêreld. Doodgewone mense wat elke dag probeer sin gee aan hul eie bestaan en ook uitreik na ander, help waar hulle kan om die lewe makliker te maak.
Maar ons word soveel sensasionele nuusstories gevoer. En dis beslis nie die goeie mense wat die nuusmakers is nie.
...............
Dis toe al dat ek begin besef het daar is soveel goeie mense in dié ou wêreld. Doodgewone mense wat elke dag probeer sin gee aan hul eie bestaan en ook uitreik na ander, help waar hulle kan om die lewe makliker te maak.
Maar ons word soveel sensasionele nuusstories gevoer. En dis beslis nie die goeie mense wat die nuusmakers is nie. Nee, dis die vrot eiers wat koerante verkoop of die belangstelling op sosiale media en elektroniese nuusmedia prikkel. Ons lees en hoor van soveel onreg en geweld dat ons persepsie van die ou mensdom al ’n bietjie windskeef geword het.
Tot baie onlangs het ek swaar gedra aan my eie probleme. Wanneer ek ’n krisis het, het ek ’n donker hoekie gesoek en in ’n bondeltjie gaan sit totdat ek self ’n manier gekry het om daar uit te kom. Dit was ’n moeilike alleenpad en het nie altyd die oplossings gebied waarop ek gehoop het nie.
Maar die afgelope tyd is ek gedwing om my hart bloot te lê en hulp te vra. Met die trekkery na ’n kleiner plek en drastiese afskaal sou Maswazi ná nege jaar by my sonder blyplek en sonder werk sit.
Ek het vroegoggend, lank voor sonop, gaan sit en ’n pleidooi op Facebook geskryf met die hoop dat iemand hom sou kon help. Toe het ek my rekenaar afgeskakel en klaargemaak om die dag by my ma in die versorgingsoord te gaan deurbring. Miskien sal daar vanaand ’n antwoord of twee wees, het ek gehoop.
Heelpad op pad Vishoek toe in die Uber het my selfoon soos ’n brommer te kere gegaan in my handsak, maar ek het nie veel aandag gegee nie. Terwyl ek by my ma gekuier het, het ek my handsak eenkant neergesit. Dit was eers toe sy geneem word om middagete te gaan eet dat ek onder ’n koelteboom gaan sit en my boodskappe gelees het.
Die reaksie was oorweldigend. Die trane het onbeskaamd oor my wange gerol terwyl ek elke boodskap gelees het. Dié wat nie werk en opleiding aangebied het nie, het gehelp met kontakte. Ander het bloot boodskappe van bemoediging gestuur.
Met Maswazi wat nou werk en blyplek gehad het, kon ek op my eie dilemma konsentreer. Met die groot intog vanuit die ander provinsies na die Kaap toe het bekostigbare blyplek al skaarser geword. En daar is nóg minder plekke wat geskik is vir ’n kat of wat troeteldiere toelaat.
Toe ek uiteindelik ’n lekker grondvloerwoonstel met ’n klein tuintjie kry, het ek dadelik aansoek gedoen. Die kat is nie ’n probleem nie, het die agent my verseker; ons moet net by die beheerliggaam aansoek doen. Maar, het sy my laat verstaan, dis bloot ’n formaliteit.
’n Week voor ek moes trek, het die gesloer met die kontrak my paniekerig gemaak. Almal wat my ken en die groot soektog saam met my beleef het, het byna elke dag boodskappe gestuur om te hoor of ek al ’n finale antwoord gekry het.
Ná verskeie onbeantwoorde oproepe en baie boodskappe het die agent my eindelik laat weet die beheerliggaam laat geen troeteldiere toe nie. Sewe-uur die aand voordat ek die volgende dag moet trek.
Ek gaan nie eens probeer om die angs en paniek wat my oorval het, te beskryf nie. In ’n oomblik van helderheid besluit ek toe om alle weerstand oorboord te gooi en ek stuur die agent se boodskap net so vir almal wat saam met my gewag het aan. Dit was ’n wanhoopskreet, maar ek het nie veel hoop gehad nie.
Binne ’n uur en ’n half het vier verskillende mense vir my en my kat tydelike blyplek aangebied. Twee van hulle het my skaars geken, nou onlangs eers ontmoet. Ons het dadelik gekliek, ja, maar hulle het my eintlik glad nie geken nie.
So het dit gekom dat my broer die volgende dag vir my stoorplek gereël het, en ek en klein Bliksem het met die res van ons besittings ons intrek geneem by Leona, ’n ou markvriendin. “Nou kan jy op jou tyd na die regte blyplek soek,” het sy gesê en haar hart en haar huis vir ons oopgemaak.
En eintlik, het ons agterna besef, het ons mekaar maar baie bolangs geken. By die mark, wat al in 2018 gesluit het, was daar nie eintlik tyd vir gesels nie. Dit was maar ’n bolangse “Hallo” en “Hoe gaan dit?” so in die verbygaan.
Almal het gehelp met die pakkery. My broer, my suster, Zuki en Maswazi ... tot Achmat, wat nou al meer as veertig jaar lank vir my taxi ry. Vriendin Nissa het gevloek oor al die baie glaspotjies wat sy in koerantpapier moes toedraai, maar tot ná sononder vasgebyt.
My buurvrou het skaars haar boeketas neergesit toe sy van die skool af kom en ook ingespring om te help. Laetitia ’n ander markvriendin, het help pak en heen en weer vragte aangery na Leona se motorhuis. En my foon het heeltyd bly pieng met nog en nog mense wat hulp aanbied met die trekkery en met die blyplek soek.
Ons was net betyds klaar toe die stoorplek se mense die huisraad en minder dringende bokse pakgoed kom haal. Ek en Bliksem is na ons nuwe blyplek toe, waar ons albei, ná die weke van spanning en hartseer, stadig herstel.
Die liefde en bystand van familie, vriende en vreemdelinge het my weer met nuwe oë na die lewe en die mensdom laat kyk. Die ou mensdom laat my so ’n bietjie aan ’n blomkool dink, het ek by myself gedink.
Kyk, blomkool kan jy nie kook sonder dat daar ’n klankie in die huis rondhang nie. Daar is verskillende rate oor hoe om dit minder te maak, maar op die ou einde bly kool maar kool.
Maar gaan lees ’n bietjie op oor hierdie onwelriekende blom wat deur die ou Romeine gekweek is. Die voedingswaarde is ongelooflik. As jy elke dag ’n porsie blomkool eet, hoef jy nie kanker of rumatiek te vrees nie. Dis nie ouvroustories nie – navorsers aan verskillende universiteite het eksperimente gedoen. Borskanker, kanker van die blaas ... noem maar op. En met die kombinasie van blomkool en borrie sal die manne nooit prostaatkanker kry nie.
Wanneer jy verby daardie klankie kan kom terwyl dit kook, kan jy die heerlike heilsaamheid van die groente op jou bord geniet. Soos met hierdie heerlike sop, ’n regte herfssop vir die koeligheid in die lug.
..........
Wanneer jy verby daardie klankie kan kom terwyl dit kook, kan jy die heerlike heilsaamheid van die groente op jou bord geniet. Soos met hierdie heerlike sop, ’n regte herfssop vir die koeligheid in die lug.
.............
Moenie dat die eenvoud van die resep jou afskrik nie – dis heerlik. Die eindresultaat sal jou smaakbekertjies laat huppel en sing. Nou die dag, toe my gasvrou ’n heerlike vars blomkool present kry, het ek onmiddellik die soppot nadergetrek.
Dis toe dat ek weer dink ... die ou mensdom is glad nie so sleg nie.
Karen se blomkool-en-tiemie-sop
100 g gesoute botter
1 kg vars blomkool in klein blommetjies gebreek
1 groot ui, grofweg gekap
4 knoffeltoontjies, geskil en gekap
3 takkies vars tiemie
2 lourierblare
800 ml hoenderaftreksel
Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak.
Smelt die botter in ’n kastrol en braai die ui liggies daarin tot sag en deurskynend. Roer die knoffel en blomkoolblommetjies daarby. Voeg die tiemie en lourierblare by en braai liggies voordat jy die hoenderaftreksel byroer. Laat dit stadig kook totdat die blommetjies sag is. Verwyder die lourierblare en tiemietakkies en verpulp die sop met jou handmenger of laat effens afkoel en verpulp in jou voedselsverwerker. Verhit die sop weer oor ’n matige hitte (as jy dit eers laat afkoel het vir die voedselverwerker). Proe eers voor jy die sop met sout en peper geur – dis eintlik oorbodig. Nou gaan sit jy met jou bakkie eenkant en geniet dit. Dis tot slurpens toe lekker!
Kommentaar
Dit klink lekker, ek gaan dit probeer.