.....
Ek het my verkyk aan die blink, dieppers boepensvrug met sy groen stingelhoedjie; so eksoties en so vreemd. Met die eerste happie van daardie slaai was ek verlore. Ek het nog te min van kos geweet om beelde op te tower van Arabiese nagte of om met die warm son en blou see van Mediterreense lande op my tong te speel.
.....
Karookinders ken nie van eiervrug nie. Altans, nie hierdie een nie. Aartappels, wortels, pampoen, patat en kool ... sampioene en aspersies het uit ’n blik gekom. Desembermaande by die see het ons groenmielies gekry wanneer die groenteventer met sy bakkie langs die pad gestaan het.
Nooit eiervrug nie.
Ek wonder soms of dit is omdat ek daar tussen die Karookoppies en -bossies grootgeword het of sommer net omdat my ma nie kon kook nie en by die basiese groente gehou het. Dit was eers toe ons in die Kaap kom bly het dat my ma ’n resep vir ’n eiervrugslaai by ’n buurvrou gekry het.
Ek het my verkyk aan die blink, dieppers boepensvrug met sy groen stingelhoedjie; so eksoties en so vreemd. Met die eerste happie van daardie slaai was ek verlore. Ek het nog te min van kos geweet om beelde op te tower van Arabiese nagte of om met die warm son en blou see van Mediterreense lande op my tong te speel.
Sedert daardie eerste kennismaking loop ek nou al ’n lang pad saam met daardie eksotiese pers boepensie. Ek het al baie opgelees daaroor. Ek kan ’n lang storie skryf oor die herkoms, die hele familiegeskiedenis uitlê en draaie gaan maak in Asië, Afrika, die Mediterreense lande en Europa. Maar ek vertel eerder verder van my kosreis met hierdie vreemde reisgenoot.
.....
Vandag proe ek die sultan se trane. ’n Verbeeldingsreis neem my op ’n tog deur ’n duisend en een nagte en ek verluister my aan die stories waarmee Sjeherazade koning Shahryar se aandag aflei.
.....
Vandag proe ek die sultan se trane. ’n Verbeeldingsreis neem my op ’n tog deur ’n duisend en een nagte en ek verluister my aan die stories waarmee Sjeherazade koning Shahryar se aandag aflei. Ek sien hoe die tentklappe in die woestynwind wapper en ek hoor die klokkies soos die buikdanser haar heupe swaai.
Soms proe ek die sout van die Mediterreense see op my tong. Dan sit ek, soos ’n wafferse Shirley Valentine, aan by ’n klein tafeltjie waar die soom van die branderskuim raak-raak aan die strand.
Maar ek bly soek na die slaairesep van daardie eerste proeslag. My ma kon dit glad nie onthou nie en ek kon nêrens ’n nota of ’n handgeskrewe resep tussen die blaaie van haar handjievol resepteboeke opspoor nie.
Ek kan onthou daar was skywe gebraaide eiervrug, hardgekookte eiers, avokado en jogurt gemeng met mayonnaise in daardie slaai. Ná verskeie probeerslae het ek ’n lekker slaai gemaak, maar niks kom by die betowering van daardie eerste kennismaking nie. Miskien lê die meeste van die lekkerte in die onthou ...
My ma het in die ou dae nog die eiervrug in skywe gesny, met sout besprinkel en vir twintig minute laat staan sodat die bitterheid kan uitsweet. Maar deesdae is die bitterheid so uitgeteel dat dit lankal nie meer nodig is nie. Baie mense doen dit nog omdat hulle glo die eiervrugskywe absorbeer minder olie as dit eers ’n bietjie gesweet het, maar ek hou daarvan as die eiervrugskywe die olyfolie opslurp – dis deel van die lekker.
Een van my gunstelingresepte wat ek oor die jare heen vervolmaak het, is die eiervrug-“toebroodjie” wat ek vir onthale, partytjies en familie-etes maak.
Jy sny bloot die eiervrugskywe, verf dit alkant met olyfolie, geur dit met sout en peper en rooster dit in die oond. Dan rooster jy groen, rooi en geel soetrissies, trek die velletjies af en sny dit in lekker dik repe. Sny ’n paar murgpampoentjies in die lengte af in lang repe, smeer dit met olyfolie en rooster dit in die oond.
Nou rangskik jy ’n soetrissiereep van elke kleur en ’n murgpampoentjiereep op die helfte van die eiervrugskywe, en volg dit met ’n skeppie pesto en ’n skyfie bokmelkkaas. Plaas die res van die eiervrugskywe bo-op sodat jy ’n hele paar lekker eiervrugtoebroodjies het.
Rangskik dit in ’n mooi bak en besprinkel dit met ’n vinaigrette gemaak van balsemasyn, olyfolie, sout en peper. Bedek die bak met kleefplastiek en laat staan vir ’n uur of twee sodat al daardie wonderlike geure met mekaar kan gesels.
Ek is dol oor eiervrugskywe wat in eers in meel, dan in geklitste eier en oplaas in broodkrummels gemeng met parmesaan gedoop en dan in olie gebraai word. Jy kan ’n lekker tamatiesous maak om daarmee saam te bedien, maar ek kan ’n hele bak daarvan sommer net so opeet.
Eiervug was ook die hoofbestanddeel in die laaste maal wat ek vir my pa gekook het. Kort voor sy dood het ek vir hom ’n moussaka gemaak wat al die gode van Olympus in trane gehad het. Met elke bak van daardie Griekse genot wat ek nou op die tafel sit, sê ek net weer dankie vir elke kosbare oomblik wat ek met my pa kon deel.
Ek kan ’n boek skryf oor al die bredies, slaaie en bykosse wat ek al met eiervrug gemaak het, maar dis nie nou die tyd daarvoor nie. Die eintlike rede waarom ek nou skielik weer behep geraak het met dié eksotiese ou purper-prins, is die fliek Under the Tuscan sun.
Ek het dit nou die dag weer saam met ’n vriendin gekyk. Die tafels wat so gekreun het onder Mediterreense kosse het my skielik laat lus kry vir daardie ou, ou gunsteling – melanzane parmigiana. Of soos ons gewone mense sal sê: bleddie lekker eiervrug

Parmigiana (Foto: Moira e Raffaella op Unsplash)
Karen se melanzane parmigiana (oftewel eiervrugoondskottel met tamatie en kaas)
Genoeg vir 4
Vir die eiervrugskywe
3 groot (of 5 middelslag) eiervrugte, in die lengte af in skywe gesny
¼ tot ½ koppie olyfolie
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
1 teelepel droë origanum
Vir die tamatiesous
3 eetlepels olyfolie
3 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
1 groot ui, fyngekap
2 x 400 g-blikke geskilde en gekapte tamaties
½ koppie water
1 eetlepel klewerige bruinsuiker
¼ teelepel fyn kaneel
1 teelepel droë origanum
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
Vir die samestelling
250 g mozzarella, in dun skywe gesny of gerasper
125 g parmesaankaas plus nog 3 eetlepels
3 snye witbrood, verkrummel
1 eetlepel olyfolie
Verf die eiervrugskywe alkant met olyfolie, plaas op ’n bakplaat en rooster in die oond onder ’n rooster wat op die hoogste temperatuur gestel is. Hou fyn dop en rooster totdat die eiervrug mooi goudbruin is. Draai die skywe om en rooster aan die ander kant. Haal uit die oond en hou eenkant terwyl jy die tamatiesous maak. (Jy kan natuurlik die tamatiesous al die vorige dag maak en net weer warm maak, maar ek is nie so georganiseerd nie – ek leef in die oomblik!)
Verhit die olyfolie in ’n swaarboompan of -kastrol. Braai die uie daarin tot goud en deurskynend. Voeg die knoffel by en braai vir nog ’n minuut of twee voordat jy die tamaties byvoeg. Spoel die blikke met die ½ koppie water uit en voeg by die panmengsel. Voeg die res van die bestanddele vir die tamatiesous by, meng goed en laat prut vir ongeveer 20 minute. Gebruik ’n staafmenger om die sous glad te maak. (Jy hoef dit nie te verpulp nie, maar ’n mens kom verder met die sous as dit fyner is.).
Bedruip die bodem van ’n gesmeerde oondbak met ’n bietjie tamatiesous. Rangskik ’n laag eiervrugskywe bo-op die souslagie. Volg met nog ’n lagie sous, sprinkel die helfte van die parmesaan bo-oor en volg met die helfte van die mozzarellaskywe. Skep ’n lagie tamatiesous bo-op en herhaal die proses. Eindig met ’n lagie tamatiesous.
Meng die vars broodkrummels met die ekstra 3 eetlepels parmesaan en 1 eetlepel olyfolie. Sprinkel dit bo-oor en langs die kante waar die eiervrug en kaaslae nie heeltemal tot teen die rand van die bak kom nie. Plaas die bak in ’n voorverhitte oond van 180 ºC en bak vir 30 minute totdat die bo-laag goudbruin en die kaas lekker gesmelt is. Bedien saam met ’n lekker Italiaanse brood en slaai.
WENK: Jy kan al die origanum in die resep met basiliekruid vervang vir ’n heel ander smaakprofiel. En, as daar enigsins iets oorbly, kan jy dit die volgende dag in ’n bak met foelie bedek, in die oond warm maak en as vulsel vir ’n omelet gebruik. Heerlik!