My winter word gemmer

  • 2

Foto’s van gemmerkat en van gemmerkoekies: Karen Hart

............
Ek het my eerste gemmerkat by my buurman in Loaderstraat gekry. Ek en my tweede man, Anton, het kort voor ons troue daar ingetrek. (Dit was lank voordat dié ou straatjie deur die glansgatte en groot geld oorgeneem is.) Ons het gou kennis gemaak met die sagmoedige reus van ’n man wat hier skuins onder ons slaapkamervenster sy altviool gespeel het. Dit was troosklanke in moeilike tye. So ook sy vriendskap.
.............

Ek het my eerste gemmerkat by my buurman in Loaderstraat gekry. Ek en my tweede man, Anton, het kort voor ons troue daar ingetrek. (Dit was lank voordat dié ou straatjie deur die glansgatte en groot geld oorgeneem is.) Ons het gou kennis gemaak met die sagmoedige reus van ’n man wat hier skuins onder ons slaapkamervenster sy altviool gespeel het. Dit was troosklanke in moeilike tye. So ook sy vriendskap.

Greg is van St Cloud in Minnesota en het die wêreld leer ken deur in orkeste te speel. Dis hoe hy in Kaapstad en langs ons in Loaderstraat beland het. Hy het gou deel geword van ons vriendekring en ons van syne. En Saterdagoggende, wanneer Anton ’n bietjie ruimte gesoek het vir sy eie belangstellings, het ek en Greg met Strandstraat afgestap stad toe om iewers te gaan ontbyt eet en sommer net deur die strate te drentel.

Greg het vir ons kaartjies vir opera en ballet, vir elke orkesuitvoering laat kry, en wanneer my man nie kans gesien het om saam met my na ’n werksfunksie te gaan nie, het ons buurman saamgepiekel.

Ek het in daardie tyd by Huisgenoot gewerk en moes ’n swetterjoel openingsaande en voorskoue bywoon. Anton het aan die begin nog halfhartig probeer belangstelling toon, maar was baie verlig toe Greg die gewillige slagoffer geword het. Ons drie het dikwels daaroor gelag en grappenderwys na Greg as my “walker” verwys.

Dit was ná een so ’n openingsaand dat ek my hart op ’n gemmerkat verloor het en dit was alles Greg se skuld. Ons was by ’n kabaretvertoning van Nataniël. Dit was in die begindae van sy loopbaan toe hy meer bekend was vir sy rys-en-lensie-dieet as vir die ongelooflik talentvolle kunstenaar wat hy is.

Agterna het ons saam met Nataniël en ’n groep vriende gaan eet – ek en hy is immers albei van Kuilsrivier se mense en was saam op hoërskool. Ek was heelwat ouer, in matriek, en hy het pas met hoërskool begin. Jare later het hy het ook die kerkorrel in ons gemeente gespeel. ’n Baie ongewone en kleurvolle kerkorrelis, maar dis ’n storie vir annerdag ...

Toe ek en Greg ons in die vroeë oggendure wegskeur van die vrolike gekuier en huis toe gaan, vertel hy my van die katjie wat hy die oggend daar op die sirkel van Adderleystraat opgetel het. Hy kan die katjie nie hou nie, want sy twee spanjoele, Basil en Sophie, is al klaar ’n handvol en hulle is nie katte gewoond nie. Ek weet toe waarheen hy mik en keer gou. Ek het onlangs ’n kat verloor en het nie kans gesien om weer deur daardie hartseer te gaan nie.

Toe ons by die voordeur kom, dring hy egter aan om eers vir my die katjie te wys. Ek het die klein dingetjie opgetel en teen my vasgedruk en die hele lyfie het soos ’n trekker gevibreer soos hy gespin het. Dis hoe Thomas (eers Thomasina genoem) in my lewe gekom het.

Ek het hom sy naam gegee na die wonderlike storie van Paul Gallico. Dit was voor ek uitgevind het hierdie Thomasina van my is eintlik n seuntjiekat. Toe word hy Thomas en vir die volgende neëntien jaar het hierdie gemmerkat die winters van my lewe saam met my getrotseer en dit draagliker gemaak.

Dit was die moeilikste besluit van my lewe toe ek hom daardie dag vir die laaste keer veearts toe geneem het. Sy het ’n skaapvelletjie oor my skouer gedrapeer en ek het Thomas styf teen my hart vasgedruk terwyl sy hom met daardie laaste inspuiting uit sy lyding verlos het.

Teen daardie tyd was Loaderstraat net ’n vae herinnering. Greg is lankal terug Amerika toe en ek het ná ’n derde egskeiding eindelik besef die huwelik is nie vir my nie. “Sussie,” het my pa gesê, “laat ons nou maar eerlik wees – jy is nie goeie troumateriaal nie.”

Jare later het ek weer vir Greg gesien. Hy en sy lewensmaat, Beth, en hul wonderlike skaaphond, Robbie, het vir my in die Kaap kom kuier nadat Robbie aan ’n internasionale kompetisie hier in ons land kom deelneem het.

Dit was in my huis in Woodstock. Dit was ook daar waar my tweede gemmerkat, Bliksem, my kom uitsoek het. Hy het van die straat af na my toe gekom, ’n klein indringer wat maande lank gesukkel het om my te oorreed om hom by my in te neem. Ek was bang die kat hét ’n huis en dat sy mense hom sou kom opeis wanneer ek my hart aan hom gegee het.

Maar toe ek oor die maande sien hoe verwaarloos hy word en hoe hy agteruitgaan, het ek hom in ’n mandjie geprop en veearts toe geneem. Die jong tienerkat wat daardie eerste dag by my opgedaag het, het ’n ontnugterde ou man geword. Die veearts, een van die bestes wat ek ken, het hom vyf jaar oud geskat. Toe wys ek hom die foto wat ek geneem het toe hy die eerste dag daar by my opgedaag het, en volgens die sommetjies wat hy toe maak, kom ons min of meer uitwerk die kat is skaars ’n jaar oud.

Ek wil nie eens weet waardeur hy gegaan het nie. Hy is skrikkerig vir hoogtes, dié het ek nou al agtergekom. En waar ander katte nie ’n kartondoos kan weerstaan nie, ignoreer hy dit heeltemal; Sy manier om liefde te wys is om te byt. Vandaar die naam Bliksem. Ook omdat hy so koppig volhard het om my te oorreed om hom deel van my lewe te maak. En, natuurlik, oor die klein spierwit bliksemstraaltjie aan die een kant van sy gemmerneusie.

.............
Maar ek wonder baie keer wie het nou eintlik vir wie gered. Wanneer ek sy gemmerlyf (hy is ’n bielie van ’n kat) teen my vasdruk, vergeet ek van grendeltyd en my ma se demensie, van al die ellende daar buite. En van die verskriklike siekte wat ’n sagmoedige reus van ’n man nou stadigaan laat wegkrimp.
..............

Maar ek wonder baie keer wie het nou eintlik vir wie gered. Wanneer ek sy gemmerlyf (hy is ’n bielie van ’n kat) teen my vasdruk, vergeet ek van grendeltyd en my ma se demensie, van al die ellende daar buite. En van die verskriklike siekte wat ’n sagmoedige reus van ’n man nou stadigaan laat wegkrimp.

Met ’n koppie rooibostee en ’n gemmerkoekie vir troos, kyk ek diep in Bliksem se goue oë, knipoog vir hom en sê uit my hart uit vir my buurman dankie vir die gemmer in my lewe. Terwyl ek nog kan ...

Karen se gemmerkoekies

Lewer ongeveer 24–30 gemmerkoekies, afhangende van die grootte.

3 koppies koekmeel
1½ koppies suiker
2 eetlepels fyn gemmer
½ teelepel sout
250 g sagte botter
2 teelepels koeksoda
½ koppie warm water
4 eetlepels gouestroop

Sif die koekmeel, suiker, gemmer en sout saam in ’n groterige mengbak. Vryf die botter met jou vingertoppe in die meelmengsel totdat dit soos growwe mieliemeel lyk. Los die koeksoda in die warm water op en voeg dit saam met die gouestroop by die meelmengsel. Meng dit goed totdat dit ’n sagte deeg vorm. Bedek die deeg en laat dit vir ’n paar uur staan. Rol die deeg in balletjies en plaas ’n hele entjie van mekaar af op ’n bakplaat wat met bakpapier gevoer is. Bak in ’n voorverhitte oond van 180 ºC vir 12–15 minute of tot mooi bruin. Laat staan die koekies op die bakplate om effens af te koel voordat jy dit op draadrakke uitpak om heeltemal af te koel.

Wenk: Ek draai my bakplate in die helfte van die baktyd om sodat die koekies mooi egalig bruin kan bak. Die baktyd sal ook afhang van jou oond – dit verskil van oond tot oond. Die geheim van ’n lekker gemmerkoekie is om dit lekker bros te bak.

  • 2

Kommentaar

  • Ileana Rudman

    Beautiful writing and I am so glad I met Bliksem and seen your beautiful mum again. Karen, you saved me when I first came to this country and couldn't understand a word of what people were saying. Memories of our school days are so precious to me and I am sure your ginger cookies will be amazing.

  • Dear Ileana, thank you for your kind words. Your friendship means so much to me. I hope you'll come and visit soon - we'll have long chats over coffee and ginger biscuits.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top