Liefdesrituele in my kombuiskatedraal

  • 4

...
Vir my was kosmaak nog altyd soos asemhaal, ’n suurstof waarsonder ek nie kan leef nie. Dis daar voor die stoof waar ek my diepste self ontdek, waar ek my eie stem kry.
...

Kosmaak is vir my ’n ritueel. Dit maak nie saak hoe eenvoudig die bestanddele of hoe alledaags die aansit by die tafel is nie. Selfs wanneer ek op my eentjie vir myself ’n eier bak, kry dit ’n byna magiese betekenis.

Vir my was kosmaak nog altyd soos asemhaal, ’n suurstof waarsonder ek nie kan leef nie. Dis daar voor die stoof waar ek my diepste self ontdek, waar ek my eie stem kry. Ek stort my hart uit in potte gegeur met kruie uit my tuin of flessies speserye wat ek self met sorg gemaal en gemeng het.

So was dit nog altyd. Maar dit was eers ’n paar jaar gelede dat ek besef het hoevéél van ’n ritueel die kokery in die kombuis vir my geword het. En dié openbaring het gekom met die ontmoeting van twee sonderlinge mense ...

Ek het hulle by die mark leer ken. Bella se mark by The Palms in Woodstock. Ek het ’n hele paar jaar Saterdae daar agter my marktafel soetgoed verkoop. So af en toe het hulle lekker informeel daar kom rondslenter, twee manne in hul middeljare – die een ’n groot grys teddiebeer en die ander effe eksentriek met sy stuk of sewe oorringe in elke oor.

Ons het aan die gesels geraak en hulle wou van my weet of ek ook op bestelling bak. Hulle het lank voor die tyd ’n afspraak gemaak en my by die huis kom besoek. Toe ons nou eers tyd het om lekker om die tafel te sit en gesels, kom ek agter dis manne wat fyn oplet en diep kyk. Hulle vang my onkant met vrae oor dinge wat jare lange vriende of familie nie eens raaksien het nie – nie indringerige vrae nie, net opregte belangstelling.

Ek bak toe ’n paar keer vir hulle – eers vir hul priester se tagtigste verjaardag en toe vir die teepartytjie ter fondsinsameling van hul kerk. Ek is versigtig om te veel uit te vra en toe hulle my nooi na hul kerk se musiekdiens, weet ek nie eintlik wat om te verwag nie.

Dis die klipkerk so skuins agter die ou vuurhoutjiefabriek waarvan ’n deel nou ook ’n teaterskooltjie geword het. Dis ’n vreemde gemeente – gevoed uit die universiteitsgemeenskap maar met eweveel lidmate uit die geledere van die jare lange Obs-inwoners.

Met die instap al het die ding my gevang. Die binnekant kon net sowel ’n gekondenseerde weergawe van die St George’s-katedraal gewees het. (En dis glo ook deur sir Herbert Baker ontwerp.)

En ek het onthou van die dag toe ek as jong tiener alleen met die trein ingery het stad toe om inkopies te doen en vir my pa in sy kantoor te kuier. Toe ek verby die St George’s-katedraal stap, het ’n oop deur my soos ’n magneet getrek. En voor ek my kom kry, staan ek daar in die allerheiligste voor die altaar. Net ek alleen in die grote katedraal met die klip en hout en mooiste gebrandskilderde vensters ... en die heilige stilte. 

Ek het eers weer van die werklikheid bewus geword toe iemand op die orrel begin speel. Eers later het ek uitgevind dat dit waarskynlik Barry Smith was wat daar geoefen het. En wat ’n wonderlike ontwaking!

En toe ek by daardie klipkerk instap, kon ek net sowel weer stoksielalleen daar in die grote katedraal gestaan het. Die mense om my het vervaag. Dit was asof die blomme en kerse net vir my was.

Ek het my verkyk aan die priesterlike optog van wit en goud, wierook en kruise. En aan die voorpunt het my vriend met die oorringe geloop – die priester van die gemeente. Kort op sy hakke was my teddiebeer-vriend, sy regterhand.

Die musiek, ’n Mozart-mis, was verweef met die diens. My hart was oop en rou, van alle verweer gestroop. Ek het nie eens probeer om die trane wat warm langs my gesig afgeloop het, te keer nie. En ek het die betowering van daardie anderhalfuur diep in my hart gebêre – soos daardie alleen-wees voor die altaar in die grote St George’s-katedraal baie jare tevore.

Net daar, in die houtkerkbank, het ek besef hoe groot die behoefte aan rituele in my lewe is. En in daardie helder oomblik het ek geweet waarom my kombuis my hartsplek is – dis daar waar ek elke dag hierdie hunkering na rituele uitleef.  En hoe dan anders? In die ou beskawings was kosrituele net so deel van die kultuur. En het die ou Grieke en Romeine dan nie ook kosse voorberei om aan hul gode te offer nie?

...
Een van die lekkerste kosrituele is die maak van frikkadelle. Eenvoudige kos, ja, maar moenie dat enigeen dit sommer afmaak as alledaags nie.
...

Toe ek daar by die wonderlike katedraal uitstap, neem ek my voor om hierdie rituele meer bewustelik te ervaar, selfs nuwes te skep.

Elke oggend met die opstaanslag, maal ek koffiebone vir my mokka. Terwyl ek wag dat die gasvlam my oggendbederf gereed kry vir die skinkslag, gebruik ek die einste vlam om my kerse aan te steek – ’n kers vir elke faset van my lewe. Twee van die kleiner kersies is vir die lampies waarin ek my olies brand – neroli, geranium, gemmer, kardamom ...

Ek laat die kerse presies 21 (sewe maal drie) minute en 21 sekondes brand voordat ek die vlammetjies plegtig uitblaas en my mokka vul vir die tweede koppie koffie.

Dis nie heksery nie, dis bloot ’n ritueel om my te laat fokus op die dinge wat werklik belangrik is in my lewe. En wanneer ek hierdie oggendritueel afgehandel het, is ek reg om met die daaglikse kombuisrituele te begin.

Een van die lekkerste kosrituele is die maak van frikkadelle. Eenvoudige kos, ja, maar moenie dat enigeen dit sommer afmaak as alledaags nie. Dis hartskos. En dis kos wat jy nie kan maak sonder om kaalhand in te klim nie. Die enigste manier om frikkadelle behoorlik te meng is met jou hande, en daardie bolletjies kan jy ook nie op ’n ander manier vorm as om jou hande te gebruik nie.

Wanneer ek frikkadelle maak, besluit ek eers so halfpad deur die proses hoe die eindproduk gaan lyk. Ek laat my lei deur die bewustelike ervaring van die bestanddele waarop ek my hand kan lê en die gedagte aan die mense wat by my tafel gaan kom aansit. Dit het al baie keer gebeur dat ek besluit het om frikkadelle in ’n kerriesous te maak en dan op die ou einde iets heeltemal anders geskep het, ’n heel nuwe resep wat sommer gou ’n groot gunsteling geword het. Soos die een hier onder.

En wanneer jy die frikkadelle so met jou hande vorm, moet jy één word met die bestanddele. Snuif behaaglik aan die geur van salie en lemoen en reik in jou gedagtes uit na elkeen wat hierdie skottel met jou gaan deel. Dan word jou kombuis ’n klein katedraal van liefdesrituele.

Karen se feestelike frikkadelskottel

Genoeg vir 6

Vir die frikkadelle
1 kleinerige ui, fyngekap
1 mollige knoffeltoontjie, gekneus en fyngekap
1 rooi brandrissie, pitjies en naatjies verwyder en fyngekap
1 Granny Smith-appel, geskil, stronk verwyder en fyngekap
1 lemoen se gerasperde skil
1 eetlepel vars salieblare, fyngekap (of 1 teelepel droë salie)
3 snye witbrood, verkrummel
300 g beesmaalvleis
6 varkworsies, vleis uit hul omhulsels gepers
1 teelepel korreltjiemosterd
1 eier, liggies geklits
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
olie vir braai

Vir die sous
2 koppies beesvleisaftreksel
sap van 1 lemoen
1 eetlepel koekmeel
1 eetlepel botter
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Plaas al die bestanddele vir die frikkadelle in ’n groot mengbak en gebruik jou hande om dit goed te meng. As jy ’n voedselverwerker wil gebruik, kan jy die eerste sewe bestanddele daarin fynkap en dan in die mengbak met die maalvleis, worsievleis, mosterd, eier en sout en peper meng. Die geheim van ’n lekker, ligte, los frikkadel is om die vleis nie te veel te manipuleer nie. Vorm die frikkadelle so groot soos tafeltennisballetjies. Verhit die olie in ’n groot pan of pot (wat ook in die oond kan gaan) en braai die frikkadelle vir so ’n paar minute daarin, net sodat dit alkant ’n effense kleurtjie kry. Meng die beesaftreksel met die lemoensap en giet dit oor die frikkadelle. Plaas die pan of pot met die frikkadelle in ’n voorverhitte oond en bak vir 20 minute. Skep die frikkadelle met ’n gaatjieslepel uit in ’n opdienskottel en plaas die pan of pot met die sous terug op die stoofplaat. Kook die sous effens af. Meng die koekmeel en botter tot ’n pasta en roer deur die sous tot ’n gladde mengsel. Kook vir ’n paar minute totdat die sous effens dikker begin word. Giet die sous oor die frikkadelle en garneer met salieblare en lemoenskyfies.

Wenk: Bedien saam met pasta, kapokaartappels of rys. Ek hou daarvan om die frikkadelle en sous op ’n bak pasta, verkieslik penne, uit te skep en so te bedien.

  • 4

Kommentaar

  • Het ek nou dié lees geniet! Dankie, Karen.
    My tone krul sommer om van pure genot. ( En ek is gaande oor jou verwysing na 'n mollige knoffeltoontjie).

  • Ek wou mos nou ook sê hoe dol ek is oor daardie mollige knoffeltoontjie – nie een van daardie maeretjies sonder lyf en sonder smaak nie.
    En wat ’n interessante frikkadelresep! So bly ek het jou by jou stalletjie by The Palms 🌴 ontmoet.

  • Liewe Lisa, ek is net so bly ek het jou leer ken en dat ek nou op fb kan deel in jou wonderlike wéreld.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top