’n Maandagskind gebore onder die sterreteken Vis – tegelyk ’n straf én ’n seën. Want dit beteken dat ek na ’n leeftyd van eweveel vreugdes en ontnugterings steeds in sprokies glo. Dis hierdie geloof in feëverhale en die onmoontlike wat gemaak het dat die lewe vreemde ompaaie met my geloop en dat baie van my drome op die vreemdste denkbare maniere waar geword het.
Ek het oorkant Sir Anthony Hopkins aan ’n tafel gesit en ’n onderhoud met hom gevoer toe ek op daardie oomblik ’n terugflits kry van ’n foto’tjie wat destyds, op my tiende verjaardag, van my saam met die destydse blink glanssterre van ons eie land, Min Shaw, Lance James, Fanus Rautenbach en die klavierspeler Len Brauer, geneem is.
Ek was veertien jaar oud toe ek vir my maats gesê het ek gaan eendag ’n tydskrif begin. Ek kan nog presies onthou in watter klaskamer ek gesit en die skakerings van lig wat deur die venster geval het toe ek die aankondiging gemaak het. Presies 25 jaar later het ek daar by die drukkers met die eerste uitgawe van tvplus! In my hand gestaan. Dié het ek begin terwyl ek as vermaakredakteur vir Huisgenoot en You gewerk het.
’n Loopbaankrisis en die daaropvolgende verveling in ’n sieldodende werk het my eindelik tot introspeksie gedwing en ek het besef wat my eintlike twee liefdes is: skryf en kook. Die liefde vir kook, as ek nou terugkyk oor my lewe, was ’n fyn goue draad wat van die begin af vervleg met my hele wese – van kleintyd al.
Maar dit was eers toe ek met my eerste man getroud was en skielik oor die wintermaande gekonfronteer is met ’n vrieskas vol wildsvleis van die plaas af dat ek ingespring het om myself behoorlik te leer kook. Ek het afgesit na die enigste boekwinkel op Graaff-Reinet en Kook en Geniet het my bybel geword. Die belangstelling het ’n passie, wat baiekeer grens aan obsessie, geword.
Met alles wat in my lewe gebeur het en die loopbaan as vermaakjoernalis, het dié ou potjie begeerte iewers op ’n stoofplaat staan en prut. En toe ek nou skielik sit met ’n werk wat passieloos die ure vul, was ek gereed vir die groot droom. Ek het so half per ongeluk begin lees aan Julie Powell se Julie & Julia, lank voor Hollywood nog gedagte aan die fliek gekry het. Op daardie oomblik het ek besef dis hoe ek my twee groot liefdes kan kombineer. Dis hoe my kosblog Toorkombuis gebore is.
Die naam Toorkombuis het so half vanself gekom – die alchemie van die kospotte het daarvoor gesorg. Dink net – jy verhit ’n bietjie olyfolie in ’n pot, voeg ’n gekneusde knoffeltoontjie, sonryp tamaties en ’n paar basiliekruidblaartjies daarby en jy skep die mees ongelooflike pastasous. Suiwer betowering!
Van my grootbase het die blog raakgesien en my gevra om te vryskut as kosredakteur vir die tydskrif Kuier. Ek het ook betrokke geraak by Isabella Niehaus se Market at the Palms, ’n spesialis-kosmark, waar ek Saterdag na Saterdag agter my tafel gestaan en my soetgebak verkoop het. Ek bak nou nog vir ’n handjievol lojale ondersteuners en ’n paar winkels. Elke Donderdagmiddag, skuins na twee, gesels ek met die luisteraars van Radio Kaapse Kansel oor my liefde vir kook.
Ek het reeds twee boeke, Toor met Hoender en Maalvleis, in opdrag van die uitgewer Human & Rousseau, gepubliseer. Nou werk ek aan my gróót, gróót droom – ’n resepteboek met stories en smulgeregte uit my Toorkombuis.