’n Kombersie vir erfenismaand

  • 2

Hierdie erfenismaand het my op ’n vreemde binnereis geneem. Ek het dit nog nooit voorheen so bewustelik ervaar nie. Miskien is dit omdat ek ouer word. Of dalk omdat ek na my tagtigjarige ma omsien en elke dag leef met die verskriklike verganklikheid en die broosheid van onthou.

Ek het eens op ’n tyd in ’n woonstel daar hoog teen Leeukop gebly. Ek het so half per ongeluk daar beland en was innig dankbaar vir ’n heel bekostigbare huur en die wonderlikste uitsig. Die meeste ander inwoners het hul woonstelle besit. Baie was afgetredenes met genoeg geld en meer as genoeg tyd. Dan was daar ook die woonstelle wat ’n groot gedeelte van die jaar toegesluit gestaan het – vakansiewoonstelle van oorsese eienaars. My flambojante buurvrou het my deel gemaak van haar vriendekring. ’n Hele paar van hulle het ook daar teen die berg gebly, van die ander net oor die bult aan Kampsbaai en Clifton se kant. Hulle het ’n lang pad saamgekom, van die dae toe hulle bloedjonk en uitbundig deel van Clifton se tennisklub was. Ek vermoed dit was die kosreuke uit my kombuis wat vir my laat deel word het van dié eksklusiewe groepie.

Een wonderlike herfsaand, daar by ’n gedekte tafel langs die swembad, gaan die gesprek toe oor herkoms. Die meeste gaan haal hul wortels doer ver oor die water, meestal in Europa. Vol afwagting kyk hulle na my. Nee, sê ek en ek lag, ek is liekeries ôlsôrts. My mense woon al geslagte lank hier aan die suidpunt van Afrika – daar is geen manier dat ek my kan roem op ’n suiwer Europese herkoms nie. Ek wil ook nie.

Donderdagmiddae sit ek saam met Zuki en Maswazi by die etenstafel en ons praat groot stories, baie keer oor kos en ons lag baie, veral oor misverstande en kultuurverskille. En ek dink baie terug aan lank gelede, toe ek nog voorbladstories vir die tydskrif Drum geskryf het en die ongelooflike dag daar in Nyanga. Ek was ’n gas by die viering van Miranda Javu se voltooiing van die derde fase van haar opleiding as sangoma. Ek het dapper my vooroordele gesluk saam met die mondvol umqombothi wat in ’n blikemmer in die rondte gestuur is. Hierdie, het ek besef, is die enigste manier waarop ek aanvaar sal word.

En gedurende die afgelope tien jaar as kosredakteur van die tydskrif Kuier, het ek nie net geleer om die wonderlike koskultuur wat ons deel, te waardeer nie. My grense het verskuif en ek het ’n wonderlike nuwe wêreld ontdek. Ook hier in Woodstock waar ek nou woon …

Ek sit nou die dag daar in ’n ou haarsalonnetjie in een van die systraatjies van Woodstock en wag dat my ma se hare gewas word. Dis nog een van die min plekkies van die ou Woodstock wat behoue gebly het. Toe ek aanvanklik van die plek gehoor het, Gay’s Hair Salon, het ek die afkappings-“s” misgekyk en gedink dis een van daardie retro plekke, baie blink en pretensieus en waar ek erg ongemaklik en ontuis sou voel.

Nee, in Gaya se salon klop die hart van ou Woodstock. (Die Gaya is afgekort na Gay’s toe – korter en makliker om die naam op die salon te verf). Haar kliënte ry van ver af agter haar aan, meestal inwoners van die ou Distrik Ses wat nou ver verspreid woon. Die een man het sy vrou gebring. Terwyl sy haar kopdoeke byna soos in ’n ritueel afgehaal het en Gaya haar lang hare, wat in ’n bolla vasgesteek was, onder hande geneem het, het ek en hy sit en gesels oor die dae toe hy as jong seun in Hanoverstraat saam met sy maats groente van die vragmotor help aflaai het.

Die volgende keer toe ek daar kom, het Gaya vorstelik met haar kunstig gedraaide swart kopdoek agter haar lessenaar gesit. Dit was net ek en sy daar in die klein ontvangsgedeelte van haar salon. Sy het my vertel hoe sy skoolboelies tot in die berugte Gympiestraat gaan uithaal het wanneer hulle haar kinders se skryfbehoeftes by die skool afgevat het. Dis die einste Gympiestraat waarvan David Kramer sing en waar bendeleiers soos Bowtie jare lank ’n skrikbewind gevoer het.

Maar dis ook nie lank nie, of ons begin oor kos praat. Dis by haar wat ek hoor van die dood van die ou man van Fargo’s, waar ek my speserye koop. Fargo’s sit daar op die hoek waar die pad vurk – die een pad gaan oor die brug en die ander pad loop aan deur Observatory, verby die wonderlike koswinkel, Komati, daar skuins oorkant Obs Café. Maar nog lank voor ek speserye by Fargo’s daar op die vurk van die pad gaan koop, kuier ek by Aleesha van Plastipak in Soutrivier om bakgoed vir my Toorkombuis te koop. Ek sien gereeld vir Pete Goffe-Wood en Karen Dudley daar en dit wemel van haastige mense in sjef-uniforms in die gangetjies. Ek herken ook ’n hele paar handelaars wat markstalletjies bedryf. Aleesha se ma bly ook by haar en sy dra ons met bemoedigende en soms skreeusnaakse Whatsapp-boodskappies.

Wanneer ek van Aleesha af weggaan, kies ek gewoonlik die pad na die groot Moslem-slaghuis daar op die hoek of ek ry oor die brug, Koeberg se kant toe, na die beste, beste vis-en-tjipswinkel, Koeberg Fisheries. Op pad soontoe gaan koop ek gou vinnig pasteis de nata, die beste buite Portugal, by Broadway-bakkery waar die ou Portugese omies al sit en middagete eet. En terwyl ek by die visplek staan en wag vir my bestelling, verluister ek my aan die stories van die vroue wat daar agter die toonbank werk. Dis nou die één plek waar ek nie omgee om lank te staan en wag nie.

Op pad terug huis toe, koop ek eers koffiebone by ou Meneer Parker van SE Superette, op die hoek van Salisbury en Roodebloem. Sondae verkoop hulle die lekkerste vars koesisters, want Sondae is in hierdie geweste tradisioneel koesisterdag. Die plek en die familie is nou al amper sewentig jaar daar. In die winkel word daar nou ’n hele paar van die ou advertensieborde uitgestal. Ek kan my staan en verkyk en ook lank luister na die ou man se stories. Margaret Gardiner se ma het destyds ook nog by hom gekoop en ek is seker die jong skoolmeisie het, voor Bernard Jordaan haar ontdek en beroemd gemaak het, ook daar ’n koeldrank of so gekoop.

By die huis pak ek my inkopies weg en haal my Ouma se ou resepteboeke uit. Ek was agt toe sy dood is, maar ek onthou nog die komkommerslaai wat sy my leer maak het. En hoe ek smiddae saam met haar So Maak Mens sit en luister het. Ek moes Esmé en Jan se resepte vir haar neerskryf. Dit was seker by haar wat ek my liefde vir kook gekry het. En toe my nig Martie vir my nou die dag vertel van die verjaardagkoek met die handgemaakte rosies wat Ouma vir haar gemaak het, het baie dinge vir my in plek geval. Maar van al my Ouma se skoondogters, was my tannie Minnie die enigste wat haar liefde vir bak gedeel het. Sy kon die lekkerste koekies bak. My oom Hekkie se mond was gedurig wit van die Rennies wat hy teen die oordaad en sooibrand moes drink. Een van my kosbaarste besittings is die handvol van haar resepte wat my nig Stephanie vir my gegee het.

Wanneer ek so deur die resepte blaai en die mooi herinneringe en die ervarings van elke dag in ’n kaleidoskoop saamsmelt, besef ek hoe wonderlik en kleurvol my lewe geword het, hoe groter en ryker my erfenis.

Een van my Ouma se ou resepte, wat ek kleintyd leer ken het as Ouvrou-onder-die-kombers, ken baie ander bloot as koolfrikkadelle en hulle Ouvrou-onder-die-kombers is ’n aangepaste weergawe van die Ingelse se Toad-in-a-hole, worsies wat onder ’n deeglaag gebak is. Leipoldt-se-ouvrou is basies stowevleis onder ’n dun degie. Ou Mejuffrou Dijkman praat van Muisies-onder-die-kombers en hare is frikkadelle in koolblare toegedraai. Dié reseppie het al saam met Jan van Riebeeck Kaap toe gekom en bestaan van lank voor sy tyd al, onder verskillende name en in verskillende kulture. Die frikkadelle is óf in koolblare óf in wingerdblare toegedraai. Vir my resep, kies ek spinasieblare.

Karen se Ouvrou-onder-die-kombers

Genoeg vir 4 – 6

Vir die frikkadelle
500 g maalvleis
1 kleinerige ui, fyngekap
1 knoffeltoontjie, gekneus en fyngekap
1 mak rooi brandrissie, pitjies en naatjies verwyder en fyngekap
1 rooi soetrissie, wit gedeeltes en pitjies verwyder en fyngekap
3 klein murgpampoentjies, fyngekap
2 snye growwebrood, verkrummel
1 teelepel fyn koljander
¼ teelepel fyn naeltjies
1 teelepel droë gemengde kruie
’n knippie varsgerasperde neutmuskaat

1 eetlepel tamatiesous
1 eetlepel blatjang
1 eetlepel Worcestershire-sous
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
1 eier, liggies geklits

Vir die samestelling
1 groot gerf spinasie
1 – 2 liter water
1 eetlepel sout
1 – 2 eetlepels olie
1 groot ui, in skywe gesny
2 tamaties, in skywe gesny
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
1 eetlepel klewerige bruinsuiker
1 koppie beesvleisaftreksel

Gebruik jou hande om al die bestanddele vir die frikkadelle saam te meng en lekker groot frikkadelle (wat ongeveer in die holte van jou hand pas) te vorm. Hou eenkant. Sny die spinasieblare van die harde wit stingels af (bêre die stingels in die yskas om later in sop of bredie te gebruik) en spoel goed af. Vul ’n groot kastrol met water, voeg 1 eetlepel sout by en bring tot kookpunt. Dompel die blare ’n minuut of twee in die kokende water. Dreineer goed en druk liggies droog met handdoekpapier. Verhit die olie in ’n pan en braai die ui tot sag en deurskynend. Voeg die tamatie by en geur met sout en peper en bruinsuiker. Braai totdat die tamatie begin sag word. Skep die tamatie-en-uiemengsel in ’n oondvaste bak wat goed met botter gesmeer is. Vou elke frikkadel netjies in ’n spinasieblaar toe en pak styf teen mekaar bo-op die uie-en-tamatielaag met die gevoude kant na onder. Giet die aftreksel bo-oor, bedek die bak met ’n deksel of foelie en plaas in ’n voorverhitte oond van 180⁰C en bak vir ongeveer 30 – 40 minute (afhangende van die grootte van jou frikkadelle. Bedien met lekker witrys en gestoomde groente.

En as jy saam met my so ’n bietjie verder in my Ouma se boeke wil gaan blaai, kan jy jou eie wondersout aanmaak. Laat al die speserye in die resep weg en vervang dit met ’n enkele teelepeltjie van dié. Gaan maak ’n draai by Fargo’s – jy sal al die speserye daar kry. Maal al die speserye saam in ’n speserymeultjie of in jou voedselverwerker totdat dit die tekstuur van fyn sout het. Bêre dit in ’n skroeffles en gebruik ’n teelepeltjie op ’n slag om enige gereg op te kikker. Dit hou tot ses maande lank as jy dit nie voor die tyd opgebruik nie.

Ouma se wondersout

1 teelepel growwesout
7 eetlepels swartpeperkorrels
2 eetlepels fyn naeltjies
2 eetlepels fyn neutmuskaat
2 eetlepels fyn kaneel
3½ eetlepels droë basiliekruid
3 eetlepels fyn foelie
3 eetlepels koljander
3 lourierblare

 

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Danieta Pfaff

    En nou wil ek my kombersie effe los knoop en uitklim, net om die persoon/e wat hierdie artikel gepost het sê.... Duisend dankies, jy maak my dag. Ons het van Kool frikkadelle gepraat. Dit is nou troos kos. Ek is aan die verkeerde van 60 jare en weet julle as ek dit die dag maak staan my dierbare bure bakhand vir net een om te proe 🙈 nou se dae maak ek sommer genoeg vir almal om te proe. Ek verlang sommer baie ver terug.

  • Baie dankie, Danieta. Dis wonderlik om te weet daar is iemand wat in dié lekker van onthou deel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top