Lamsboud – die heel lekkerste is die onthou

  • 0

Lamsboud het ’n luukse geword, ja, maar vir my is daardie stukkie duur vleis op die etenstafel ook ’n skatkis van onthou. Sondagetes, spesiale verjaardagetes saam met vriende … groot bederf. Maar veral die wonderlike reise saam met Dirk de Villiers, legende, rolprentmaker en dié soort mens wat eenkeer in ’n leeftyd oor jou pad kom … as jy gelukkig is.

Jan en sy vrou Michelle, Bob en Dirk.

Elke jaar, net na Kersfees en skuins voor Nuwejaar, het ek en Dirk en Bob de Haan, die pad Suid-Kaap toe gevat. Bob, wat jare saam met Dirk in die rolprentwêreld gewerk het, was agter die stuurwiel en Dirk, soos ’n opgewonde kind, in die sitplek langs hom. Ek het agter gesit, langs die mandjie van Thomas, my gemmerkat, goed ge-rescue remedy en baie verontwaardig. Bob en Dirk was oorgehaal vir die kuiertjie by mede-rolprentmaker Jan Scholtz by sy strandhuis in Heroldsbaai. Op pad soontoe, het hulle vir my en Thomas by my ma op Dwarswegstrand, naby Groot Brak, afgelaai. Vir vyf jaar het ons dit so gedoen – elke stop langs die pad was deel van ’n oorbekende ritueel.

Op Ashton was die wonderlike slaghuis wat aan die Heunisse behoort het. Die hele familie het daar saam gewerk – pa, seun, skoondogter … vir die mans het hulle ’n visitekaartjie met ’n foto van ’n leeu en vir die vroue ene met ’n oulike klein grys strepieskat uitgedeel. “My vleis kom ook van Ashton slaghuis” en “Beste kwaliteit en diens suid van die Noordpool”. Boonop het hulle ’n besoekersboek gehad waarin al hulle beroemde kliënte moes teken en Dirk was in sy element.

Dirk en Bob het vleis gekoop om by Jan te braai en ek het biltong en droëwors vir die pad gekry. Ná die paar dae by die see, het ons met die terugkomslag weer daar gestop, dié keer om van die lekkerste vleissnitte vir die huis te kry. Lamskenkels, nek, ’n bladjie en, natuurlik, die lamsboud …

Dirk in die Apollo-teater in Victoria-Wes.

Dit was die Krismis-ekskursie en die wonderlikste onthou, maar die één reis saam met Dirk en Bob wat ek diep in my hart weggebêre het, was die een na die Apollo-teater in Victoria-Wes. Dit was in die jaar toe Dirk tagtig geword het en organiseerders van die jaarlikse rolprentfees by daardie wonderlike ou rolprentteater besluit het om hom te vereer. Ja, het Dirk gesê, hy sal kom, maar ek en Bob moet saam – Bob as sy drywer en ek as “amptelike biograaf”. Jan Scholtz sou van Johannesburg af kom om ’n spesiale toespraak ter ere van Dirk te lewer.

Ek, Dirk en Bob het iewers langs die pad, in die middel van nêrens, gestop om by ’n sementtafeltjie en -bankies eers ons padkos te eet – lekker varsgebakte brood met skywe koue lamsboud, gekookte eiers, vrugte en ’n fles langpadkoffie. Toe is ons reg vir die laaste skof Victoria-Wes toe.

Vir my was dit om nog ’n hele paar ander redes ’n baie spesiale reis. Ek was vier toe ons uit Victoria-Wes weg is. My pa was twee jaar lank onderwyser by die skool daar voordat hy aangestel is as skoolhoof by Volmoed. En hierdie trippie gebeur toe mooi net ’n week voordat hy sou verjaar het. Toe ons die dorpie binnery, het die swiepende peperbome langs die hoofstraat my ver teruggeneem.

By die Kingwills se gastehuis waar ons almal gebly het, het Dirk, soos dit sy gewoonte is, met almal wat saam in die eetkamer vir ontbyt kom aansit het, aan die gesels geraak. Onder die gaste was twee swart studente van die operaskool in Pretoria, wat dié Sondag in die kerk sou optree. Dit was by die musiekuitvoering wat deel was van die naweek se feesvieringe. Dirk het hulle summier uitgenooi na die skemeronthaal wat ter ere van hom gehou sou word en agterna na die vertoning van die rolprentweergawe van sy trefferreeks, Arende, in die ou Apollo-teater.

Daardie aand, ná al die feesvieringe verby was, het ons ou klompie daar in die tuin van die gastehuis gesit en nabetragting hou. Toe soek Dirk die twee operasangers. Ons sou die Sondagoggend vroeg huis toe ry en hy móés hulle hoor sing. Toe staan daardie twee daar onder die Karoo-sterrehemel en sing die liefdesduet uit Don Giovanni soos ek dit in my lewe nooit weer sal hoor nie – saam met Dirk, saam met die onthou …

Ek weet nie of die gastehuis op Victoria-Wes nog bestaan nie. En of die Heunisse nog vleis verkoop op Ashton nie. Dirk en Jan is albei lankal dood. Thomas, my gemmerkat, ook. Die huis op Dwarswegstrand is verkoop en my ma bly nou by my. My lamsboud, vir ’n bederfie so af en toe, koop ek by die Moslem-slaghuis hier in Woodstock. Dis ook lekker, ja, maar die heel, heel lekkerste is die onthou.

Karen se lamsboud vir die onthou

Genoeg vir 4 – 6

2 kg lamsboud
Sout en varsgemaalde swartpeper
3 eetlepels olie
1 eetlepel botter
3 eetlepels brandewyn
3 groot uie, elk in 8 wîe gesny
1 groot beker koffie met room (verbeel jou jy maak vir jouself koffie in ’n groot koffiebeker – net vir die ekstra bederf gebruik jy room in plaas van melk)
1 opgehoopte eetlepel klewerige bruinsuiker
1 rooi brandrissie
1 knoffelknol

Vryf genoeg sout en peper in die lamsboud in. Verhit die olie en botter in ’n swaarboomkastrol en seël die boud alkant oor matige tot hoë hitte. Haal die boud uit en plaas dit in ’n oondskottel wat met twee lae foelie en twee lae bakpapier gevoer is. Die velle foelie en papier moet groot genoeg wees om in die bak te pas en nog die boud toe te vou. Giet die brandewyn in die pot waarin jy die boud geseël het en skraap met ’n houtlepel al die aanbrandsels wat in die pot agtergebly het, bymekaar. Deglaze, soos die Ingelsman sal sê. Voeg die uie by, geur met sout en peper en braai totdat die uie sag en gaar is. Giet die beker roomkoffie in die pot en roer die bruinsuiker by. Sny ’n keep in die lengte af van die brandrissie en gooi dit net so heel by die uiemengsel in die pot. Giet die inhoud van die pot oor die lamsboud wat in sy foelie-en-bakpapier-nessie lê en wag. Sny die knoffelknol in die middel deur sodat dit soos twee blomme lyk en plaas dit in die bak langs die boud. Vou die boud en sy sous versigtig toe. Bedek die bak met ’n ekstra vel bakpapier en ’n ekstra vel foelie. Plaas die kosbare bondeltjie in ’n voorverhitte oond van 200°C en bak vir 3 uur. Haal die boonste vel foelie en bakpapier af en maak die onderste lot oop. Bak die boud so oop vir nog 20 – 30 minute totdat dit mooi goudbruin is.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top