’n Tertjie teen die seer

  • 2

Vir my was my kombuis nog altyd ’n veilige skuilplek. My kombuis koester my midde-in die groot baklei teen depressie en verslawing, die hartseer van afskeid neem. Agter my stoof bou ek skanse teen die seer in hemelse geure wat my en my mense in sagte arms omvou en teen ’n ruim troosboesem vashou. Ek kleur my geure met die groen van basiliekruid, tiemie en origanum; selfs die alledaagse pietersielie kry nuwe betekenis in my kombuis. Ek vuur die potte met warmrooi paprika, rooipeper en rissiepoeier en maal speserye vir geurmengsels en kerriepoeiers.

Wanneer ek nie kan wegkom van pyn en verlies nie, of net op ’n dag voel ek kan nie hierdie las van menswees langer dra nie, trek ek die koekpanne nader. In krisistye bak ek.

Om te bak, verg baie meer konsentrasie as wanneer jy kook. Jy kan nie sommer wegkom met ’n handjievol hiervan, of ’n skeutjie daarvan nie. Nee, jy moet jou bestanddele presies afmeet en die regte metode volg. Klits is nie klop nie en as jy roer wanneer jy moet invou, gaan jy klippe kou (letterlik en figuurlik). Jou kop raak so besig met die resep dat jy vir ’n rukkie jou probleme eenkant toe skuif.

En dan is daar die wonderlike afwagting wanneer jy die panne in die oond sit . . . Selfs al is die eindproduk glad nie wat jy gehoop het dit sou wees nie, het die bakkery jou vir ’n kort rukkie weggeneem van die seer waarteen jy baklei. Dis goed genoeg vir my.

Marian Keyes

Ek het ’n paar jaar gelede heel toevallig op die wonderlikste boek afgekom. Dit was die titel wat eerste my aandag getrek het: Saved by cake – over 80 ways to bake yourself happy. Maar die groot verrassing was dat dit nie deur die een of ander bobaasbakker geskryf is nie, maar deur Marian Keyes, een van my gunsteling-ontvlugtingskrywers. Sy het uit radeloosheid begin bak nadat sy alles probeer het om haar deur ’n baie donker emosionele tyd te help. 

“I felt desperate and terrified without knowing why, while I was afraid to tell anyone how I felt because I knew they’d tell me there was nothing to be afraid of and I knew that it wouldn’t make the fear go away. I put all my energy into acting ’normal’, but I felt like I was driving a car where the controls were no longer working. Crowds terrified me, people zoomed at me, their words rained down on me like electric sparks and my mouth wouldn’t work to produce the right response.”

Toe, op ’n dag, besluit sy uit die bloute om vir ’n vriendin ’n verjaardagkoek te bak. Sy was dertien toe sy laas rotskoekies in die huishoudkundeklas gebak het en het nie eens geweet waar om te begin nie. Maar toe sy eers begin het, kon sy nie ophou nie. Dit was haar redding. “I need to make something clear: baking may not be for you and if it isn’t, I’m sorry and I hope you find something that helps. I also need to tell you that baking hasn’t ‘cured’ me. But it gets me through. My challenge – everyone’s challenge – is about living through today and I find that baking passes the time. To be perfectly blunt about it, my choice sometimes is: I can kill myself or I can make a dozen cupcakes. Right so, I’ll do the cupcakes and I can kill myself tomorrow.”

Marian se boek, met haar kleurvolle en ongekunstelde koeke, bly een van my groot gunstelinge. Maar die mooiste bakstorie bly nog vir my dié van Maria Grammatico . . .

Ek het op hierdie wonderlike verhaal in ’n stokou uitgawe van die tydskrif Gourmet afgekom. Maria was van die Griekse dorpie Erice. Ná die Tweede Wêreldoorlog het dié dorpie gesukkel om te oorleef. Van die eertydse welvaart was daar min te sien – net leë kerke, verlate paleise en geen werk of inkomste nie. Maria was die oudste van ses kinders. En toe haar pa, ’n kleinboer, daar op sy lappie grond inmekaar sak en sterf, moes die tienjarige meisiekind en haar een sussie, skaars ses, weeshuis toe om haar ma se las ligter te maak.

So tussen al die vloere skrop en harde werk was daar ’n ligpuntjie vir Maria. Die nonne het Saterdae markdag gehou om geld in te samel om die weeshuis aan die gang te hou. Al die weeskinders moes vroeg opstaan en help tertjies bak. Vir Maria was dit glad nie ’n straf nie. Sy kon nie wag om meer en meer te leer nie en het al die resepte gememoriseer. Toe Maria en haar sussie vyftien jaar nadat hulle die eerste keer daar aangekom het, die weeshuis verlaat, het hulle niks gehad nie. Behalwe die resepte wat Maria in haar hart saamgedra het.

’n Paar maande later het Maria en haar sussie ’n klein bakkerytjie begin. Al wat hulle gehad het, was ’n koekroller en ’n klein meultjie waarmee jy neute kon fynmaak. Die plekkie was klein, met net ’n houtstoof en -oondjie. Maar dit was nie lank voordat die mense begin praat het oor die wonderlike gebak wat Maria en haar sussie daar opgetower het nie. Aan die einde van elke maand het hulle, met die bietjie wins wat hulle gemaak het, ’n koekpan of ’n mes aangekoop. Namate hulle onderneminkie begin uitbrei het, het Maria haar boeties en sussies wat by haar ma agtergebly het toe hulle weeshuis toe is, ook in diens geneem en kans gegee om hul armoede te ontsnap. Teen die tyd dat Gourmet die wonderlike artikel oor hulle geskryf het, was Maria se bakkery – en veral haar tertjies – wêreldbekend en haar hele familie het in die welvaart gedeel.

Maswazi Macaleni

Ek het hier by my ook ’n Maria-storie, nou nie so opwindend dat dit die glansblaaie van ’n Gourmet sal haal nie. Ek het Maswazi Macaleni ontmoet toe hy een Vrydagoggend in my vullisblik kos kom soek het. Ek het hom en sy vriend gemaan om nie te mors nie en gesê hy moet eerder Vrydae, vullisdae, my klokkie kom lui en ek sal vir hom kos uithou. Só het dit vir maande aangehou, deur die koue winter. En toe die lente aanbreek, wou Maswazi weet of hy nie my tuin kan kom skoonmaak om dankie te sê vir alles wat ek vir hom gedoen het nie. Toe ek geld uithaal om hom te betaal ná die dag se harde werk, wou hy dit nie neem nie. “Dis om dankie te sê.”

So het dit dan gekom dat Maswazi een keer ’n week by my kom werk het. My tuin is maar baie klein en kon hom nie lank besig hou nie. Ek het agtergekom met hoeveel belangstelling hy my bakkery dophou en het hom gaandeweg begin betrek. “You only show me once,” het hy met ’n glimlag gesê, byna soos Maria vir die nonne laat verstaan het. Hy het ’n natuurlike aanleg en ’n brandende ambisie om alles beter as ek te doen. En dit het hom nie lank geneem nie.

Vandag woon die eertydse bosslaper in my garage en help hy my om koekies aan ’n hele paar winkels te voorsien. Hy praat met gesag oor sy bakwerk en spog by sy vriende en familie met proesels uit sy steeds groeiende repertoire. Ek het hom leer bak, ja, maar hy het my gehelp om grense te skuif, my skanse te laat val en my hart vir die lewe oop te maak.

Maak nie saak of jy ’n Marian, Maria of Maswazi is nie – trek daardie koekpanne nader en bak al die seer weg. En, as die tertjies flop (nie sommer nie!), kan jy altyd die pot uitlek. Ons weet mos hoe goed sjokolade vir die seer is.

Karen se Sjokolade-pekantertjies

Lewer ongeveer 20 – 24 tertjies

Vir die kors
1½ koppie koekmeel
’n knippie sout
6 eetlepels botter
60- 80 ml yswater

Vir die vulsel
125 g botter
100 g donkersjokolade
1 koppie strooisuiker
2 eiers, liggies geklits
1 teelepel vanielje-ekstrak
4 eetlepels koekmeel
1¼ koppies pekanneute, grofweg gekap
24 heel pekanneute vir versiering

Maak eers die kors: Plaas die koekmeel en sout in ’n groot mengbak en vryf die botter liggies met jou vingerpunte in die mengsel totdat dit soos growwe mieliemeel lyk. Voeg die yswater bietjie-vir-bietjie by en meng liggies totdat jy ’n maklik hanteerbare deeg het. Bedek die deeg met kleefplastiek en laat dit 30 minute in die yskas rus. Rol dit uit op ’n meelbestrooide oppervlak en gebruik ’n koekiedrukker wat effens groter as die gaatjies van jou 12-gat-tertjiepan (pattypan) is. Druk 24 sirkels uit – jy sal nie met die eerste rolslag al die deegsirkeltjies uitgedruk kry nie. Druk die sirkeltjies vas in elke gaatjie van die tertjiepanne wat liggies met ’n oliesproei gespuit is. Maak die deeg wat oorgebly het bymekaar en rol dit uit, druk soveel sirkeltjies uit as wat jy kan en herhaal totdat jy al die deeg opgebruik het. Jy behoort 24 te kry – genoeg om twee 12-gat- tertjiepanne vol te maak. Moenie stres as jy minder tertjies uit jou mengsel kry nie. Maak die randjies netjies en gebruik ’n vurk om die bodems van elke deegsirkeltjie oraloor te prik. Hou die pannetjies in die yskas terwyl jy die vulsel voorberei. Smelt die botter en sjokolade saam in ’n kastrol oor die laagste hitte. Haal dit van die stoofplaat af en roer die strooisuiker, eiers en vanielje by. Sprinkel die koekmeel oor en meng goed. Roer die neute by en skep ’n eetlepel van die vulsel in elk van die tertkorsies. Plaas ’n heel pekanneut bo-op die vulsel van elke tertjie. Bak vir 20 minute in ’n voorverhitte oond van 200°C. Haal die tertjies uit op ’n draadrak en laat heeltemal afkoel. Eet dit net so saam met ’n lekker koppie tee of koffie. Of bedien dit saam met roomys vir ’n heerlike, dekadente nagereg.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top