Troossop met bene

  • 5

Ek wil so staan-staan gaan. Voor die stoof. Met my houtlepel in die hand.  

’n Mens kan nie kies waar jou einde gaan wees nie. Dis blote genade as jy in jou eie bed jou oë toemaak en slaap om nooit weer wakker te word nie. Of in ʼn hospitaalbed met dokters en verpleegsters om jou. En as jy gelukkig is, iemand wat omgee, by jou om jou hand vir oulaas vas te hou. Maar dalk, net dalk, is jy die wenner van daardie eersteklas-kaartjie – om te gaan terwyl jy besig is met iets waarvoor jy lief is.

Soos my pa. Hy het een Saterdagmiddag in November opgestaan na ʼn middagslapie en gaan hardloop. Hy het nog vir oulaas daar bo van die pad af die branders gesien. En net daar, met die reuk van see en melkhout in sy neusgate, het hy neergesak.

Vir my moet hulle daar voor die stoof kry. Met ʼn lekker pot sop stadig pruttende. Nie met kleinkoekies of  ʼn koek in die oond en ’n klokkie wat met ’n hees geskree vergeefs roep nie. Ook nie ’n bredie nie, want dié kan naderhand begin vasbrand. ’n Sop het darem nog ’n entjie om te gaan. Wanneer hulle my daar van die vloer af optel, moet die geur wat daar in die kombuis hang die verhuisingsmanne* vir ’n oomblik laat vergeet van dood en verganklikheid. As hulle my goed genoeg geken het, sal hulle weet ek sou wou gehad het hulle moet eers aansit en eet. En my gees sal bokant die tafel huiwer en wag vir die akkolade: “Maggies, maar dié vrou kon darem sop kook!”

Hopelik sal hulle my aan my sop onthou as die vrou met die hart wat groter was as haar eina-klein kombuis. Want sop is omgee-kos. Jy kan nie sop kook sonder om jou siel in die pot uit te stort nie. Moenie by my kom met kortpad-sop nie – ’n blikkie van dié en ’n blikkie van daai argeloos saam gemoer. Die meeste soppe  is so vinnig om te kook dat jy regtig nie ’n verskoning het nie. Jy kan ’n tiemie-en-patatsop binne ’n halfuur op die tafel hê. ’n Kerrie-en-klappermelk-aartappelsop is net so gou om te maak. Selfs ’n aartappel-en-prei-sop sal maar min van jou tyd in beslag neem. ’n Geroosterde tamatiesop neem so ’n bietjie langer – net soveel langer as wat dit vir die tamaties in die oond neem om stadig te rooster. Maar dis lekker soppe vir anderdag.

Vir daardie laaste maal wil ek ʼn lang sop kook. Lekker dik en laag op laag die geur ingebou. Met elke slukkie moet jy voel hoe die krag deur jou liggaam vloei en die warmte behaaglik hier op jou maag kom lê. Dis die sop waarvan my ma potte vol op die ou koolstoof gekook het destyds toe my pa hoof van die klein skooltjie op Volmoed was. My pa het geglo ’n kind kan nie op ’n leë maag leer nie. Maar dit was nie net die honger kinders wat beker in die hand gaan toustaan het vir die sop nie. Die onderwysers het self hul beurt afgewag. En ek het op my deel aangedring, want dis mos my ma se sop.

Dawid Kruiper saam met Dirk de Villiers.

Ek het so ’n troossop met bene in vir oorlede oom Dawid Kruiper en sy mense van die Khomani San gekook. Dit was toe die afgevaardigdes van die Khomani San van die Kalahari af geryloop het om met Thabo Mbeki, toe nog president, te kom praat. Hulle het in die hartjie van die winter in hul lendekleedjies voor die parlement stelling ingeneem. Dié vreemde groepie het oor my pad gekom deur die legendariese rolprentmaker, Dirk de Villiers, wat destyds, vir sewe jaar lank tot en met sy dood, my sielsmaat en beste vriend was. Dirk het vir oom Dawid en sy mense leer ken toe hy sy rolprent Kalahari Harry gemaak het. En toe hy hoor van dié storie, het hy kos aangedra (meestal van die kolonel se hoendertjies) na die hotel waar die regering op die ou einde vir oom Dawid en sy mense laat bly het.

Daardie Sondag, toe oom Dawid en sy mense saam met ’n Britse joernalis Seinheuwel toe is, is ek en Dirk met die groot pot sop wat ek oornag gekook het, saam die heuwel uit. Ons het net daar met die sop in bekertjies en ’n paar broodrolletjies piekniek gehou. Die windjie was koud en die wintersonnetjie baie yl. Maar, het oom Dawid gesê, wie kry dan nou koud as die sop so warm op jou maag lê.

Vir mý sop het jy regte bene nodig. Laat jou slagter sommer daar voor jou oë ’n been opsaag – sorg dat hy jou nie afskeep nie en dat jy so ’n paar lekker murgbene tussenin kry. Wanneer jy by die huis kom, kan jy dit met ’n bietjie asynwater afwas voor jy jou sop begin kook.

Troossop met bene

Jy het nodig:

3 eetlepels olie
1 kg sopbene
3 groot uie, fyngekap
3 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
1 rooi brandrissie, pitjies en naatjies verwyder en fyngekap
1 x 3 cm knoets vars gemmer, geskil en fyngekap of gerasper
1 x 3 cm knoets vars borrie, geskil en fyngekap (opsioneel)
Sout en varsgemaalde swartpeper
8 - 10 koppies beesvleisaftreksel
7 middelslag aartappels, geskil en in kwarte gesny
7 middelslag wortels, geskraap en in muntstukkies gesny
3 selderystingels, met blare en al opgekap
½ van ’n middelslag kopkool, gesnipper
3 tamaties, grofweg gekap
’n Groot hand vol gekapte vars pietersielie

Verhit die olie in ’n swaarboompot en pak die bene mooi op die bodem van die pot sodra die olie begin warm word. Voeg 1 gekapte uie by en braai vir so ’n paar minute saam voordat jy die knoffeltoontjies, brandrissie, gemmer en borrie byvoeg. Meng goed en geur met sout en peper. Voeg 2 koppies van die vleisaftreksel by. Bedek die pot en laat vir ongeveer 1 uur liggies prut. Loer af en toe of die bene nie vasbrand nie en gee die pot so ’n roer of twee.

As jy ’n murgdief is, is dit nou die tyd om daardie sagte bederf met ’n lepeltjie uit te skep en so op jou eie te geniet. Plaas die bene weer terug in die pot saam met die ander – daar is nog hope geur aan, al het jy skelm die murg geëet. As jy jou murg met ander wil deel (so onselfsugtig is ek nie), kan jy ’n paar murgbene, een vir elke bord, eenkant hou en net voor jy die sop opdien, dit effens opwarm, in elke sopbord plaas en die sop bo-oor skep.

In elk geval, terug by die sop – gooi die groente en pietersielie in die pot en meng goed met die bene en die lekker sous wat onderin die pot gevorm het. Geur met sout en peper en giet die res van die aftreksel in die pot. Bedek die pot en laat liggies vir nog ’n uur lank prut. Haal die bene versigtig uit en gebruik ’n handmenger om die sop te verpulp tot die tekstuur waarvan jy hou. Voeg nog ’n bietjie aftreksel by en meng goed as die sop te dik is. Geur met sout en peper en nog ekstra vars gekapte pietersielie.

Los maar die opskeppery vir die verhuisingsmanne – my werk hier is klaar.

*Met apologie aan Ernst van Heerden

Lees ook

Die eenvoud van dinge

  • 5

Kommentaar

  • Mmm lekker!! Ek hoop jy onthou ek verjaar op 16 Augustus en daai resepteboeke...🤔???🤣😘🌹

  • Dis goed om te weet. Min dinge motiveer my soos 'n sperdatum - ek stuur daardie resepteboeke voor jou verjaardag.

  • Avatar
    Lukas van Wyk

    Karen Hart, ek was saam met jou voor daai stoof en het die murg bene se botter-sagte murg geproe want dis hoe jou vermoeë om te skryf, my meegesleur het. Ek kook my sop nooit minder as drie tot vier ure nie want die lekker lê in die bereiding van die pot sop.

  • Baie dankie, Lukas, vir die mooi woorde. Ja, sop kook is die wonderlikste terapie. Jy raak weer heel terwyl jy kook en jy dra daardie heling oor aan die mense wat saam met jou om die tafel gaan aansit.

  • Avatar
    Johann H Claassen

    Lekker sopperige storie vir die winter. So bly dat jy jou pa en vir Volmoed ook deel gemaak het van die bestanddele. Ek het lekker gelees en jy moet dan nou maar kook tot iemand jou kom haal.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top