Karen Hart

’n Maandagskind gebore onder die sterreteken Vis – tegelyk ’n straf én ’n seën. Want dit beteken dat ek na ’n leeftyd van eweveel vreugdes en ontnugterings steeds in sprokies glo. Dis hierdie geloof in feëverhale en die onmoontlike wat gemaak het dat die lewe vreemde ompaaie met my geloop en dat baie van my drome op die vreemdste denkbare maniere waar geword het.

Ek het oorkant Sir Anthony Hopkins aan ’n tafel gesit en ’n onderhoud met hom gevoer toe ek op daardie oomblik ’n terugflits kry van ’n foto’tjie wat destyds, op my tiende verjaardag, van my saam met die destydse blink glanssterre van ons eie land, Min Shaw, Lance James, Fanus Rautenbach en die klavierspeler Len Brauer, geneem is.

Ek was veertien jaar oud toe ek vir my maats gesê het ek gaan eendag ’n tydskrif begin. Ek kan nog presies onthou in watter klaskamer ek gesit en die skakerings van lig wat deur die venster geval het toe ek die aankondiging gemaak het. Presies 25 jaar later het ek daar by die drukkers met die eerste uitgawe van tvplus! In my hand gestaan. Dié het ek begin terwyl ek as vermaakredakteur vir Huisgenoot en You gewerk het.

’n Loopbaankrisis en die daaropvolgende verveling in ’n sieldodende werk het my eindelik tot introspeksie gedwing en ek het besef wat my eintlike twee liefdes is: skryf en kook. Die liefde vir kook, as ek nou terugkyk oor my lewe, was ’n fyn goue draad wat van die begin af vervleg met my hele wese – van kleintyd al.

Maar dit was eers toe ek met my eerste man getroud was en skielik oor die wintermaande gekonfronteer is met ’n vrieskas vol wildsvleis van die plaas af dat ek ingespring het om myself behoorlik te leer kook. Ek het afgesit na die enigste boekwinkel op Graaff-Reinet en Kook en Geniet het my bybel geword. Die belangstelling het ’n passie, wat baiekeer grens aan obsessie, geword.

Met alles wat in my lewe gebeur het en die loopbaan as vermaakjoernalis, het dié ou potjie begeerte iewers op ’n stoofplaat staan en prut. En toe ek nou skielik sit met ’n werk wat passieloos die ure vul, was ek gereed vir die groot droom. Ek het so half per ongeluk begin lees aan Julie Powell se Julie & Julia, lank voor Hollywood nog gedagte aan die fliek gekry het. Op daardie oomblik het ek besef dis hoe ek my twee groot liefdes kan kombineer. Dis hoe my kosblog Toorkombuis gebore is.

Die naam Toorkombuis het so half vanself gekom – die alchemie van die kospotte het daarvoor gesorg. Dink net – jy verhit ’n bietjie olyfolie in ’n pot, voeg ’n gekneusde knoffeltoontjie, sonryp tamaties en ’n paar basiliekruidblaartjies daarby en jy skep die mees ongelooflike pastasous. Suiwer betowering!

Van my grootbase het die blog raakgesien en my gevra om te vryskut as kosredakteur vir die tydskrif Kuier. Ek het ook betrokke geraak by Isabella Niehaus se Market at the Palms, ’n spesialis-kosmark, waar ek Saterdag na Saterdag agter my tafel gestaan en my soetgebak verkoop het. Ek bak nou nog vir ’n handjievol lojale ondersteuners en ’n paar winkels. Elke Donderdagmiddag, skuins na twee, gesels ek met die luisteraars van Radio Kaapse Kansel oor my liefde vir kook.

Ek het reeds twee boeke, Toor met Hoender en Maalvleis, in opdrag van die uitgewer Human & Rousseau, gepubliseer. Nou werk ek aan my gróót, gróót droom – ’n resepteboek met stories en smulgeregte uit my Toorkombuis.

Niks kom by tuisgemaakte malvalekkers nie

Karen Hart Kos en wyn 2020-05-26

"Malvalekkers is vir my feetjiekos, sagte kussinkies van genot – hopeloos te veel suiker en net te lekker om nié toorkos te wees nie."

Hart-kos: Karen Hart oor kos en COVID-19

Naomi Meyer, Karen Hart Onderhoude 2020-05-21

"Kook en bak was nog altyd vir my terapeuties, en nou nog meer as tevore. Ek het jare gelede die hartseer van my sielemaat se dood só verwerk – van vroegoggend tot laataand voor die stoof gestaan en kook."

Natuurlik is ek bang

Karen Hart Kos en wyn 2020-04-16

"Vir my mense maak ek skottels vir die saamwees. Ons het miskien die stories ontgroei, maar die gesels hou nie op nie en die stiltes praat ook."

Bou jou burger met regte maalvleis, niks anders nie

Karen Hart Kos en wyn 2020-03-17

"En daar kry ek toe my Big Mac. Dit was koud en ek was honger en dié burger het heel goed afgegaan. Maar ek het ook besef ek sal nie huil as ek nog vyftig jaar vir die volgende een moet wag nie. Ek maak eerder my eie."

Boere-souttert sonder grêndgeit

Karen Hart Kos en wyn 2020-02-27

"Die tert weet nog steeds waar hy vandaan kom en giggel so in sy binneste oor die aanstellerigheid van sy grênder niggies, die quiches."

Regte outydse suurlemoenstroop

Karen Hart Kos en wyn 2020-02-10

"En so met die lees besluit ek – by hierdie huis gaan ek ’n suurlemoenboom plant, hier in die agterplaas tussen die twee lukwartbome en die koejawelboom."

Die allerlekkerste roomys

Karen Hart Kos en wyn 2020-02-03

“Agterna het my pa ons na die promenade in Seepunt geneem en daar het ek, nog aan die sweef van die musiek, saam met my pa en my broer draairoomys in die aandskemer langs die see geëet.”

Mango met hoogsomer in die lyf

Karen Hart Kos en wyn 2020-01-07

“In die sappige vlees en soet smaak van ’n mango proe jy die oordaad van hoogsomer. En dis ’n ou vruggie wat jy ook nie sommer so in ordentlike geselskap kan eet nie. Die beste manier om ’n mango te eet, sê hulle, is om die badkamerdeur te sluit, jou klere uit te trek en in die bad te klim.”

Top 10-resepte 2019: Karen Hart se keuse

Karen Hart Kos en wyn 2019-12-19

“Dis die gereg wat ek gaan maak wanneer die stilte neerdaal ná die woelinge van die Kerstyd, wanneer ek saam met my huismense om die kombuistafel gaan sit en nabetragting hou en ons, sat geëet aan feeskosse en die oorskiet daarna, hunker na ’n skotteltjie eenvoudige trooskos.”

Splinterkoekies vir krismis

Karen Hart Kos en wyn 2019-12-05

“In vaalkos skuil baie keer meer geur en ’n magdom van smaakontploffings as op die borde waarop aspirerende klein kunswerke uitgestal is. En moenie ’n koekie aankyk en beoordeel voordat jy daardie eerste hap gevat het nie …”

Poue, bloubessies en bittersjokolade

Karen Hart Kos en wyn 2019-11-21

“Dit was nie altyd maklik nie, ja, maar wanneer daardie poue die bloubessies uit jou hand pik en jou lank en takserend met ’n oeroue wysheid aankyk, vergeet jy van al die rondhollery en hoe duur daardie bessies is.”

Terug Karooveld toe met rooibos en lam

Karen Hart Kos en wyn 2019-11-07

“Maar hierdie kombinasie van rooibos en lam neem my ver terug, iewers na ’n groot stoep wat uitkyk oor die Karooveld. Dan sit en luister ek na die stilte en kyk na die skemermis wat oor die doringbome by die droë rivierloop hang. Trooskos, troostee, my klein hoekie in die ewigheid.”

Lamsboud – die heel lekkerste is die onthou

Karen Hart Kos en wyn 2019-10-24

“Toe staan daardie twee daar onder die Karoo-sterrehemel en sing die liefdesduet uit Don Giovanni soos ek dit in my lewe nooit weer sal hoor nie – saam met Dirk, saam met die onthou …”

Pophuise en pampoenkoekies vir die onthou

Karen Hart Kos en wyn 2019-10-09

“Dan verlang ek sommer na al die aande voor die ou Aga-stoof in die kombuis en my ma wat vir ons Alba Bouwer se Stories van Rivierplaas voorlees. En die pampoenkoekies met die dik laag kaneelsuiker wat onder jou tande kraak wanneer jy in die sagte geel in byt.”

’n Kombersie vir erfenismaand

Karen Hart Kos en wyn 2019-09-26

“Een van my Ouma se ou resepte, wat ek kleintyd leer ken het as Ouvrou-onder-die-kombers, ken baie ander bloot as koolfrikkadelle ...”

Top