Eiers is belangrik

  • 0

Foto: Pixabay

Ek kry skoon die ritteltits wanneer iemand vir my sê: “Ek is maar hopeloos in die kombuis – ek kan nie eens ’n eier kook nie!” Om ’n eier te kan kook – of op watter manier ook al gaar te maak – sit nie in enigeen se broek nie. Of laat ek dit liewer so stel, as jy ’n voorskoot om jou lyf kan vasmaak, beteken dit nog nie jy kan reg aan ’n eier laat geskied nie.

Jy hoor my nie maklik in ’n restaurant kla nie en ek sal nie maklik ’n bord terugstuur kombuis toe nie. Dis te veel van ’n onaangenaamheid en ek hou nie daarvan om my tafelgenote te laat wonder of hulle nou maar kan eet of moet sit en wag tot ek ook eindelik weer ’n bord voor my het nie. Daardie eetplek sien my net nooit weer nie.  Tensy dit iets kleins was wat maklik reggestel kan word. Dan sal ek dit agterna in die eienaar se oor fluister.

Maar wanneer dit met ’n moedswilligheid met eiers kom ... Ek het een oggend met ’n ontbyt saam met vriende in een van die hier-moet-jy-gesien-word-eetplekke my bord drie keer teruggestuur. Ek kon nie anders nie. Die gebakte eiers was swart gebrand aan die onderkant en skaars gestol aan die bokant. En elke keer wanneer die bord weer tafel toe kom, was dit dieselfde storie.

Dit was ’n oopplan kombuis en jy kon duidelik sien die hittige bakplaat is op volume ingestel, baie op ’n slag baie vinnig gaargemaak, met min of geen respek vir ’n hoendereier nie. Die eienaar het die hele petalje van agter die kasregister sit en gade slaan en nie ’n spiertjie verroer nie.

........

Oor ’n eier voel ek steeds soos toe ek as kind met ’n mandjie deur die opening in die houtheining geklim en saam met Klein Doortjie al met die voetpaadjie langs na ouma Nanka se eenvoudige huisie geloop het. Dan het ons gehelp om onder die bossies te soek na die weglê-eiers van die werfhoenders. Want ouma Nanka was al oud en die eiers wat ons kom koop het, die enigste manier om haar karige pensioen aan te vul.

........

Oor ’n eier voel ek steeds soos toe ek as kind met ’n mandjie deur die opening in die houtheining geklim en saam met Klein Doortjie al met die voetpaadjie langs na ouma Nanka se eenvoudige huisie geloop het. Dan het ons gehelp om onder die bossies te soek na die weglê-eiers van die werfhoenders. Want ouma Nanka was al oud en die eiers wat ons kom koop het, die enigste manier om haar karige pensioen aan te vul.

(Ek het nou nog daardie mandjie. Dit hang op ’n ereplekkie in my kombuisvenster tussen al my heksies.)

En ek kry baie lag wanneer ek dink hoe baie ek deesdae betaal vir vryloopeiers wat nie naastenby kom by dié van ouma Nanka se werfhoenders nie. Die ongelooflik talentvolle Sonia Cabano, wat so tragies dood is in hierdie vreemde tye, het eenkeer gesê as sy so duur vir ’n eier moet betaal, wil sy ten minste weet wat die hennetjie se naam is. Ouma Nanka het hulle almal by die naam geken. En jy kon dit proe.

.......

Die ongelooflik talentvolle Sonia Cabano, wat so tragies dood is in hierdie vreemde tye, het eenkeer gesê as sy so duur vir ’n eier moet betaal, wil sy ten minste weet wat die hennetjie se naam is.

........

My eie oupa Frans is dood toe ek agt jaar oud was. Hy was ’n hele paar jaar lank bedlêend. Maar daar was ’n tyd toe hy nog soggens opgestaan het om by die lang tafel in die eetkamer te gaan ontbyt eet. Hy wou niemand saam met hom aan tafel hê nie, daarom het hy lank voor die ander huismense gaan aansit. Net ek kon by hom sit.

Hy het sy British Made Checkback-kamerjas en sy pantoffels aangetrek en aan die hoof van daardie lang eettafel gaan sit. Vandat ek kan onthou, was daardie tafel altyd gedek – ’n spierwit damasktafeldoek met ’n beskermende plastiekkleed, deurskynend wit met die mooiste ragfyn patroontjies, ook in wit, bo-oor, agt plekke gedek met tafelmatjies, gestyfde wit servette en ’n volledige stel eetgerei vir ’n driegangmaal. Selfs wanneer dit net Oupa en Ouma in die huis was. En hulle het selde of nooit nie saam by ’n tafel aangesit. Ek dink nie hulle kon mekaar eintlik verdra nie en met die ouderdom het dit net erger geword.

Vroegoggend was dit net ek en Oupa. Hy het altyd met sy pap begin. Dan het hy die porseleineierkelkie met sy gekookte eier nadergetrek en met een haal die kop van die eier met sy mes afgekap. Dié het hy vir my gegee – dié dat ek vandag nog so lief is vir die wit van ’n gekookte eier. (En daardie kamerjas lê vandag nog veilig weggebêre in ’n hoekie in my kas.)

Wanneer ek luister hoe mense vertel van hul kosallergieë, kry ek skoon ’n benoudheid oor my bors. Dan dink ek so in my enigheid by myself: Ek sal, hoewel maar baie traag, van brood en pasta afskeid neem. Maar eiers ... ek kan my nie die lewe sonder eiers voorstel nie!

Verlede Januarie, met korona en alles wat daarmee saamgaan so deel van ons lewe, het ek ’n vreemde uitslag op my lyf gekry. Moet tog asseblief nie dat ek skielik allergies vir eiers geword het nie, was my eerste gedagte. En ek het die onvermydelike uitgestel totdat ek nie langer kon nie en die gejeuk my na die dokter toe gedryf het. Dit was toe nie die eiers nie, maar ’n vreemde virus wat sy tyd geneem het om my lyf te verlaat. Met korona en al die dinge vergeet ’n mens van al die ander nare goed wat net sit en wag om jou plat te duik wanneer jy dit die minste verwag.

Ek sê net dankie dat ek nog kan eiers eet ...

Wanneer ek ’n lang en uitmergelende kosfotosessie vir die tydskrif agter die rug het, ure van agter die stoof staan en ’n geskarrel in die kombuis om geregte gereed te kry vir die kamera, dink ek nie eens om te proe aan die skottels vol genot wat ek met soveel sorg voorberei het nie. Nee, al waarna ek smag, is ’n eenvoudige roereier op roosterbrood. (Die brood is ook nie so belangrik nie – solank die eier daar is.)

My roereier word in botter gaargemaak. Ek smelt eers die botter in ’n pannetjie oor matige tot warm hitte en ek wag totdat die pan behoorlik warm is voordat ek die eier met ’n katspoegie melk in ’n emaljebakkie met ’n ballonklitser klits en in die pan gooi. Wanneer die eier begin stol, geur ek dit met sout en peper. Dan neem ek ’n houtlepel en trek groot krulle oor die bodem van die pan. Ek soek sagte rondings, nie krummels nie. Die roereier moenie doodgebrand wees nie, net-net gestol, met nog so ’n effense blink klammigheid.

Só het klein Dasha ook van haar roereier gehou. Dié klein blonde dogtertjie het ek ontmoet toe ek agter my marktafel by The Palms in Woodstock gestaan het. Haar ma is ’n Rus en haar pa ’n Nederlander. Mooi mense en die mooiste kind. Ek het vandat sy twee jaar oud was, elke jaar haar verjaardagkoek gebak. En sy was nie veel ouer toe sy die eerste keer daarop aangedring het om alleen by my te kom kuier om kolwyntjies te bak nie.

......

Dit het my ’n hele dag en ’n half geneem om weer orde te skep in my huis wanneer haar ma haar kom haal het en ek het lank ná die besoek nog blinkertjies en koekversierings agter stoel- en tafelpote opgetel.

........

Dit het my ’n hele dag en ’n half geneem om weer orde te skep in my huis wanneer haar ma haar kom haal het en ek het lank ná die besoek nog blinkertjies en koekversierings agter stoel- en tafelpote opgetel.

Sy was baie lief vir die hoender wat ek vir haar vir middagete gemaak het, maar haar groot gunsteling was roereier. Met haar laaste kuiertjie, net voordat hulle weer landuit is, het sy die trapleertjie in die kombuis nader gesleep en langs my by die stoof kom staan om te kyk hoe ek die roereier maak. “Jy moet vir my ma wys hoe jy dit doen wanneer sy my kom haal,” het sy gesê.

Ek het gehoop sy het vergeet, want hoe moet ek nou haar ma in die oë kyk? Maar haar ma was skaars by die deur in toe sleep sy ons albei kombuis toe. Gelukkig het die mooi blonde Rus ’n baie goeie sin vir humor en ken sy al haar dogter se streke. 

.......

Maar ná Dasha se vertrek het ek geweet geen roereier sou haar ooit weer terugbring nie. En die klein blonde dogtertjie, wat gelag het in haar slaap, het my met ’n deurmekaar kombuis en ’n groot leemte in my hart agtergelaat.

.........

Maar ná Dasha se vertrek het ek geweet geen roereier sou haar ooit weer terugbring nie. En die klein blonde dogtertjie, wat gelag het in haar slaap, het my met ’n deurmekaar kombuis en ’n groot leemte in my hart agtergelaat.

Hierdie resep is nie vir roereier nie, maar vir die allerlekkerste Marokkaanse eierdis. Wanneer jy die dag met só ’n ontbytskottel begin, kry selfs die verlangende hart weer iets nuuts om na uit te sien.

Karen se Marokkaanse tamatie-eiers

Genoeg vir 4

3 eetlepels olyfolie
1 groot ui, fyngekap
1 teelepel fyn koljander
1 teelepel paprika
’n knippie rooipeper
2 x 400 g-blikke geskilde, gekapte tamaties in hul sous
3 eetlepels vars gekapte pietersielie
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
3 eetlepels varsgekapte koljanderblare
8 eiers
2 eetlepels water.

Verhit die olie in ’n groot swaarboompan en braai die ui oor matige tot lae hitte totdat die ui sag en deurskynend is. Roer die fyn koljander, paprika en rooipeper by en braai vir ’n minuut of twee saam. Voeg die tamaties en hul sap en die pietersielie by en geur met sout en peper. Verhoog die stoofplaat se hitte tot matig tot warm en laat onbedek prut totdat die sous lekker dik word – dit neem ongeveer 10–15 minute. Skep die tamatiemengsel in die bak van ’n tagine, bedek die tagine met sy keëlvormige deksel en plaas in ’n voorverhitte oond van 180 ºC vir ongeveer 10 minute. (Jy sal waarskynlik die boonste oondrak moet uithaal en die onderste een so laag as moontlik moet insit om die tagine in die oond te laat pas.) Klits die eiers met 2 eetlepels water totdat die witte en gele net-net gemeng is. Giet die eiers oor die agterkant van ’n metaallepel oor die tamatiemengsel sodat dit eweredig oor die oppervlak versprei en die tamaties heeltemal bedek. Geur met sout en peper, bedek die tagine en plaas terug in die oond vir 13–15 minute of totdat die eierlaag opgepof en gestol het. Besprinkel met vars koljanderblare en bedien onmiddellik.

Wenk: Jy kan die gereg ook in ’n groot swaarboompan met ’n koepeldeksel oor matige hitte op die stoofplaat gaarmaak. Bedek die pan en kook vir 15 minute of totdat die eiers opgepof en gestol is.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top