Shaleen Surtie-Richards, my hart is seer

  • 3

Shaleen Surtie-Richards in Shirley Valentyn (Foto: Produksiereklame, Baxter-teater)

........

In hierdie tyd van afsondering en dood het min sterftes my so hard geslaan soos Shaleen Surtie-Richards se skielike weggaan, al was sy nie familie van my nie, ook nie ’n intieme vriendin nie – al het dit baie keer so gevoel.

........

My hart is baie seer.

In hierdie tyd van afsondering en dood het min sterftes my so hard geslaan soos Shaleen Surtie-Richards se skielike weggaan, al was sy nie familie van my nie, ook nie ’n intieme vriendin nie – al het dit baie keer so gevoel.

Want Shaleen het die vermoë gehad om elkeen wat oor haar pad gekom het, baie spesiaal te laat voel. Ek was ’n jong en onervare TV-joernalis toe ek jare gelede ’n onderhoud met Shaleen moes doen. ’n Jaar of wat voor die uitreiking van Fiela se kind het ek by Huisgenoot begin werk en was nog baie groen. Ek was ’n bewerige bol senuwees toe ek daar by Shaleen kom, maar het soos ’n wafferse Graham Norton gevoel toe ek daar weggaan.

Ons het mekaar beter leer ken op die stel van Nag van die negentiende (Koos Roets se rolprent waarin ’n toe nog bloedjong en onbekende Embeth Davidtzs haar debuut gemaak het). Ek en fotograaf Corrie Hansen is Lambertsbaai toe vir ’n eerste, eksklusiewe storie. Koos en sy span was besig om nagtonele te skiet, maar dit was ook een van die min kere dat die meeste van die akteurs, en ook die draaiboekskrywer, PG du Plessis, saam op die stel sou wees. ’n Goeie tyd vir ’n lekker storie.

Dit was bitter koud daar op die kaai tussen die vissersbote en agterna het almal versterking en ’n lekker warm bord kos gaan soek in die Lambertsbaai-hotel, waar almal tuisgegaan het. Ek en Shaleen het dik stukke gesels en tot laatnag saamgekuier.

Ons het lekker gelag omdat nie een van ons twee ’n bestuurlisensie gehad het nie. Destyds al, nog lank voor die dae van Uber, het ons taxi gery. “My dear,” het sy in ’n verhoogstem en met ’n teatrale gebaar gesê, “we don’t drive – we get driven!”

Toe gebeur Nenna ...

Franz Marx se sepie Egoli – hart van goud, was een van die grootste gebeurtenisse in ons TV-geskiedenis. Vóór 1991 was daar die amperse-sepie Cul-de-sac, maar verder was kykers uitgelewer aan ’n daaglikse dieet van Hollywood-sepies. Met Egoli het Franz gekom en daardie honger na ons eie gestil – die storie, die karakters het sommer baie gou deel van elke huishouding geword. Veral toe die sepie nog in oopkyktyd gebeeldsaai is en almal toegang gehad het.

Elkeen van die akteurs het baie stories oor die manier waarop kykers op hul karakters gereageer het. David Vlok, wat die rol van die bose Tim Vorster gespeel het, het vertel hoe ’n vrou hom in ’n casino met ’n sak munte oor die kop geslaan het.

Maar daar was net een Nenna ... In haar rol as Nenna het Shaleen ons almal se uitkyk-antie geword. Sy was een van die mees geliefde karakters in ons TV-geskiedenis. In die Paasuitgawe van Kuier vertel sy in ’n onderhoud met Kuier-kollega Ernusta Maralack: “My ouma se naam was ook Nenna en dit was ’n fees om haar te speel.”

Sy kry innerlik lekker, skryf Ernusta, en die trots sit vlak wanneer sy sê: “Waar die ander (Egoli-) akteurs twee bodyguards gehad het, het ek vier gehad (by openbare verskynings). Ek onthou een aand by ’n roadshow het 35 000 mense gecheer vir my. Dit was fenomenaal!”

Maar tipies Shaleen, bly sy nederig. “In elke gemeenskap is daar ’n Nenna, dis hoekom mense so mal was oor my.”

Nenna het ook ’n baie glansryke, maar hardvogtige alter -ego in die sepie gehad – haar tweelingsuster Ruby. Dié het Shaleen met net soveel oorgawe gespeel. Maar Ruby, in haar ontwerperspakkies, juwele en swaar grimering, het min aanhang onder die kykers geniet. En toe sy nog boonop nie genoeg wys hoe dankbaar sy is vir die nier wat Nenna haar geskenk het nie, was haar doppie geklink.

Maar wanneer jy Shaleen by een van die vele glansfunksies in die bedryf raakgeloop het, was dit nie die huislike Nenna wat daar op die rooi tapyt verskyn het nie, maar ’n glansryke Ruby in ontwerpersrokke en juwele.

Net een met baie meer hart ... want midde al die roem en aandag het Shaleen altyd die vrou met die groot hart gebly. Sy het nog steeds spesiaal moeite gedoen om ander mense op hul gemak te stel en in hulself te laat glo. Sy het altyd tyd gehad om jong, onervare akteurs aan die hand te neem en te help. Gaan lees maar op sosiale media – nou, ná haar dood, is daar soveel dankbare stemme wat vertel van die invloed wat sy op hul lewens gehad het.

Shaleen het self hard gewerk om naam as akteur te maak in ’n tyd toe dit meer aanvaarbaar was om ’n wit akteur met grimering “bruin” te smeer as wat dit vir ’n bruin akteur was om ’n voet op die heilige verhoog van die destydse Nico Malan te sit. Maar sy het gekies om nie op ’n seepkissie te spring en ’n groot lawaai te maak daaroor nie. Sy het al haar passie en energie in haar werk gestort en dit vir haar laat praat.

Shaleen het my nie net gehelp toe ek ’n onervare, jong vermaakjoernalis was nie. Sy het my met elke tree wat ek in my loopbaan gegee het, ondersteun en aangemoedig. Ek kon haar enige tyd bel vir ’n aanhaling in ’n artikel – sy het my nooit laat voel ek oortree of maak inbreuk op haar tyd nie.

Toe ek die tydskrif TVplus! begin het, het sy elke bekendstellingsgeleentheid bygewoon om haar steun aan die nuwe en toe nog wankelrige projek toe te sê.

En toe ek jare later my rug op die vermaakbedryf keer en oor kos begin skryf, het sy selfs ingewillig om ’n resep te deel. Sy was maar ontuis in die kombuis, het sy self erken, maar vir my maak sy ’n uitsondering. Juis omdat sy so onbeholpe voor die stoof is, het sy erken, benader sy elke resep soos ’n wetenskap-eksperiment – sy meet eers al die bestanddele met die grootste noukeurigheid af voordat sy begin kook.

Maar die nuwe loopbaan het gemaak dat ek al hoe minder kontak met Shaleen gehad het. Daar was die enkele kere wanneer sy ’n verhoogoptrede in die Kaap gehad het en ons ’n paar minute agterna in haar kleedkamer gekuier het.

Ek was geskok en hartseer toe ek in Ernusta se artikel in Kuier van haar swaarkry lees. Dit was ironies genoeg in dieselfde uitgawe waarin my tafel van oordaad met die Paasfeeskos gepryk het.

Vir my sal Shaleen die enigste Fiela Komoetie bly. Daar sal nooit weer ’n Nenna wees nie. En ek het my smaak vir die oorspronklike fliek verloor nadat ek Shaleen op die verhoog in Shirley Valentyn gesien het.

Maar waar was die “gecheer” van die skare van 35 000, die bewonderaarsbriewe en die staande ovasies toe sy haar rekeninge moes betaal?

......

Maar waar was die “gecheer” van die skare van 35 000, die bewonderaarsbriewe en die staande ovasies toe sy haar rekeninge moes betaal?

........

Ek glo nie Shaleen sal onthou wil word vir die sukkelbestaan wat sy hier teen die einde gevoer het nie. Maar ek weet ook dat sy sal wil hê haar storie moet help om hierdie onreg reg te stel en te sorg dat ander akteurs nie dieselfde paadjie loop nie.

Want dis die soort mens wat sy was.

Rus sag, Shaleen. Ek gaan jou mis.

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Sherrilyn Lloyd

    Sy was voorwaar 'n besonderse mens en - aktrise. So jammer dat, wanneer 'n bruinmens op enige vlak besonders presteer, dat sy/hy uitgeskuif word van alle kante af; tot haar/sy dood! Dan word hul weer erken. Dit moet asb stop ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top