Vir die voëls – tydens die feesseisoen

  • 2

Foto’s van hoendergereg en voëltjiebad: Karen Hart

Vergeet van Boney M en “Little drummer boy”. Of al die ander blinkgepoetste Krismisliedjies wat al van Oktober af in die winkels speel. Nie een van daardie spookasemtreffers gaan in elk geval die virus uit hierdie Kersfees haal nie.

Die lied wat deesdae in my kop draai, is Mary Poppins se “Feed the birds”. Ek wens ek kon sê ek onthou dit uit my kleintyd, maar ek weet nie of ek as kind die fliek gesien het nie. Ek glo nie. Ek het eers baie laat in my lewe voor die betowering geswig. En dis hierdie lied wat in hierdie vreemde koorstye en met die naderende Kerstyd my reddingsboei geword het.

Early each day to the steps of Saint Paul’s
The little old bird woman comes.
In her own special way to the people she calls,
“Come, buy my bags full of crumbs.

Come feed the little birds, show them you care
And you’ll be glad if you do.
Their young ones are hungry,
Their nests are so bare;
All it takes is tuppence from you.”

Feed the birds, tuppence a bag,
Tuppence, tuppence, tuppence a bag.
“Feed the birds,” that’s what she cries,
While overhead, her birds fill the skies.

All around the cathedral the saints and apostles
Look down as she sells her wares.
Although you can’t see it, you know they are smiling
Each time someone shows that he cares.

Though her words are simple and few,
Listen, listen, she’s calling to you:
“Feed the birds, tuppence a bag,
Tuppence, tuppence, tuppence a bag.”

Daar is ook ’n wonderlike storie aan die lied verbonde. Dis deur Julie Andrews gesing, ja, maar die voëlvroutjie wat in hierdie toneel van die rolprent verskyn, is gespeel deur iemand vir wie Walt Disney, die vervaardiger van die prent, ’n groot bewondering gehad het – die aktrise en Oscar-wenner Jane Darwell. Sy was toe al diep in die tagtig en het nog hier en daar ’n rolletjie gespeel, maar het haar optredes tot een ’n jaar beperk. Sy het vir onse Walt laat weet sy het nie die geld of die blootstelling nodig nie en dankie, maar nee dankie. Toe klim hy in sy limousine en ry na die ouetehuis waar sy gebly het. Oor ’n paar koppies tee het hy toe al sy sjarme gebruik om haar te oorreed om die rol te aanvaar. Sy het so gevlei gevoel deur sy aandag dat sy eindelik ingestem het. Walt het ’n limo gestuur om haar na die stel te neem. Dit sou haar laaste optrede voor die kameras wees.

Die boodskap is duidelik: Kom tot stilstand en maak tyd vir die klein dingetjies, want dis wat eintlik belangrik is. En die eintlike rede waarom die lied my so diep raak, is dat dit juis dít is wat weer sin aan my opstaan in die oggende gegee het – om vir die voëls kos te gee.

.......

Die boodskap is duidelik: Kom tot stilstand en maak tyd vir die klein dingetjies, want dis wat eintlik belangrik is. En die eintlike rede waarom die lied my so diep raak, is dat dit juis dít is wat weer sin aan my opstaan in die oggende gegee het – om vir die voëls kos te gee.

........

Dit het alles begin by ’n onskuldige opmerking van ’n buurvrou. Sy het ’n paar oorryp papajas op my kombuistafel sien lê en my vertel hoe geniet die voëltjies die oorryp vrugte wat sy in haar tuin vir hulle uitsit. Ek het begin om te vertel van die blatjang wat ek daarvan wil kook en hoe ek eintlik nie voëltjies wil nader lok met klein Bliksem, my gemmerkat, in die rondte nie. (Hy verbeel hom hoeka hy is Tarzan van die Oerwoud wat vir die kospotte moet jag – asof die peperduur katkos van die veearts nie genoeg is nie!)

Maar ek het voor my siel geweet ek stry teen my beterwete. Die voëltjies kuier reeds in my tuin. Hulle sing my elke oggend vieruur wakker. En hulle wéét van Bliksem ...

Die papajas het toe nooit weer blatjang geword nie. Ek het dit mooitjies in die lukwartboom uitgesit in ’n leë hangplanthouer wat ek daar aan ’n tak gehaak het. Dit was die begin van die einde ...

Die muisvoëlgesinnetjie wat in my tuin kom woon het, het die bak papajas vir hulleself toegeëien. Jy kon net ’n paar rooi handjies sien vasklou aan die kabels van die hangmandjie. Die volgende oomblik het ’n parmantige kuifkop vir jou geloer en dan sien jy die lang stert.

Ek het gou agtergekom hulle hou nie van papajapitte nie. Ek het maar geduldig die pitte uitgeskraap en met ’n warm hart die mandjie weer skoongemaak wanneer net die skilletjies agterbly. En dan weer vars papaja gesny vir die klein fynproewervoëls ...

As jy eers begin het om voëls te voer, word dit ’n verslawing. Ek kan hoe dikdood en depressief in die oggend opstaan, maar as ek die agterdeur oopmaak en die voëltjies my groet, word my hart lig en ek spring aan die werk.

Dit het ook nie net by papajas gebly nie. Ek besluit toe om vir my die mooiste voëlbad te koop – my geskenk aan myself vir daardie gróót verjaardag wat hier met die koorstyd so stil verby gegaan het.

En nog is dit het einde niet ... Die volgende op die lysie was ’n klein houthuisie vir die voëlsaad en nog ’n kleiner bamboeshuisie op ’n paal. Ek het gou gesien die pakke voëlsaad van die supermark is heeltemal ontoereikend en gaan my baie gou bankrot maak. Toe bestel ek maar sakke van 10 kg wat deur twee hoogs geamuseerde manne met ’n vragmotor afgelewer word. Dié hou ook nie lank nie ...

Maar wanneer ek soggens by my kombuistafel sit en koffie drink, kyk ek reg op die houthuisie met die saad. Ek verwonder my aan die mossies se ronde lyfies en die kwaai mossiemannetjie wat die duiwe, drie keer so groot soos hy, van sý kos af wegjaag.

Die duiwe maak ’n oorlas van hulleself, maar hulle moet ook mos eet. Wanneer ek sien dat hulle begin oorneem, storm ek buitentoe. En dis byna ’n windstorm soos die dertigtal duiwe skielik opvlieg. Maar deesdae vlieg hulle ook nie eens te ver nie. En ek het nou die dag, toe ek hulle wou gaan jaag, my knie nerf-af geval toe ek in my haas die onderste trappie misgetrap het. Miskien is dit ’n boodskap van die heelal, het ek by myself gedink.

Dié voëlvoerdery kom van ver af, het ek nou die dag skielik besef. My oupa het my kleintyd, toe hy al bedlêend was, met ’n sakkie mieliegruis uitgestuur om die voëls te gaan voer. Daar was twee afgesaagde palmbome in die voortuin op Prins Albert. Net die stompe het oorgebly en met dié dat dit effe afgesak het in die middel, het dit die perfekte voerbakke gevorm. Dis daar waar ek die mieliegruis moes strooi.

My oupa het op sy dag van die grootste voëlhokke gehad wat omtrent ’n hele erf beslaan het. Daarin het hy die mees eksotiese voëls aangehou. Dié het hy op sy reise versamel. Hy het ’n roltabakfabriek gehad en handel gedryf met ver plekke soos Malta. Maar lank voor my geboorte al het hy die hokke en die voëls aan die Queen’s Hotel op Oudtshoorn geskenk. Ek hou nie van voëls in hokke nie, maar dis net met die liefde vir die voëls en die opdrag om te voer waarmee hy my die wêreld ingestuur het.

.......

Die voerdery bly ook nie net by die voëls nie. Ek is op my gelukkigste wanneer ek ’n tafel vol mense kan kos gee. Iewers in ’n ander lewe was ek seker ’n Italiaanse mama wat al haar kinders en familie om ’n tafel laat aansit en borde vol pasta gevoer het.

.......

Die voerdery bly ook nie net by die voëls nie. Ek is op my gelukkigste wanneer ek ’n tafel vol mense kan kos gee. Iewers in ’n ander lewe was ek seker ’n Italiaanse mama wat al haar kinders en familie om ’n tafel laat aansit en borde vol pasta gevoer het.

Ek steur my nie eintlik aan tierlantyntjies wanneer dit by kos of tafeldek kom nie. My tafel kreun onder skottels wat my mense laat steun van lekkerkry.  Varsgebakte brode en bakke wat aanvanklik maar vaal lyk, maar jou met die proeslag laat regop sit.

En wanneer daar onverwags kuiermense oor etenstyd opdaag, het ek geleer om met ’n paar hoenderstukke en ’n pakkie rys ’n smaaksensasie te skep – en meer as genoeg vir almal wat wil saameet.

Soos hierdie Kubaanse gereg, Arroz con Pollo, oftewel rys met hoender. Lekkerder kry jy nie. Selfs die duiwe kan maar kom saam eet.

Karen se  hoender-en-rys-skottel

Genoeg vir 6

3 eetlepels olie
12 hoenderstukke
4 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
2 teelepels rissievlokkies
1 eetlepel witasyn
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
1 groot ui, fyngekap
1 van elk rooi, groen en geel soetrissie, wit gedeeltes en pitjies verwyder en in repies gesny
1 rooi brandrissie, pitjies en naatjies verwyder en in stukkies gesny
4 tamaties, in stukkies gekap
1 teelepel fyn komyn
2 lourierblare
4 koppies hoenderaftreksel
1 teelepel borrie
2 koppies rou rys.

Verhit die olie in ’n swaarboomkastrol en verbruin die hoenderstukke daarin. Voeg die knoffel, rissievlokkies en asyn by. Geur met sout en peper na smaak. Braai vir ’n paar minute saam. Voeg die ui, soetrissie, brandrissie, tamaties en kruie by en smoor vir ongeveer 10 minute saam. Hou net goed dop dat dit nie aanbrand nie. Voeg die lourierblare, aftreksel en borrie by. Bedek die pot, verlaag die hitte en laat vir 20 minute lank prut. Voeg die rys by, bedek die pot en laat vir 20 minute prut. Moenie roer nie. Haal die deksel af en laat ’n paar minute so oop kook totdat baie van die vloeistof weggekook het. Dit moet nog baie klam wees – dis dan op sy lekkerste. Verwyder die lourierblare en skep net so uit die pot uit op.

Wenk: Dink hierdie feestyd aan die alleenmense wat met net ’n ryskorrel en ’n bietjie geselskap tevrede sal wees. Niemand kan hartseer of depressief wees as hy ’n ander gelukkig maak nie.

  • 2

Kommentaar

  • Anina vd Spuy

    Ek sal Rusthof se kuiers ewig in my hart koester. Jy toor inderdaad: met kos EN met my kop 😍

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top