Beskuit

  • 4

Foto van die beskuit: Karen Hart. Foto van die koffie en beker: Pixabay

Nero het viool gespeel terwyl Rome brand. Ek bak koekies en beskuit. Die koekies is vir bestellings – in moeilike tye soek mense troos in tuisgebak. Maar die beskuit is vir die huis.

Min dinge is so lekker soos ’n lekker stukkie beskuit saam met jou oggendkoffie. My eerste koppie koffie drink ek net so. Sonder beskuit. Ek maal eers die bone vir my mokka. Enkeloorsprong – Guatemala. Lekker donker gerooster. Wanneer die dag lank en swaar lyk, haal ek die bone uit wat my broer vir my gerooster het. Dié word diep weggebêre vir daardie oggende wanneer die wêreld swaar op jou skouers lê.

Met die tweede koppie haal ek die beskuit uit. Ek is ’n knibbelaar, nie ’n dompelaar nie. Ek eet eers ’n happie beskuit, net so, droog, voordat ek ’n slukkie koffie neem. My hart breek wanneer ek ’n stukkie beskuit in die koffie dompel en die sawwe stukkies nes skrop op die bodem van my koppie. Daarom wissel ek ’n droë happie met ’n slukkie koffie af.

Toe ek op universiteit was en in die koshuis gebly het, was die gewilde kuierplek saans by die een wat lekker beskuit van die huis af gekry het. Want koffie en ’n eetdingetjie moes troos wanneer die lawwe aandklokreël ons agtuur saans ingehok en opgesluit het. G’n wonder ons moes almal vakansies by die huis op ’n streng dieet gaan om die volgende semester weer in ons klere te kon pas nie.

Ek het in ’n stadium uitgegaan met ’n fisikahonneursstudent wat hopeloos te slim was en wie se idee van ’n lekker naweekafspraak was om saam in die Fisika-gebou te gaan sit en swot. Ek was ’n eerstejaar en dit was beslis nie my idee van pret nie. Veral nie wanneer die geur van bloureën en jasmyn swaar in die lug gehang het nie ...

Maar die man was baie mooi, lank en donker, en boonop het sy ma vir hom ’n hele 10 liter-plastiekemmer vol beskuit saamgestuur wat hy met groot seremonie by my aangedra het met die opdrag om dit te hou vir wanneer hy by my kom koffie drink (wat baie gereeld was). Nodeloos om te sê, ek was die gewildste meisie in die koshuis en toe ek hom die dag die emmer in die hand stop en die deur wys, was daar aansienlik minder beskuite oor. Teen daai tyd was ek so moeg vir die slimme meneer dat ek nie eens skuldig gevoel het nie.

Nou bak ek my eie beskuit ... soos my ouma dit destyds gedoen het. Selfs my ma, wat nog nooit eintlik lief was vir die kombuis en nog minder vir bak nie, het ons af en toe met baie lekker beskuit verras. Tot sy ’n volgende keer met die resep begin peuter het.

Ons ou Boerenasie het ’n lang geskiedenis wanneer dit by beskuite kom. Biltong en beskuit is ’n onlosmaaklike deel van ons kultuur.

Volgens HW Claassens in Die geskiedenis van Boerekos 1652–1806 kom die woord beskuit uit die Frans en beteken dit “twee keer gebak”. Die woord het inslag gevind en is gekies bo die dialektiese Nederlandse woord tweebak. Dit was eintlik nie so snaaks dat hulle die Franse woord gekies het nie. Die meeste Nederlanders was daai tyd Frans magtig. Frans was gedurende die vorige eeu die amptelike taal van Nederland. Trouens, die heerser van daai tyd, Willem die Swyger, se huistaal was Frans.

Claassens vertel dit het alles begin toe die Franse hul soldate oorlog toe gestuur het met ’n slopie van dié goed – biscuit de guerre het hulle dit genoem. Dit was sulke regte klinknaelbeskuite (soos die goed wat my ma gebak het wanneer sy geweier het om by die resep te hou), “haas oneetbare beskuit van meel en water”, aldus Claassens. Ek stel my voor as die soldate onder mekaar stry gekry en hulle mekaar met dié goed getakel het, kon hulle net sowel op die slagveld gewees het.

Die VOC se skeepsbeskuite was nie veel beter nie. Claassens haal Peter Kolbe (“Naauwkeurige Beschryving van de Kaap de Goede Hoop”) aan. Dié goed was glo so hard dat ’n mens dit “naauwlyks met de tanden kan meester worden”.

En toe die tantes saam met Jan van Riebeeck op daai skip klim en die eerste keer van daai beskuite proe, het hulle met ’n tongklik al begin dink hoe hulle, wanneer hulle weer aan wal kom, hul hande in die deeg gaan steek en daai ou reseppie gaan verbeter.

Maar dit sou ’n hele paar jaar neem. Volgens Claassens was onse Jan en sy mense vir ’n hele paar jaar aangewese op “hartbrood”, die gedroogde brood wat deur die skepe daar aangebring is. Partykeer was dit so muf wanneer dit daar afgelewer word dat dit sommer dadelik vir die varke gevoer is. Dis nou volgens die inskrywings in Jan se dagboek.

Die tantes was toe al meer as keelvol. En teen die tyd dat die eerste twee beskuitresepte in De Volmaakte Hollandsche Keukenmeid van 1761 verskyn (aldus Claassens), toe was die tantes hier aan die Kaap al vlytig aan die bak – lank voor die gepubliseerde ou reseppies – en die matrose het behoorlik bakhand gestaan vir slopies van daai bederfies. Ook die reisigers wat die lang verkenningstogte na die binneland moes aanpak.

“[V]ersoeke is meermale tot die burgers gerig om beskuit aan vlote te lewer. Op 25 April 1740 is alle ingesetenes van die Kaap byvoorbeeld gevra om aan goewerneur Swellengrebel te rapporteer hoeveel beskuit hulle in die volgende week aan die Engelse vloot sou kon lewer. Toe die inwoners van die Kaap op 4 Maart 1760 met ’n plakkaat verbied is om enige gebak aan die Franse vloot te lewer, was daar na raming reeds dertigduisend pond beskuit verkoop” (Claassens).

My eie lang geskiedenis met beskuit het begin met die soetsuurdeegbeskuite wat ons kleintyd saam met oggendkoffie aan my ouma se blougeverfde geelhouttafel (!) in die kombuis langs die ou houtstoof sit en eet het. Karringmelk bly my gunsteling, die ongesonde spierwit een. Maar ek sal glad nie nee sê vir sy meer polities korrekte nefie met die growwigheid en al daai heerlike sade in nie.

Dis daardie een wat ek bak terwyl die land brand.

Karen se lekker semelryke karringmelksaadbeskuit

1 kg semelverrykte bruismeel
1 koppie suiker
1 koppie volkoringmeel
1 koppie semels
1½ koppie gemengde sade (jy kry wonderlike saadmengsels by die supermark of by gesondheidswinkels)
1 eetlepel bakpoeier
1 teelepel sout
2 eiers, liggies geklits
2½ koppies karringmelk
400 g gesmelte botter, gesmelt en afgekoel.

Plaas al die droë bestanddele in ’n groot mengbak, meng goed en maak ’n gaatjie in die middel waarin jy die karringmelk, geklitste eiers en gesmelte botter gooi. Roer nou totdat alles goed gemeng is. Neem twee reghoekige gesmeerde panne van ongeveer 20 x 30 cm en verdeel die mengsel gelykop. Maak dit mooi gelyk bo-op en bak in ’n voorafverhitte oond van 180˚ C vir ongeveer 30–40 minute of tot goudbruin. Wanneer jy ’n metaalpennetjie insteek, moet dit skoon uitkom. Laat dit vir vyf minute afkoel voordat jy dit op ’n draadrak uitkeer en heeltemal laat afkoel voordat jy dit in netjiese vingers sny. Pak die vingers so ’n paar millimeter uitmekaar op bakplate en droog in ’n baie koel oond (60–70˚ C) vir ongeveer 6–8 uur of oornag. Gebruik ’n houtlepel om die oonddeur effe oop te hou sodat die klammigheid kan ontsnap terwyl die beskuite droog. Die resep lewer ongeveer 80–100 beskuite en kan in ’n lugdigte houer tot ’n maand lank hou.

Wenk: As jy ’n groter hoeveelheid beskuit op ’n slag wil bak, maak dit eerder in sarsies aan sodat jy dit makliker kan meng. Moenie meer as die hoeveelhede hier bo op een slag in een mengbak probeer aandurf nie.

 

  • 4

Kommentaar

  • Karen, dankie vir die resep. Toe ek nog op skool was, was ons koshuisgangers smiddae getrakteer met, wat ons klinkers genoem het, by die koffie. Ons was verplig om dompelaars te wees, want geen tand kon dit sommer so droog kou nie. Dit het ook maar moeilik gegaan, want die goed was so groot dat dit moeilik was om dit by die koffie te kry.

  • Baie dankie vir hierdie interessante stuk geskiedenis. My seun in Australië het die resep gevra, want sy dogtertjie van vyf vra aanhoudend vir beskuit.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top