’n Sprokie en ’n boek vir ’n hartskombuis (en ’n resep vir Karen se Repelsteeltjies)

  • 0

Prent: Darkmoon_Art, https://pixabay.com/illustrations/baker-vintage-cooking-cake-recipe-5905622/

Ek vrek oor kookboeke – en ek het letterlik duisende daarvan. Baie daarvan het ek self gekoop, nuut van die winkelrak af, maar die meeste is tweedehands. Dié het ek gekoop van ou boekwinkels, opslaantafels op die Parade en by markte en liefdadigheidstafels. En hoe meer my versameling begin groei het, hoe meer het vriende en kennisse begin aandra - hope ou resepteboeke, reseptekaarte, knipsels en ou handgeskrewe resepte.

My eerste twee resepteboeke het ek as verjaardaggeskenke in my vierde jaar op universiteit gekry. Daardie jare was jy al verlore vir die samelewing as jy nie al met ’n verloofring aan jou vinger gespog en gedroom het van hoe jy jou eie kombuis gaan inrig nie. Ek het nie die ring gehad nie en het pas nog ’n “droomman” die trekpas gegee.

Vir my het die ring en die kombuis my in die volgende jaar sommer baie vinnig ingehaal. Binne ses maande was ek verlief, verloof en getroud. Ek moes baie vinnig leer kook en die twee resepteboeke wat ek present gekry het, sou nie werk nie – dié was vir onthaal in styl, nie om te sorg dat jou man elke maaltyd ’n bord kos voor hom het nie. En wat maak jy met ’n vrieskas vol wildsvleis van die plaas af?

........
Toe loop ek maar by die enigste boekwinkel op die dorp in en koop vir my ’n Kook en geniet. Dit was die begin van my kookboekverslawing en die eerste treë op die wonderlike kombuisavontuur wat uiteindelik my hele lewe sou verander.
............

Toe loop ek maar by die enigste boekwinkel op die dorp in en koop vir my ’n Kook en geniet. Dit was die begin van my kookboekverslawing en die eerste treë op die wonderlike kombuisavontuur wat uiteindelik my hele lewe sou verander.

Die huwelik het nie gehou nie, dramaties ten einde geloop ná sewe maande wat eerder soos sewe jaar gevoel het. En my kookboekversameling het op die skrapse drie bly staan – die twee geskenkboeke en Kook en geniet.

Twee jaar later, met ’n nuwe man aan my sy en ’n kombuisie in die Bo-Kaap, snuffel ek toe dié boek uit op die Parade: The new family cook book, onder redaksie van Ruth Berolzheimer. Dit het my ’n volle R8 gekos.

Dis ’n vreeslik dikke boek – 947 bladsye en dan nog ’n indeks van nog 66 bladsye. Dié boek vertel jou alles wat jy moet weet van kosmaak en die inrig van ’n kombuis. Dis ou resepte, ja, maar dit werk.

Ek kon nie anders nie as om te glimlag toe ek ’n paar jaar ná my kosbare aankoop op die kosblad van ’n koerant lees hoe die rubriekskrywer liries raak oor ’n spysenier wat met ’n ongelooflik oorspronklike idee vorendag gekom het – soetpatatskyfies wat op dieselfde manier as aartappelskyfies gemaak word. Miesies Ruth het al in 1950 daarvan geweet.

In haar voorwoord sê sy: “The personality of a cookbook is as apparent as it is important. It is composed of known and stable ingredients with unknown and elusive ones to make a mixture as familiar, friendly and exhilarating as a pine wood early on a summer morn.”

En dis omtrent die beste beskrywing van die warmte wat in my hart kom lê wanneer ek so deur my kookboeke blaai.

..........
In haar voorwoord sê sy: “The personality of a cookbook is as apparent as it is important. It is composed of known and stable ingredients with unknown and elusive ones to make a mixture as familiar, friendly and exhilarating as a pine wood early on a summer morn.”
En dis omtrent die beste beskrywing van die warmte wat in my hart kom lê wanneer ek so deur my kookboeke blaai.
.............

Twee van die boeke laat my altyd glimlag en met deernis terugdink aan ’n baie spesiale mens wat ’n baie groot rol in my lewe gespeel het. Juffrou Bertha Smit was hoofredakteur toe ek destyds by die uitgewers begin werk het. Sy was deel van die dertigers en het hulle almal goed geken – NP Van Wyk Louw, WEG Louw, Hettie Smit  en so aan – en ek kon my verluister aan haar stories.

Maar die lekkerste een was haar eie “kosstorie”. Sy het my vertel sy weet niks van kosmaak nie. Sy het al geskryf toe ander meisies van haar ouderdom voorskoot aangestrik en deur ma by die kombuiskultuur ingelyf is. Maar sy was min gepla. Saans het sy vir haar ’n aartappel gekook, ’n tjop gebraai en ’n stukkie tamatie daarby gesny. Elke aand.

Toe sy in haar nuwe woonstel in Seven Oaks intrek, het haar gay buurman, wat haar toe skaars geken het, haar gevra om na sy plante te kyk terwyl hy in Frankryk gaan toer. Om dankie te sê bring hy toe vir haar Mastering the art of French cooking, wat Julia Child in medewerking met Louisette Bertholle en Simone Beck geskryf het. In ’n swierige handskrif het hy voorin geskryf: “Pour mon amie des plantes, lekker kook!”

Van die Franse kookkuns het niks gekom nie. Buurman het ná verskeie gekookte aartappels, tjops en tamaties sy fout agtergekom. Toe gee hy vir haar Cook book for clots met dié inskripsie: “To the biggest of them all!”

Ek het dié twee boeke, saam met ’n hele aantal eerste uitgawes van digbundels, by haar gekry toe sy uit haar woonstel trek om by haar suster te gaan woon.

En so het elk van die duisende kookboeke op my rakke sy eie komvandaanstorie. Ek mag miskien so ’n bietjie vergeet het, maar die oomblik wanneer ek ’n boek oopslaan, begin die hele storie weer voor my afspeel.

Ek het ook ’n hele paar prettige kookboeke: ’n resepteboekie vir meerminne en een vir lekkernye wat jy in die bed kan sit en eet. En dan is daar dié een: Esmelia Sniff se How to cook childrena grisly recipe book for gruesome witches. Die boek gee nuwe betekenis aan “Irish stu with little dumplings”!

My destydse buurvrou het met haar drie seuntjies kom kuier en een van hulle ontdek toe dié boek in my rak. “Look, Mom! How to cook for children!”

“No, my dear,” sê sy gemaak ernstig. “Read carefully. ’How to cook children.’ You’re on the menu.”

Ek lees my kookboeke soos ’n storieboek. Hoe minder prentjies en foto’s hoe beter, want die lekkerste is om die prentjie self in jou kop op te tower. Die wonderlikste is om die dag te begin met ’n lekker koppie koffie van varsgemaalde bone en ’n resepteboek op my skoot.

’n Paar jaar gelede het ek aan die gesels geraak met die eienaar van die winkeltjie waar ek altyd DVD’s gaan uitneem het. Toe kom dit uit dat hy eintlik ’n bekende kosskrywer is en dat hy my passie vir kookboeke deel.

.........
Hy vertel my sy buurman het eenkeer vreeslik verskoning gemaak dat hy hom en sy lewensmaat een aand laat kom opklop het – so asof hy gedink het hy het ’n passievolle aand van bedkaskenades onderbreek. “My dier,” giggel die kosskrywer, “na agtien jaar saam, is die enigste passie wat ons deel, die resepteboeke wat ons in die bed lê en lees!”
............

Hy vertel my sy buurman het eenkeer vreeslik verskoning gemaak dat hy hom en sy lewensmaat een aand laat kom opklop het – so asof hy gedink het hy het ’n passievolle aand van bedkaskenades onderbreek. “My dier,” giggel die kosskrywer, “na agtien jaar saam, is die enigste passie wat ons deel, die resepteboeke wat ons in die bed lê en lees!”

My lekkerste lees is die ou resepteboeke wat ek in stowwerige ou winkeltjies opgediep het. Baie keer is daar verskuilde notas, ou koerantberiggies wat sorgvuldig uitgeknip en tussen die blaaie bewaar is. Ek het ’n hele kis vol ou knipsels en handgeskrewe resepte, maar as ek eers daar begin lees, vergeet ek van alles en almal om my.

Hierdie ou reseppie van ’n ou gunsteling het my ouma nog vir my neergeskryf toe ek ’n dogtertjie van sewe was. Sy het vir my die sprokiesresep gegee, dit Repelsteeltjies genoem. “Dis omdat jy nie mooi weet of dit soet of sout genoem moet word nie, nes die prinses gesukkel het om Repelsteeltjie se naam te raai.”

Eers jare later het ek uitgevind die naam is eintlik Lepelsteeltjies, omdat die agterkant van ’n houtlepel se steel gebruik word om die gaatjies te druk. Maar dit maak nie saak nie. Ek kies die sprokie. Vir my bly dit Repelsteeltjies. Ek gebruik in elk geval nie ’n lepelsteel nie, maar rol die deeg uit en druk dit mooi uit. Soos my ouma my geleer het.

Karen se Repelsteeltjies, oftewel Ouma se sprokietertjies

Lewer ongeveer 84 eina-klein tertjies

3 koppies fyngerasperde cheddarkaas
250 g botter
2 koppies koekmeel
’n knippie sout
1 koppie gladde appelkooskonfyt.

Room die botter en die kaas saam. Voeg die koekmeel en sout by en vorm ’n deeg met jou hande. Draai dit toe in kleefplastiek en laat ’n halfuur in die yskas rus. Rol die deeg dun uit op ’n meelbestrooide oppervlak en druk met ’n koekiedrukker sirkels uit. Voer die gaatjies van ’n minimuffinpannetjie elkeen met ’n sirkel uit. Skep ’n halwe teelepeltjie appelkooskonfyt in elkeen en bak vir ongeveer 15 minute lank in ’n voorverhitte oond van 200º.

Wenk: Jy kan die resep met gemak halveer of verdubbel. Maar dink twee keer voordat jy dit minder maak – hierdie sprokietertjies smelt in die mond en jy kan nie genoeg daarvan kry nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top