My kombuis word herfs

  • 2

Kwepers en speserye: Pixabay

Die blommetjies-en-bloeisel-brigade kan maar by lente sweer – herfs is vir my die mooiste, mooiste tyd van die jaar. Dis nie net oor ek in hierdie tyd gebore is en ek die koper en goud van die herfsson met verjaardagfeestelikheid assosieer nie. Nee, ek is een van daardie skadukinders wat stil-stil vier, met miskien ’n handjievol vriende en ure en ure van introspeksie.

Hier in die stil straat waar ek nou bly, het ek nie die uitsig oor die hawe en die see van my Woodstock-huis nie. Maar met elke uitkykslag sien ek ’n stukkie berg, reg rondom my. En dan is daar my tuin, met die janfrederik wat kort-kort in die kombuis kom kuier, die hadida wat elke dag sy feesmaal van slakke kom opeis, en die voëlbasaar soggens in die groot peperboom teenaan my heining. Die naaldekoker dans om my wanneer ek tuin natlei met wonderlike, wonderlike boorgatwater.

........

Die winter omvou my met ’n trooskombers van soppe en bredies. Dis pampoenkoekies en pannekoek met kaneelsuiker wat onder jou tande knars. Lente bring lig en lewe. 

........

Dis asof ek hier in my popspeel-plaashuis-sonder-die-plaas baie meer bewus is van die seisoene se kom en gaan. Nou, met herfs, hoor ek soggens van vroegdag af al die bye by die bloeisels van die lukwartbome voor my kombuisvenster. Dié bome blom hierdie tyd van die jaar om vroeglente vrugte te maak. En voor my agterdeur vlam die eerste boslelie.

Maar nêrens elders as in die kombuis raak ’n mens so bewus van die wisseling van die seisoene nie ...

Die winter omvou my met ’n trooskombers van soppe en bredies. Dis pampoenkoekies en pannekoek met kaneelsuiker wat onder jou tande knars. Lente bring lig en lewe. Dis ’n veerligte pavlova, met styfgeklitste room, aarbeie en bessies en stroop. En jy begin hoopvol speel met piekniekkos. Somer bars uit sy nate uit met wellustige mango’s en waatlemoene, stroopsoet druiwe en lietsjies wat in jou mond oopbars. Dis slaaibakke vol genot op kraakwit tafeldoeke onder koeltebome. Braaivleis met marinades en vryfmengsels en opslaantafels wat kreun onder bykosse.

........

Maar niks kom by herfs nie ... dis ’n kleurespel en ’n rykdom van smake en geure. My kombuis word herfs in die warm hart van pampoene en borrie, die ryk rooi van paprika en tamatiesop. Ek meng en maal kerriepoeiers en speserye. Ek soek die sagte lyfies van ryp, ryp vye, die oorweldigende soet van hanepoot en granate wat oopbars in robynrooi pitte.

.........

Maar niks kom by herfs nie ... dis ’n kleurespel en ’n rykdom van smake en geure. My kombuis word herfs in die warm hart van pampoene en borrie, die ryk rooi van paprika en tamatiesop. Ek meng en maal kerriepoeiers en speserye. Ek soek die sagte lyfies van ryp, ryp vye, die oorweldigende soet van hanepoot en granate wat oopbars in robynrooi pitte.

En dan is daar die kwepers ...

Wanneer my groenteman vir my die eerste kwepers bring, dink ek onwillekeurig aan dié strofe uit die gedig van George Weideman:

En dan sal ek my boetseermes slyp,
en uit die lemmetjiegroen en saffraangeel
seepsteen van die Sandveld
sal ek die kwepers bollig en buikig
en onverstoorbaar brons daar sitmaak:
hul vlesige keëls ’n herinnering
aan die tye toe hul ikone was
vir Afrodite, met tinte van amber,
skakeringe van muskus.”
    – “Granate en kwepers: ’n stillewe” uit Verskombuis (Protea Boekhuis, 2006)

Van Afrodite se geheime en van die vrug se ryke verlede het ons kleintyd nie geweet nie. Dit was groot pret om te kyk wie kan die hele frank vrug opeet sonder dat jou kiewe heeltemal inmekaartrek. En die afwagting om by die stronk met sy jellie uit te kom. Ek onthou nog goed hoe ek as klein dogtertjie eendag in die veld so loop en konsentreer het op die kweperstronk dat my voet aan die bloudraad van ’n vergete heining vasgehaak en ek my winduit geval het.

Deesdae is die vrugte so anders as dié wat ons van die boom afgepluk het, en jy soek verniet na die jellierigheid in die kern. Skoon winduit van die droogte.

Wanneer ons by my ouma op Prins Albert gaan kuier het, het sy haar spens tydsaam oopgesluit met die bos sleutels wat sy in ’n rek om haar pols gedra het. Dit was ’n Aladdinsgrot van paraffienblikke vol gedroogde Alberta-perskes, gedroogde vyekoeke in waspapier toegedraai, tant Issie se melktert, ’n opgepofte winkelkoek; en dan was daar die kweperlekkers – pienkerige blokke van die lekkerste lekker.

Ek het self al probeer om dié lekkers te maak, maar dit soek die droë lug van die Karoo. Hier in die Kaap het myne nog altyd gemuf voordat dit heeltemal uitgedroog het. Nou kies ek maar naasbeste – kwepers in rooswaterstroop.

Ek is skoon verlief op die sagte pienk wat die vrug verkleur wanneer jy dit kook. En elke keer wanneer ek dit eet, maak ek oë toe en droom van Midde-Oosterse markte en Marokkaanse kossensasies. Soos hierdie kweperlamsbredie van my, deurdrenk met ryke herfsgeure uit my kammaplaaskombuis.

Karen se kweperlamsbredie

Genoeg vir 6

Vir die vleispot
3 eetlepels olie
1,5 kg lamstowevleis (sien wenk)
3 groot uie, fyngekap
1 groen brandrissie, pitjies en naatjies verwyder en fyngekap
1 x 3 cm knoets vars gemmer, fyngekap of gerasper
1 teelepel borrie
2 teelepels fyn koljander
1 heel kaneelstokkie
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
1½ koppie vleisaftreksel

Vir die kwepermengsel
3 eetlepels botter
1 groot ui, fyngekap
3 groterige kwepers, geskil, stronk verwyder en in dik wîe gesny
½ koppie droë appelkose, effens kleiner gesny
3 eetlepels klewerige bruinsuiker

Vars koljanderblare vir garnering.

Verhit die olie in ’n swaarboompot oor matige hitte en braai die vleis en uie liggies daarin. Voeg die brandrissie, gemmer, borrie, koljander en kaneelstokkie by en geur met sout en peper. Meng goed en braai vir ’n minuut of twee saam. Voeg die aftreksel by. Verlaag die hitte, bedek die pot en laat vir 1½–2 uur stadig prut. Maak solank die kwepermengsel: Verhit die botter in ’n pan en braai die ui en kweperwiggies daarin vir ongeveer 15 minute of totdat die kwepers liggoud verkleur. Roer die appelkose en suiker by en voeg by die vleismengsel in die pot. Laat vir nog 30–45 minute liggies prut of totdat die vleis sag en gaar is. Sprinkel vars koljanderblare oor en bedien saam met koeskoes of ’n lekker basmatirys.

Wenk: Ek kies my eie stowevleis – ’n bietjie nek en ’n bietjie skenkel. Maar as die maand nog lank is, kan jy die pakkies stowevleis wat die supermark se slaghuis opmaak, met geruste hart gebruik. Dis ’n lang en stadige kook en die vleis kook heerlik sag. En niks gee meer geur as die vetjies en die bene nie. Maar as jy neusoptrekkerig is, kan jy lamsbladblokkies gebruik. Pas net jou kooktyd ’n bietjie aan sodat jy nie die vleis ’n tweede keer laat sneuwel nie.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top