Kruie en speserye: toorgoed vir ’n nuwe begin

  • 1
...
Ek het weer begin om met my kruie en speserye te eksperimenteer, my spesiale mengsels aan te maak. En met elke flessie wat ek gevul het, het ek die vlam van passie deur my are voel brand. Ek was weer teenwoordig, bewustelik in elke oomblik geanker.
...

Kleintyd het ek saam met maats in ’n weikamp gespeel. My voet het aan ’n stuk bloudraad, die onderste deel van die draadheining, vasgehaak en ek het my winduit geval. Dit het baie lank gelede gebeur, maar ek sal daardie gevoel nooit vergeet nie.

Van verlede jaar April tot so twee maande gelede het ek dit opnuut ervaar – daardie blou-om-die-mond, snak-na-asem-, winduit gevoel. Die hele tyd. Ek het nooit heeltemal bygekom nie.

Daar was goeie én slegte tye, soos dit altyd maar gaan. Maar ek was half afwesig, asof ek van die kantlyn af staan en toekyk ... Of steeds op die grond winduit langs die stuk bloudraad lê.

Ek het hulpeloos staan en toekyk hoe my ma verder van my af wegdryf en diep afgetrek word in die maalkolk van demensie. Ek het gesien hoe my huis, my lewe, my alles saam verswelg word. En daar was niks wat ek daaraan kon doen nie.

Einde Februarie het my huurkontrak ten einde geloop en ek moes voor daardie tyd nuwe blyplek kry. Ek het nou al tot vervelens toe vertel hoe ek en Bliksem, my gemmerkat, op die vooraand van die trek deur die toedoen van ’n gewetenlose eiendomsagent op straat gesit het.

Gelukkig het my ma dit nie beleef nie. Sy was toe reeds veilig opgeneem in die versorgingsoord. (Haar agteruitgang was veel erger as wat ek wou sien en sy bevind haar nou in die demensie-eenheid.)

’n Wonderlike vriendin het haar oor my en my kattekind ontferm. Vir twee maande lank het sy vir ons ’n liefdevolle omgewing geskep. Ek het my asem geleidelik teruggekry en met die groot soektog na ’n eie blyplek begin. Elke dag gesif deur die bietjie wat oorbly wanneer jy ’n troeteldier het en wat selfs nog minder word wanneer jy eers van al die kuberkrakers ontslae geraak het. (Ek dink al daardie skelm sindikate ken my nou al op die naam soos ek hulle uitgesnuffel het!)

Ek het eindelik ’n lekker plekkie gekry waar ek en Bliksem lekker sal kan woon. Ek bevind my nou midde-in ’n berg van kartondose wat uitgepak moet word. Maar daar is nie haas nie. Ek werk elke dag by die nuwe plek, maar gaan saans huis toe na die wonderlike warmte van die tuiste wat Leona vir ons geskep het.

Dit was hier waar ek weer heel geword het. Ek sal ons laatnaggesprekke midde-in kragkaping mis. Sy deel my liefde vir kook en bak en hier by haar het ek nie net my asem teruggekry nie, maar opnuut onthou waaroor dit eintlik gaan. Die wonderlike betowering wat ek so winduit byna vergeet het.

Ek het weer begin om met my kruie en speserye te eksperimenteer, my spesiale mengsels aan te maak. En met elke flessie wat ek gevul het, het ek die vlam van passie deur my are voel brand. Ek was weer teenwoordig, bewustelik in elke oomblik geanker.

Daar is min dinge wat ’n mens die oomblik so intens kan laat ervaar soos ’n goeie kruie- of speserymengsel. Geen mens kan kerrie eet sonder om mondjie vir mondjie die vuur te gaan soek in rissie of fenegriek nie. Jou aandag is by die borrie en koljander, die tikkie mosterd en die papawersaad wat jou so effe onkant betrap.

Maar dit hoef nie noodwendig kerrie te wees nie. Ek skop die nuwe begin af met ’n speserymengsel wat as ’n vryfmengsel ’n ribbetjie laat lewe kry, waarvan ’n eetlepelvol woema aan ’n bredie gee en frikkadelle laat rieldans van genot.

Karen se spesiale speserymengsel

4 eetlepels klewerige donker bruinsuiker
1 eetlepel mosterdpoeier
1 eetlepel sout
1 eetlepel varsgemaalde swartpeper
2 teelepels paprika
1 teelepel droë tiemie
1 teelepel droë oreganum
1 teelepel rooipeper
1 teelepel fyn wonderpeper.

Meng al die bestanddele saam en bêre in ’n lugdigte fles. Ek maak die resep sommer drie-, vierdubbel aan sodat ek altyd ’n flessie byderhand het. Gebruik dit as vryfmengsel en vryf ’n handvol daarvan in vleis of hoender ’n uur voordat jy dit braai of in die oond rooster. Wanneer jy ’n lekker bredie maak, kan jy ’n eetlepel of twee byvoeg en jy hoef geen ander geurmiddels in jou frikkadelmengsel te gebruik nie.

En as jy die winter wil besweer met ’n lekker bredie of ’n sop, maak hierdie kruiemengsel aan. Jy het geen ander geurmiddels behalwe sout en peper nodig nie.

...
Wanneer jy nou eers jou flessie toorgoed byderhand het, kan jy lostrek en die lekkerste geregte skep.
...

Karen se toorgoed – ’n baie spesiale kruiemengsel

1 eetlepel droë origanum
1 eetlepel droë basiliekruid
½ eetlepel droë marjolein
½ eetlepel droë tiemie
½ eetlepel droë kruisementblare
½ eetlepel uiepoeier
½ eetlepel knoffelpoeier
1 teelepel droë mosterdpoeier
1 teelepel sout
1 teelepel varsgemaalde swartpeper.

Meng alles saam en bêre in ’n glasfles of houer wat dig kan toemaak.

Wenk: Koop of doen ’n aanlyn bestelling by ’n kruie-en-speserye-handelaar en bestel jou kruie en speserye in grotermaat aan. Deel die koste met bure, vriende en familie. Dis heelwat goedkoper as winkelgoed.

Wanneer jy nou eers jou flessie toorgoed byderhand het, kan jy lostrek en die lekkerste geregte skep. Begin sommer met hierdie een.

Foto: Erika Tanith van Pixabay

Karen se verrinneweerde varkfrikkies op botterkoolflenterpasta

Genoeg vir 6

Vir die frikkadelle
1 kleinerige ui, fyngekap
1 mollige knoffeltoontjie, gekneus en fyngekap
1 rooi brandrissie, pitjies en naatjies verwyder en fyngekap
1 Granny Smith-appel, geskil, stronk verwyder en fyngekap
’n handvol varsgekapte pietersielie
3 snye witbrood, verkrummel
6–8 varkworsies, vleis uit hul omhulsels gepers
1 teelepel korreltjiemosterd
1 teelepel Karen se kruiemengsel
1 eier, liggies geklits
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
olie vir braai.

Vir die botterkoolflenterpasta
4 eetlepels botter
½ kopkool, stronke weggesny en versnipper
1 eetlepel Worcestershiresous
1 eetlepel Karen se kruiemengsel
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
1 koppie beesvleisaftreksel
500 g fettucine (of enige ander breë lintpasta).

Plaas al die bestanddele vir die frikkadelle (behalwe die olie vir braai, natuurlik) in ’n groot mengbak en gebruik jou hande om dit goed te meng. As jy ’n voedselverwerker wil gebruik, kan jy die eerste ses bestanddele daarin fyn kap en dan in die mengbak met die maalvleis, worsievleis, mosterd, eier, kruiemengsel en sout en peper meng. Die geheim van ’n lekker, ligte los frikkadel is om die vleis nie te veel te manipuleer nie. Vorm die frikkadelle so groot soos tafeltennisballetjies. Verhit die olie in ’n groot pan of pot en braai die frikkadelle vir so ’n paar minute daarin, net sodat dit alkant ’n effense kleurtjie kry. Haal die pan van die hitte af en hou eenkant. Verhit  die botter in ’n groot swaarboompot en braai die kool daarin. Voeg die Worcestershiresous by en geur met die kruiemengsel en sout en peper. Braai totdat die kool begin sag word. Skep die frikkadelle op die kool en meng goed. Moenie bekommerd wees as dit effens opbreek nie. Giet die aftreksel in die pan waarin jy die frikkadelle gebraai het en giet by die koolmengsel. Kook totdat die kool heeltemal sag en die frikkadelle gaar is. Maak intussen die fettucine in soutwater gaar volgens instruksies op die pakkie. Kook ’n minuut of twee langer as wat aangedui word. Dreineer die pasta en roer by die kool-en-frikkadelle-mengsel. Die frikkadelle gaan waarskynlik byna heeltemal opgebreek word. Skep die mengsel in ’n mooi opdienskottel en garneer met varsgekapte pietersielie.

Wenk: Jy kan die frikkadelle heel hou en op die botterkoolpasta bedien of dit soos ’n gewone maalvleismengsel maak en met die kool-en-pasta meng. Maar ek vind dat die gereg baie geuriger is wanneer jy dit maak soos ek hier op die resep verduidelik.

  • 1

Kommentaar

  • Dankie. Ek is mal daaroor om met kruie te speel en te kook. Werk graag met vars kruie uit my tuin en maak pesto's.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top