In memoriam: Cass Abrahams en haar koserfenis

  • 0

Cass Abrahams (Foto: Izak de Vries)

...
Want dis waaroor dit vir Cass gegaan – om te kook vir die mense wat sy liefhet, om te sien hoe mense haar kos geniet.
...

“Dit proe na Cass!” Die woorde van Peter Veldsman ná die eerste skeppie van my wortelsop. Dit bly nog een van die mooiste komplimente en raakste beskrywing van my kook en my kombuis. Dit proe en ruik die ene Cass.

Wanneer mense in my huis kom, kyk hulle verby die stapels vuil skottelgoed en die kombuisvloer wat smeek vir die aandag van ’n mop. Hulle snuif die lug en sê: “Ai, jou kombuis ruik altyd so lekker.”

Vars gemmer, knoffel, rissie, steranys, wonderpeper, borrie, komyn en koljander ...  noem maar op. Dis die geure wat soos ’n wierookofferande in my kombuis hang. Ek maal my eie kerriepoeier, maak garam masala soos Cass dit in haar boek beskryf. Ek stap verby die supermark se karige aanbod en bestel speserye in grootmaat van speseryhandelaars.

Ek maak soos Cass.

Want Cass Abrahams was die een wat vir my ’n koserfenis gegee het. By haar het ek geleer van kruie en veral speserye. Haar boek The culture and cuisine of the Cape Malays het my kosbybel geword.

Ek het gehoor sy was nie meer gesond nie en dat die ouderdom haar ingehaal het, maar die hartseer het my soos ’n swart kombers toegevou toe ek Saterdagaand van haar dood hoor. My enigste troos, ’n skrale een maar darem, was dat ek in die lewe nog kans gekry het om vir haar dankie te sê.

Met Erfenismaand in daardie verskriklike koorsjaar, 2020, en met die verskriklike wete van hoe kort die lewe is, het ek hulde gebring aan hierdie koslegende in my kosrubriek hier op LitNet (https://www.litnet.co.za/erfeniskos-in-erfenismaand). Ek het vir haar die skakel na die skrywe aangestuur om seker te maak dat sy dit sien en sy het vir my die mooiste e-pos gestuur om dankie te sê.

Maar ek is die een wat nie genoeg dankie kan sê nie – vir die inspirasie, vir die mooi herinneringe ...

Dit was ’n groot oomblik toe ek haar die eerste keer in lewende lywe ontmoet het. Maar eintlik het dit gevoel asof ek haar al jare lank ken. Teen daardie tyd was sy en haar resepte al so deel van my kombuis.

Ek was die aand by ’n taamlik pretensieuse aanbieding, ’n koskabaret. Dit het miskien begin as ’n interessante konsep, maar het dié aand jammerlik gefaal. Die enigste ligpunt was Cass, ook een van die gaste, wat by ons tafel kom sit het. Ons het lank na die vertoning nog tot laatnag na haar stories sit en luister.

Ons tweede ontmoeting in lewende lywe het gekom toe ek skaars begin werk het as kosredakteur vir Kuier. Ek het ’n einaklein kombuisie in my woonstel daar teen Leeukop gehad en dis daar waar ek al die geregte moes voorberei vir die fotosessies vir die tydskrif. Daardie een keer moes Cass ook ’n paar resepte vir ’n promosieartikel kom berei. Dit het maar bars gegaan in daardie klein posseël van ’n kombuis, maar sy het vir my die mooiste boodskap voor in my boek geskryf en my agterna vertel sy sê elke aand vir haar man sy bid vir die vrou met die klein kombuis.

Dis een van die dinge wat my altyd sal bybly – haar wonderlike sin vir humor. Sy het my heerlik laat giggel op ’n ander keer toe sy vertel hoe sy ’n groot pot kerrie moes kook vir die een of ander geleentheid. Toe tref die ongeluk haar – die kerrie het suur geword. Sy vertel toe in kleur en geur hoe sy met die pot kerrie moes ry om dit iewers in die veld te gaan begrawe.

Ek het my verstom aan haar eindelose energie. Ons was een jaar saam met die Kuier-span by die KKNK op Oudtshoorn. Cass het eers ’n paar dae later aangekom by die huis waar ek en die Kuier-span tuisgegaan het.

Sy was in Londen en het die oggend daarvandaan Kaapstad toe gevlieg en gou ’n paar inkopies vir haar kosdemonstrasie gedoen voordat sy die vliegtuig George toe gehaal het. Daar het ’n motorbestuurder haar opgepik en oor die berg Oudtshoorn toe gebring.

Dit was al skemeraand toe sy daar aankom. Ek was half besorg oor haar, want sy was toe al in haar sewentigs. Sy het haar bagasie neergesit, by ons almal daar op die stoep kom sit en vol afwagting gevra: “Wat doen ons vanaand?”

Hierdie vrou, wat haarself leer kook het, het saam met die beste kokke ter wêreld gekook en sy kan nie eens meer onthou hoeveel toekennings sy al gekry het nie – internasionaal en hier. Sy is ook gekies as een van honderd kokke uit die wêreld se bestes om opgeneem te word in die boek Made with love: 100 of the world’s best chefs, cooks & food artisans & the food they make for the people they love.

Toe ek destyds opdrag kry van Kuier se redakteur om oor my koshelde te skryf, was Cass boaan my lys. Ek, die fotograaf en sy assistent het ’n onvergeetlike dag daar in haar kombuis by haar huis in Retreat deurgebring.

Dit sal ek nooit vergeet nie – die geure van die speserye, die geknetter van die olie in die pan en die blaas van die gasvlam terwyl Cass masalavis bak. En natuurlik moes ons almal agterna om die tafel sit en proe.

Want dis waaroor dit vir Cass gegaan – om te kook vir die mense wat sy liefhet, om te sien hoe mense haar kos geniet. Daardie tyd was dit ook die rede waarom sy die kookklasse wat sy by haar huis aanbied, so geniet het.

En met al haar kinders wat toe reeds uit die huis uit was, het Cass en haar man, Jowa, besluit om die leemte te vul en loseerders in te neem. “Geld sal ek só nooit maak nie,” het Cass toe vertel. “Ek kan my nie daarvan weerhou om hulle soos my kinders te behandel en te voer nie.”

Dis haar oneindige deernis en liefde vir mense wat my die diepste geraak het en my altyd sal bybly. Ek sal altyd dankbaar wees vir die manier waarop sy haar oor my ontferm het. Ek dink sy het my onsekerheid aangevoel en geweet ek sukkel nog om my eie kosstem te vind, en sy het spesiaal moeite gedoen om my te ondersteun en my op my gemak te laat voel.

In die beginjare van my loopbaan as kosredakteur van Kuier het ek eenkant gevoel en was ek desperaat vir ’n bietjie aanvaarding. Met die Suidoosterfees daardie jaar het Kuier ’n spesiale lesersdag aangebied en ek en Cass moes beide ’n kosinsetsel lewer. Ek was baie senuweeagtig en het vreeslik geïntimideer gevoel, want ek moes net ná Cass op die verhogie verskyn.

Sy het nie op die seremoniemeester gewag nie, maar sommer self besluit om my aan die gehoor bekend te stel. “En,” voeg sy toe by, “hierdie vrou kook al beter as ek.”

Natuurlik was dit nie waar nie, maar dit was asof ek tuisgekom en deel van die familie geword het.

Ek kan nog bladsye en bladsye skryf oor dié vrou wat die wonderwêreld van speserye vir my ontsluit het, maar met elke woord wat ek neerpen, besef ek net hoe graag ek haar nóg beter sou wou geken het, hoeveel meer tyd ek saam met haar in die kombuis sou wou deurgebring het.

Maar dis nou vir altyd verby. Totsiens, Cass. En dankie.

Lees ook:

Cass Abrahams soos sy self vertel het

Erfeniskos in Erfenismaand

Nommer, asseblief! Telefoonpoeding

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top