
Cass in 2015
Cassandra Magnolia Dorothea Weimers is op 3 April 1944 gebore.
Haar peetpa was Yusuf Dadoo, voorsitter van die Indian National Congress in die veertigerjare. Dadoo was ’n mediese dokter wat in Skotland studeer het. Diegene wat al oor Nelson Mandela se politieke agtergrond gelees het, sal Dadoo se naam herken.
Cass se komvandaan is kosmopolities.
Haar ma se oupa, herr Jegels, was van Duitse afkoms. Hy het twee vroue gehad. Een was Zoeloe, of Xhosa – Cass was nie seker nie. Die ander was ’n Khoi-vrou. Laasgenoemde was Cass se ouma, Hendrika Jegals.
Hendrika het ’n kort verhouding met ’n Fransman gehad, en Gwendoline Jegels, Cass se ma, is uit hierdie verhouding gebore. Die Fransman het daarna eenvoudig verdwyn en het nooit met Cass se ma getrou nie.
Haar pa had ook ’n internasionale stamboom. Hy was ’n Afrikaansonderwyser.
As kind het Cass en haar gesin beide oorvloed en armoede geken.
Toe sy nog ’n klein dogtertjie was, het dit goed gegaan met hulle. Die ouers was gesiene mense. Hulle het ’n motor gehad, en Cass vertel dat daar altyd handeroom in die motor was. Hul ma het daarop aangedring dat die kinders gereeld hulle hande en voete daarmee smeer – dit sou glo sorg dat hulle eendag net so mooi soos hul ma sou wees.
Die Jegels-egpaar is ook gereeld genooi na die bekende, dalk selfs berugte, partytjies van die Kommuniste-party in die jare ’40.
Die Kommuniste wou ’n utopiese alternatief vir apartheid voorhou en het dus grootse, veelrassige partytjies aangebied. Mandela was ook by sulke partytjies. Diegene wat Alan Kirkaldy se Everyday communists in South Africa’s liberation struggle: the lives of Ivan and Lesley Schermbrucker gelees het, sou ook meer hiervan weet.
Cass onthou daardie jare as baie goed, maar dinge sou verander. Haar pa verloor sy werk. Cass het nie geweet waarom nie, en was ook te jonk om die politieke onderstrominge te verstaan.
Hulle verloor ook hul huis en hul motor. Die gesin trek na Moroko-towship net buite Soweto. Hulle is nou brandarm en woon in ’n modderhut. Cass onthou hoe snerpend koud dit daar kon word. Die plaaslike Zoeloe-opperhoof hoor dat Cass se pa ’n onderwyser is en vra dat hy die kinders in hulle plaaslike skool kom help onderrig. Daar was nie juis groot vergoeding by betrokke nie, maar haar pa stem in en word geliefd in die gemeenskap.
Cass se ma, die fyn vrou wat altyd handeroom gebruik het, spring nou in en begin om onwettige alkohol te brou en te verkoop. Die wet het in daardie dae swart mense verbied om alkohol by privaat winkels of restaurante te koop en die polisie het by meer as een geleentheid die gesin se inkomstebron kom verwoes.
Haar pa sou later vriende maak in die polisie, so daar is toe vooraf gewaarsku wanneer ’n klopjag uitgevoer gaan word.
Dinge gaan skielik beter toe die Mias-familie, wat baie ryk was, haar pa die pos as Afrikaansonderwyser by hul privaatskool, The Waterfall Islamic Institute te Halfweghuis, net buite Midrand, aanbied.
Die gesin kon weer in ’n baksteenhuis woon en haar pa het gou weer ’n motor besit. Cass onthou dit as ’n “spoggerige groen langneus-Citroen”.
Toe Cass 11 jaar oud was, het ’n man van 43 haar ouers genader en gevra om met haar in ’n tradisionele huwelik te tree. Cass is summier weggestuur na Tongaat, in Durban, waar sy ’n leerling van St Vincent, ’n Katolieke skool, geword het. Sy het haar laerskoolopleiding daar voltooi en is toe na Hoërskool St Augustine’s in Parow gestuur.
Vir haar matriekjaar is sy en van haar jonger sibbe egter na Hoërskool Sacred Heart in Cradock (nou Nxuba) gestuur. In daardie selfde jaar is haar pa in ’n sluipmoordaanval doodgeskiet.
Cass wou gaan studeer, maar met haar pa se skielike dood was sake onseker. Die nonne by Sacred Heart was ook benoud dat die uitgesproke Cass in die moeilikheid sou beland in Suid-Afrika en het voorgestel dat sy aansoek doen by die Universiteit van Pius die 12de, ’n Katolieke instelling in Lesotho. Dit staan vandag bekend as die Universiteit van Lesotho.
Cass het ’n beurs gekry en was dol gelukkig daar.
Hier was geen apartheid nie. Haar klasmaats was van oral oor die wêreld. Hulle opleiding was geskoei op die ou Britse stelsel van liberale denke. Studente en dosente, selfs die rektor, het saam geëet en sou oor etenstye debat voer oor sake van belang.
Hier het Cass ’n feminis geword – en het haar hele lewe lank een gebly.
Om sakgeld te verdien het sy gedurende haar vakansies in Suid-Afrika kom werk. Haar ma het voorgestel dat sy haarself “wit” moes hou, en Cass het só ’n werk gekry as kassier by Stuttafords in Johannesburg.
Sy is goed ontvang en is met respek behandel, want sy was geweldig keurig op haar voorkoms. Cass sou later vertel dat Abdullah Ibrahim, wat ook onlangs oorlede is, met genoegdoening na hierdie verhaal geluister het, veral ook na haar ma se aandrang daarop dat Cass netjies moes wees voor die wit mense. Ibrahim het onthou dat sy ma dit ook altyd vir hom gesê het toe hy jonk was.
Cass het ’n BSc-graad behaal met biologie as een van haar hoofvakke en wou gaan skoolhou, daarom het sy besluit om na Suid-Afrika terug te keer en by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) te gaan studeer.
Ná die onbevange vryheid van ’n liberale opleiding in Lesotho was UWK ’n beproewing. Ek haal nou haar eie woorde aan, soos vervat in Cass Abrahams, ’n lewe met kos (LAPA, 2015, bl 42):
Ek kon dit nie begryp nie. Dit was die sestigerjare, die tyd van die blommekinders. Vryheid! Die tyd van peace, not war. Ek wou peace maak, nie oorloë op die kampus veg nie!
Ek het ’n rasegte hippie geword. Flower power – en die goeie invloed van Madame le Fleur, my Plantkunde-lektrise in Lesotho – het my bevry.
Ek was ’n feminis. Ek het hard baklei vir vroueregte – eintlik tog maar basiese menseregte. UWK was baie konserwatief en niemand het oor feminisme gepraat nie. Ons is amper soos kinders behandel. Dames moes te alle tye rokkies en sykouse dra, en mans weer langbroeke en dasse. Die mans wat nie das gedra het nie, is uit die klas gestuur. Almal se hare moes netjies wees en ons is vermaan om altyd mooi skoon te wees.
Ek het dikwels terugverlang na my drie wonderlike jare op universiteit in die pragtige Roma-vallei net buite Maseru.
My gunstelinguitrusting op die UWK-kampus was ’n woeste boskaas hare en dungarees. Dit het my in die rektor se kantoor laat beland.
“Juffrou Weimers!” het hy my kwaai aangespreek. “Hoe kan jy só klas toe kom? In ... in ... in denims?”
Die rektor kon nie veel regkry met Cass nie. Sy het vir haar ’n pyp gekoop en het dit op kampus begin rook.
Toe een van haar dosente eendag Cass se ma inroep om haar dogter se kleredrag bespreek, het Cass uit protes die volgende dag kaalvoet opgedaag vir haar klasse.
Nie alles by UWK was sleg nie. Jakes Gerwel en Adam Small was tydgenote van haar. Sy het hegte vriendskappe gevorm met haar universiteitsmaats – veral een, wat haar voete onder haar sou uitslaan. Een middag het ’n mooi jongman in ’n motor langs haar stilgehou en haar ’n geleentheid aangebied. Sy wou weet waarnatoe hy op pad was. “Waarheen jy op pad is,” was sy antwoord.
Cass onthou dat die jongman homself as Joe aan haar voorgestel het.
Haar ma was egter nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie, en toe Cass haar kort daarna vertel dat Joe Abrahams haar die hof maak, het haar ma gewaarsku: Dis Jowa. En hy is slams.

Jowa met ’n foto van die “Nasionale Kleurling-rugbyspan” van 1968. Hy is in die voorste ry, tweede van links.
Jowa Abrahams was reeds bekend as ’n uitstekende rugbyspeler. Net apartheid het gemaak dat hy nie kon gaan vir proewe om ook moontlik sy Springbokkleure te kon kry nie – ’n onreg wat ná die val van apartheid erken is deur die Suid-Afrikaanse Rugby-unie wat toe vir Jowa, en ander spelers soos hy, formeel hul Springbokbaadjies gegee het. Op bladsy 81 van Cass Abrahams, ’n lewe met kos is daar ’n lieflike foto van Jowa en sy kleinseun met laasgenoemde wat trots na sy oupa se Springbokbaadjie wys.
Cass was verlief en was bereid om na die Islam te bekeer om by Jowa te kon wees.
Sy vertel self (op bladsy 52):
Ek word dikwels uitgevra oor Moslem-gebruike, veral oor troues. Dan vertel ek ons troues is ’n kontrak tussen twee mense wat voor die gemeenskap voltrek word. Dis nie ’n religieuse seremonie nie; ook nie lobola nie – dis ’n kontrak.
Let op die gebruik van die woord ons.
Die wilde meisie het ’n sagte man gekry. Sy familie het haar omarm.
Dit was ’n gelukkige huwelik.

Jowa en Cass
Een van my gunstelingfoto’s van Cass is een saam met Jowa toe hulle al in hulle sewentigs was, en duidelik nog smoorverlief.
Hierdie ommekeer in haar lewe sou vir groot dinge sorg. Ook haar bekende naam, Cass, het hier ontstaan. Op bladsy 7 vertel sy:
My noemnaam was Sandra, afgelei van Cassandra.
Toe ek trou en Kaap toe trek, en met my troue die Moslem-geloof aanvaar, moes ek ’n Moslem-naam aanneem. Ek wou eers nie, maar is oortuig dat ek vir my skoonfamilie ’n verleentheid sal wees met die rits Hoog-Engelse name. Ek soek toe vir iets wat nie te ver van Cassandra af klink in Arabies nie en besluit op Cashifa, wat revealer (onthuller) beteken.
Haar nuwe familie het haar egter Cass (van Cassandra) begin noem – en so het sy bekend geword.
Meer as net ’n nuwe naam en man het hierdie huwelik vir haar gebring. Sy is aan ’n koskultuur bekendgestel wat sy geensins geken het nie. Op bladsy 47 vertel sy:
Ek sal nooit die dag vergeet toe ek vir die eerste keer tradisionele Kaapse Maleier-kos geëet het nie – nooit sou ek kon raai dat dit juis Jowa se Maleier-kultuur sou wees wat my groot love affair met kos begin het nie. Die geure en teksture, die smake en reuke, die oorsprong en tradisie van die kos van Kaapse Maleiers het my “huis toe” gebring om uiteindelik deur kos my werklike roots te ontdek.
Sy moes baie leer. In haar eie woorde (op bladsy 154):
Ryskos is stapelvoedsel in enige Kaap-Maleise huis. Dit kan ’n kerrie of ’n bredie wees wat met rys bedien word. Gewone huiskos – nie die brijani’s of denningvleis wat jy met saffraan en baie moeite ure lank voorberei vir spesiale gaste of op spesiale geleenthede nie.
Toe ek die eerste keer begin Kaap-Maleise kos maak, het al my bredies soos ’n Engelse stew gesmaak. Ek is op die vingers getik en daarop gewys dat onse bredies met tradisionele Oosterse speserye op die tradisionele manier gemaak word. Die smaak van een bestanddeel mag nooit die gereg oorheers nie.
Hierdie lesse sou sy later met baie liefde, deernis en geduld aan ander, veral wit Afrikaanse vroue, verduidelik. (Selfs die Konserwatiewe Party-leier, Andries Treurnicht se vrou het glo na haar kom luister.)
Cass se formele loopbaan met kos het begin toe sy in ’n winkel gesien het hoe iemand kosprodukte demonstreer. Sy het belanggestel, navraag gedoen oor hierdie soort werk en is toe aangestel in die huishoudkundeafdeling van die maatskappy. Dit was apartheiddae en sy kon dus net in die agtergrond haar werk doen.
Hoewel daar frustrasies was, het sy opgang gemaak en is sy bekendgestel aan sjefs soos Peter Veldsman. Haar vriendskap met Veldsman, wat nie na haar rasklassifikasie gekyk het nie, sou baie deure oopmaak vir Cass.
’n Volgende groot deurbraak het gekom toe Topsy Venter, van die Institute of Cullinary Arts in Stellenbosch, haar nooi om vir gaste ’n tradisionele Maleier-maal te kom voorberei.
Daarna het mense haar gereeld begin nooi – nie soseer net om vir hulle te kook nie, maar ook om oor Maleier-kos te praat.
Cass het ook begin skryf oor kos, en ’n aantal kookboeke het gevolg.

Rehane en Cass net voor ’n radio-onderhoud
Cass en Jowa het drie kinders. Een van hulle, Rehane, is deesdae ’n beroemde akteur en bekend uit eie reg.

Marike en Cass
Ek het Cass leer ken toe Marike Bekker die idee van ’n kookboek wat ook stories oor haar merkwaardige lewe sou bevat, met LAPA bespreek het.
Daar was onderhoude, foto’s, demonstrasie, radiopraatjies ... Die lekkerste lekker was toe Cass my begin vertrou het om te help met die roer van haar potte tydens kosdemonstrasies!
Ek het ook hierdie kort video-insetsel gemaak. (As die video nie speel nie, klik hier.)
By hul huis is ek altyd gul ontvang en is dikwels met ’n bord kos huis toe gestuur.

Cass Abrahams: ’n lewe met kos is ’n kleinood. As jy ’n kopie iewers raakloop, koop dit. Ons het ook ’n Engelse weergawe, Cass Abrahams: a life with food, die lig laat sien.
Cass is op 8 Augustus 2026 oorlede.
Vroegoggend 9 Augustus, het Mogamat (Kammie) Kamedien my op WhatsApp laat weet:
The Janazah of Kashiefa (Cass) Abrahams (author of “The Cape Malay Cookbook” and wife of Hajji Yusuf aka Jowa Abrahams) will take place on Sunday 9 August 2026 at 11 am. The Janazah will depart the house at [withheld – IdV] for Salatul Janazah at the Azawia masjid in Walmer Estate and proceed to the Mowbray Maqbarah for burial.
Oor begrafnisse in die Kaap-Maleise kultuur het Cass ’n hele hoofstuk geskryf in ’n Lewe met kos. Kry die boek en lees self hoe sy die storie in haar eie woorde vertel.
- Fotografie: Izak de Vries

