Toorkombuis: Laat waai met daai Skotse sop

  • 0

  • Karen Hart skryf ’n gereelde kosrubriek vir LitNet.

Die winter vra vir kosse wat troos, heel en gesond maak. Eintlik is dit maar altyd so, maak nie saak watter seisoen dit is nie. Maar wanneer die lang, koue vingers van die winter jou hart en liggaam in sy ysige greep beetkry, is dit tyd om die potte nader te sleep vir ’n tradisionele Skotse sop (Scotch broth).

Dis ’n heerlike dik sop wat gemaak word van lam- of skaapvleis, gort, gesplete erte en groente – basies uie, preie, wortels, rape (as jy kan kry) en aartappels. Maar jy kan hier jou verbeelding vrye teuels gee, solank jy genoeg groente in jou pot het en onthou dat eenvoud hier die sleutelwoord is en dat jy moet wegbly van die meer gesofistikeerde groentes soos sampioene, soetrissie en so aan.

Wanneer jy daardie eerste lepelvol proe, weet jy sommer: Hierdie is ’n sop wat alles regmaak – goed vir die liggaam en balsem vir die siel. Hierdie Skotse sop simboliseer vir my alles wat vir my heilig is in die kombuis ... die wonderlike betowering van die kospotte en die helende krag van kos.

Ek verwonder my steeds aan hoe jy ’n paar eenvoudige bestanddele in ’n pot kan gooi en die geurigste gereg kan optower. En om dan met genoegdoening terug te sit en die reaksie dop te hou van die mense vir wie jy dit met liefde en deernis voorberei het.

Toe my ma na haar breinoperasie en amperse dood by my kom bly het, het sy gelyk soos ’n klein voëltjie wat te vroeg uit die nes geskop is. Dit was ná ’n maand in die sorgeenheid van die aftreeoord. (Hoe minder ek daaroor sê, hoe beter.)

Ek het ingespring met sappe en soppe, vars groentes en kruie en lekker vleisgeregte vir die Karoo-kind. Binne ’n maand het sy weer mens geword, Haar vel het gegloei en sy het kleur in haar wange gehad.

Met die drie jaar wat nou verloop het ná haar dood, het ek so ’n bietjie vergeet daarvan. Ek het elke dag die betowering in my kombuis beleef terwyl ek vir my klante kook, maar selde gedink aan die helende krag van kos. Ek het nie meer ’n pasiënt gehad aan wie ek moes lewe gee nie.

Maar op ’n dag kry ek ’n WhatsApp-boodskap van ’n buurvrou van een van my gereelde klante. Sy is al geruime tyd deel van my kosgroep, skryf sy, maar het nog nie bestel nie. Sy is al jare lank siek en kan min kosse eet. Maar nou die dag, sê sy, het sy my romerige murgpampoentjie op tuisgemaakte tagliatelle by haar buurvrou geproe. Dit was die enigste gereg in ’n lang tyd wat sy werklik kon geniet en sy wil dit graag bestel.

De boodskap het my in trane gehad, want skielik het ek weer onthou van my ma en die helende krag van kos.

Haar buurvrou het die bestelling kom afhaal. Dit sou haar aandete gewees het. Maar sy het nooit ’n happie daarvan gehad nie. Daardie aand het haar toestand versleg en sy is vroeg die volgende oggend oorlede.

Ek is diep geraak deur haar dood. En toe een van my ander klante, ’n 86-jarige Skotse vrou, begin siek word, het ek dadelik ingespring om een van haar gunstelinggeregte, hierdie Skotse sop, vir haar te maak. Voor dit te laat is.

Ek is nou nog dankbaar dat ek met my pa baklei het toe hy verseg het dat ek vir hom ’n verjaardagete kook voordat hy en my ma na hul aftreehuisie by die see trek. Ek het my sin gekry en tot vandag toe onthou ek hoe wonderlik dit was om almal saam om die tafel te sit en met hoeveel genoegdoening hy aan my moussaka weggelê het.

Dertien dae later is hy oorlede. Sonder waarskuwing. Sommer net so. Hy het gaan hardloop, superfiks en gesond, en net daar langs die pad inmekaar gesak.

Dis waarom ek met ongekende haas en ’n dringendheid die pot nadergesleep het om vir die brose ou vroutjie met die wonderlike Skotse aksent haar gunsteling te kook.

Tradisioneel word die sop met lam- of skaapnek gekook, maar ek verkies lamskenkel – dis ’n bietjie minder vetterig en het meer vleis as nek. Maar dis jou keuse. Die regte, egte Skotse sop vra vir ’n lang kook in ’n pot op die stoof.

Normaalweg is ek ’n voorstander van ’n stadige kook en dinge op die regte manier doen. Maar ek het ook al intussen ontdek dat ’n kitspot een van die beste en vinnigste maniere is om geur in ’n pot in te bou. En, natuurlik, elektrisiteit te spaar

Laat waai, Meraai! Of soos die Skotte sê: “Lang may yer lum reek”, oftewel “Mag jou skoorsteen nog lank rook.”

Karen se kitspot- Skotse sop

Genoeg vir 4–6

3 eetlepels olie
3 uie, fyngekap
1 groterige (of 2 kleiner) lamskenkel(s)
½ koppie gort
½ koppie gesplete erte, oornag in water geweek (sien wenk)
3 preie, skoongemaak en wit gedeeltes in ringe gesny
3 wortels, geskraap en in muntstukke of blokkies gesny
3 aartappels, geskil en in blokkies gesny
1 eetlepel droë pietersielie (vars kruie verdwyn in ’n kitspot)
4 koppies water
2–4  koppies sopgroente van jou keuse (jy kan weer preie, wortel en aartappel bysit – die hoeveelheid groente sal afhang van hoeveel jou pot kan hanteer)
2–4 koppies aftreksel gemaak van die helfte hoender- en helfte beesvleisaftreksel)
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
vars gekapte pietersielie.

Stel jou kitspot op “soteer” en braai die uie en lamskenkel in die olie totdat die skenkel begin kleur kry en die uie sag en deurskynend word. Voeg die gort by. Dreineer die erte en roer by saam met die preie, wortels en aartappels. Besprinkel met die droë pietersielie en voeg die water by. Bedek die pot met sy deksel en stel die pot op “sop”. Laat staan die pot om natuurlik stoom te verloor. Maak oop en haal die skenkels versigtig uit. Voeg die res van  die bestanddele, behalwe die vars pietersielie, by. Bedek die pot en stel weer op “sop”. Sodra die skenkels genoeg afgekoel het, sny die vleis in stukkies van die been af en hou eenkant. Maak die stoomklep oop en wag totdat die pennetjie gesak het en die pot gereed is om oop te maak. Steek jou staafmenger in die pot en gee ’n paar draaie sodat ’n klein gedeelte van die groente effens verpulp is om aan die sop lyf te gee. As jy nie ’n staafmenger het nie, kan jy ’n maatbeker van die sop uitskep en in jou voedselverwerker verpulp en dan teruggooi in die pot. Roer die vleisstukkies en varsgekapte pietersielie by. Proe en geur met nog sout en peper indien nodig.

WENK: As jy vergeet het om die erte oornag te week, is dit nie ’n krisis nie. Plaas die erte in ’n kastrol en bedek met water. Bring dit tot kookpunt en skakel die stoofplaat af. Laat staan vir ’n uur. Dreineer en gebruik in die sop soos die resep sê.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top