
Foto deur ©Rudy and Peter Skitterians op Pixabay, gepubliseer op 17 September 2015.
- Karen Hart skryf gereelde kosrubrieke vir LitNet.
Ontbyt in die bed, Switserse sjokolade (of as jy gelukkig is, Belgiese), blomme, handgemaakte kaartjies ... Dis die mooi prentjie van Vrouedag waarmee ons grootgeword het.
Ek was so half verstom toe ek verlede jaar op Vrouedag met die Uber winkel toe is en die bestuurder my beveel om te bly sit toe ons voor die supermark stilhou. Ek het nie mooi geweet of ek moet bang wees of wat nie. Toe spring hy uit en kom maak vir my die deur oop. “Dis Vrouedag,” sê hy toe met ’n breë glimlag.
En in die winkel self staan ’n vrou met ’n mandjie nommers. Ek trek toe een en wen ’n hele sak vol bederfgoed. ’n Heerlike en onverwagte manier om die dag te begin ...
Maar eintlik weet ons almal dis nie waaroor Vrouedag gaan nie. Dis die dag, 70 jaar gelede, waarop die vroue van die land gesê het genoeg is genoeg en teen die apartheidswette en onmenslike paswette geprotesteer het.
20 000 vroue het opgemars na die Uniegebou, 30 minute lank in doodse stilte gestaan en petisies by die deur van die eerste minister gelaat. Dis op daardie dag dat “Wathint’ abafazi, wathint’ imbokodo” (You strike a woman, you strike a rock) die slagspreuk geword het.
En hier in die Vrouemaand behoort ons as vroue nie terug te sit en te wag vir bederfgoed nie. Goed, dis deel daarvan – vroue kan doen met ’n bietjie waardering. Maar eintlik behoort ons as vroue net weer bewus te word van ons eie vermoëns om ’n verskil te maak in ’n wrede ou wêreld.
Jy hoef nie jou stapskoene aan te trek en na die regeringsgeboue op te trek nie. Ook nie wild plakkate rond te swaai nie. Of kwaai tekere te gaan op sosiale media nie. Nee, daar is ander maniere ook – dis soms die stil helpende hand wat die meeste vermag en ’n verskil maak aan soveel mense se lewens.
Een van my gunstelingkookboeke is Ofélia: a taste of Brazil. Ek noem haar my sonskynkind. Ek het die vrolike boek by een van daardie destydse koop-per-kilo boekwinkels raakgeloop.
Dis die sonneblom van my resepteboekversameling. Uit elke blad spring die baldadigste kleure na jou toe op. En enige sweempie van depressie verdwyn wanneer ek die grasgroen, bloedrooi, goudgeel, pers, blou en oranje blaaie oopslaan.
Die boek (die oorspronklike titel is Ofélia, O Sabor do Brasil) is geskryf deur Ofélia Ramos Anunciato wat vanjaar, ook byna 70 jaar gelede, as TV-kok haar debuut gemaak het in A Cozinha Maravilhoza de Ofélia (Ofélia’s Wonderful Kitchen) op Victor Costa TV in Santos, Brasilië.
Dié interessante vrou het kleintyd in haar ouma se plaaskombuis leer kook. Haar liefde vir kook het ’n loopbaan geword toe sy as getroude vrou en ma van ’n dogter deur ’n vriend van haar oupa genader is om ’n kosrubriek vir sy koerant, Tribuna des Santos, te skryf. Dit het gelei tot ’n radioprogram en later, hoewel sy aanvanklik baie teësinnig was, tot die TV-program.
Uit haar vertelling in die voorwoord van haar boek het ek haar leer ken as hierdie wonderlike ouma met stringe kleinkinders en ’n warm vrou met ’n oop hart vir haar duisende aanhangers.
Sy vertel hoe sy eenkeer diep geraak is deur ’n brief van een van haar gereelde kykers. Die vrou het ander mense se wasgoed gewas en haar man het springmielies by die hoërskool verkoop om kop bo water te hou. “En my kinders ... ag, hulle is maar net kinders,” het die vrou geskryf. Net daar het Ofélia vir die vrou ’n drukkoker gaan koop en vir haar gestuur.
Sy vertel ook hoe sy gehuil het oor die brief wat sy gekry het van een van die dogters van ’n vrou wat alleen vir haar vyf kinders moes sorg nadat haar man in ’n ongeluk dood is. Die kind vertel hoe haar ma Ofélia se resep vir klapperlekkers gebruik het om hulle aan die lewe te hou. Sy het elke dag van die lekkers gemaak en dan het die kinders dit aan die pendelaars op die veerboot na die eiland van Guarujá verkoop.
Dis die Ofélia van my resepteversameling. ’n Vrou wat daar ver oorkant die water op haar manier ’n verskil gemaak het. Hier by ons is daar vroue wat so stil-stil sopkombuise begin om die honger kinders in hul gemeenskap kos te gee.
Een van die vroue wat ek nou so lank al bewonder, is Stephanie Benjamin van Steph’s Ladles of Love. (Sy is op haar eie en haar projek het niks te make met die ander organisasie, Ladles of Love, nie.)
Ek het haar by die mark in The Palms, Woodstock ontmoet. Sy was by die tafel langs myne. Ek het soetgoed verkoop en sy die lekkerste wraps. Stephanie is ’n vreeslike mooi vrou wat lyk asof sy eerder op die voorblad van ’n tydskrif hoort en die mans het om haar tafel gedraai. Sy het haar min gesteur.
Maar dis ook daar waar ek haar warm hart leer ken het. Sy het in 2012 begin met haar voorneme om elke maand 100 kg kos vir die mense van Freedom Farm te kook – 10 sakke aartappels, 10 kg bevrore groente, 10 kg uie, 20 kg rys en 20 kg hoender. En natuurlik: geurmiddels, kruie en speserye.
Sy het vergeefs by groot maatskappye vir bydraes gaan aanklop en steun op die hulp en bydraes van ruimhartige vriende en familie. En wanneer dit bars gaan en die bydraes skraps word, betaal sy uit haar eie sak. “Ek kan net nie toekyk en niks doen terwyl die oumense en kinders rondom my niks het om te eet nie.”
Nou, na byna 14 jaar, kom sy steeds elke maand haar belofte na ...
Ek ken vir Stephanie. En ek het vir Ofélia deur haar boek leer ken. Ek weet daar is baie ander Stephanies en Ofélias daar buite; baie vroue wat op verskillende maniere help om die lewe vir ander makliker te maak.
Ofélia is al 28 jaar gelede op die ouderdom van 74 dood, maar haar warm hart inspireer my steeds. Jy proe daardie deernis ook in haar resepte.
........
Ofélia is al 28 jaar gelede op die ouderdom van 74 dood, maar haar warm hart inspireer my steeds. Jy proe daardie deernis ook in haar resepte.
.........
Met Ofélia se resepte moet jy versigtig te werk gaan – dis volle oorgawe sonder brieke – en jy moet jou storie ken om dit aan te pas sodat die eindproduk lyk soos sy dit gevisualiseer het. Ek vermoed sy was een van daardie ’n-bietjie-van-dit en ’n-bietjie-van-daai kokke wat gesukkel het om die regte hoeveelhede in ’n resep neer te pen.
Een van my gunstelinge is Mother Benedicts Muffins. Ek vermoed daar het iets met die vertaling verlore gegaan, want dis nie die soort muffins wat ek ken nie. Maar dit smaak wonderlik (as jy nou uiteindelik dit reggekry het om die hoeveelhede aan te pas sodat die resep sin maak).
En dis een van daai goed wat so wonderlik ruik terwyl dit bak, dat jy enige oomblik verwag dat ’n string mense agter hul neuse aan die pad na jou kombuis gaan vind. Absoluut betowerend – en dis boonop gluten-vry.
Karen se weergawe van Ofélia se “muffins”
Lewer min of meer 24 muffins
250 g sagte botter
1¼ koppie suiker
6 eiergele
2 eierwitte, styf geklop (sien wenk)
1 teelepel suurlemoenskil
2½ koppies rysmeel
2 teelepels gerasperde parmesaan
Klits die botter, suiker en eiergele tot lig en romerig. Vou die styfgeklitste eierwitte, suurlemoenskil, rysmeel en parmesaan in die mengsel. Skep die mengsel in lepels vol in muffinpanne wat met papierbakkies gevoer is. Bak in ’n voorverhitte oond van 180 ºC vir 20–25 minute of tot goudbruin.
WENK: Ek hou die ander eierwitte maar byderhand, want 4 is eintlik nader aan die kol, afhangende van die grootte van die eiers. Ek het soms al die eierwitte van al 6 eiers gebruik. Die winkeleiers raak ook al hoe kleiner en groot is lankal nie meer groot genoeg nie.
Lees ook:

