![]() Foto: verskaf |
Sêgoed van Celesté Fritze Hoekom skryf sy? “Omdat ek gewoon nie anders kan nie. Oral lê aantekeningboekies waarin ek gedagtes en woorde neerkrabbel. Ek geniet unieke woorde, frases, sinne. Op die stoomtrein na Cullinan hoor ek ’n man sê: ‘En daar verloor ek die nies’.” (Beeld, 1 Februarie 2016) Vir wie skryf sy? “Ek skryf nie met ’n vooropgestelde idee van wie die leser is nie. Die verhaal meld hom aan in die vertelling van ’n vriend, ’n navorsingstelegraaf op die internet, iemand se familiegeskiedenis – as dit my nuuskierigheid prikkel of my verbeelding aanblaas.” (Beeld, 1 Februarie 2016) Wie is haar literêre invloede? “Ek lees wyd en kan nie sê daar is invloed wat rigtinggewend is nie. Jy neem seker uit elke gunstelingskrywer se werk iets wat jou styl beïnvloed. Skrywers na wie ek terugkeer is Elsa Joubert, Petra Müller, Margaret Atwood, Jeanette Winterson, Patrick White en TS Eliot.” (Beeld, 1 Februarie 2016) Oor die herinneringe aan voorsate in Verlorenkop: “Die herinneringe van voorsate, ook intense navorsing, en natuurlik ’n opgeruide verbeelding het die karakters help vorm.” (LitNet, 14 Maart 2016) Sy is ’n taalversorger en vertaler – werk sy maklik bedags met woorde en hoe werk haar inruiming van tyd tussen haar eie skryfwerk en ander mense s’n? “Dit bly vir my lekker om met ander se woorde te mag werk. Dalk put ek ’n perverse genot daaruit om te mag vitsiek wees sonder dat ek daarvoor geblameer kan word. Wie weet? Die idee en omvang van die bemoeienis met ander se skryfwerk kan jou werklik benoud maak. Iemand plaas sy skryfstuk in jou hande. Iemand betaal jou om bemoeienis te maak met sy of haar skryfwerk. Dit is ’n groot en uitputtende verantwoordelikheid, maar natuurlik ook ’n voorreg; en dikwels is jy dan te moeg vir jou eie woorde. Gelukkig is daar baie ure in ’n dag. Jy maak tyd vir iets wat jou as mens definieer, soos jou skryftaak.” (LitNet, 14 Maart 2016) “Dit is ook baie, baie lekker wanneer ander hulle met jóú skryfwerk bemoei: die uitgewer, die teksredigeerder, die proeflesers, die persoon wat die tipografiese versorging doen, die omslagontwerper – die hele wonderlike span. En die leser: hoeveel is die skrywer nie aan hom/haar verskuldig nie?” (LitNet, 14 Maart 2016) “O, die bekoring van woorde! Daar is voortdurend boeke wat my op woord- of sintaktiese vlak interesseer. Daar is altyd ’n dualiteit teenwoordig. Ek lees nie ’n boek suiwer uit die oogpunt van ’n taalkundige of uit die oogpunt van ’n letterkundige nie. ’n Boek meld hom aan en raak jou as leser om ’n bepaalde rede of vanweë ’n sekere belangstelling – hoe kan mens dit werklik verklaar?” (LitNet, 14 Maart 2016) Hoe beïnvloed haar eie ingesteldheid op taal (weens haar werk) haar eie skryfwerk? “Jy vra oor hoe ’n ingesteldheid op taal my skryfwerk raak: ek vind dit moeilik om die skryffunksie en die redigeerfunksie te skei, maar dit is ontsettend belangrik dat hulle geskei word. Voor jy jou kom kry, is jy al weer besig met teksredigering, en dan staan die storie stil – dit verg ’n voortdurende bewuswordingsproses. Sodra die twee saamsmelt, moet mens opstaan en ’n ruskans neem en besluit wat jou hooftaak met die terugkomslag sal wees: skrywer of onbetrokke teksredigeerder. Jy is dit aan jou storie verskuldig. Miskien neem dit ’n taalversorger (en ’n debuutskrywer daarby) net soveel langer as ander skrywers om ’n boek te skryf, ja.” (LitNet, 14 Maart 2016) |
Gebore en getoë
Celesté Fritze is op 18 Julie 1959 gebore op ’n plaas in die distrik Belfast in Mpumalanga (destyds Oos-Transvaal). Sy het ’n broer, Johan, wat vier jaar ouer as sy is. Haar pa was ’n bankamptenaar en hulle gesin het heelwat rondgetrek. Sy het grootgeword op die Hoëveld, in Pretoria, die Noord-Kaap-streek, die Laeveld en Noord-Natal.
In biografiese aantekeninge aan LitNet beskryf Celesté haar ma as ’n “pioniersvrou wat my pa op al sy weë gevolg en ons huis ingerig het op plekke waar daar nog skaars (wit) mense was. So is my pa opdrag gegee om die destydse Barclays Bank DCO op die afgeleë dele van die land te gaan vestig.
“Op Grovesdale naby Hoedspruit (ek was toe so 6 jaar oud) woon ons in ’n voorafgevaardigde veselsementhuis. Op ’n goeie dag in 1965, toe my ma op pad na ’n vergadering van die vrouelandbou-unie is, ry sy per ongeluk ’n gat in die sitkamermuur. Die gat word inderhaas met koerantpapier toegestop. Laatmiddag herstel sy die gat met behulp van veselbord, gom en ’n blikkie verf wat sy inderhaas by die algemene handelaar op Hoedspruit moes gaan koop. ’n Plantpot word dieselfde kleur geverf en pryk vir die duur van ons verblyf voor die netjiese gelapte gat in die sitkamermuur.
“Vroegaand toe my pa rustig met die kanaal langs huis toe gestap kom, uitgeput van ’n bankagentskap-oudit deur hoofkantooramptenare, gaan hy voor die blompot talm: ‘Het jy bietjie geverf vandag, my lief?’ vra hy met ’n glimlag.
“My ma het in Noord-Natal grootgeword en sy kon soos vele plaasmense vlot Zoeloe praat. Ek het ook ’n paar sêgoed en woorde opgetel tydens skoolvakansies op die plaas en tot vandag toe ervaar ek ’n onverklaarbare blydskap in my wanneer ek die soet klanke van Zoeloe hoor.”
Sy begin haar skoolloopbaan aan die Laerskool Eloffsdal in Pretoria. Daarna is sy na die Laerskool Mariepskop, Kampersrus en voltooi haar laerskoolloopbaan aan die Laerskool Phalaborwa (Groenskool).
Celesté matrikuleer in 1976 aan die Hoërskool Frans du Toit in Phalaborwa. Dié dorp was destyds ’n tipiese plattelandse myndorp, vertel sy, “maar anders in die opsig dat die twee kopermyne Foskor en PMC ’n ryke verskeidenheid van mense by mekaar gebring het van oor die hele wêreld. Dit was ’n kosmopolitaanse omgewing met invloede uit elke uithoek van die aarde. Ek het dikwels Afrikaanse en Engelse opstelle van jonger en ouer leerlinge ‘geredigeer’. Die ligging daarvan langs die Kruger Wildtuin en die Hans Merensky-gholfklub het vele toeriste en besoekers getrek, en ’n groot liefde vir die veld en wildlewe by my gekweek.
“My Afrikaanse onderwyser in matriek, Wilhelm Liebenberg (’n skrywer), het bygedra tot die besef dat ek graag eendag sou wou publiseer.”
Celesté geniet dit al van jongs af om gediggies en skoolopstelle te skryf. Dit was egter eers op hoërskool dat sy bewus geword het dat sy dalk tog talent het om te skryf. Dit was nadat ’n Afrikaanse onderwyser van die stad haar eendag gelukgewens het met haar opstel. Sy vertel dat haar skryfwerk haar gehelp het om fyner waar te neem.
In haar matriekjaar (1976) stuur sy ’n paar van haar gedigte aan Petra Müller, destyds verhaleredakteur by Sarie: “Vir weke het ek ons posbus dopgehou en die opwinding was onbeskryfbaar toe ek eindelik die brief met die Kaapstad-posstempel ontvang. Petra het my baie vriendelik dog ferm ingelig dat ek eerder nog lewenservaring moet opdoen voor ek my hand aan die digkuns waag.”
Verdere studie en werk
As ’n baie jong 17-jarige eerstejaar het sy by die Universiteit van Pretoria aangekom waar sy eers in Huis Asterhof was en later in Huis Vergeet-my-nie. Maar die koshuislewe was nie die hoogtepunt van haar studentelewe nie. Terwyl die ander meisies skoene en klere gekoop het, het sy die boekwinkels gefynkam op soek na digbundels en boeke: “Ek is nie ’n groepsmens nie en het nooit aan koshuisaktiwiteite deelgeneem nie. As plattelandse kind was die ingeperktheid van die koshuislewe vir my moeilik om te verduur. Gelukkig het ek ’n motorfiets besit en gevolglik kon ek die stad en omgewing op my eie verken. Met ’n onderwys- en prestasiebeurs kon ek later ’n klein motortjie bekostig en het gereeld nuwe plekke gaan verken en by my ouers op die platteland gaan kuier.”
Celesté verwerf die grade BA(Ed), BA(Hons) in Afrikaans en BA(Hons) in Professionele Skryfwerk en Vertaling (cum laude) aan die Universiteit van Pretoria. Vanaf 1981 tot 1994 is sy vertaler by die Stadsraad van Pretoria en die Departement van Onderwys en Opleiding in Pretoria. Vanaf 1995 tot en met haar vroeë aftrede in 2006 is sy die hoof van taaldienste by die Tshwane Munisipaliteit, waar sy onder andere taalbeleid- en taalbeplanningsreferate by nasionale en internasionale taalkonferensies lewer. Weens haar bydrae tot die taalbedryf ken PANSAT in 2005 ’n veeltaligheidsmedalje aan die Tshwane Munisipaliteit toe. Sedert April 2006 werk sy as vryskutkopieskrywer, -vertaler, -redigeerder, -proefleser en taalkonsultant vir kliënte soos uitgewers, korporatiewe instansies, ambassades, plaaslike owerhede, taalagentskappe, universiteite en privaat individue. (LitNet)
Sy het veral die laaste BA(Hons) in Skryfwerk en Vertaling baie geniet – sy kon die klasse persoonlik bywoon en het die interaksie met die veel jonger studente en dosente baie geniet. “Daar was minder druk om te presteer en die kreatiewe skryfwerk in Afrikaans by dr Annette Jordaan en Engels by prof David Medalie het baie vir my loopbaan as skrywer beteken.”
Celesté se eerste “gepubliseerde werk” was ’n radioskets wat sy aan die destydse Vrouerubriek op Radio Suid-Afrika gestuur het. Dit was in die 1980’s toe sy in haar twintigs was en Elsabé Daneel het dit voorgelees. Celesté vertel: “My ouers was in hul huisieswa aan die toer deur die land en was toevallig die oggend met die voorlesing ingeskakel. My ma sê my pa het byna in ’n gekookte eier verstik toe die kontinuïteitsaanbieder sê ’n skets deur Celesté Fritze word later dié oggend uitgesaai. Daarna is nog ’n skets uitgesaai, maar ek het al die naam daarvan vergeet.”
Soos so baie ander skrywers verskyn van haar verhale in Rooi Rose, Sarie, Vrouekeur en Huisgenoot. Haar eerste gedig wat oor ’n jakarandaboom handel, het in Tydskrif vir Letterkunde verskyn. Later word van haar skryfsels op LitNet geplaas.
Kortverhale van haar is opgeneem in versamelbundels soos Spoke, rillers en ander grillers (2010; samesteller: Talita van Graan), Koshuis (2019; samesteller: Erns Grundling) en Lyfskap (2021; samestellers: Sophia Kapp en Leonie van Rensburg).
Celesté se eerste roman word in 2016 by Queillerie uitgegee onder die titel Verlorenkop. Verlorenkop is nie oornag geskryf nie – dit het vir Celesté drie jaar se navorsing gekos en vyf jaar se skryfwerk. Die herskryf van die manuskrip het ’n verdere twee jaar geneem: “Ek het Verlorenkop op Witsand voltooi, in ’n vissershuisie langs die Breederivier. Daar kon ek daagliks na die stem van die rivier luister. Dit het my meer insig in Herman Hess se Siddartha gegee.”
Die tema van vroulike voorgeslagte kom in die roman na vore, vertel sy op LitNet aan Naomi Meyer: “Maar ek dink die skrywer moet die laaste een wees wat weet wat hy/sy alles in sy/haar werk gesit het. Die gedagte van verganklikheid is egter nie vreemd aan Verlorenkop nie. Daar is ’n blou jas wat ’n soortgelyke rol vervul, terwyl ek nou daaroor dink. As jy met empatie kyk, is daar plek vir voorgeslagte om vir jou ’n borswering teen die lewe te wees. Onbekend is onbemind. Dalk is voorgeslagtreitering die gevolg van onkunde. Wanneer die voorste verdwyn, sluit die aardse biblioteek van jou voorlewe. Jy kan nie weer ’n storie uit die geheuerakke gaan leen nie.
“Die plaasjoernale van die hoofkarakter se groottante (Christine Retief) begin in 1916, 100 jaar gelede. Dit is ongelooflik hoe die wêreld sedertdien verander het. Ek dink daar is ’n hunkering na ’n tyd toe mense nader aan die natuur geleef het.”
Oor voorgeslagte in die algemeen, vertel Celesté aan Naomi Meyer: “Mens weet te min; jy let nie fyn genoeg op nie. Ons is te besig met onsself, maar êrens bly daar ’n indruk agter, word ’n gedagte geplant, word ’n verdwaalde woord in ’n geselskap opgepik en in die geheue van ’n kind gestoor.
“Toe ek so vier jaar oud was, vertel my ma, het ’n omgeboude vistenk waarin my pa sy tropiese visse gehou het, meegegee terwyl ons gesin elders was. Dit was katastrofies. Dooie visse het oral verstrooi gelê toe ons by die huis instap. Ek het later in een van die kleiner, gebreekte tenks gaan inkruip en wou lank nie daar uitkom nie. ‘Maar wat maak jy daar?’ het my ma gevra. ‘Ek verbeel my ek is ’n dooie vis,’ het ek geantwoord. Toe ek uiteindelik uit die beperkte ruimte opstaan, het van die glasskerwe in my rug gesteek en dit het glo erg gebloei. Ek meen ’n skrywer moet hom in ’n ander se skoene probeer inverbeel en dan nie terugdeins vir die ongemak wat dit dalk meebring nie.”
Celesté vertel ook vir Meyer meer oor die titel Verlorenkop: “Verlorenkop (enkelvoud) is ’n soort oomblik, stel ek my dit voor. Miskien is dit ’n moment wanneer ’n karakter besef sy het haarself ’n onguns bewys: sy was te lank ’n mensebehaer, sy het lank genoeg na die kerk, die skool, die (straight) samelewing, en die voorsate se pype gedans. Daardie oomblik (ja, seker binne die ruimte waarin sy haar bevind) wanneer sy die ding doen wat ander mense as vanselfsprekend aanvaar, wanneer sy haarself word, wanneer sy kop verloor en die gevolge van mindere waarde ag. Nie almal is op so ’n oomblik aangewese nie. Veral nie in die 2016 waarin ons leef nie.
“Verlorenkoppe (meervoud), daarenteen, is ’n fisiese ruimte: die familieplaas van die Retiefs, met sy verspreide koppies en rantjies waar geheime skuil.”
In Beeld (1 Februarie 2016) vertel Celesté self waaroor Verlorenkop gaan: “Dit gaan oor verskillende generasies vroue. Die hoofkarakter Jo du Plooy word van kindsbeen af bewus van geheime wat op ma Anna se geboorteplaas versteek lê. Die grootmense fluister op die plaashuis se stoep, terwyl Johanna en haar oumagrootjie in die tuinkamp ‘weggebêre’ word. Johanna se eie geheim maak dat sy op vlug slaan van haar familie, van die beklemmende landspolitiek en van haar seksualiteit. Daar is verskeie vroue in haar lewe: ma Anna wat as peuter van haar ma weggeneem word, groottante Christine met haar gay liefdesgeskiedenis, Christi, verbitterde dogter en oorblywende helfte van ’n tweeling, vriendin Lara wat Jo se geheim help begrawe, joernalis Marga met haar skrynende verhaal van gender-kwellinge en Muriel – die sensuele skoonheid by wie alles vir die jong Jo begin.”
Janien Linde het Verlorenkop vir LitNet geresenseer: “Wat die sterk boerevroubeeld betref, staan Verlorenkop in die tradisie van groot verhale soos Olive Schreiner se The Story of an African Farm en Marlene Niekerk se Agaat. Alhoewel die roman nie van dieselfde kaliber as hierdie werke is nie, is die aanvulling wat Verlorenkop tot die Afrikaanse romankuns bied veral gesetel in die lesbiese perspektief op die plaasgegewe. Ta’ Christine is ’n sterk lesbiese vrou wat haar lewe lank ’n boerdery suksesvol bedryf, en selfs al vlug Jo na ’n ander vasteland, is sy ook maar ’n boer in murg en been. Haar perdeboerdery-aktiwiteite verloop vlot danksy die hulp van die enigmatiese Kath. Kath is die een wat Jo Joanne noem en haar ou geheime en vrese weer kom oopkrap met haar intense Argentynse oë. Die onrus wat Jo haar lewe lank dryf, kom eers tot bedaring wanneer Jo op die plaas Kleinfontein in die Karoo gaan boer ná Kerneels se dood. Saam met Marga maak Jo daar uiteindelik vrede met haarself en haar voorgeslagte.
“Die tema van oudword en vergeet is een wat sterk in die roman na vore tree. Alzheimer se siekte is in beide Jo en Kerneels se families teenwoordig. Kerneels wy ook sy hele professionele loopbaan aan navorsing daaroor. Jo word as kind saam met haar seniele oumagrootjie Delores in die afgekampte blomtuin ‘weggebêre’, ’n beeld wat in die proloog die verhouding tussen die voorgeslagte en die nageslagte op die voorgrond bring: ‘So kon die twee in hulle eie wêreld wees. Die een in die wêreld van voorkennis, die ander in die wêreld van nakennis ...’ (12). Ta’ Christine se dagboeke bied verweer teen die aanslae van vergeet en bring ook die wêrelde van voorkennis en nakennis byeen. Ta’ Christine word so goed in hierdie dagboekinskrywings gekarakteriseer dat ’n mens soms wonder of sy nie eerder die hoofkarakter moes gewees het nie. Die eerstepersoonsverteller wat in Ta’ Christine se vertelling gebruik word, sou dalk die karakter Jo vir die leser ook meer toeganklik gemaak het. (…)
“Verlorenkop is ’n verdienstelike debuut wat ’n verhaal vertel wat interesseer en gemaklik lees. Dit dra by tot die verruiming van die tradisie van die plaasnarratief in Afrikaans deur spesifiek die lesbiese perspektief daarop oortuigend weer te gee.”
Dewald Koen skryf in Rapport (17 April 2016) dat daar in Verlorenkop kenmerke van die tradisionele plaasroman is, maar die tipiese patriarg is nie die fokuspunt nie, maar wel die vroulike karakters. “Die skrywer beweeg doelbewus weg van die tradisionele patriargale bestel en verskaf ’n stem aan diegene wat binne die Afrikanergeskiedenis en literêre tradisie hoofsaaklik as randfigure bestempel is. (…)
“Fritze se roman is fyn ingestel op aspekte van gender en seksualiteit en word onbewustelik en op sensitiewe wyse as deel van die narratief geïnkorporeer. Virginia Woolf se roman A room of one’s own kom hier te sprake, aangesien Christine en Johanna se lewensverhale weerklank vind in Woolf se konsep van ’n kamer waarheen ’n vrou met haar geheime en gedagtes kan ontvlug. Christine se spreekwoordelike kamer word haar joernale en deur middel van dié joernale vind Johanna ná jare se wroeging haar ware identiteit as mens en as vrou.
“Verlorenkop kan ook as betrokke literatuur beskou word. Die fokus op temas soos die Afrikanerdiaspora in die postapartheid-Suid-Afrika, asook op homoseksualiteit. Fritze se gay vrouekarakters word realisties en sensitief uitgebeeld. Verlorenkop moet egter nie as ’n ‘gay’-roman beskou word nie. Seksualiteit verleen bloot ’n verdere dimensie aan die spanningsvolle en boeiende intrige.
“Fritze se keurige taalgebruik dra by tot die roman se geslaagdheid en dit is duidelik dat geen moeite ontsien is om die roman op taalkundige nougesette wyse af te rond nie. Dié aspek dra sterk by tot Fritze se unieke skrywerstem wat in die roman deurskemer. Fritze kom sodoende as skrywer tot haar eie reg.
“Verlorenkop as roman is tematies gesproke ’n wenresep wat ontspanningslektuur met hoër letterkundige aspekte kombineer. ’n Groot verskeidenheid lesers sal by hierdie debuutroman aanklank vind. Verlorenkop is myns insiens ongetwyfeld een van 2016 se debuuthoogtepunte wat die romankuns betref.”
In 2022 word Celesté Fritze se eerste digbundel, Verdeelde stand / Divided stance, by Hemel & See Uitgewers gepubliseer.
Volgens die uitgewers is Verdeelde stand / Divided stance saamgestel uit die “vermenging van onder meer tale, kulture en seksualiteite in die diverse Suid-Afrikaanse werklikheid oor verskeie tydvakke heen. Die Afrikaanse en Engelse gedigte meld aan in die digter se voorkeurtaal vir die tema, stemming of onderwerp en is nie vertalings of verwerkings van mekaar nie. Die digter gebruik die taal van die moeder en die werkstaal van die vader om wydlopende temas soos die omgewing, meertaligheid, tolking, die politieke bestel, die liefde, verlies en veroudering, die Covid-19-pandemie, metapoësie, delusies, en drome aan te roer.”
Heilna du Plooy bespreek die bundel op LitNet: “Verdeelde stand / Divided stance is die debuutbundel van Celesté Fritze. Die titel verwoord eksplisiet ’n verdeeldheid, ’n tweeledigheid wat die leser dan in die gedigte sal terugsoek. Die bundel is ingedeel in vyf onderafdelings sonder opskrifte, maar boaan elke afdeling word ’n mooi aanhaling uit die wêreldletterkunde gegee.
“Die eerste afdeling begin met ’n aanhaling van die Amerikaanse digteres Louise Glück:
Many times in winter
I approached Zeus.
Tell me, I would ask him,
how can I endure the earth?
“Die afdeling bevat dan ook inderdaad verse oor die aarde, oor die natuur, stemmings in die natuur, die skade aan die natuur en die verhouding tussen die mens en die natuur. Sommige gedigte verwoord ’n blote indruk van ’n toneel of ’n plek, maar in ander slaag die digteres daarin om ’n besondere oomblik sterk poëties weer te gee. (…)
“Die tweede afdeling word ingelei met ’n aanhaling van Robert Frost:
Take care to sell your horse before he dies. The art of life is passing losses on.
“Die gedigte in dié afdeling handel dan ook inderdaad oor afskeid, oor die persoonlike ervaring van diepgevoelde hartseer en verlies wat in ’n skerp ironiese verhouding tot Frost se droë en effens siniese humor te staan kom. Want in die gedigte word afskeid geneem van ’n moeder deur die aftakeling van die ouderdom te betreur en herinneringe op te rakel. Daar is ’n gedig oor ou vriende wat een vir een sal verdwyn (‘The Big Four’), verse vir die oumas en ’n oupa, vir ’n vader, vir politieke figure en selfs vir ’n verloopte kat. Hierdie afdeling staan in die teken van ’n bewustheid van die onvermydelike voortgang van lewe en die onafwendbare dood. (…)
“Die volgende afdeling, wat telkens ’n historiese of politieke gebeurtenis of persoon en hulle verbintenis met taal as onderwerp het, staan onder die sambreel van Pablo Neruda se wyse woorde:
In what language does rain fall over tormented cities?
“Hier is gedigte oor uiteenlopende figure, onder meer Richard Wolfgang Sonnenfeldt wat as tolk opgetree het by die Nuremberg-verhore, Autshumao wat vir die vroeë amptenare aan die Kaap getolk het, en ’n klein Chinese seuntjie wat die dokter se diagnose vir sy sterwende oupa moet tolk. In hierdie afdeling staan die gedig waarvan die titel ook die bundeltitel is. In die gedig verklaar die digter haar verbintenis aan twee tale via twee ouers wat onderskeidelik Afrikaans en Engels was. Haar greep op albei tale word dan ook inderdaad regdeur die bundel bevestig. Dit is een van die aspekte van verdeeldheid wat in die titel van die bundel aangedui word.
“Die liefdesgedigte in die bundel is saamgegroepeer onder die vlag van ’n verklaring van Wislawa Szymborska (‘My apologies to past loves for treating the latest as the first’), en die laaste afdeling wat gedigte oor die poësie self bevat, staan onder ’n motto van Archibald Macleish (‘A poem should be palpable and mute’). In die liefdesgedigte is mens soms nie seker of die geliefde ’n mens of ’n gedig is nie, met die gevolg dat die liefde en die poësie versmelt. (…)
“Op die agterplat word die digter bekendgestel as ’n taalpraktisyn en skrywer, en op LitNet word sy verder omskryf as vryskutkopieskrywer, -vertaler, -redigeerder, -proefleser en taalkonsultant. Die leser het dus hier met ’n taalvaardige en belese mens te make, ook in meer as een taal. Die bundel self bevestig dan ook inderdaad hierdie beskrywings. Die gedigte is ’n bewys van grondige nadenke oor uiteenlopende onderwerpe en belangstellings, die produk van ’n aktiewe en wakker gees. Daarby is die digter goed met woorde. Dit is egter wel so dat die inhoud van gedigte nie noodwendig die gehalte van die gedigte bepaal nie. Daar is baie goeie en afgeronde gedigte in die bundel, maar daar is ook verse wat sou kon baat by verdere afronding, nog ’n fase of twee van slyping. Soms is daar net te veel woorde, en die gedig word swaar. Sommige gedigte vra ook vir meer aandag aan die vorm. Aandag aan meer eenvormigheid in die strofebou, meer ontginning van poëtiese vorme en struktuur, is dikwels juis die prikkel om die gedig nog verder af te rond, te verdig en dus sterker uit die stryd te laat tree. Dan word die gedig vanself skraler en sterker.
“Nogtans sal lesers hierdie bundel kan geniet, vanweë die verskeidenheid in die tematiek, die diepgang van nadenke en die vaardigheid waarmee taal hanteer word.”
Op Versindaba is Nini Bennett die resensent en sy sluit haar redelik uitgebreide bespreking as volg af: “Ten spyte van die gebruik van gebrekkige en inkonsekwente interpunksie – die digter laat in verskeie verse kommas weg om ’n voortstuwende enjambement in die hand te werk – lewer Fritze ’n bundel hibriede poësie waarin oud en nuut op ’n prikkelende wyse geïntegreer en aan die leser gebied word. Hier is ’n digdebuut wat meerstemmig saamsing in die tale en tematiek van ’n hedendaagse sowel as ’n historiese Suid-Afrikaanse werklikheid.”
Joan Hambidge skryf op Woorde wat weeg: “Hierdie digbundel sit die noot hoog in op die agterblad. Daar word beweer die digter neem verskillende stemme aan en die gedigte is nie vertalings of herwerkings van mekaar nie. ’n Hibriede bundel saamgestel uit verskillende tale, kulture, seksualiteite, uit die diverse Suid-Afrikaanse werklikheid. Nou skep hierdie parateks ’n leesverwagting by die leser. En ons word nie teleurgestel of gefnuik nie.
“En laat ons dit onomwonde stel: in hierdie dae van ’n tsoenami van bedenklike bundels en eendagvliegies is hierdie ’n belowende debuut. Die digter het gelees (Auden, Eliot, Frost, Louise Glück, MacLeish, Neruda, Szymborska) en sy beskou liefdesverhoudings, vriendskappe, haar relasie met haar ouers, die dood van ’n dier, landskappe van buite en binne.
“Twee belangrike vrouedigters begelei die verse: Glück wat pakkende verse oor die einde van ’n huwelik geskryf het en liggaamlikheid, en Wisława Szymborska wat taal in ’n gedig so goed navigeer. (...)
“Hierdie digter lewer verse waarin die emosie teruggehou word (soos sy leer via TS Eliot) en in die slotvers ‘Selfisolaat’ (96), ’n behendige ars poetica, tref sy die leser met die verskillende vlakke wat sy saamdig: ouderdom en oudword en wat dit alles behels. (…) ’n Bundel met ’n handvol sterk verse wat ons laat uitsien na ’n opvolg.”
Oor haar stokperdjie en ander belangstellings vertel Celesté aan LitNet: “Lees, lees, en nóg lees. Ek hou ook van die buitelug en ek stap graag. Vroeër het ek gedraf en aan padwedlope deelgeneem. Ek kan my ook nie ’n lewe sonder boeke en goeie musiek voorstel nie. Sonder musiek kan ek beslis nie; ek het ’n wye musieksmaak, maar luister veral graag na klassieke musiek, jazz en die blues.
“My reise in Europa en later in Amerika bied steeds materiaal vir my skryfwerk. Ek is ook baie lief vir ons eie land en probeer gereeld plekke besoek waar ek nog nie voorheen was nie. Soms kom ’n mens wonderbaarlik onbepland op ’n plek af waar jy voorheen was en dan leer jy dit van nuuts af ken. Soveel kere is ek herinner aan TS Eliot se woorde uit ‘Little Gidding’:
We shall not cease from exploration. /
And the end of all our exploring /
Will be to arrive where we started /
And know the place for the first time.
“’n Tyd gelede het ek op ’n gasteplaas buite Franschhoek gekuier en kom toe op ’n dag agter dat ek 25 jaar vantevore ook daar gebly het. Die plaas het twee ingange uit verskillende rigtings, mens sou nooit dink dit is dieselfde plek wanneer die omgewing vir jou nie so bekend is nie. Dikwels kom sulke plekke in my skryfwerk na vore. In 1997 was daar ’n luidrugtige haan wat om middernag op die dak van die Paradise Cottage gesit en kraai het, en in 2022 hoor ek toe sy agterkleinseun ’n keel opsit waar ek dié keer in William’s Cottage op die plaas gewoon het.”
Oor haar toekomsplanne: “Die lewe is ’n groot avontuur. Ek gaan waarheen dit my lei. Ek praktiseer steeds as taalpraktisyn (om den brode), maar vanaf 2024 wil ek in die Wes-Kaap gaan toer in ’n klassieke VW-kombi en meer tyd aan my skryfwerk wy.”
Publikasies:
Publikasie |
Verlorenkop |
Publikasiedatum |
2016 |
ISBN |
9780795801068 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Queillerie |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
|
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Verdeelde stand / Divided stance |
Publikasiedatum |
2022 |
ISBN |
9781998958856 (sb) |
Uitgewer |
Hermanus: Hemel & See Boeke |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
|
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Artikels oor Celesté Fritze
- Celesté Fritze
- Celesté Fritze. Versindaba, 22 Junie 2022
- Kopskote met Celesté Fritze. Netwerk24, 30 Januarie 2016
- Meyer, Naomi: Vandag is ek ’n windlawaai – die storie agter die inskrywing voorin die bundel
Artikels deur Celesté Fritze
- A silver fish swallowed my mother [gedig]
- aardreg [gedig]. LitNet, 20 Oktober 2011
- “Boodskappe van die muse” deur Celesté Fritze. LitNet, 5 November 2011
- “Buyi Xaba” deur Celesté Fritze. LitNet, 18 Oktober 2011
- By die afsterwe van ’n beeldhouer
- By die Pretoriase kunsmuseum [gedig]
- Die skrywer, die beeldhouer en die aspirantdigter [kortverhaal]
- Die skrywer, die beeldhouer en die aspirantdigter oor haute cuisine [kortverhaal]
- “Engel op besoek” deur Celesté Fritze [gedig]. LitNet, 5 November 2011
- Flitsverhaal: Linka vang ’n ster [kortverhaal]. Sarie, 1 Augustus 2018
- hawking [gedig]. LitNet, 29 Junie 2011
- Hoe lyk jou stad-kompetisie: My stad [gedig]. LitNet, 4 Julie 2012
- hoenderkode [gedig]. LitNet, 20 Oktober 2011
- Huis, woning, tuiste: c-max [gedig]
- Interpreting Nuremberg [gedig]. LitNet, 24 Julie 2013
- Kwarantyn [gedig]
- Liefde in die tyd van Covid-19 [gedig]
- Ma onder observasie [gedig]
- Of babelas and bullies: a tribute to Martie Preller (with Joseph Seakamela)
- Olyfboord [gedig]
- omkeervlam [gedig]
- Op Paternoster [gedig]. Vrye Weekblad, 1 Junie 2023
- vergelding [gedig]. LitNet, 10 Julie 2012
- Volmaanaand [gedig]
Bron:
- Fritze, Celesté: Biografiese inligting
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
- Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.