
Foto: Canva
Ma onder observasie
Ma lê drome uit in haar slaap.
Haar naggesprekke met God
verloop fluisterend, geanimeerd.
In ’n opstuwing van helderheid
om middernag sonder sy my uit
by die naam: “Lessie se tamaties
word te stadig ryp,” sê sy vir God.
“Ons moet geduldig wees, Ma,”
durf ek die Skepper groots kanaliseer.
Ma verneem na die weg van die Lam,
ons lees vanaand uit Openbaring 22.
Die teekoppie glip uit haar hand.
“Die vlek op my pajamabroek
lyk soos Afrika,” sê Ma.
Ma se krom linkerhand bly ingekeer
oor ’n verbrokkelende ribbekas.
In die borsholte skeef van skoliose
migreer die hart verlammend oos.
“Is dit die siekte wat ek het?” sou sy
vroeër vir die ouvrou in die spieël vra.
Ek skakel die bedlamp af, draai my rug
op die gewer van hierdie klein lewe.
Die boekrol van die Lewe bly verseël.
Kommentaar
Lieflik, Celeste!
Ongelooflik en diep pragtig.