By die Pretoriase Kunsmuseum

  • 2

https://pixabay.com/photos/art-gallery-museum-pictures-4242219/

Hier waar die beeldhouer vereer word,
in ’n landstreek digby berge,
het die munisipaliteit nagelaat om gras te sny.
Onkruid kraak deur die betonsypaaie
van Frances Baard- en Wesselsstraat.

Verbygangers staan stil en kyk,
die somerlug lê opgestapel met wolke.
Vriende wat saam oud geword het,
kan nog steeds die swaard opneem,
sê ek met die groet.

Hoë regeringsoffisiere is elders aan diens,
ongekende eerbetoon weerhou,
daar is geen helms, uniforms, wit pluimvere nie,
nóg vir Oermoer, nóg vir haar seun.
Die saluut van 21 kanonskote ontbreek,
Tshwane se rooi tapyt vergaar stof op Kerkplein.

Ek wil ’n gemoedelike lied sing,
maar laat dit oor aan die piet-my-vrou,
van sang en bid is ek genees.
Mense stort trane oor jou, ’n belese ou man
sê jy het getrou aan jouself gesterf.

Ek vra vir God of Hy my sal verskoon van
sigself getrou te sterf, want waaruit sou
’n middelmatige digter ’n bestaan kon kerf,
hier waar grootse beeldhouers raap en skraap?

Die een wat been tot staal sou plet
– oogverblinder –
sal nagstil terugkeer ná die reën,
om onder eerbetoon van ryker stergewelf,
nog een maal gewigloos te versuim.

  • 2

Kommentaar

  • Dankie, Celesté, vir dié roerende gedig oor Sybrand Wiechers, een van Suid-Afrika se beste beeldhouers. Hy het te jonk gegaan, met nog so veel om te gee. Ons eer sy nagedagtenis.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top