Verdeelde stand / Divided stance deur Celesté Fritze: ’n resensie

  • 0

Verdeelde stand / Divided stance
Celesté Fritze

Hemel en See Publikasies, 2022

Verdeelde stand / Divided stance is die debuutbundel van Celesté Fritze. Die titel verwoord ekspliset ’n verdeeldheid, ’n tweeledigheid wat die leser dan in die gedigte sal terugsoek. Die bundel is ingedeel in vyf onderafdelings sonder opskrifte, maar boaan elke afdeling word ’n mooi  aanhaling uit die wêreldletterkunde gegee.

Die eerste afdeling begin met ’n aanhaling van die Amerikaanse digteres Louise Glück:

Many times in winter
I approached Zeus.
Tell me, I would ask him,
how can I endure the earth?

Die afdeling bevat dan ook inderdaad verse oor die aarde, oor die natuur, stemmings in die natuur, die skade aan die natuur en die verhouding tussen die mens en die natuur. Sommige gedigte verwoord ’n blote indruk van ’n toneel of ’n plek, maar in ander slaag die digteres daarin om ’n besondere oomblik sterk poëties weer te gee. Die gedig “Wenfoto” is trefseker:

Wenfoto

In die wieg van die aalwynboom
rus die sekelmaan
met gestadigde sluiterspoed
gevries op die einder
mik ’n kaktus sy vredesteken
na die môrester.

Dieselfde helderheid van segging kom ook voor in die Engelse gedig “Hawking” in strofes soos die volgende:

I long for the ancient
and the elegant
symbol of the noble –
a single merlin,
with slender pointed wings
climbing, sailing,
diving fiercely for its prey.

Die tweede afdeling word ingelei met ’n aanhaling van Robert Frost:

Take care to sell your horse before he dies. The art of life is passing losses on.

Die gedigte in dié afdeling handel dan ook inderdaad oor afskeid, oor die persoonlike ervaring van diepgevoelde hartseer en verlies wat in ’n skerp ironiese verhouding tot Frost se droë en effens siniese humor te staan kom. Want in die gedigte word afskeid geneem van ’n moeder deur die aftakeling van die ouderdom te betreur en herinneringe op te rakel. Daar is ’n gedig oor ou vriende wat een vir een sal verdwyn (“The Big Four”), verse vir die oumas en ’n oupa, vir ’n vader, vir politieke figure en selfs vir ’n verloopte kat. Hierdie afdeling staan in die teken van ’n bewustheid van die onvermydelike voortgang van lewe en die onafwendbare dood. ’n Gedig oor die dood van ’n vrou op dieselfde dag wat daar ’n baba gebore word, vat dit so saam:

Op die perron van aankoms en vertrek
in die spieël van raaisels
kon julle vir ’n oomblik talm en mekaar erken
die broosheid van jul handelsmerk besef.

Die volgende afdeling, wat telkens ’n historiese of politieke gebeurtenis of persoon en hulle verbintenis met taal as onderwerp het, staan onder die sambreel van Pablo Neruda se wyse woorde:

In what language does rain fall over tormented cities?

Hier is gedigte oor uiteenlopende figure, onder meer Richard Wolgang Sonnenfeldt wat as tolk opgetree het by die Nuremberg-verhore, Autshumao wat vir die vroeë amptenare aan die Kaap getolk het, en ’n klein Chinese seuntjie wat die dokter se diagnose vir sy sterwende oupa moet tolk. In hierdie afdeling staan die gedig waarvan die titel ook die bundeltitel is. In die gedig verklaar die digter haar verbintenis aan twee tale via twee ouers wat onderskeidelik Afrikaans en Engels was. Haar greep op albei tale word dan ook inderdaad regdeur die bundel bevestig. Dit is een van die aspekte van verdeeldheid wat in die titel van die bundel aangedui word.

.............
In die gedig verklaar die digter haar verbintenis aan twee tale via twee ouers wat onderskeidelik Afrikaans en Engels was. Haar greep op albei tale word dan ook inderdaad regdeur die bundel bevestig. Dit is een van die aspekte van verdeeldheid wat in die titel van die bundel aangedui word.
...............

Die liefdesgedigte in die bundel is saamgegroepeer onder die vlag van ’n verklaring van Wislawa Szymborska (“My apologies to past loves for treating the latest as the first”), en die laaste afdeling wat gedigte oor die poësie self bevat, staan onder ’n motto van Archibald Macleish (“A poem should be palpable and mute”). In die liefdesgedigte is mens soms nie seker of die geliefde ’n mens of ’n gedig is nie, met die gevolg dat die liefde en die poësie versmelt. Hier, soos ook in die ander afdelings, val dit my op dat van die Engelse gedigte meer afgerond, meer verfynd voorkom, soos in “Hawking”, “Brondal’s bride”, “Interpreting Nuremberg”, “Shing Gan”, “Southern colours” en meer. Nie dat ek bedoel die digter moet in Engels alleen begin skryf nie – allermins; dis selfs moontlik dat die Afrikaanse gedigte dalk makliker, woordryker na haar toe kom en dus meer afronding vereis.

Op die voorblad van die bundel is daar ’n afbeelding van ’n dogtertjie wat agter ranke van ’n struik staan en die figuurtjie is met blommotiewe ingevul. Die fyn ranke het klein blaartjies aan, maar met ’n eerste vinnige blik lyk dit ook asof dit dorinkies kan wees, selfs doringdraad. Daar is dus ’n onmiddellike suggestie van ’n vroulike wesentjie wat ’n deurbraak wil maak of wat waarneem, maar asof deur ’n netwerk van takke. Mens moet sekerlik nie te veel in ’n buiteblad inlees nie – dit is immers nie ’n gedig nie – maar die beeld maak tog ’n sterk indruk en dit weerspieël wel wat in die bundel staan, naamlik ’n deurlopende bewustheid van teenstellings en ironieë, wat betref taal self, die poësie, maar ook die kompleksitiet van soveel menslike belewenis.

.............
Daar is dus ’n onmiddellike suggestie van ’n vroulike wesentjie wat ’n deurbraak wil maak of wat waarneem, maar asof deur ’n netwerk van takke. Mens moet sekerlik nie te veel in ’n buiteblad inlees nie – dit is immers nie ’n gedig nie – maar die beeld maak tog ’n sterk indruk en dit weerspieël wel wat in die bundel staan, naamlik ’n deurlopende bewustheid van teenstellings en ironieë, wat betref taal self, die poësie, maar ook die kompleksitiet van soveel menslike belewenis.
................

Op die agterplat word die digter bekendgestel as ’n taalpraktisyn en skrywer, en op LitNet word sy verder omskryf as vryskutkopieskrywer, -vertaler, -redigeerder, -proefleser en taalkonsultant. Die leser het dus hier met ’n taalvaardige en belese mens te make, ook in meer as een taal. Die bundel self bevestig dan ook inderdaad hierdie beskrywings. Die gedigte is ’n bewys van grondige nadenke oor uiteenlopende onderwerpe en belangstellings, die produk van ’n aktiewe en wakker gees. Daarby is die digter goed met woorde. Dit is egter wel so dat die inhoud van gedigte nie noodwendig die gehalte van die gedigte bepaal nie. Daar is baie goeie en afgeronde gedigte in die bundel, maar daar is ook verse wat sou kon baat by verdere afronding, nog ’n fase of twee van slyping. Soms is daar net te veel woorde, en die gedig word swaar. Sommige gedigte vra ook vir meer aandag aan die vorm. Aandag aan meer eenvormigheid in die strofebou, meer ontginning van poëtiese vorme en struktuur, is dikwels juis die prikkel om die gedig nog verder af te rond, te verdig en dus sterker uit die stryd te laat tree. Dan word die gedig vanself skraler en sterker.

Nogtans sal lesers hierdie bundel kan geniet, vanweë die verskeidenheid in die tematiek, die diepgang van nadenke en die vaardigheid waarmee taal hanteer word.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top