omkeervlam

  • 0

met die sweisboog van liefhê
durf ek jou liggaam in ere herstel
die knobbelrige uitloop van osteoartritis
kraalgroottes karsinoom
aterosklerose van vate
aarwande aangekalk
gekatarakte retinas
sinapse senilis
– kwelgeeste van akute blinde stupor –
sekuur in die boogbaan
vir slytasie toegelaat
korsmos-deurdronge
ouderdomsverwante invretings
poreus verbrons
borswering se verswakte skarniere
korroderende keelopenings
in die vuurslag van my koplamp
sonder spatverlies
op die doupunt van ’n winterdag
aangevul met elastien en kollageen
met ’n sterker stustroom dissekteer
jou profiel se ontoelaatbare toleransie,
die progressiewe agteruitgang
van die harsings,
in die boogvlam stuit

Lees ook

vergelding

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top