Die skrywer, die beeldhouer en die aspirant-digter

  • 0

Die skrywer, die beeldhouer en die aspirantdigter geniet middagete by Huckleberry’s in Magnolia Dell. Die aspirantdigter versteek haar fobie vir klein ruimtes onder die dekmantel dat die pers wasblomme van die magnolias vir haar soos die geskulpte wande van ’n geboortekanaal lyk.

Wou die skrywer en die beeldhouer bietjie uitkom en ontdek hoe die natuur ’n mens kan na-aap? Die magnolias staan in volle blom in die omtes van die buitelugrestaurant, het die aspirantdigter beduie toe die vroue mekaar ? paar dae tevore in die Groenkloof Spar raakgeloop het.

Die beeldhouer, wat ’n oog vir vorm en tekstuur het, het haar nie twee maal laat nooi nie. Die skrywer was ook bereid – haar minnaar het haar lank agtergelaat vir ’n reis deur ’n lang donker tonnel waaruit hy nie met prikkels gewek kon word nie. Toe die skrywer se minnaar op haar verjaardag uit die koma ontwaak, kon hy eers net in akronieme praat. Sedertdien bepeins hy sy skyndood in voller sinne. Die skrywer het ’n behoefte om te ontsnap.

Al drie is voorlopig werkloos. Die beeldhouer het wel drie kinderkoppe in die pyplyn en die skrywer trek op bladsy vyftig van haar nuwe roman. Die aspirantdigter sluk vreesbevange toe sy die nuus verneem. Dit voel of sy aanhoudend agterbly. Haar skrale hoop is op ’n gedig wat sy vir ’n gedigkompetisie voorgelê het. Die prys is ’n stapel boeke waarmee sy die boeketafel by die huismark van ’n kunstenaarsvriend kan bevoorraad. Uit die verkope kan sy nog ’n maand oorleef terwyl sy ’n hygroman onder ? skuilnaam probeer skryf. Die aspirantdigter het nog nooit gepubliseer nie. Sy bid vir ’n deurbraak, want sy bekommer haar dood oor haar patetiese banksaldo. Sy is op die laaste driehonderd vyf-en-sestig rand en twee-en-veertig sent van die maand se kosbegroting.

Die skrywer giggel toe sy hoor die aspirantdigter het hoop op verdienste uit boekverkope. Sy probeer nie eens haar geamuseerde reaksie agter haar hand verbloem nie. Die aspirantdigter het nog veel om te leer.

“Waarom dink jy neuk ek op ander vastelande rond en gee Engels aan verveelde jongelinge?”

Die aspirantdigter en die skrywer se finansiële probleme word op die agtergrond geskuif toe die kelnerin die bestelling kom neem. Die skrywer lyk verward. Sy plaas haar leesbril op haar neus en vroetel met haar selfoon. Sy verwag ’n oproep, maar sy weet nie hoe die nuwe slimfoon werk wat haar dogter vir haar gekoop het nie.

Intussen besluit die beeldhouer op ’n cappuccino. Die aspirantdigter beskou die lug. Die geel suurlemoenson van laatwinter beteken haar liggaam behoort die rooiwynseisoen agter te laat en die lente met appelsider te verwelkom. Die skrywer besluit sy het ook lus vir ’n appelsider.

Die rook uit die sigaret van die beeldhouer draal in die rigting van die skrywer.

“Ek geniet die passiewe rook, dis goedkoper,” sê die skrywer en beduie dat haar minnaar met ? taalnavraag op sy lippe uit die koma gekom het. “Dalk het hy net ? slegte droom gehad, want hy wou dringend weet waarvoor die akroniem UNCTAD staan. Dit het glo met ? vorige opdrag te doen gehad. Eers toe die verpleegster woordeliks en direk van die lippe van die voorsitter van die Taalkommissie oordra dat UNCTAD vir die Verenigde Nasies se Konferensie oor Handel en Ontwikkeling staan, kon die dokters sy bloeddruk stabiliseer en hom vir Little Company of Mary se teater voorberei,” vertel die skrywer.

Dit alles behoort die skrywer inderwaarheid geheim te hou vanweë haar minnaar se hoë profiel, dink die aspirantdigter. Die groepie werkloses drink op die skrywer se minnaar.

By die tafel langsaan sit ’n man en ’n blondekopvrou wat vir die aspirantdigter soos FW de Klerk se Griekse vrou lyk. Hulle is in ’n lewendige gesprek gewikkel. Die aspirantdigter dink hulle is besig met ? werksonderhoud, want dit lyk of die vrou die man op ’n professionele manier probeer beïndruk.

Die skrywer sê nee, die Griek se neus is groter as die blondekopvrou s’n, en vryf oor haar eie groterige neus waarop die bril nog balanseer.

“Haar neus is tot groter as myne,” sê die skrywer in vergelyking.

Die aspirantdigter sê liewer nie vir die skrywer hoe aantreklik die groterige neus vir haar is nie, want netnou ignoreer die skrywer haar.

Die skrywer loer weer na haar selfoon.

Die aspirantdigter besluit om die skrywer uit te vra na haar afgelope werkskontrak. Die skrywer werk van tyd tot tyd as ’n taaldosent op veraf kontinente. ? Vorige kontinent was só veraf dat haar studente gemeen het Afrika word nog plek-plek deur mensvreters bewoon.

“Hulle het grillerige opstelle geskryf oor makabere orgies waar mensvleis by die hope verorber word,” vertel die skrywer en giggel toe sy die ander twee se verbaasde reaksie oplet.

Die beeldhouer knik afgetrokke en vertel ’n absurde storie oor kunstande wat sy op die Facebook-bladsy van ’n vriendin raakgelees het.

“Die man van wie ek op haar bladsy gelees het, had twee stelle vals tande,” vertel die beeldhouer, wie se lang poniestert onder die suurlemoenson blink. “Een stel het hy vir beste gehou. Hy sou die beste gebit, wat erg knyp, dorp toe dra, en die tweede beste stel, wat effens los pas, in sy baadjiesak bêre sodat hy dit vinnig kon omruil sou hy byvoorbeeld aan iets wou proe in die Pick n Pay, indien daar natuurlik ’n promosie op die een of ander item sou wees.”

Die beeldhouer lyk moeg van die lang sin. Die skrywer en die aspirantdigter giggel. Die beeldhouer gebruik die gegiggel om nog ’n sigaret aan te steek. Haar hande bewe effens.

“Nietemin,” vervat die beeldhouer, “die man met die twee stelle tande wil toe ’n nuwe soort aartappelskyfie probeer en koets agter die gesondheidskosrak in om tande te wissel.”

Op daardie oomblik sluit ’n pragtige jongvrou haar by die groepie vroue aan. Sy is die skrywer se dogter, ’n vioolvirtuoos, en sy lyk vies.

“Waarom antwoord Ma nie Ma se foon nie?” trap sy die giggelende skrywer uit.

Die skrywer lyk opnuut verward.

“Het julle die foon hoor lui?” vra die skrywer voor twee getuies.

“Nee,” bevestig die getuies in ’n koor. Die aspirantdigter verstom haar aan die skoonheid van die skrywer se dogter. Sy vergeet skoon om te groet.

“Ek gaan die hele middag oefen,” beduie die virtuoos; “Ma sal eers vanaand weer met my kan praat.”

Die beeldhouer kry darem kans om vlugtig te groet. Sy ken die skrywer se dogter van jongs af. Die skrywer se dogter tik ’n paar keer op die foon se raakskerm, smyt die foon op die tafel neer en loop weg van die vroue wat vir ’n wyle skuldig rondvroetel en probeer vasstel of daar nie dalk 6 missed calls op hulle fone is nie.

Nadat die aspirantdigter die skoonheid van die skrywer se dogter geregistreer het, wend sy ’n poging aan om die lighartige atmosfeer te herstel deur te erken dat sy ook selfoondoof is.

Die ongesteurde beeldhouer hervat die storie van die kunstande en die man wat nog laas in die Pick n Pay aan iets wou proe. “Die man glimlag met toeknyplippe vir die dame wat haar by die proetafel aansluit om ook ’n aartappelskyfie te probeer,” herinner die beeldhouer.

Die skrywer loer weer bekommerd na haar selfoon, wat steeds nie lui nie.

Die beeldhouer kug en vertel hoe die man later agter sy proegenoot in die tou by die kassier beland het. “Die man staan nog so in die tou,” sê die beeldhouer met ’n glimlag, “toe merk hy sy stel tande lê in die inkopiemandjie van sy proegenoot. Hy het dit per abuis daarin laat val.”

Die skrywer en die aspirantdigter giggel, en giggel nog harder toe die beeldhouer sê die arme man kon seker sterf van die verleentheid.

Die aspirantdigter dink aan haar ma. Haar ma is ’n versamelvoël met ’n fobie vir identiteitsroof. Sy skeur tot haar pildosies in fyn stukkies op, dan krap sy die name op die pilbotteltjies met ’n swart merkpen uit, dat niemand kan sien watse pille sy als drink nie. Die vorige dag het die aspirantdigter se ma juis vir haar vertel sy moet nuwe tande kry. Haar tande sit los.

“My ma het ook ’n paar stelle kunstande,” vertel die aspirantdigter. “Sy pak nou die dag kaste reg en kom op drie stelle erg?geslyte kunstande af. Sy dink toe die tande wat rondlê is onveilig en stap na die motorhuis toe, waar sy die tande met die hamer stukkend kap, maar sy kap saggies sodat die tande nie rondskiet nie,” verduidelik die aspirantdigter.

Die skrywer lag kliphard, die selfoon is vergete.

“O, maar die kunsstof waarvan die gebit gemaak word, is wonderlike vuuraanstekers,” beduie die beeldhouer.

Nou lag die skrywer en die aspirantdigter éérs.

“Goed,” sê die aspirantdigter, “ek sal my ma bel en sê sy moet die stukkende vals tande wat sy reeds in koerantpapier toegedraai het, vir my bêre. Ons kan dit gebruik om vuur te maak wanneer julle volgende week oorkom om te braai.”

Die beeldhouer kug.

Die aspirantdigter dink die storie is ’n groot grap.

“Ons kan ’n foto neem van die tande in die vleisbraaivuur en dit vir jou taalstudente stuur,” sê die aspirantdigter vir die skrywer. “Dan sal hulle vir seker weet daar woon nog mensvreters in Afrika.”

Die skrywer lag en loer weer op haar foon.

“Is dit ’n nuwe foon?” verneem die beeldhouer belangstellend.

“My vorige een is gesteel,” sê die skrywer.

“Wat is jou nuwe nommer?” wil die aspirantdigter angstig weet, bang dat sy kontak met die skrywer kan verloor.

“Nee, jinne, ek weet nou nie,” antwoord die skrywer verward, “ek dink dis onder my contacts.”

“Jy moet dit vir my ook gee,” vra die beeldhouer; “ek wil dit graag hê.”

Die skrywer rammel die nommer af en druk die foon in haar handsak.

“Jy moet nou net nie jouself bel, soos ek dikwels doen nie,” sê die beeldhouer.

“Jou foon is seker gereeld beset?” wil die aspirantdigter by die beeldhouer hoor.

Die beeldhouer ignoreer die aspirantdigter se ligsinnigheid en vra vir die skrywer waarheen sy op pad is. Die skrywer antwoord enige plek behalwe Europa.

Dit laat die aspirantdigter wonder. Sy wonder of dit nou die regte tyd is om vir die ander te vra, terwyl die skrywer uitwei oor die probleme in die Europese Unie.

Dalk moet sy net deurdruk, dit word laat.

“Het julle nou al besluit?” val sy die skrywer en die beeldhouer in die rede. “Soos wat lyk die pers wasblomme van die magnolias vir julle?” terwyl sy ’n swart notaboekie uit haar sak haal.

Die skrywer se selfoon lui meteens skel. Sy gryp dit uit haar handsak en druk dit onderstebo teen haar oor.

“Jy sal moet vooroor hang,” stel die beeldhouer voor, “as jy iets wil hoor.”

Die skrywer draai die foon in haar hand om, behendig soos ’n brugspeler. Sy luister met aandag, sug diep, en smyt die foon in haar handsak terug.

“Dit was Sjanghai. My volgende stop is China,” fluister die skrywer ongerus, soos ’n geheime agent wat ‘n oproep van haar hanteerder ontvang het.

Die skrywer en die beeldhouer sit met ’n bek vol tande. Nie een stel belang in hoe die wasagtige blomkoppe van die magnolias vir die aspirantdigter op die Augustusmiddag lyk nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top