Boekresensie: Verlorenkop deur Celesté Fritze

  • 0

Verlorenkop
Celesté Fritze
Queillerie
ISBN: 9780795801068

“As jy met empatie kyk, is daar plek vir die voorgeslagte om vir jou ʼn borswering teen die lewe te wees,” vertel Celesté Fritze in ’n onderhoud oor haar debuutroman op LitNet (Meyer, 2016). Vir Jo, die hoofkarakter in Verlorenkop, word die voorgeslagte wel uiteindelik ’n borswering, maar nie sonder ’n moeilike en uitgerekte proses van selfontdekking nie – waartydens haar naam verander van Johanna du Plooy, na Jo Pieterse, na Joanne Peters en uiteindelik na net Jo.

Vir die jong Johanna raak alles in Suid-Afrika net te veel: haar familie, die politiek en die geheime wat sy met haar moet saamdra. Na ’n traumatiese seksuele ervaring verander sy haar naam na Jo, trou met Kerneels Pieterse en vlug na Vermont in die VSA waar Kerneels navorsing doen oor Alzheimers en Jo haar liefde vir perde op ’n perdeterapieplaas kan uitleef. Maar dit maak nie saak hoeveel keer sy daarvan probeer wegvlug nie, die waarheid haal haar tog telkens in: sy is ’n homoseksuele vrou. Hierdie realiteit leef met haar saam ook in die figuur van haar tante Christine, ’n sterk vroueboer wat herinner aan die formidabele Anna Petronella van Heerden (1887-1975),[i] ʼn baanbreker wat die beeld van Afrikanervroue betref. Die karakter van ta’ Christine leef voort in die dagboeke wat sy aan Jo nalaat, waaruit Jo oor jare heen die binnewerkinge van die Retief-familie leer ken. Die Retiefs het baie geheime gehad, geheime wat met ’n ysterhand beheer is deur die matriarg Delores Retief, Jo se oumagrootjie. Jo se woede oor die sondes van die voorgeslagte manifesteer in skuldgevoelens oor haar eie “sondes”: die vermoede dat sy as kind die eerste minister “doodgebid” het, haar seksuele verwarring, die dood van haar seun Benjamin, emosionele ontrouheid aan haar man, die feit dat haar dogter Christi die lewe van ʼn ekspat moet lei sonder dat sy dit self gekies het.

Die vroulike narratief van Verlorenkop bied ’n blik op die lotgevalle van en verhoudings tussen sterk vroue in die Suid-Afrikaanse konteks vanaf die begin van die 1900’s tot die hede by monde van verskillende vroue, spesifiek die Retief-vroue. Aan die begin van die roman verskaf die skrywer ’n stamboom sodat die leser tred kan hou met die verskillende verhale wat vertel word. Jo en ta’ Christine se lewensverhale word gelyktydig weergegee en die leser besef gou dat hierdie twee vroue se stryd dieselfde stryd is. Waar ta’ Christine se liefde vir Dina wreed beëindig word nog voor dit kon begin, kry Jo die geleentheid om na baie jare vrede met haarself te vind in ʼn verhouding met die joernalis Marga.

Wat die sterk boerevroubeeld betref, staan Verlorenkop in die tradisie van groot verhale soos Olive Schreiner se The Story of an African Farm en Marlene Niekerk se Agaat. Alhoewel die roman nie van dieselfde kaliber as hierdie werke is nie, is die aanvulling wat Verlorenkop tot die Afrikaanse romankuns bied veral gestel in die lesbiese perspektief op die plaasgegewe. Ta’ Christine is ʼn sterk lesbiese vrou wat haar lewe lank ʼn boerdery suksesvol bedryf, en selfs al vlug Jo na ʼn ander vasteland, is sy ook maar ʼn boer in murg en been. Haar perdeboerdery-aktiwiteite verloop vlot danksy die hulp van die enigmatiese Kath. Kath is die een wat Jo Joanne noem en haar ou geheime en vrese weer kom oopkrap met haar intense Argentynse oë. Die onrus wat Jo haar lewe lank dryf, kom eers tot bedaring wanneer Jo op die plaas Kleinfontein in die Karoo gaan boer ná Kerneels se dood. Saam met Marga maak Jo daar uiteindelik vrede met haarself en haar voorgeslagte.

Die tema van oudword en vergeet is een wat sterk in die roman na vore tree. Alzheimer se siekte is in beide Jo en Kerneels se families teenwoordig. Kerneels wy ook sy hele professionele loopbaan aan navorsing daaroor. Jo word as kind saam met haar seniele oumagrootjie Delores in die afgekampte blomtuin “weggebêre”, ʼn beeld wat in die proloog die verhouding tussen die voorgeslagte en die nageslagte op die voorgrond bring: “So kon die twee in hulle eie wêreld wees. Die een in die wêreld van voorkennis, die ander in die wêreld van nakennis ...” (12). Ta’ Christine se dagboeke bied verweer teen die aanslae van vergeet en bring ook die wêrelde van voorkennis en nakennis byeen. Ta’ Christine word so goed in hierdie dagboekinskrywings gekarakteriseer dat ʼn mens soms wonder of sy nie eerder die hoofkarakter moes gewees het nie. Die eerstepersoonsverteller wat in ta’ Christine se vertelling gebruik word, sou dalk die karakter Jo vir die leser ook meer toeganklik gemaak het.

Die titel van die roman verwys nie slegs na die Retiefs se familieplaas (Verlorenkoppe) nie, maar ook na ʼn soort oomblik, vertel Fritze in die onderhoud op LitNet: “Miskien is dit ʼn moment wanneer ʼn karakter besef sy het haarself ʼn onguns bewys: sy was te lank onder mensebeheer, sy het lank genoeg na die kerk, die skool, die (straight) samelewing, en die voorsate se pype gedans.” Dit is die moment wanneer sy haar ta’ Christine se blou jas met selfvertroue kan aantrek en kan sê: “Nee, ek is nie gepla nie ... Ek lê gemaklik tussen die skerwe van die glashuis. Die tewe lê by die tewe. Ek het die rubicon vir ons oorgesteek, ta’ Christine” (253).

Verlorenkop is ʼn verdienstelike debuut wat ʼn verhaal vertel wat interesseer en gemaklik lees. Dit dra by tot die verruiming van die tradisie van die plaasnarratief in Afrikaans deur spesifiek die lesbiese perspektief daarop oortuigend weer te gee.

Bibliografie

Meyer, N. 2016. Tien vrae: Verlorenkop deur Celesté Fritze. https://www.litnet.co.za/tien-vrae-verlorenkop-deur-celeste-fritze.

Viljoen, L. 2008. Nationalism, gender and sexuality in the autobiographical writing of two

Afrikaner women. Social Dynamics, 34(2):186–202.


[i] Anna Petronella van Heerden was die eerste Afrikanervrou wat as dokter gekwalifiseer het. Sy was bekend daarvoor dat sy vir vroueregte gestry het. Daar bestaan ook ’n baie sterk vermoede dat sy lesbies was. Van Heerden het na haar aftrede ʼn suksesvolle boerdery op haar eie bedryf. Daar het twee outobiografiese tekste uit haar pen verskyn. (Viljoen 2008:187)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top