In die ongeëlektrifiseerde stilte herhaal
’n kriek se akoestiese vlerk-are kranksinseine
teen oorspanne trommelvliese
beurtkrag, nagbeurte hier ter lande
Uitgelewer hurk die oorgeplaastes
nokturnes van ’n nonne-uil vul steriele gange
samesweringspredatore twiet fopnuusboodskappe
via koverte satelliete
Geïnfekteerde asemteue hyg uit moederaarde
fluisterings van gekodeerde paragrawe lê
ontbloot in die seepbel van ’n supermaan
muiskarkasse opgeraap, kraak in nagsnawels en in kloue
Gemaskerdes bring nooiensbesoeke aan leë katedrale
padskrapers dreun deur vakansieoorde
Om die stil as van die aarde vermenigvuldig Covid-19
in die draaiduik van ’n vlermuisvlerk