Jy is my Fermina, ek jou Florentino
(vir ons verhaal is daar twee Ferminas)
Soos in die tyd van cholera, loop ons verhaal
van die begin af skeef, gaan die son onder asof
die dag nie ongewoon is, die markplein nie leeg is,
’n donkerder melankolie nie reeds aan tafel is,
daar nie al van die vroegste water af bakterieë
in ontheiligde riviere vermenigvuldig nie
Ek lê met my oë teen wolke, ek verbeel my die
uitstulping van jou kornea teen indigo blou, die fyn
net van ’n verdunde retina, ek fluister my verlange
met die vokale en onvermoeide vlerkklap van duiwe
Op die derde dag arriveer jou geskenkpak, kollageen
teen osteoartritis, uit ’n satellietruimte kom my
bedoelde kuur in die vorm van die hoewe van diere, ’n
gebaar voorlopig ontdaan van die romantiek van rose,
PostNet en Takealot handhaaf die protokol
van higiëne teen R834,07
Ek verlang na jou oë wat jy uurliks moet sluit
moet insalf en bedruip, terwyl ek jou navors op
sosiale media, deur keratokonus behoort een van
jou korneas aan ’n ander, leef jy met die insig
van ’n verhelderende derde oog
Ons degeneratiewe liggame, voorlopig skoon van
skenkerbeen, ly aan abbakoors, ons soek mekaar
se isolasie nou byna uurliks op, dringender
koorsstringe presenteer, ons laat ons asem digitiseer
Op ’n langverwagte herfsmiddag, onder suiwer
klokkespel, nie meer gedagtig aan selfdistansiëring nie,
besweer ons die kwarantyn, waag ons oplaas ’n nader syn
Kommentaar
Celeste op haar beste. Wel gedaan.