
Foto: Canva
Volmaanaand
Die mens is een vir rituele,
vuur en kristal reinig, water ook.
Moderne heksekringe vergader
onder Julie se volmaanstand.
Gebruiksartikels word uitgepak teen middernag,
“sodat dit vars energie kan opneem”.
Plaas jou haarborsel onder die lig van die volmaan,
“dit laat jou hare welig groei”.
Ouvroustories versprei die wêreld deur.
Rookseine borrel uit die duiwehokkies van Beijing,
nuwe variante van Covid-19 kry steeds die leiers op hol.
Oor die stil vlaktes waar sjamaans doenig is,
vibreer bloedklippe, psigedeliese sampioene word verpoeier,
gemaal met die skubbe van ietermagôs.
Heilige, helende suurstof word in blou sones opgesoek, gebottel.
Meditasiestyle van guru’s word vergelyk,
Matt Khan beloof vroeë afslag vir empatielyers,
doen tog jou inkopies omsigtig.
Spirituele kursusse word teen rekordpryse opgeveil.
Beskuldigings van kulturele toe-eiening vlieg heen en weer.
Net die volgende dag is daar nuwe tendense op Twitter.
Eerlikwaar, God moet haar verstom.
Soms is ek lus en rol my op in ’n bal.