Buyi Xaba
wie se koningin van harte was jy
wie se kralebrief het jy berei
’n wit kralesnoer vir buyi xaba
skryf met ystervarkpen vir mama
wie het jou hart gesteel buyi xaba
uit die holte van jou bors, stil daarna
het jy die stroper herken, die blou lug
oë op ’n helder son gerig
wie se hartlam was jy, mama se kind
die skrikroep van die titihoya
in die mielieland, beeste reeds verblind
by die sterwe van buyi xaba
hoor hoe roep die wind na buyi xaba
hoor hoe tier die reën
hoor die kryger roep na buyi xaba
wie besoek haar seun
wat voorspel die dolosgooier vanaand
blink meslem kerf aan aar en drome
oor die vuurgloed, verby die platorand
oor Mooiplaas styg die bitter note
in die mik ’n ster, uil in die vlamboom
ruis die vlerke, gevou oor mama
se woorde, verweer tot steen in dagsoom
die manifes van buyi xaba
wie se kind soek in die vlei na mama
loop onder die maan se blinde skyf
strooi die wit krale van buyi xaba
waar die bloed in pêrelklip verdwyn
hoor hoe roep die wind na buyi xaba
hoor hoe tier die reën
hoor die kryger roep na buyi xaba
wie besoek haar seun
*Drie mans verskyn binnekort in die Vryheidse landdroshof op aanklag van die moord op ’n vrou wie se hart uitgesny is. Buyi Xaba (40) se lyk is vroeër by Mooiplaas naby Vryheid gevind. Haar borskas is oopgesny en haar hart is verwyder.
Bron: www.nuus24.com
![]() |
![]() |