
Die foto van Philip de Vos, Celesté Fritze en Celesté se maltees, Jim-Jam, is een jaar geneem toe Philip by Celesté kom kuier het.
Vandag is ek ’n windlawaai
Philip de Vos
Protea Boekhuis
ISBN: 9781485307648
Waarom word ’n digbundel aan iemand opgedra? Is daar ’n storie agter ’n eenvoudige inskrywing voorin ’n boek? Naomi Meyer gesels met Celesté Fritze, skrywer van Verlorenkop, oor Vandag is ek ’n windlawaai, Philip de Vos se jongste digbundel.
Celesté, Philip de Vos se jongste digbundel, Vandag is ek ’n windlawaai, is aan jou opgedra. (“Vir Celesté Fritze wat al so lank vir hierdie versies sit en wag.”) Hoe ken jy en Philip de Vos mekaar en wil jy iets vertel van julle vriendskap?
Dit was vir my die wonderlikste verrassing en eer ooit, dié opdra-sin. Philip het Vandag is ek ’n windlawaai vir my gepos om my daarmee te verras, maar ek was toe alreeds op pad Woordfees toe met my roman Verlorenkop en het eers later, terug in Pretoria, die pakkie met die lieflike inhoud en die CD ontvang. Ons het vanjaar albei op 6 Maart by die Woordfees opgetree en ek het hom gaan verras by sy voorlesing van Windlawaai. So, ek het hom toe eintlik eerste verras, maar ná die opvoering, toe ek gaan groet, druk hy Windlawaai onder my neus en wys vir my, kyk, daar is jy! My hart het amper gaan staan. Daar het ook Lina Spies opgemerk dat dit beslis Philip se beste bundel tot dusver is. Ek dink egter elkeen van sy bundels is/was sy beste “tot dusver”.
Ek ken Philip sedert die vroeë jare tagtig toe ek as bewonderaar vir hom begin skryf het onder die skuilnaam Magdalena Aggenbag. Die naam is “geleen” uit een van sy verse in Brommer in die sop (1986):
Magdalena Aggenbag
sit al jare lank en wag,
elke dag en elke nag –
arme juffrou Aggenbag.
Die wagtery van Magdalena het mettertyd ’n vreeslike tergery geraak. Ek en Philip het baie jare lank vir mekaar geskryf en later via sosiale media weer kontak gemaak. Vroeg in die ’80’s het ek ’n posbus op Kerkplein gehad en Philip het toe nog in Kampstraat, in Tamboerskloof, gewoon. Soms het hy vir my ’n poskaart met ’n vers daarop gestuur wat hy op sy tikmasjien getik het en dan het ek die vers gehad nog voor dit in een van sy bundels verskyn het. Dit was baie spesiaal.
Die lekkerste van ons vriendskap is dat ons dit kan hervat ná baie jare, en met die gesprek kan voortgaan asof ons gister nog êrens gesit en klets het. Philip is ’n uiters talentvolle en veelsydige kunstenaar, ’n hoogs intelligente mens, wat altyd aan die gang is met iets, en sy geselskap is pure plesier. Hy het ’n ongekunsteldheid, amper ’n kinderlikheid, en hy voer jou mee om vir ’n rukkie op daardie selfde manier na die wêreld te kan kyk.
In 1987 het ek by vriende in die Kaap gekuier en ons het die musiekblyspel Hello, Dolly in die Nico Malan gaan kyk. Philip was destyds in Kruik se permanente operakoor en het ook in dié opvoering gesing. Die volgende dag het ek vir hom ’n groot ruiker blomme by die teater laat aflewer. Later het hy vir my geskryf hy is vreeslik geterg en dat die hoofspelers maar so effe jaloers was, want nie een van hulle het só ’n groot bos blomme ontvang nie. Ja, daar was baie sulke vrolikheid deur die jare.
In 1989 het Philip my genooi na die toekenningsplegtigheid van die Eugène Marais-prys in die Sand du Plessis in Bloemfontein vir sy bundel Daar’s bitterals in die heuningwals. My broer Johan was destyds ’n liggaamsbouer en ons moes vir hom ’n pak klere koop vir die geleentheid, want ek kon geen ander date as my arme broer vir dié wonderlike aand kry nie. Ons ry toe die Vrydagmiddag van Pretoria af Bloemfontein toe. Johan se baadjiegrootte was ’n nr 46 en sy broek ’n nr 30. Saterdagmiddag, gedaan geloop van een mansklerewinkel na die ander, moeg gesukkel, besluit ek by die laaste winkel op die lysie – daar in die aantrekkamer – ek ruil nou die broeke en baadjies van dié twee pakke om. Ek verwag steeds dat die ellende my daarvoor sal kom haal, of het dit reeds? Ek weet nie. O, en ek koop vir my ’n faux fur by Foschini, want dis vrek koud in Bloemfontein. En sal Philip nie die aand voor ’n uitgelese groepie opmerk nie: “Hoeveel eekhorings moes jy doodslaan om die ding te maak?”
Wanneer het jy die eerste keer Philip se gedigte gehoor? Of watter een het jou heel eerste getref?
O, togga, ’n gogga (1984) was die bundel wat my na Philip se werk aangetrek het. Heelwat van Philip se verse is getoonset en hy het ook deur die jare vir my van die kassette (en later CD’s) gestuur waarop hy sing en Albie Louw hom op die klavier begelei.
Hier is ’n voorbeeld wat ek op die internet gekry het:
Philip en Albie het gereeld by skole op die platteland opgetree, soms by soveel as 36 op ’n toer, en in 1989 skryf hy te midde van só ’n skooltoer vir my:
“Sondag in Clanwilliam aangekom ... Maandagoggend word ek half-wakker en verbeel my dat iemand op my bed kom sit het. Daar was niemand nie, en toe sluimer ek weer in tot dit weer vir my voel of iemand kom sit het. Toe ek later die gordyne ooptrek, sien ek dat my hotelkamer reg langs die kerk en die ou kerkhof lê met grafte sommer so teenaan die muur!
“Dit is heerlik om te sien hoe kinders, van die héél kleintjies tot die héél grotes en hulle onderwysers in kluis op my versies en Albie se musiek reageer. En ons het presies dieselfde reaksie gehad by die sogenaamde gesofistikeerde grootmense in Kaapstad en die mees ongekunstelde kleintjie in die platteland. Hoekom my versies vir almal werk, weet ek glad nie, en ek weet sodra ek enige vrae begin vra, ek nie weer sal kan skryf nie.”
Vandag is ek ’n windlawaai is nie net ’n digbundel met vrolike rympies vir kinders nie. Of wat is jou ervaring? Vir wie dink jy skryf hy sy gedigte?
Nee, Windlawaai het ’n dieper boodskap. Dit is die eerste bundel waar die digter aan die einde in ’n vers inloop en met sy digterstem vermaan. Dit is ’n tydlose bundel wat geïnspireer is deur Robert Schumann se klavierwerk Kinderszenen. Piet Grobler se speelse dog sensitiewe illustrasies daarby maak dit ’n multidimensionele werk wat Philip se plek as een van die kleurvolste en mees genuanseerde skrywers in Afrikaans verder verstewig.
Philip skryf vir enigeen wat die kindwees in hom-/haarself geniet, “van agt tot tagtig”, het hy eenmaal vertel.
Is hier ’n gedig wat vir jou uitstaan as baie besonders? Of watter een in hierdie bundel is jou gunsteling?
Nee, ek dink die bundel vorm ’n pragtige geheel en ek kan eenvoudig nie ’n gunsteling daaruit kies nie. As jy nog nie Vandag is ek ’n windlawaai het nie, gaan koop dit dadelik! Soos al Philip se werke, maak dit hierdie aardse tranedal so ’n bietjie ligter.
Is daar enige van die gedigte se ontstaansproses waarvan jy iets weet? Of hoor jy maar net hy skryf ’n gedig en die volgende dag is dit daar?
Philip het my vertel dat hy soms in die nag wakker skrik van die ritme van ’n limeriek of ander nonsensvers – dat hy dit met sy vingers lê en uittik op die laken, namate die vers by hom aanmeld. Daar is dan niks anders om te doen as om dit neer te skryf nie. Ek sou graag wou sien dat die WAT ’n voorbeeld van Philip se limerieke by die lemma “limeriek” opneem.
Philip de Vos, nederige, talentvolle vriend, wat al soveel toekennings en trofees ontvang het – ek is só ongelooflik dankbaar vir ons besonderse vriendskap van by die 35 jaar.