Om sin te maak van universiteite wat brand

  • 0

Hierdie lesing (sien die video) is op Vrydag 24 Julie 2026 te Nxuba (Cradock) gelewer tydens die jaarlikse Etienne van Heerden Veldsoirée as deel van die LitNet Afrikaanse Skrywersberaad. Die teks verskyn hier onder.

Om sin te maak van universiteite wat brand

In hierdie beknopte storie oor ’n universiteit wat brand, is ek ongelukkig verteller én karakter, akademikus en kunstenaar – van ’n kritiese afstand is hier min ter sprake. Vir nou kom die storie nog uit die derms eerder as die kop, grom eerder as kitaar. Die eerste deel van die vertelling kom in die vorm van musiek. Die opname se naam is “Stories van water en vuur”.

Unga jiki, jonga phambili
Unga jiki, jonga phambili

Dimbaza se laaste trein het gaan staan
Maar skelette van fabrieke hurk steeds saam
As jy links draai vind jy Nthaba kaNdoda
Waar ’n strak monument in beton verslaan

Van vorige beskawings getuig die ruïnes
Maar dis nie Konstantinopel of Rome dié nie
Afgebrande skole is veel meer banaal
As ’n koepelskildery of die Hagia Sofia

Wat reeds weg is kan jy nie meer verloor nie
Maar as jy dan herbou begin jy nie van voor nie
Ek’s gebore uit rebellie, grootgemaak op trots
Als wat ’n mens in die truspieël los
So kyk nooit terug na brandende stede nie
Altyd, altyd vorentoe

Langs die Xesi-rivier staan ’n huis met ’n klavier
Generasies se boeke gebore hier
Die storie se luike skarnier nou skeef
Maar op vergeelde blaaie hou woorde aan leef

Woorde wat prewel van mond tot mond
Geplant in die aarde, wortels in die grond
Vir hulle wat weg is skink ons brandewyn
Camagu, my mense, tot ons ook verdwyn

Wat reeds weg is kan jy nie meer verloor nie
Maar as jy dan herbou begin jy nie van voor nie
Ek’s gebore uit rebellie, grootgemaak op trots
Als wat ’n mens in die truspieël los
So kyk nooit terug na brandende stede nie
Altyd, altyd vorentoe

Op daai doodgewone weeksdag as ek uiteindelik sterf
Neem tog ’n oomblik en versamel stokkies op my werf
Brand dan my bene saam met blare en papier
So vertel ons stories hier, met water en met vuur

Wat reeds weg is kan jy nie meer verloor nie
Maar as jy dan herbou begin jy nie van voor nie
Ek’s gebore uit rebellie, grootgemaak op trots
Als wat ’n mens in die truspieël los
So kyk nooit terug na brandende stede nie
Altyd, altyd vorentoe

Unga jiki, jonga phambili
Unga jiki, jonga phambili
Unga jiki, qhubeka
Jonga phambili, qhubeka

Ek het “Stories van water en vuur” in November verlede jaar geskryf, die eerste van ’n versameling lirieke wat deel van ’n album gaan wees. Vir eers noem ek die album Om Alice te groet. Op 8 Oktober verlede jaar sou ek uiteindelik my professorale intreerede aan die Universiteit van Fort Hare lewer – agt jaar nadat ek as professor daar aangestel is. Toe ek by Fort Hare aangesluit het, het die tradisie nie meer bestaan nie. Van my voormalige doktorale studente, nou self dosente, het van plekke soos Mahikeng en Gqeberha gekom om die lesing by te woon. In plaas van ’n intreerede en ’n after party op Hogsback het ons op my en my vrou Irma du Plessis se personeelhuis in eDikeni (Alice) se terrasgrasperk gestaan en kyk hoe die kampus brand.

Drie jaar vantevore, in Januarie 2023, was ek en Irma in eDikeni toe ons geweerskote hoor. Ons het reeds in Johannesburg aan geweerskote gewoond geraak, maar hierdie keer was dit nie net toevallige skote in die nag nie. Ons kollega Mboneli Vesele, Fort Hare se rektor Sakhela Buhlungu se lyfwag, is deur sluipmoordenaars voor Sakhela se huis doodgeskiet. Daar was ook koeëlgate in die motordeur waar Sakhela gewoonlik sit. Irma, wat as direkteur in die rektor se kantoor werk, het nog die dag vantevore met Mboneli gepraat. Minder as ’n jaar gelede, in Mei 2022, is ons vlootbestuurder Peet Roets ook deur izinkabi vermoor. Inkabi, so leer mens nuwe woorde – die sluipmoordenaar as os, iemand gekastreer van medemenslikheid en empatie, iemand wat bevele gedwee uitvoer.

...
Inkabi, so leer mens nuwe woorde – die sluipmoordenaar as os, iemand gekastreer van medemenslikheid en empatie, iemand wat bevele gedwee uitvoer.
...

Alle Suid-Afrikaanse universiteite het die afgelope aantal jare ’n mate van trauma beleef, veral na die #fallist-oomblik. Deel van die konteks hiervoor is ’n massiewe toename in studentegetalle en ondersteuning uit die staatskas wat verdamp eerder as vloei. Hierdie protestydperk was soms gewelddadig. Protes en ontwrigting by plekke soos die Universiteite van Kaapstad, Stellenbosch en die Witwatersrand haal gewoonlik die nuus. Sluipmoordaanvalle by landelike universiteite blyk minder nuuswaardig te wees. Ek sê dit sonder wrewel – dis bloot ’n weerspieëling van die werklikheid van waar Suid-Afrika se politieke en besigheidselite se kinders studeer. Jy vind hulle nie by Fort Hare, Zoeloeland, of Walter Sisulu nie.

...
Protes en ontwrigting by plekke soos die Universiteite van Kaapstad, Stellenbosch en die Witwatersrand haal gewoonlik die nuus. Sluipmoordaanvalle by landelike universiteite blyk minder nuuswaardig te wees.
...

Nou maar wat soek jy in Alice? wil vriende soms weet. Moet daai plekke nie maar toegemaak word nie?

Ek en Irma het Sakhela Buhlungu in Johannesburg leer ken, aanvanklik as kollega by Wits en later by die Universiteit van Pretoria. Van daar is hy Kaapstad toe as letteredekaan, van waar hy deur Thandi Orleyn, die voorsitter van Fort Hare se raad, gevra is om te kom skoonmaak. Hy het in Januarie 2017 as rektor begin, en ek en Irma het hom in 2018 Fort Hare toe gevolg om te probeer help.

Alhoewel die akademiese program by Fort Hare meestal funksioneel was – die senaat is nog altyd relatief standvastig – was die kampusse in eDikeni (Alice) en KuGompo (Oos-Londen) in ’n toestand. Die geboue en tuine het treurig gelyk. My eerste lesings was in ’n vertrek met geskeurde gordyne uit die 1970’s. Langs my kantoor was ’n toilet met ’n lekkende pyp. Dis nooit reggemaak nie en die deur is doodeenvoudig gesluit. In my kantoor kon ek hoor hoe die water loop en loop en loop. Dít in ’n konteks waar studente kort vantevore vir drie maande geen water in hulle koshuise gehad het nie. Uit protes het hulle net een gebou aan die brand gesteek. As daai pyp reggemaak word, het ek destyds gedink, sal ek glo dat hierdie plek kan verander.

...
Die universiteit het ’n alternatiewe ekonomie gehuisves, ’n wasmasjien wat privaat inkomstebronne uit staatsubsidies gewring het.
...

Dit was duidelik dat hulpbronne op die kampus nie tot voordeel van studente gebruik word nie. Die universiteit het ’n alternatiewe ekonomie gehuisves, ’n wasmasjien wat privaat inkomstebronne uit staatsubsidies gewring het. Hierdie ekonomie was met die provinsiale politieke bestel vervleg. ’n Maatskappy met politieke konneksies was vir die instandhouding van koshuise verantwoordelik. Die kontrak met hierdie maatskappy was só eensydig dat dit selfs enkele amptenare in die Departement van Hoër Onderwys ontstel het en vir jare een van die redes vir gekwalifiseerde ouditeursbevindinge was.  

Hoe ruim jy só ’n gemors op? Fort Hare is sekerlik nie die enigste instelling wat deur krimineel-politiese netwerke gekaap is nie. Een antwoord is dat jy jou lewe in gevaar stel as jy probeer. Ons twee groot vakbonde was diep in die menslikehulpbronnedepartement ingegrawe en stakings was oor “VC must go”. Studenteleiers is deur diensverskaffers onthaal en terstond is griewe en protes in “VC must go” omgeskakel. As jy aanvanklik daardie parasitiese ekonomie ontwrig, kom álles tot stilstand. Ons het besef dat instellings nie net deur idees opgebou word nie, maar ook deur prosedures. Ek het nooit gedink ek sou eendag entoesiasties wees oor ’n “standard operating procedure” nie.

Die toilet langs my kantoor is uiteindelik oopgesluit en opgeknap. Op ’n vreemde manier het die Covid-grendeltyd gehelp om dinge te stabiliseer en het ons vir vyf jaar – voor die brande van Oktober verlede jaar – nie ’n enkele dag se klasgee aan protes afgestaan nie.

Soms wonder ek wat ons akademiese leierskap motiveer om aan te hou en nie moed op te gee nie. Waarom sou iemand in weerwil van sluipmoorde en karaktermoord hul lewens waag om korrupsie by ’n universiteit te beveg? Ek het oor die jare baie gesprekke gevoer met kollegas wat deel van hierdie vernuwingsprojek was, meestal met ’n glas wyn of whisky in die hand. Van hierdie kollegas het vriende geword. Hulle kom nie net van die Oos-Kaap nie, maar van regoor die land. Wat my telkens tref, is hoe diep baie van hulle in kultuur en taal gewortel is. Binne hierdie geworteldheid bestaan daar egter ook ’n verbintenis om kultuur voortdurend te laat ontwikkel – om tradisie van binne af ’n progressiewe inhoud te gee. As my kollega Hombakazi Nqandeka, ’n kulturele aktivis van formaat, met mans op sosiale media baklei, sal sy iets sê soos: “Buti, as jy heel gewillig is om umqobothi met brandewyn in rituele te vervang, hoekom kan vroue se rol nie ook verander nie?” Hombakazi het landbou aan Fort Hare studeer en het later ’n meestersgraad in Frankryk – in Frans – verwerf. Dis haar stem wat julle op “Stories van water en vuur” hoor.

...
“Buti, as jy heel gewillig is om umqobothi met brandewyn in rituele te vervang, hoekom kan vroue se rol nie ook verander nie?”
...

Dit is betekenisvol dat die leierskap van hierdie projek swart is. Dit dien as teenwig vir geïnternaliseerde rassisme en teen populistiese politici wat hierdie rassisme uitbuit om hulpbronne vir hulself toe te eien en politieke steun selektief te beloon. In teenstelling hiermee is hierdie vernuwingsprojek in wese herverdelend: Die doel daarvan is om die lewens van studente uit landelike agtergronde te verbeter. Hierdie herverdelingsprojek verg noodwendig dat dié met toegang tot hulpbronne hul aanspraak op opwaartse mobiliteit inperk ter wille van die groter gemeenskaplike belang. In Nancy Fraser se taal: “recognition” wat met “redistribution” saamgaan.

Is daar ’n term vir hierdie ingesteldheid? Dalk iets soos “gewortelde kosmopolitisme”? Dalk “burgerlike nasionalisme”? Nietemin, vanuit hierdie posisie bied kultuurerfenis ’n plek om te staan, maar nie ’n posisie van waar hulpbronne ten koste van ander opgegaar word nie. Dit is ook waarom ek op hierdie stadium van my lewe by die Universiteit van Fort Hare werk, eerder as byvoorbeeld by Solidariteit se privaatuniversiteit vir Afrikaners. Dis ’n politieke keuse – een wat verbind is tot die kontinent waar ons boer.

Ek maak Afrikaanse musiek en skryf poësie, maar nie as deel van ’n etnonasionalistiese projek nie. Ek vind dikwels dat kollegas aan die linkerkant van die politieke spektrum hul eie tale beter as chauviniste en jingoïste praat. Omdat ek by voormalige Afrikaanse universiteite sowel as sogenaamde liberale Engelse eweknieë gewerk het, is ek ook deeglik bewus daarvan dat aansprake op hulpbronne dáár eweneens dikwels geregverdig word op grond van groepslidmaatskap en die kulturele kapitaal wat daaruit voortspruit.

Kritiek op die heropbou van die Universiteit van Fort Hare mobiliseer egter ook nasionalistiese aansprake. ’n Eerste bron van weerstand kom uit ’n gelokaliseerde Ciskeise etniese nasionalisme. In “Stories van water en vuur” is verwysings na Dimbaza en Ntaba kaNdoda. The last grave at Dimbaza, wat Fanie Olivier toevallig ook as ’n gedigtitel gebruik het, is ’n dokumentêre film uit 1974 wat in die apartheidsera verban was. Dimbaza was ook ’n plek waar vroue vir hongerlone in klerefabrieke moes werk, nou ’n plek van vervalle fabrieke – die treinspore geroes en oorgroei. Ntaba kaNdoda (“Berg van die mans”) is ’n brutalistiese monument wat ter ere van die stigting van die Ciskei opgerig is. Hierdie gevalle monumente spook steeds hier rond. Ons provinsiale regering vind dit klaarblyklik nie vreemd om een van die hoofpaaie steeds Independence Avenue te noem en een van sy administratiewe geboue State House nie, asof die Bhisho-slagting nooit gebeur het nie. ’n Hele paar comrades was tuislandfigure van formaat, met een wat selfs sy van na Hani toe verander het. As nostalgiese aanspraak op hulpbronne ten koste van ander is hierdie soort nasionalisme steeds lewend. Die feit dat Sakhela van Tsolo in die voormalige Transkei is, word teen hom gehou – in die Ciskei is hy ’n inkommer. Voormalige apartheid-Bantoestans het hulle ook in ander provinsies op nuwe maniere laat geld – die Oos-Kaap is geen uitsondering nie.

Die huis langs die Xesi-rivier in “Stories van water en vuur” is Davidson Jabavu s’n, eens ’n professor in Grieks, Latyn en Afrika-tale aan Fort Hare. Jabavu se dogter Noni was ’n wêreldburger en skrywer van onder andere The ocre people, ’n boek wat handel oor haar verhouding as moderne vrou met amaQaba – tradisionele mense wat rooi klei aan hul gesigte smeer. Die Jabavu’s was amaMfengu, ’n groep wat meestal teen die amaXhosa aan die kant van die Engelse geveg het en as beloning in sendingskole opgelei is – Lovedale, Healdtown en Saint Matthews. Fort Hare is in 1916 gestig en het uit hierdie sendingskole ontstaan. Die geskiedenis hier is veelvlakkig en kompleks; dis nie in swart en wit geskryf nie.

’n Tweede bron van weerstand kom van mense wat sê dat Fort Hare se heropbou op die Universiteit van Kaapstad gemodelleer is. Anders gestel: Die instelling se aanspraak daarop om ’n swart universiteit te wees sal verlore raak as dit soos die histories wit universiteite word. Ek is nie altyd oortuig van die nasionalistiese deel hiervan nie, aangesien sommige van die voorstanders van hierdie standpunt hul eie kinders juis na daardie “wit” universiteite stuur – soms selfs met studiebeurse vir kinders van óns universiteit se personeel. Hierdie verskynsel weerspieël ’n groter probleem. Die gelukkiges onder ons – staatsamptenare, onderwysers, parlementslede, plaaslike raadslede en selfs vakbondleiers – gebruik Model C-skole en privaatskole of -hospitale. Só versterk ons postapartheid enklawes van bevoorregting. As deel van die middelklasse en elite – en ek sluit myself hierby in – isoleer ons onsself van ’n disfunksionele, afwesige staat.

Hoe gebruik ons hierdie bevoorregting om ’n ander tipe staat te bou, ’n nasionalisme wat bou eerder as afbrand?

As iemand hier in die Oos-Kaap op ’n onnatuurlike wyse gesterf het, is daar ’n ritueel om die persoon se gees van die plek waar hulle gesterf het te begelei na waar hulle begrawe word. Die ritueel se naam is ukuwula umoya, of ukulanda umoya. Die familie wat die persoon se gees kom haal, bring gewoonlik ’n takkie van ’n blinkblaar-wag-’n-bietjie (umphafa) saam. Hulle brand impepho en praat met die gestorwene se gees, wat dan aan ’n wag-’n-bietjie-blaar vashou, om terug huis toe geneem te word.

Ons kollega Mboneli Vesele is by die ingang van ons kompleks doodgeskiet. Toe sy familie reëlings vir die ritueel tref, het hulle laat weet dat hul eie afvaardiging volgens tradisie uit mans sal bestaan. Alhoewel, hulle verstaan Fort Hare is divers en gaan nie voorskryf wie mag bywoon nie. Sakhela vra Irma gewoonlik saam na sulke geleenthede, in hierdie geval ’n tragiese maar mooi oomblik, in ander gevalle as die universiteit byvoorbeeld ’n koei aan die Rharharbe-koningshuis moet oorhandig. Hy wil daarmee sê en wys dat Fort Hare ’n nasionale instelling is en nie aan slegs een kultuur- of taalgroep behoort nie.

...
Jy bou oor dekades, maar brand binne ure af. Dink aan Budapest, sê Irma altyd. Na elke plundertog het hulle maar net weer herbou.
...

Ná dekades van apartheid, en daarna dekades se institusionele kaping en verwaarlosing, lê daar vir Fort Hare nog ’n lang pad voor. Jy bou oor dekades, maar brand binne ure af. Dink aan Budapest, sê Irma altyd. Na elke plundertog het hulle maar net weer herbou. Nuwe beskawings word gewoonlik mos maar in die ruïnes van voriges opgerig. Dit behou altyd iets van die voorganger – ’n tipe aspirasie, ’n tipe nostalgie, maar ook iets wat anders geword het. Miskien is dit al wat universiteite uiteindelik doen. Hulle word afgebrand. Hulle word herbou. Hulle dra iets van die ou wêreld saam, maar word nooit weer dieselfde nie.

Unga jiki. Jonga phambili.

Lees ook:

Rianne van Vuuren: Die universiteit van die toekoms kan nie wag nie

Johan Fourie: Schole en die sigblad

Maryna Blomerus: Akademia, Pandor en ’n derde weg: Hoe kunsmatige intelligensie ’n uitweg uit ons taaldooiepunt kan bied

Achille Mbembe and Hans Pienaar: Achille Mbembe on the new politics of the South African student

Frederik de Jager: Dark academia: how universities die deur Peter Fleming – hoe universiteite korporasies word en die gevolge daarvan: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

Andries “Roof” Bezuidenhout: Andries Bezuidenhout en sy kitaar

Nolwazi Mahlangu: Die migrerende liggaam: geheue, beweging en betekenis in die postkoloniale verbeelding

Mphuthumi Ntabeni: The importance of oral history in southern African historiography

Marianne Thamm: Uitdrukkingsvryheid

Hermione le Roux-Ellis: Hoe om die antigenderbewegings teen te werk

Jana Luther: Bolmakiesie van woke

Vasti Roodt: Kuns en/of moraliteit

Lizabé Lambrechts: Argiewe: Bêre of brand in die digitale era?

Burgert A Senekal: Die impak van grootdata op tradisionele argiewe: ’n oorsig van uitdagings en geleenthede

Dominique Botha: Daar is ’n witvlerknagtegaal wat net in Sanskrit sing

Mphuthumi Ntabeni: Undoing villainy: Eastern Cape name changes

Willa Boezak: Die Khoi-San se eeue-oue trauma

Carina Stander: Baklei sonder bloed: politieke verset in Die Bergengel-boeke

Charl-Pierre Naudé: Die tragiese as miskende verstaanskategorie: ’n naby blik op twee politieke denkmodusse

Hein Willemse: Oor sosiale betrokkenheid

Phaswane Mpe: Dingwalwa le Kwalakwatšo ya Tšona Dikgatišobakeng tša Afrika Borwa

K Sello Duiker: A question of diversity

Danie Marais: Vir Niemand en Nêrens

Elsa Joubert: Afrikaans in Afrika en globaal

Chris Louw: Disgrace of Renaissance: bly of gly?

Lees die ander bydraes hier:

Veldsoirée-borge/Veldsoirée sponsors

ATKV-Skryfskool

Die Tuishuise & Victoria Manor

Buffelshoek DiRosie Lodge

Spier Arts and Culture Trust

LitNet Akademies

Van Ewijck Stigting 

Carel van der Merwe

Trinette Rudman Kirkwood

Ton Vosloo

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top